Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Die Suid-Afrikaanse akteur Frank Rautenbach bekoor al kykers sedert die vroeë 2000’s toe hy as die sjarmante Tiaan Terreblanche op ons kassies was in die gewilde sepie 7de Laan. Hy is ook bekend vir twee onvergeetlike films, Faith Like Potatoes (2006) en Hansie (2008) en internasionale produksies soos The Bang Bang Club tydens sy jare in die VSA. Daar is dus baie om met hom oor te gesels, maar Afrikaans.com het die fokus gehou op een van sy mees onlangse rolle, dié van Bernard Kruger in die fantastiese kykNET-reeks, Beter as Gister.
Dié reeks fokus op vier pa’s en hulle verskillende ervarings van ouerskap. Frank se karakter is ’n suksesvolle sakeman wat toegelaat het dat sy verhoudings met sy vrou (gespeel deur Hanna Grobler) en kinders skade ly as gevolg van sy loopbaan. Bernard is beslis nie ’n maklike karakter om van te hou nie, veral aan die begin van die reeks, en Frank vertel hy het die karakter diepte gee deur ’n agtergrond vir hom te skep. “Dit is menslik om te dink jy doen die regte ding. Selfs Hitler het gedink hy doen die regte ding vir Duitsland! So, Bernard dink hy doen die beste vir sy gesin deur hard te werk. Maar, hy glo ook omdat hy so hard werk, verdien hy die ‘perks’ wat daarmee saamkom, soos die mooi vroue wat oor sy pad kom. Bernard se pa was baie ryk gewees, maar het alles verloor en kon nie daaroor kom nie. Bernard wou nie so wees nie, maar toe word hy presies soos sy pa. En die siklus herhaal homself met Bernard se seun Reynard. Pa en seun het baie dieselfde tipe wonde en swakhede, en vandaar kom die konflik.”
Die vonke wat spat tussen Bernard en sy seun Reynard (Sebastian van Niekerk) is een wat kykers veral vasgenael hou. In die tweede episode van die reeks lei een van hulle argumente tot ’n ernstige motorongeluk waarin Bernard so erg seerkry dat hy verlam is en die gebruik van sy bene verloor. “Ek het video’s gekyk van mense wat werklik verlam is om voor te berei vir die rol. My benadering was om nie bewus te wees van my bene nie, om hulle regtig te sien as net twee onbruikbare ‘goed’ wat ek moet saamsleep. So iets moet ’n mens nie ‘speel’ nie, jy moet dit regtig voel en probeer om dit outentiek oor te dra aan die kykers.”

Frank Rautenbach saam met Sebastiaan van Niekerk wat sy seun Reynard gespeel het in Beter as Gister.
Natuurlik het kykers die hele reeks deur bly hoop vir ’n wonderwerk en dat Bernard weer sal opstaan. “Nee,” lag Frank, “vir iemand soos Bernard om te verander, moet ’n katastrofe gebeur. Die ongeluk was vir hom soos ’n ‘smelling salt’ om by te kom en te sien wat in sy lewe aangaan. Dit moet iets erg genoeg wees sodat sy verandering geloofwaardig sal wees. Die vier pa’s in die reeks is die helde. Maar in die eerste episode is Bernard regtig nie ’n held nie. So, hoe maak ons hom ’n held? Deur iets van hom weg te vat en hom te laat worstel. Die reeks het aanklank gevind by baie mense, en ek dink dis die noot van hoop regdeur die storie wat dit aanhelp. As akteur was dit vir my ’n baie spesiale reeks om aan te werk. Dit was ook wonderlik om die finale produk te kyk. Ons het baie van ons tonele apart opgeneem en eintlik min saamgewerk. So, om te sien hoe alles bymekaarkom en die storie vloei, was regtig besonders.”
Frank sê die verfilming van die motorongeluk was veral baie uitdagend.
“Ons het nie fisies bestuur nie, al was daar ook tonele wat in ’n motor verfilm is. Daar was skerms, windmasjiene en silikoon-stukkies wat rondgegooi is sodat dit soos gebreekte glas lyk – so baie dinge op een slag. En dan moet ’n mens nog die rol speel en mense moet die emosie van die oomblik voel. Bernard het die toppunt van ‘genoeg gehad’ bereik en mense moet die intensiteit van sy teleurstelling in sy seun voel, en ook natuurlik Reynard se intense emosie teenoor sy pa.”
Frank is nie self ’n pa nie, maar hy sê sy rol as Bernard het net bevestig wat hy reeds in die lewe geleer het.
“Ek is nou in my 50’s en ek dink dis ’n goeie steekproef van die lewe! Daar is groot bravado in ’n mens se 20’s, en baie minder nonsens nou in jou 50’s. Ek het nou al baie kans gehad om te sien wat werk, en wat nie. Ek vra myself, het ek geluister en geleer? ’n Sielkundige het eenkeer gesê, ‘What you don’t repair, you repeat.’ Mens moet wonde aanspreek en dit herstel, anders ontstaan ’n bose kringloop. Dit is presies wat gebeur met Bernard en Reynard. Harde werk en baie geld is soos sementblokke om die wond wat jy saam met jou dra. Niemand sien dit nie, maar jy weet dis daar. As jy lank genoeg leef, gaan jy begin bloei deur die sement. En almal gaan dit kan sien, behalwe dalk jy.”
Ten spyte van die feit dat ’n mens hom teen dié tyd al ’n veteraan-akteur kan noem, en sy ervaring van 13 jaar in die VSA, sê Frank dat elke karakter ’n nuwe uitdaging is. “Of ek nou op die verhoog as seremoniemeester by ’n geleentheid is, of voor die kamera, elke keer kom ’n mens terug by die vraag, ‘is ek goed genoeg’? Maar, dis soos Rassie vir die Springbokke sê: ‘trust the system’. Vertrou die proses. Byvoorbeeld, moenie probeer huil as jy moet huil in ’n toneel nie, dan gaan dit geforseerd wees. Probeer eerder lag! Dit is maar die uitdaging vir elke karakter. Gaan dit geloofwaardig wees? Ek is nou meer ervare, en ek weet die ‘magic’ gaan kom, ek moenie dit forseer nie.”

Frank Rautenbach met Tumisho Masha in Invisible.
Na al die jare maak toneelspeel hom steeds opgewonde, en het hy die afgelope paar jaar in verskeie reekse, insluitende Lioness, Die Byl, Reyka, en Summertide gespeel. Hy is ook tans te sien in Invisible, ’n aanpassing van Deon Meyer se roman Blood Safari. “Ek is mal oor daardie konneksie tussen wat ek doen, en die reaksie wat ek in iemand anders se oë kan sien. Hoe ouer ek word, hoe minder dink ek aan myself en hoe meer dink ek aan die kyker. Mens gaan van selfbewus na ander-bewus. Die rol wat ek in Invisible speel is ook vir my fantasties – ’n mens kom in ’n stadium van jou lewe waar jy genoeg lewenservaring het om dié tipe rolle te speel. Hoe verwerk jy slegte besluite? Dis lewenservaring wat jou help om hierdie rolle met deernis en eerlikheid te vertolk.”
Al bly hy lief daarvoor om voor die kamera te wees, sê Frank dat hy ook graag agter die kamera sal wil inskuif as regisseur. “Ek het al saam met baie mense gewerk, en veral ‘old school’ regisseurs verstaan toneelspel en hoe om met akteurs te werk. Baie uitstekende regisseurs het ook lank gewerk, dikwels as akteurs, voordat hulle met regie begin het. Ek vind daar is ’n leemte in daardie opsig deesdae. Baie jong mense stap by filmskool uit en dink hulle is Steven Spielberg. Wat ek geleer het en my ervaring – ek sal dit graag wil gebruik en wil deel. Om stories te vertel en daar buite te kry, is my hart se punt – veral stories wat mense se harte raak. Ek sal altyd passievol bly daaroor.”







