‘Onderwysers maak ’n groot verskil in klein mensies se lewens’ – Alecia van Zyl

Tuis 5 Leerhulp 5 Artikels 5 Algemeen 5 ‘Onderwysers maak ’n groot verskil in klein mensies se lewens’ – Alecia van Zyl
Alecia van Zyl

Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Foto: Alecia saam met Ernusta Maralack
van Netwerk24 toe sy haar toekenning ontvang het.

’n Kind se toekoms begin nie eers op die dag wanneer hulle matriek slaag of hul eerste treë in die grootmenswêreld gee nie. Dit begin dikwels in ’n graad 1-klaskamer, waar klein handjies leer skryf, nuuskierige ogies die wêreld ontdek en ’n onderwyser se woorde ’n lewenslange impak kan hê.

Dít is die wêreld waarin Alecia van Zyl elke dag ’n verskil maak. As graad 1-onderwyser by die Laerskool Saldanha help sy om die grondslag vir jong leerders se akademiese toekoms te lê én om hulle as mense te vorm.

Alecia is vanjaar aangewys as Netwerk24 se Onderwys-Smaakmaker van 2026. Dis ’n besonderse erkenning van haar werk, maar herinner ons ook aan ’n groter waarheid: Agter soveel suksesverhale staan daar iewers ’n onderwyser wat eerste in iemand geglo het. Afrikaans.com het met Alecia gesels oor die uitdagings en hoogtepunte van ’n loopbaan in die onderwys:

Wat is die belangrikste wanneer jy ’n graad 1-kleuter se akademiese grondslag bou?

Ek glo ’n mens moet eers die fondasie regkry. Ons moet seker maak leerders verstaan die basiese konsepte voordat ons aangaan na die volgende stap. Dit gaan nie net oor lees en skryf nie, maar ook oor selfvertroue, liefde vir leer en om elke kind op sy eie vlak te ontmoet. Bied leer op ’n speelgebaseerde manier aan. Dink aan hoe jy sou leer toe jy klein was. As daardie fondasie sterk is, bou jy daarop voort.

Hoe het dit gevoel om die Netwerk24 Onderwys-Smaakmaker-toekenning te wen?

Dit was ongelooflik spesiaal en eintlik baie oorweldigend. Ek doen wat ek doen omdat ek lief is vir onderwys en graag ’n verskil wil maak. Die toekenning beteken vir my baie, want dit is erkenning vir die werk wat ek met soveel liefde doen. Ek deel graag my idees en hulpmiddels met ander, omdat ek glo ons kan mekaar help om beter onderwysers te wees. Om te weet dat dit wat ek doen ’n verskil maak, nie net in my eie klaskamer nie, maar ook in ander onderwysers en kinders se lewens, is vir my baie spesiaal. Dit motiveer my om aan te hou groei, nuwe dinge te probeer en my kennis te deel.

Vir my gaan dit nie net oor die toekenning self nie, maar oor die geleentheid om ’n groter verskil in onderwys te maak.

Watter eienskappe maak iemand vandag werklik ’n goeie onderwyser?

Ek glo ’n goeie onderwyser ken hul kinders en kyk verby ’n kind se punte en gedrag en probeer verstaan wat daardie kind nodig het. Bo alles moet kinders weet dat jy in hulle glo, selfs al glo hulle nie in hulself nie. Ek dink ook ’n goeie onderwyser moet kreatief, geduldig en buigsaam wees. Jy moet bereid wees om aan te hou leer, nuwe dinge te probeer en by jou leerders aan te pas.

Alecia van Zyl
Hoekom is die vennootskap tussen ouer en onderwyser so belangrik?

Ek glo ouers en onderwysers moet as ’n span saamwerk. Ons het dieselfde doel, naamlik om die kind te help ontwikkel en hul volle potensiaal te bereik. Deur my wenke en hulpmiddels op TikTok te deel, wil ek ouers help verstaan wat ons in die klaskamer doen en hoe hulle ook tuis kan help. Wanneer ouers verstaan hoekom ons sekere dinge op ’n spesifieke manier aanpak, kan hulle met meer selfvertroue hul kinders ondersteun. Dit gaan uiteindelik daaroor dat ons saam vir die kind die beste moontlike geleenthede skep.

Hoe hou jy jou passie lewendig ten spyte van die administratiewe en emosionele druk?

Ek probeer fokus op die klein goedjies. Soms kom jy by die skool aan en voel jy nie heeltemal jouself nie, maar dan is daar daardie een of twee leerders wat vir jou sê jy lyk mooi, of ’n kind wat vir jou ’n halfgeëte broodjie aanbied omdat hy dit met jou wil deel…

Of jy sien hoe hulle gesiggies ophelder wanneer hulle jou sien.

Vir baie kinders is jy hulle veilige hawe, en hulle sien regtig uit daarna om skool toe te kom en jou te sien. As ek dit onthou, maak dit alles die moeite werd. Daardie klein oomblikke herinner my aan die impak wat ons op kinders se lewens het, en dit is iets wat ek nooit as vanselfsprekend wil aanvaar nie.

Hoekom is ’n kultuur van saamwerk en hulpbronne deel so belangrik in die skoolstelsel?

Ek dink ons kan baie meer bereik as ons mekaar help. Daar is soveel druk en soveel werk wat gedoen moet word. As ons mekaar se las ’n bietjie ligter kan maak deur idees en hulpmiddels te deel, hoekom sal ons nie? Ons kan baie tyd spaar en terselfdertyd by mekaar leer. Ek glo nie ons hoef almal die wiel op ons eie uit te vind nie. As iets wat ek ontwikkel het ’n ander onderwyser kan help, of daardie onderwyser se dag ’n bietjie makliker kan maak, dan is dit vir my die moeite werd.

Hoekom sal jy jongmense aanraai om onderwys as ’n loopbaan te oorweeg?

Ek sal sê as jy ’n beroep wil hê waar jy elke dag die geleentheid het om ’n verskil te maak, moet jy onderwys oorweeg. Jy besef nie altyd hoe groot jou invloed op ’n kind is nie. Jy help nie net ’n kind leer lees en skryf nie; jy help vorm aan die mens wat daardie kind eendag gaan word. Jy kry die geleentheid om kinders se selfvertroue te bou, hulle nuuskierigheid aan te wakker en hulle te laat glo dat hulle enigiets kan bereik. En die lekkerte is dat jy self ook nooit ophou leer nie. Jy moet bereid wees om hard te werk, kreatief te wees en aan te pas, maar as jy jou hart in hierdie beroep sit, kan dit ongelooflik betekenisvol wees.

Watter alledaagse oomblik in jou klas by Laerskool Saldanha maak die hele beroep vir jou die moeite werd?

Dit is die klein oomblikke wat my die meeste laat glimlag. Graad 1-leerders sê soms die snaaksste goed, en ek moet myself keer om nie hardop te lag nie! My leerders is letterlik my grootste aanhangers! Toe ek byvoorbeeld draadjies gekry het, wou hulle sommer almal ook draadjies hê. Dit laat jou besef hoeveel hulle na jou opkyk en hoe groot jou invloed op hulle is, selfs in die klein dingetjies.

Maar dis selfs die oomblikke wanneer ’n kind iets regkry waarmee hy gesukkel het, of opgewonde na my toe hardloop om te wys wat hy/sy kan doen. Daardie oomblikke herinner my dat ek nie net vir hulle leer lees en skryf nie, maar ook help om hulle selfvertroue te bou.

Om te weet dat ek vir hierdie klein mensies iemand is na wie hulle opkyk, maak my werk vir my baie spesiaal.

Wat is die nommer een raad wat jy vir ’n student-onderwyser sal gee?

Ek sal sê: Berei jouself voor, want onderwys is nie noodwendig wat jy dink dit gaan wees nie!

Daar is oorvol klasse, hope administrasie, verslae, sperdatums en baie druk. Jy gaan soms huis toe gaan en voel daar is nog ’n honderd dinge wat jy moes doen. Maar moenie dat dit jou afskrik nie. Jy leer mettertyd om jou voete te vind, jou eie manier van werk te ontwikkel en te fokus op wat werklik saak maak. Bou verhoudings met jou leerders, wees bereid om te leer en moenie bang wees om hulp te vra nie. Jy hoef nie van dag een af alles te weet of perfek te wees nie. En onthou altyd hoekom jy begin het, want tussen al die administrasie en druk is daar klein mensies wat op jou staatmaak en vir wie jy ’n groot verskil maak.

by | Okt 27, 2026 | Algemeen, Artikels, Leerhulp

Deel hierdie plasing