Onderwysmarkplein

DIE MARKPLEIN

Dankie dat jy ons Leerhulpafdeling besoek. Ons hoop jy het gesien hoeveel gratis en aflaaibare inhoud daar onder die verskillende kategorieë – van voorskool tot hoërskool – beskikbaar is en dat jy geholpe geraak het.

Kyk gerus ook hier onder na ons Markplein waar jy meer te wete kan kom van die ander uitmuntende organisasies wat ons aanbeveel en wat deel uitmaak van die Afrikaanse onderriglandskap.

 


 

Klik op die organisasie van jou keuse om te sien wat hulle bied.  

Afrikaanse instansies

MARKPLEIN Afriforum
AFRIFORUM

AfriForum se afdeling vir kultuursake fokus op kwessies wat met Afrikaans, taalregte, erfenis, die Suid-Afrikaanse diaspora en die bevordering van gehalte-onderrig, veral moedertaalonderrig, verband hou. AfriForum bied ook: Die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente en laer- en hoërskoolleerders, jeugleierskapprogramme, teenboeliegedragprogramme en programme om entrepreneurskap onder die jeug uit te bou. AfriForum kan ook help wanneer taal- en onderwysregte geskend word en regshulp benodig word.

Akademia
AKADEMIA

Akademia is ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Die instelling streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms. Met twee onderrigleermodelle (die nauurse afstandsmodel en voltydse kampusmodel), vyf dinamiese fakulteite, verskeie programme en ʼn bruisende studentelewe is Akademia jou Afrikaanse studietuiste.

AON
AON (Die Afrikaanse Onderwysnetwerk)

Die AON fokus op die instandhouding, versterking en uitbouing van gehalte Afrikaanse onderwys, van voorskoolse tot tersiêre vlak.  Die AON is ‘n netwerkorganisasie wat Afrikaanse onderwys in samewerking met vennote bevorder.  Die belangrikheid van moedertaalonderrig lê die AON na aan die hart, daarom verskaf ons graag onderwysdienste en -produkte aan die Afrikaanse onderwysgemeenskap, om uitnemende onderwys volhoubaar uit te bou en te verseker.

ATKV
ATKV (Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging)

Die ATKV strewe daarna om op ’n volhoubare wyse sosiale en ekonomiese vooruitgang te kweek en só te verseker dat Afrikaans se lewende erfenis uitgebou en bewaar word. Projekte sluit onder andere in ATKV-DigiProjekte (o.a. DigiKuns, DigiPraat en DigiSkryf), kultuurprojekte (ATKV-Debat, ATKV-Redenaars, ATKV-Applous, ATKV-Tjokker- en -Tienertoneel, ATKV-Sêr, ATKV-Jeugleiersimposium), taalprojekte (Afrikaans vir Almal, ATKV-Skryfskool, Vriende van Afrikaans, Afrikaanse Olimpiade), ATKV-Kopskuif (om gehalteonderwys in skole te ondersteun), musiek- en dansprojekte (ATKV-Komposisiekompetisie, ATKV-Crescendo, Rieldans, Taalgenoot-Ruk en Rym) en toekennings (ATKV-Kinderboektoekennings, ATKV-Mediaveertjies, ATKV-Woordveertjies).

ATM
ATM (Afrikaanse Taalmuseum en -monument)

Die Taalmuseum en -monument vier die skeppende diversiteit van Afrikaans se verlede, hede en toekoms. Die monument, ’n simboliekbelaaide beeldhouwerk geleë in ’n beeldskone natuurlandskap, gee gestalte aan die taal se fassinerende ontstaansgeskiedenis. Dit word verder belig in die museum, in die historiese huis waar die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is, met voorbeelde van die oudste Afrikaans in Arabiese skrif asook die taal se musikale avontuur. Die instelling bied gereeld uitsonderlike geleenthede aan.

ATR
AFRIKAANSE TAALRAAD

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) bevorder Afrikaans en die regte van sy sprekers binne ‘n meertalige konteks. Ons gee erkenning aan die gedeelde en diverse geskiedenis van Afrikaans, en die uiteenlopende variëteite van die taal met die doel om samewerking tussen Afrikaanssprekendes te verbeter en gapings in die taallandskap te dek. Ons doen dit deur taal- en onderwysondersteuning, skakeling met universiteite oor die behoud van Afrikaans se hoër funksies, en navorsing oor die lewenskragtigheid van Afrikaans.

FAK
FAK

Die FAK is die oudste Afrikaanse kultuurorganisasie in Suid-Afrika en bied sedert 1929 ’n tuiste vir alles-Afrikaans. Projekte wat die FAK aanpak vir bevordering van Afrikaans en die beskerming en bewaring van ons ryk erfenis, is die Internasionale Afrikaans-Ekspo, Geskiedenisolimpiade, Toneelfeeste, Musiekuitvoerings, die FAK-Jeugsimfonieorkes en dan natuurlik die FAK-Sangbundel. Die FAK is steeds die hartklop van ons taal, kultuur, en geskiedenis en ’n baken van hoop vir die toekoms.

Besoek ook ons projekteblad  hier.

FEDSAS
FEDSAS

FEDSAS is die leier in skoolbeheer met ons primêre fokus die ontwikkeling en toerus van skoolbeheerliggame. Dit sluit interne opleiding van en steun aan personeel en lidskole in, asook die beskikbaarstelling van opleidingsgeleenthede en steun vir die breër skoolgemeenskap. Ons missie is die behoud en bevordering van onderwys van gehalte in alle skole in Suid-Afrika deur opleiding, toerusting en bystand aan lede te voorsien in die nakoming van hul regte, uitvoering van pligte en nakoming van verantwoordelikhede.

Klaskamer
KLASKAMERAAD (Lapa Uitgewers)

Bekostigbare boeke vir almal se smaak met ‘n keur van kinder- en jeugverhale. Ons Klaskameraad-afdeling fokus op taal-, studie- en leesgidse, asook e-gidse en Berlut-gidse. Kies uit prenteboeke, leesreekse, klasleesboeke, hulpboeke, aanlyn klasgidse en ‘n volledige skolekatalogus (Skolekatalogus 2024 | Klaskameraad). Daar is ook heelwat gratis materiaal om uit te kies.

Artscape
KUNSTEKAAP

Voorgeskrewe werke

Daar word jaarliks verskeie voorgeskrewe werke vir Hoërskoollleerlinge aangebied. Werke sluit onder meer Athol Fugard se My Children My Africa, Buzani Ku Bawo, Hamlet en Adam Small se Krismis van Map Jacobs in. Vlooi vir die grondslagfase is ook ‘n jaarlikse instelling waar die karakter lewe kry op die verhoog.

Artscape is verbind tot die volhoubare blootstelling aan leerlers te bied om in ‘n professionele atmosfeer ‘n toneelstuk as deel van die voorgeskrewe kurrikulum te ervaar. Dit is vir baie ‘n eerste besoek aan die teater en die bewuswording van ‘n groter en verrykende lewensraamwerk.

MindMoves
MIND MOVES INSTITUUT

Die Mind Moves Instituut span natuurlike beweging in as ‘n katalisator om leer te optimaliseer.

Ons bereik dit deur: • Wetenskaplik gesonde navorsing • In verhouding te tree met swanger mammas, babas, kleuters, kinders, studente, volwassenes en senior persone deur prakties en probleemoplossende werkswinkels en ondersteunende hulpbronne • Toegepaste neurowetenskap en beweging te kombineer om vaardige, selfbewuste en veerkragtige persone te ontwikkel om vreugdevol te lewe van die jongstes tot ouer volwassenes.

MS
DIE MOS

Die MOS Inisiatief is ‘n onafhanklike skolenetwerk wat gehalte en toekomsgerigte Afrikaanse onderrig verskaf. Sedert 2019, is meer as elf fisiese skole regoor Suid-Afrika sowel as ’n wêreldwye aanlyn tuisskool gestig. ’n Nuwe en innoverende benadering tot leer maak Die MOS ‘n unieke ervaring. Volgens hierdie benadering word leerders vennote in hul leerreis eerder as passiewe ontvangers van inligting. Ouers word genooi om Die MOS te kontak vir leeroplossings vanaf graad R tot matriek.

Besoek ook: MOS Wêreldwyd en Die MOS.

NB-UITGEWERS

NB-Uitgewers is een van die grootse plaaslike algemene uitgewerye in die Suid-Afrikaanse boekemark en spesialiseer in volwasse fiksie, kinder- en jeugboek en nie-fiksie. Hulle gee hoofsaaklik boeke vir die algemene Suid-Afrikaanse mark uit en ook taal- en letterkundetekste vir skole. NB-Uitgewers se aanbod vir die jongspan bied inhoud vir voorskool-, laerskool- en hoërskoolleerders. Verder bied hulle ook ’n verskeidenheid woordeboeke wat in die klaskamer of tuis gebruik kan word.

PRACTICA
PRACTICA

Die Practica Program is ’n tuisgebaseerde, een-tot-een opvoedingstimulasieprogram. Ouers belê in ’n houtspeelgoedkis vol apparaat, ’n uitgebreide gids, adviesdiens en maandelikse inligtingsbriewe wat hulle meer leer oor die brein en sy ontwikkeling op die verskillende voorskoolse stadiums. Breinontwikkeling word op ’n natuurlike wyse geoptimaliseer deur met kinders te speel as deel van die daaglikse roetine. Verhoudings verdiep, karakters ontwikkel en kinders leer talle nuwe dinge wat hulle slegs met die regte leiding op spesifieke ouderdomme kan baasraak.

PROSCENIUM-DRAMAKOMPETISIE

Die Proscenium-Dramakompetisie bied aan hoërskoolleerders van graad 8 tot 12 die geleentheid om individueel deel te neem. Die kompetisie (’n Tribuo-projek) stel jong akteurs bekend aan die wêreld van die uitvoerende kunste. Dit sluit teater, televisie, radio en oorklanking in. Na landswye uitdunrondes word 60 finaliste genooi om vanaf 15 tot 17 Mei 2025 in Kaapstad aan die finale rondes deel te neem. Skryf in by www.proscenium.pro.

SAKAI

Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut (South African Comprehensive Assessment Institute)

SAKAI, ‘n privaat- asesseringsinstansie, bedien primêr tuisskoolleerders, afstandsonderriginstansies, kleiner onafhanklike skole en leerders wat leerhindernisse ondervind. SAKAI verskaf ook kwaliteit klientediens en eksterne skoolgebaseerde assesserings vir sodanige leerders in grade 10, 11 en 12. SAKAI assesseer die Nasionale Senior Sertifikaat (gr 12) en Algemene Opvoedings- en Opleidingsertifikaat: Basiese Opvoeding en Opleiding vir Volwassenes (gr 9). Eksamens kan in Afrikaans of Engels afgelê word. SAKAI is ten volle geakkrediteer by Umalusi. Suksesvolle kandidate ontvang sertifikate van Umalusi.

SAOU

Die SAOU is ’n apolitiese unie toegewy aan onderwysers en is gebou op die beginsel van vryheid, gelykheid en respek vir fundamentele menseregte ten einde die individuele en kollektiewe belang van sy lede te verbeter en te beskerm om sodoende gehalte-onderwys aan die leerders in hul sorg te bied. Die SAOU bestuur verhoudings tussen werknemers en werkgewers en verset teen enige vorm van onbillike diskriminasie. Ons voorsien in-diens en verdere opleiding om opvoeders ten volle te ondersteun en bemagtig in hul professionele hoedanigheid.

SBA
SBA (Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans)

Dit is die SBA se missie om geletterdheid en kommunikasie deur Afrikaans te ontwikkel en terselfdertyd respek vir Afrikaans te bewerkstellig.

Buiten projekte in plaaslike gemeenskappe, bied die SBA op ons webtuiste ‘n uiteenlopende aantal digitale hulpbronne gratis aan leerders, opvoeders, ouers en taalliefhebbers.

Dit sluit in kinderpublikasies met meegaande animasievideo’s, aanvullende onderrigmateriaal vir die klaskamer of verryking tuis, en ‘n YouTube-kanaal wat videomateriaal van relevante projekte deel.

SIYAFUNDA EDUCATION FOUNDATION

Siyafunda maak programmering toeganklik vir beginners, met slegs ‘n webblaaier benodig. Deelnemers leer om interaktiewe kode te skryf, visuele patrone te teken en praktiese toepassings te ontwikkel. Hierdie kursus bied ‘n praktiese benadering tot basiese programmeringsvaardighede. Na afloop sal jy die selfvertroue hê om komplekse projekte aan te pak en ‘n stewige grondslag hê om die grense van kodering verder te verken.

SOS

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) werk om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te verseker deur gehalteonderrig wat reeds bestaan in stand te hou, én waar nodig nuut te bou. Om gehalte Afrikaanse onderwys – en daarmee saam Afrikaanse gemeenskappe – in die langtermyn volhoubaar te maak, ondersteun die SOS openbare skole, maar help ook bou aan ‘n wêreldklas, onafhanklike skoolstelsel wat tegnologiese oplossings optimaal benut, moedertaalonderrig bevorder en gesonde kultuur- en waarde-oordrag verseker.

VivA (Die Virtuele Instituut vir Afrikaans)

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) bevorder die gebruik van Afrikaans in digitale kontekste. Taalonderrigportaal (VivA se onderwysafdeling) bevat onder meer toegang tot die Woordeboekportaal (en apps) waar woorde se spelling nageslaan kan word, ’n taaladviesdiens waar kundige antwoorde op taalnavrae verskaf word, ’n Lees-en-luisterbiblioteek (en app) met oudiovisuele kinderstories en verhale vir volwassenes, klaskamerhulpmiddels soos plakkate, werkkaarte en muurkaarte vir taalstruktuur- en -konvensie-onderrig, ʼn Afrikaanse skoolgrammatika én ’n leesbaarheidsindeks om tekste se leesbaarheid te bepaal.

VVA (Vriende van Afrikaans)

Die Vriende van Afrikaans is ’n groep mense wat werk vir Afrikaans.

Die Vriende van Afrikaans (VVA), ‘n afdeling van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), maak reeds 30 jaar lank seker dat kinders oral in Suid-Afrika die wonderwêreld van boeke en lees ervaar. Ons vlagskipprojek is ons boektrommels vol heerlike boeke wat by verdienstelike skole en kleuterskole besorg word, ons nuusbrief (Doendinge vir Afrikaans) en ook ons leesondersteuningsprojek wat die belang van voorlees in elke Afrikaanse huis wil tuisbring.

WAT (Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal)

Die WAT is ’n sinchroniese verklarende woordeboek wat op ’n omvattende manier verslag doen van die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang. Die keuse en aanbieding van data is die gevolg van indringende navorsing oor die taal en die bewerking sluit ’n groot verskeidenheid tipes inligting in. Dit is ’n akademiese woordeboek wat as ’n gesaghebbende naslaanbron deur taalkundiges, ander navorsers en liefhebbers van Afrikaans gebruik kan word.

WEET (Maroela Media)

Weet is ‘n aanlyn ensiklopedie en e-naslaangids vir leerders. Met dié platform kry leerders toegang tot goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans, aanvullend tot die skoolkurrikulum, wat hulle in staat sal stel om naslaanwerk vir skooltake en -opdragte in Afrikaans te doen. Op Weet kry jy ook baie meer inligting as dit wat jy op skool leer – van geskiedenis tot kunstenaars en alles tussenin.

WOW (Woorde open Wêrelde)

WOW, ’n bemagtigingsinisiatief van die Universiteit Stellenbosch (US), spog met die grootste spelfees in Suid-Afrika. WOW verbreed sedert 2003 leerders en opvoeders se horisonne deur kreatiewe programme gerig op taal en die kunste by onderbediende skole aan te bied. Verskeie lees- en skryfprojekte help om gretige lesers te kweek. Die Sanlam WOW Spelfees bied leerders blootstelling aan en geleenthede by die US. WOW bemagtig ook talentvolle kandidate met WOW-studiebeurse.