Saamgestel: Annelie van Jaarsveldt
“Die diversiteit van tale is net so kosbaar as die diversiteit in die natuur … taal simboliseer die diversiteit van die mensdom.”
– Christien Neser, spraakterapeut en skrywer
Die bekende spraakterapeut en skrywer, Christien Neser, het onlangs met Anthea Fredericks op RSG se program, Groeipyne, gesels oor tweetaligheid oftewel meertaligheid. (Luister gerus na die podsending hier onder.)
Wat duidelik uit die gesprek na vore gekom het, is dat die geskenk van moedertaal en natuurlik moedertaalonderrig nie onderskat kan word nie, want eintlik gee jy jou kind ’n sak vol geskenke waarvan meertaligheid een van die grootste is. Daarmee saam gee jy hulle die vermoë om met trots in te pas by hulle kultuurgroep en familie, gee jy hulle ‘n sterker identiteitsgevoel en help jy hulle om hul kognitiewe vaardighede te ontwikkel. Sê Christien: “Jy gee vir hulle ’n ryk bedding waarop hulle ander tale, ook Engels, met groot vaardigheid kan bou.”
Nog redes waarom dit ’n goeie besluit is om jou kind in sy moedertaal te laat skoolgaan sodat hy ook ander tale kan baasraak?
Om meer as een taal magtig te wees het ook baie voordele en veral in Suid-Afrika kan ’n mens dit nie sterk genoeg beklemtoon dat die aanleer van een van die inheemse tale ’n aanwins kan wees wat jou lewe sal verryk.
As jy meer as een taal verstaan en kan praat:
- Maak dit deelname net soveel makliker.
- Kry jy toegang tot nuwe kennis en kulturele ervarings.
- Maak die res van die wêreld vir jou oop.
- Dra dit by tot ’n beter begrip van ander.
Dit is nie altyd maklik om te besluit na watter skool om ’n mens se kind te stuur nie, maar wat ook al jou besluit, maak dit ’n ingeligte een. Onthou ook: Volgens die Grondwet (artikel 29), is dit elke kind se reg om in sy moedertaal onderrig te word.
’n Paar riglyne:
- Verstaan die belangrike rol van moedertaal in jou kind se opvoeding.
- Praat met jou kind in jou moedertaal en laat jou kind dan leer in sy sterkste taal.
- Lees vir jou kind – so word hy blootgestel aan akademiese taal.
- Kies ’n skool wat veeltaligheid/meertaligheid ondersteun, want blootstelling is belangrik sodat jou kind ’n addisionele taal kan bemeester.
- Kies ’n skool wat kinders toelaat om hulle eie identiteite, kreatiwiteit en kritiese denke te ontwikkel.
Koester jou moedertaal en meertaligheid en ontsluit ’n wêreld van kennis.
Luister gerus na die gesprek oor moedertaal en meertaligheid tussen Christien Neser en Anthea Fredericks op Groeipyne (RSG): Groeipyne 29 Januarie 2026 – Groeipyne – Omny.fm
Wat sê die navorsing? Klik hier.
Lees ook:
Moedertaalonderrig en meertaligheid is soos vinkel en koljander – Afrikaans.com







