Demensie: Wanneer vergeetagtigheid nie net verstrooidheid is nie.

Tuis 5 Weet dit 5 Leefstyl 5 Demensie: Wanneer vergeetagtigheid nie net verstrooidheid is nie.
Dimensie

Skrywer: Annelie van Jaarsveldt

Almal van ons vergeet soms goed. Waar jy jou sleutels neergesit het, wat jy nou eintlik in die kombuis kom maak het, ’n afspraak, of jy vergeet tydelik iets wat jy voor jou siel weet jy van kennis dra en dis op die punt van jou tong, maar jy kan nou net nie onthou nie … en dit is heeltemal normaal. Ander oorsake van geheueverlies of demensie-tipe-simptome kan toegeskryf word aan mediese oorsake, soos sekere medikasie (bv. slaappille, anti-angsmedikasie, antidepressante, sekere pynstillers), ’n hoofbesering, emosionele stressors, alkoholisme, vitamien B-12-tekort, ’n onderaktiewe skildklier, ’n breingewas of -infeksie, blaasinfeksie en selfs slaapapnee. Dit is egter simptome en oorsake wat deur jou huisdokter geëvalueer en gediagnoseer kan word en is grootliks behandelbaar en omkeerbaar.

Dimensie daarenteen, waarvan Alzheimersiekte net een soort is, is egter geheueverlies op steroïede en is ’n progressiewe toestand waar die simptome geleidelik erger raak, hoewel dit van elke individu afhang hoe vinnig of stadig dit vorder.

Afrikaans.com vertel jou meer oor hierdie toestand wat soveel gesinne op soveel verskillende maniere kan raak. Vir diegene wat hierdeur geraak word, hetsy die persoon wat aan demensie ly of die geliefdes en versorgers, gaan dit gepaard met heelwat emosies, soos hartseer, stres, soms humor, baie empatie, hope geduld en veral begrip en deernis.

Wat is demensie?

“Geheue is die bousteen van verhoudings, vaardighede, kultuur en geloof, maar ook die platform van identiteit. Geheue verbind ons verlede met die hede en stel ons in staat om ‘n toekoms te projekteer. Vergeet neem my na onbekende plekke, waar my selfoon in die yskas wegkruip, my roetine by die deur uitwaai en my woorde verdwaal. Die woord demensie beskryf ‘n groep simptome waarin breinselle nie meer effektief kommunikeer nie.” – uittreksel uit ’n artikel deur Anton Böhmer, kliniese sielkundige, Stellenbosch

Demensie het ’n neurologiese oorsaak en is ’n chroniese siekte wat die persoon se kognitiewe vermoëns laat afneem, m.a.w. denke, geheue, gedrag en emosie word aangetas.

Die term, demensie, word oorkoepelend gebruik om ’n groep simptome, veroorsaak deur afwykings wat die brein affekteer, en waaronder ongeveer 200 verskillende soorte demensie sorteer, te beskryf. Alzheimersiekte is die bekendste en ook die mees algemene vorm hiervan.

Groot dele van die brein word aangetas en die persoon voel dikwels verward en raak gedisoriënteerd. Sy geheue, kommunikasievaardighede, probleemoplossing, besluitneming en om daaglikse take te verrig, neem ook af. Dit kan ook gepaardgaan met angs, depressie, gedragsafwykings en hallusinasies.

Die vier hoofstadia van demensie

“Die erns van demensie kan gekategoriseer word op grond van die vlak van gestremdheid wat veroorsaak word as gevolg van die neurologiese afwykings.”

  • Ligte kognitiewe agteruitgang: Dit word gekenmerk deur algemene vergeetagtigheid wat vererger soos wat die persoon ouer word en word nie in alle gevalle as demensie beskou nie.
  • Ligte demensie: Die persoon ondervind simptome van demensie en kognitiewe gestremdhede wat sy daaglikse lewe kan raak. Dit sluit in: geheueverlies, verwarring, en persoonlikheidsveranderinge. Die persoon verdwaal maklik, vind dit moeilik om vooruit te beplan en take te verrig.
  • Matige demensie: Dit is meer van ’n uitdaging en die persoon gaan versorging en hulp nodig hê. Simptome wat voorheen nie noemenswaardig of so opmerklik was nie, word nou erger. Hulle ondervind probleme met slaap, sukkel met gewone dagtake, soos aantrek, hare kam, en om ’n TV-afstandbeheerder of selfoon te gebruik. Die eens netjiese persoon kan effe verwaarloos voorkom.
  • Erge demensie: Kommunikasie, spraak en om ’n eenvoudige gesprek te voer, raak moeilik en soms onmoontlik. Die persoon sukkel met spiertonus en kan nie meer alleen regop sit en sy kop regop hou nie. Sommige persone raak inkontinent. Probleme om te sluk en ’n verlies aan eetlus kom voor. Slaaploosheid is aan die orde van die dag. Die persoon herken nie meer bekendes nie. In hierdie stadium is voltydse versorging noodsaaklik.
Dimensie
Wat toon die statistiek?
  • Ongeveer 55 miljoen mense wêreldwyd leef tans saam met demensie (WGO 2023-statistiek).
  • Alzheimersiekte kom by 60 tot 70% van die persone voor.
  • Volgens Alzheimer’s Disease International word daar elke drie sekondes iewers in die wêreld ’n nuwe geval van dimensie aangeteken.
  • Die Alzheimer’s Association beraam dat ongeveer een uit drie persone teen die ouderdom van 85 een of ander vorm van demensie sal ontwikkel en blyk dit dat amper tweederdes van alle Alzheimersiektegevalle vroue is (Amerikaanse statistiek).
  • Daar word beraam dat die getalle teen 2030 tot 78 miljoen sal toeneem, met ’n beraamde 153 miljoen persone wat teen 2050 daardeur geraak sal word.
  • Alhoewel ‘n vorm van demensie op enige ouderdom kan voorkom, neem die waarskynlikheid met ourderdom toe. Die voorkoms begin met 1% teen ouderdom 60 en verdubbel elke 5 jaar; dus 4% teen ouderdom 70, 16% teen 80 en 32% teen ouderdom 85 (Anton Böhmer, kliniese sielkundige).
Vroeë aanvang-demensie en jonger volwassenes

Hoewel demensie meestal met ouer mense geassosieer word, is daar ook jonger mense wat die toestand kan ontwikkel. Volgens Alzheimer’s Disease International se statistiek het ongeveer 3,9 miljoen mense wêreldwyd vroeë aanvang-demensie en is die diagnose van toepassing op persone jonger as 65. Hierdie gevalle is dikwels nie Alzheimers nie, maar behels meer frontaal-temporale demensie wat persone in hulle veertig- en vyftigerjare affekteer. Hierdie frontaal-temporale demensie manifesteer ook aanvanklik met persoonlikheids- en gedragsveranderinge, asook probleme met taalvaardigheid, eerder as geheueverlies, en word dan dikwels verkeerdelik as ’n psigiatriese toestand gediagnoseer.

Algemene simptome van demensie

Hierdie simptome word gebaseer op die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM-5) en word wêreldwyd aanvaar. ’n Amptelike diagnose deur ’n gekwalifiseerde persoon is nodig alvorens die toestand aan demensie toegeskryf kan word. Simptome moet ook vir ten minste ses maande voorkom en nie algemeen wees vir die ouderdom van die persoon nie. Nie al die simptome kom noodwendig voor nie en daar moet seker gemaak word dat simptome nie verband hou met ander siektetoestande nie.

  • Geheue gaan agteruit. Skielik vergeet die persoon hoe om weer by die huis te kom as hy by die winkels was of hy herken nie name en plekke nie. Hy sukkel om nuwe inligting aan te leer of inligting of ’n vaardigheid wat voorheen aangeleer is, te herroep.
  • Kommunikasievermoë. Die persoon wat eens lekker kon gesels, dit geniet het om te lees en te skryf, is skielik nie meer in staat om dit te doen nie en raak al hoe meer afhanklik van ander mense. Daardie vermoë om iets soos ’n gewone kort inkopielysie te maak, neem af en die lys is onvolledig of daar is duplisering van items reeds in die koskas. Spelling en handskrif gaan ook agteruit. Dis ook nie meer maklik om die plot/gebeure van stories te volg nie en as daar boonop heelwat karakters is, raak dit amper onmoontlik en verloor die persoon belangstelling.
  • Sukkel om taal toepaslik te gebruik.
  • Bewerig, vat mis, sukkel met motoriese bewegings, struikel maklik.
  • Sukkel om bekende voorwerpe of mense te herken.
  • Denkfunksies is aangetas. Sukkel met beplanning en organisering.
  • Die persoon is vinnig op sy perdjie en selfs soms aggressief en kan ook hartseer, bang of onseker wees. Hulle raak soms ook agterdogtig.

Hou in gedagte: Veral in die beginstadiums van die siekte is die persoon met demensie meestal bewus van wat besig is om te gebeur, maar hy het nie beheer daaroor nie en dit kan lei tot frustrasie en angstigheid. Hulle probeer ook om dit weg te steek en sal sommer ’n witleuentjie vertel, of dit as vergeetagtigheid of “domheid” afmaak.

Diagnose van demensie

Indien daar vermoed word dat ’n persoon demensie het, is dit noodsaaklik om ’n behoorlike en korrekte diagnose te maak. Net ’n dokter of ’n spesialis wat in die versorging van bejaardes spesialiseer, ’n neuroloog wat spesialiseer in siektes van die senustelsel of ’n psigiater wat spesialiseer in geestesgesondheid, is bevoeg om so ’n diagnose te maak.

Die diagnoseproses behels gewoonlik bloedtoetse, die evaluering van die persoon se mediese geskiedenis en ’n kort geheuetoets wat geheue en die vermoë om daaglikse take te verrig, evalueer.

“Verdere insette van ’n neuroloog of psigiater is waardevol. Hulle evaluering van breinskanderings wys hoe gesond die brein lyk en identifiseer ook areas van verandering of skade. Tog word ’n diagnose nie gebaseer op ’n skandering nie, maar op hoe goed die brein funksioneer. Die voordeel van ’n gespesialiseerde neurosielkundige evaluasie lê in die ondersoek van vermoëns wat met verskillende breinareas verband hou. Deur ’n kombinasie van toetse binne die konteks van ’n persoon se ouderdom en agtergrond kan ’n diagnose van demensie gemaak of uitgeskakel word.”

Enkele tipes demensie sluit in: Alzheimersiekte, vaskulêre demensie, Lewy-liggaamsiekte (Lewy body dementia), en frontaal-temporale demensie.

Hoe verlaag jy jou risiko om demensie te ontwikkel?

Daar is steeds baie onsekerheid oor die oorsake van die meeste siektes wat demensie veroorsaak. Wat wel duidelik na vore kom, is dat ’n gesonde dieet en leefstyl, beperkte alkoholinname en om nie te rook nie, asook intellektuele aktiwiteite, wel beskerming kan verleen. Volgens die mediese tydskrif, The Lancet (2020), is gehoorverlies een van die grootste risikofaktore en is dit verantwoordelik vir ’n beraamde 8% van alle gevalle van demensie. Dit kan veral toegeskryf word aan die afname in sosiale omgang omdat die gehoorgestremde se vermoë om te kommunikeer bemoeilik word en die feit dat die kognitiewe lading toeneem om vir die gehoorverlies te kompenseer.

Dimensie
Behandeling van demensie

Wanneer demensie in ’n later stadium gediagnoseer word, is behandeling nie noodwendig suksesvol nie. Wat wel ernstig oorweeg moet word, is om ’n sielkundige en psigiater te raadpleeg. Die persoon met demensie sukkel uiteindelik om na hulleself om te sien en in ernstiger gevalle, is permanente versorging aangewese.

Behandeling kan wel daartoe bydra dat die persoon se lewensgehalte verbeter.

Wanneer die kognitiewe vermoëns dramaties afgeneem het, raak dit nog belangriker om versorgers aan te stel of die persoon in ’n spesiale versorgingsfasiliteit te laat opneem. Dit is veral om hulle te beskerm teen fisieke gevaar omdat hulle vergeet om toestelle af te skakel, deure te sluit, of hulle reeds hulle medikasie vir die dag geneem het of nie, en of hulle geëet het of nie.

Tans bestaan daar geen genesing vir demensie nie. Behandeling fokus daarop om die progressie van simptome aansienlik te vertraag en om ’n individu se lewenskwaliteit te verbeter.

Raad vir diegene wat saam met iemand woon met demensie en deel uitmaak van die versorgingspan

Die persoon wat met demensie gediagnoseer is, gaan baie ondersteuning nodig hê. Veral aanvanklik, is hulle bewus van hulle toestand en die agteruitgang van hulle kognitiewe vermoëns en vind dit ontstellend. Hulle sal dit ook probeer wegsteek. Hier is so ’n paar riglyne:

  • Geduld, geduld en nogmaals geduld. Die persoon met demensie kan nie altyd hulle gevoelens in woorde uitdruk nie. Hulle het nie beheer daaroor nie.
  • Wees ingelig oor die verloop van die siekte sodat die nodige ondersteuning en plan van aksie in plek gestel kan word.
  • Moenie dink die persoon het nie meer ’n wil of verwagtings nie. Vra dus hoe hy behandel wil word en hoe jy moet optree.
  • Luister na die persoon, maar moenie met hom redekawel nie. Aanvanklik moet die persoon verantwoordelikheid neem vir sy toestand en sy eie keuses maak. Dit is belangrik dat hy vir so lank as moontlik sy onafhanklikheid behou.
  • Wees bewus van die tekens en simptome sodat daar betyds opgetree kan word.
  • Raak aktief saam met die persoon. Gereelde oefening is voordelig en help ook om spanning, angstigheid en depressie te verlig.
  • Help om ’n roetine te vestig sodat enige veranderinge in simptome vroegtydig opgemerk kan word. Dit laat die persoon ook veiliger voel.
  • As jy die versorger is of saam met die demensielyer woon, is dit noodsaaklik dat jy na jou eie welstand sal omsien. Die frustrasie, uitputting, angstigheid en chaos waaraan jy blootgestel word, is ’n werklikheid. Maak dus tyd vir jouself ook. Kry gereeld iemand wat kan help sodat jy ’n ruskansie kry.

Onthou, om vergeetagtig te raak, dui nie noodwendig op demensie nie. Dit kan gewoon net aan ouderdom toegeskryf word, of dit kan ’n teken van spanning of depressie, of ’n ander onderliggende siektetoestand wees. As jy bekommerd is oor jouself of iemand na aan jou, bespreek dit met jou huisarts. Die regte diagnose kan help om die pad vorentoe behoorlik te beplan, indien nodig.

by | Okt 27, 2026 | Leefstyl, Weet dit

Deel hierdie plasing