Saamgestel: Annelie van Jaarsveldt
Net nog ’n bewys dat moedertaalonderrig werk.
“Die waarde van moedertaalonderrig kan nie genoeg beklemtoon word nie, maar die waarde van ons onderwyskorps kan ook nie onderskat word nie.”– Dr Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas)
Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se 2025-matriekverslag is onlangs vrygestel en bevestig net weer eens die waarde van moedertaalonderrig. Daarmee saam moet ‘n mens natuurlik noem dat volgehoue hoë onderrigstandaarde, ervare onderwysers wat die ekstra myl stap en ’n gevestigde kultuur van uitnemendheid in hierdie skole bydra tot die volgehoue prestasie van ons top- Afrikaanse skole. 2025 het ook meer onderskeidings en graadtoelatings en ’n hoër slaagsyfer opgelewer as die nasionale gemiddelde in die Nasioanle Seniorsertifikaateksamen.
Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS sê dat die verslag ten doel het om die waarde van moedertaalonderrig uit te lig – daarom word Afrikaanse skole se prestasie teen nasionale tendense gemeet. Skole wat in aanmerking kom vir die verslag moet Afrikaans huistaal aanbied en daar moet ten minste 15 leerders wees wat die vak neem. Sodoende word enkel-, dubbel-, parallelmedium en Engelse skole wat Afrikaans huistaal aanbied, by die verslag ingesluit.
Belangrike resultate luidens die verslag:
- Afrikaanse skole lewer ongeveer 5,5% meer onderskeidings en 5,5% meer graadtoelatings op as ander skole.
- Afrikaanse skole toon ’n 91%-slaagsyfer (teenoor die nasionale slaagsyfer van 88%).
- Afrikaanse skole presteer gemiddeld beter in wiskunde en fisiese wetenskappe, naamlik 84,5% teenoor 64% nasionaal.
- Afrikaanse skole se slaagsyfer in fisiese wetenskappe is 84,2% (teenoor die nasionale slaagsyfer van 77,3%).
- Gemiddeld behaal 21% meer Wiskundekandidate en 16,1% meer Fisiese Wetenskappe-kandidate meer as 50%.
Meer hulpbronne, beter onderrig?
Volgens ’n artikel op Netwerk24, is Afrikaanse skole meestal kwintiel 4- of 5-skole en kan die skole dus skoolfonds hef, maar volgens dr Jaco Deacon dra die ouers se ondersteuning van hulle kinders en belangstelling en hulp by tot prestasie in die skole. Omdat die skole nie veel fondse van die staat ontvang nie, dra fondsinsamelings verder by tot hierdie skole. Melanie Buys van die SOS glo ook dat goeie bestuur die kruks is van ’n goeie skool. “As onderwysers in die klas is, word daar geleer.”
Sê Leon Fourie, uitvoerende hoof SOS in sy voorwoord tot die SOS-verslag: “Ons glo dat elke gemeenskap ‘n uitnemende skooltuiste verdien. Die voortbestaan en gesondheid van ons Afrikaanse gemeenskappe is onlosmaaklik verbind aan die kwaliteit van ons skole. Daarom doen die SOS deurlopend wêreldwyd navorsing oor beste opvoedkundige praktyke. Ons skole is die hoeksteen van ons gemeenskap – en speel ’n deurslaggewende rol om ons kinders voor te berei vir ’n toekoms waarin hulle kan floreer.”
Enkele metings in die verslag:
- Gedetailleerde DBO-uitslae, met oorsigtelike verwysing na die uitslae van IEB en SACAI.
- Fokus op sekere kernvakke wat vir SOS-merietetoekennings kwalifiseer.
- QR-kode na ’n dokument met ranglyste vir ’n verdere 18 vakke, gebaseer op onderskeidings per kandidaat.
- Registrasiegetalle, slaagsyfers, kernvakprestasies, onderskeidings en Afrikaans huistaal se uitkomste word gemeet.
Aanbevelings luidens die verslag
- Prioritiseer akademiese diepte bo blote slaag.
- Gerigte ondersteuning vir wiskunde en wetenskap.
- Verbeter deurvloei en beperk leerderuitval.
- Beskerm die gehalte van universiteitstoelating.
- Versterk stelselkwaliteit en konsekwentheid.
- Bevorder moedertaalonderrig en onderwyserontwikkeling.
“Die 2025 matriekuitslae bevestig dat Afrikaanse skole nie net deelnemers aan die nasionale stelsel is nie, maar inderdaad die pas aangee vir gehalteonderwys in Suid-Afrika.”
Bronne en lees meer
Lees die volledige verslag hier: Tuisblad – Skoleondersteuningsentrum
Netwerk24-artikel deur Christinet Zaal – Meer A’s, hoër slaagsyfer in Afrikaanse skole – verslag (30 Januarie 2026) – https://www.hetwerk24.com/nuus/onderwys/meer-as-hoer-slaagsyfer-in-afrikaanse-skole-verslag-20260130-0825







