Alopecia onder die loep: Wat jy oor haarverlies moet weet

Tuis 5 Weet dit 5 Leefstyl 5 Alopecia onder die loep: Wat jy oor haarverlies moet weet
Haarverlies

Skrywer: Karla Janse van Vuuren

’n Paar ekstra hare op jou haarborsel of in die stort na ’n was is gewoonlik niks om oor bekommerd te wees nie. Maar wat as jou hare skielik by die handvol begin uitval, of kaal kolle op jou kopvel (of selfs in jou wenkbroue) verskyn? Alopecia kan verskillende vorme aanneem, en die oorsake is nie altyd so eenvoudig soos wat ’n mens dink nie. Afrikaans.com het by ’n paar kenners gaan uitvind presies wat alopecia is, die oorsake daarvan, en watter behandelingsopsies daar is vir mense wat daarmee worstel.

Volgens dr. Amanda Visagie, ’n dermatoloog van Johannesburg, is alopecia die mediese term vir haarverlies. Sy sê sy verduidelik altyd dat dit ’n “sambreelterm” is, en nog nie ’n spesifieke diagnose nie. Dr. Judey Pretorius, ’n biomediese wetenskaplike en stigter van Biomedical Emporium, verduidelik verder dat die haarverlies op verskillende dele van die liggaam kan plaasvind, nie net die kopvel nie. Wenkbroue en wimpers word ook algemeen beïnvloed.

“Die oorsake en patroon van haarverlies verskil van persoon tot persoon, en afhangend van die tipe alopecia, kan dit tydelik of permanent wees.”

Die algemeenste vorme sluit androgenetiese alopecia in, wat met genetiese en hormonale faktore verband hou en gewoonlik geleidelike haarverdunning veroorsaak. Alopecia areata is ’n outo-immuuntoestand wat dikwels tot ronde, kaal kolle op die vel lei, terwyl telogene effluvium verhoogde haarverlies oor die kopvel veroorsaak, dikwels na spanning op die liggaam. Traksie-alopecia ontstaan weer as gevolg van herhaalde spanning op die hare, byvoorbeeld weens stywe haarstyle of vlegsels.

Oorsake van alopecia

Die oorsaak hang meestal af van die tipe alopecia, sê Amanda. “Genetika speel ’n groot rol by androgeniese alopecia. Beide mans en vroue kan dié tipe haarverlies ervaar. Die patroon lyk net anders. Dit kan van beide jou ma of pa oorgeërf word.”  Judey verduidelik dat alopecia areata ’n outo-immuuntoestand is waarin die immuunstelsel die haarfollikels aanval, wat dikwels tot skielike, kolvormige haarverlies lei.

“Telogene effluvium veroorsaak weer verhoogde haarverlies oor die kopvel en kan onder andere deur spanning en sekere voedingstekorte veroorsaak word. Traksie-alopecia ontstaan wanneer herhaalde spanning op die hare, byvoorbeeld weens stywe haarstyle, vlegsels of haarverlengings, die haarfollikels beskadig. Indien hierdie spanning voortduur, kan die skade permanent word. Littekenvormende alopecia verwys weer na ’n groep toestande wat haarfollikels permanent kan beskadig en tot onomkeerbare haarverlies kan lei.”

Amanda voeg by dat hormoonveranderinge ook verantwoordelik kan wees vir haarverlies. “Dit kan byvoorbeeld rondom swangerskap, ná geboorte, tydens perimenopouse en menopouse voorkom. Toestande soos skildklierafwykings kan ook ’n rol speel. Verder kan voedingstekorte, veral ystertekort, asook sekere medikasie, ernstige siektes, vinnige gewigsverlies (soos gesien in pasiënte op GLP-1-medikasie) en ander sistemiese toestande ook haarverlies veroorsaak.”

Beide kenners beklemtoon dat jy so gou as moontlik ’n dermatoloog moet gaan spreek as jy bewus word van ernstige haarverlies.

Haarverlies
Alopecia in Suid-Afrika
  • Bevolkingstudies in Suid-Afrika wys dat traksie-alopecia een van die mees algemene vorme in ons land is. Dit kom voor onder ongeveer 32% van vroue tussen 18 en 86. In teenstelling affekteer traksie-alopecia net ongeveer 2% van volwasse mans. Kinders en jongmense (ses tot 21) word ook geaffekteer met 17% wat sukkel met traksie-alopecia. Die hoofoorsake is haarstyle wat te styf is (soos vlegseltjies of ‘weaves’ en selfs poniesterte), en langtermyngebruik van chemiese haarontspanningsmiddels.
  • Suid-Afrika het een van die hoogste persentasies van manlike haarverlies in Afrika. Teen die ouderdom van 50, ervaar ongeveer 50% van alle mans merkbare haarverlies.
  • Alopecia areata affekteer ongeveer 1 in elke 1000 mense in Suid-Afrika. Die meeste mense wat hiermee sukkel, word reeds voor die ouderdom van 30 daarvan bewus.
Haarverlies

“Dit word beskou as ’n dermatologiese noodgeval. Die eerste teken is egter nie altyd ’n duidelike kaal kol nie. Dit kan bloot wees dat iemand opmerk dat daar meer hare as gewoonlik op die kussing, in die stort of op die borsel is. Ander tekens sluit in ’n sigbaar breër middellyn, ’n dunner poniestert, ’n terugtrekkende haarlyn, skielike kaal kolle, of dat die kopvel meer sigbaar begin word,” sê Amanda.

Judey voeg by dat afhangende van die tipe alopecia, kan simptome soos jeuk, skilfering of gevoeligheid van die kopvel ook voorkom. “Vroeë ondersoek kan help om die onderliggende oorsaak te identifiseer en ’n geskikte behandelingsplan te bepaal. Dit is veral belangrik wanneer haarverlies met pyn, inflammasie of moontlike littekenvorming gepaardgaan, aangesien sekere vorme van alopecia permanente skade aan die haarfollikels kan veroorsaak.”

Stel die oorsaak vas

Wanneer ’n pasiënt haar raadpleeg oor haarverlies begin sy eers met ’n deeglike geskiedenis en ondersoek van die hare en kopvel, sê Amanda. “Ons kyk onder andere na die patroon van haarverlies, hoe vinnig dit ontwikkel het, haarversorgingspraktyke, medikasie, dieet, siektes, stresvolle gebeurtenisse en familiegeskiedenis. Dermatoskopie (trichoscopy) van die kopvel kan baie nuttige inligting verskaf oor die haarfollikels en help om verskillende tipes alopecia van mekaar te onderskei.”

Amanda voeg by dat bloedtoetse ook deel van die proses kan wees.

“Dit word gerig volgens die geskiedenis en kliniese bevindinge. Afhangend van die situasie kan ons byvoorbeeld kyk na volbloedtelling, yster/ferritien, skildklierfunksie, en soms ander voedingstowwe of hormonale en outo-immuunondersoeke. Indien die diagnose onseker is, of indien ’n littekenvormende alopecia vermoed word, kan ’n kopvelbiopsie nodig wees. Dit kan baie belangrik wees om die presiese tipe inflammasie en die toestand van die haarfollikels te bepaal.”

Judey beklemtoon dat nie alle pasiënte al hierdie ondersoeke nodig het nie, en die nodige ondersoeke hang af van die patroon van haarverlies, gepaardgaande simptome en die bevindinge van die kliniese ondersoek. “’n Akkurate diagnose is noodsaaklik om die mees geskikte behandeling te bepaal.”

by | Okt 27, 2026 | Leefstyl, Weet dit

Deel hierdie plasing