Skrywer: Christien Neser
Daar word dikwels gevra: In watter taal moet ek my kind grootmaak? En in watter taal moet my kleinkind grootgemaak word?
Afrikaans.com het die bekende skrywer en spraakterapeut, Christien Neser, genader om die vrae vir ons te beantwoord. Sy antwoord soos volg:
Kom ons begin by konteks. Sestig jaar gelede, toe ék grootgeword het, het die wêreld anders gelyk. Ja, twee generasies gelede is kinders doodnatuurlik in hul moedertaal grootgemaak, met die skool wat die taak gekry het om te sorg dat die kinders ook tog Engels moet leer. Vermaak was radioverhale, boeke en ‘n fliek nou en dan. In die Vrystaatse milieu waar ék grootgeword het, moes ouers hul kinders na Engelse skole stuur as hulle wou hê dat die kinders behoorlike Engels moes leer praat.
Kom ons spring ‘n generasie. Dis die negentigs en ‘n nuwe generasie word groot. Nou is dit die baby boomers wat kinders grootmaak, mét televisie nogal. Kinders kon van vyfuur in die middag vir ‘n uur lank na oorgeklankte kinderprogramme kyk, soos Heidi, Nils Holgerson, McGyver, Brakkenjan en vele meer. Dit was die tyd van Wielie Walie en Bennie Boekwurm, Orkney Snork Nie en Agter elke man. Afrikaans het op TV floreer, ons kinders en al hul Engelssprekende maatjies het saam Afrikaanse liedjies gesing.
Spring nog ’n generasie, en nou maak die Wielie-Walie-kleuters hul eie kinders groot. Dis die 2020’s. Die taalkonteks het heeltemal verander. Engels is die amptelike taal van die regering, die media en van meeste vermaak. Dis die wêreld se nommer een taal en dis oral om ons. Niemand hoef te wag vir die TV om presies om vyfuur aangeskakel te word nie. Die skerms is in kinders se hande, met ’n aanbod wat mens dronkslaan. Die inperking wat Covid meegebring het en die verbetering van wifi oraloor, het ’n generasie kinders tot gevolg wat skerm in die hand grootword. Hulle beste maats is Peppa Pig, Dora the Explorer, en die honderde ander animasiekarakters wat op hul skermpies wag. Netflix en Youtube is die beste kinderoppassers in die wêreld. En hulle almal praat Engels. Party karakters praat met ’n Britse aksent, ander met ’n Russiese aksent, ander met ’n Indiese of ’n swaar Amerikaanse aksent. Maar hulle is ons kinders se maters. Ons kinders word nou gebaai in Engels. En soos die taalkundiges sê: Language is caught, not taught. Só leer hulle asof vanself Engels aan. En kort voor lank is dit die taal waarmee hulle met hul ouers praat.
Sosiale konteks
Die Wielie-Walie-maats van die negentigs is vandag meestal werkende ouers. Hulle babas word al van vroeg af by oppassers gelaat, wat meestal nie die huistaal magtig is nie. Daarna kom die crèche of wieg, waar peuters en kleuters versorg word deur assistente en onderwysers wat dikwels ook net Engels magtig is. Wat ma en pa bring by die keuse van ’n kleuterskool. Die aanbod van Afrikaansmedium kleuterskole is skraal. Dis meestal ’n Engelsmedium skooltjie, wat dan dikwels deur ’n Engelsmedium laerskool gevolg word. Hoekom dan nie ook ’n Engelsmedium hoërskool nie? Die universiteite is hoeka meestal Engels.
Dis hierdie werklikhede wat mens laat vra: Wat is die punt om kinders in hul moedertaal (Afrikaans, of watter minderheidstaal dan ook) groot te maak?
Hoekom dan kinders in hul moedertaal grootmaak?
Is dit nie tweede beste nie? Doen ek hulle nie ’n onreg aan nie? Hoekom nie net Engels kies en klaarkry nie? Maak dinge makliker vir die kinders, maggies!
Kom ons begin by die begin. Hoekom kies om jou kind in jou moedertaal groot te maak? Want jy mag. Want dis natuurlik. Want dis ’n geskenk wat jy jou kind gee, een wat NET JY kan gee. Want jy hoef nie dinge makliker vir jou kind te maak nie. Inteendeel, die enigste manier hoe jy kan waarborg dat jou kind ’n vertalende brein gaan ontwikkel, is om dinge so bietjie moeiliker te maak. Gee hulle moedertaal saam met die moedersmelk in (of Nan as jy wil!) en kyk hoe daardie wonderlike breine self die Engels gaan aanleer. My ervaring as spraakterapeut is dat baie ouers doodbang is om hul kind in enige iets anders as Engels groot te maak. Dis natuurlik elke ouer se reg en voorreg om daardie keuse uit te oefen. Die een groot nadeel, is dat julle ’n eentalige (monolingual) kind gaan grootmaak. Want in ons sterk Engelstalige land, ons sterk Engelstalige media, sosiale media en skoolsisteem, is die kans dat jou kind tweetalig óf meertalig (multilingual) gaan word, baie skraal.
Vir ouers wat nog twyfel: Jy ontneem nie kinders van enige voorregte as jy hulle in jou moedertaal grootmaak nie. Inteendeel, jy gee hulle VYF GROOT, LEWENSLANGE GESKENKE.
1. Meertaligheid
In ons land sal enige kind wat in ’n minderheidstaal tuis grootgemaak word, beslis ook Engels aanleer. Dis ’n gegewe. Hulle is meestal goed tweetalig teen vier. Nou hoekom is meertaligheid so gesog?
- Die eerste ding is dat dit interpersoonlike verhoudings bevorder. Om in iemand anders se eie taal te praat, is om direk met sy hart te praat. Meertaliges is uiters gesog in die werksplek, juis omdat kommunikasie oor taalgrense heen geweldig hoog geag word.
- Die ander ding wat meertaligheid bevorder, is empatie. Die oomblik as jy iemand se taal kan praat, ontvang jy ook daardie persoon se kultuur en hul manier van dinge doen. Dit is een van die hoofredes waarom meertaligheid so sterk gesteun word in lande soos Switserland en België.
- Meertaliges funksioneer beter in chaos. Wetenskaplikes meen dis weens die feit dat ’n veeltalige brein ’n besige brein is. Die oomblik dat ’n kind tweetalig raak, hou die die brein nie weer op om te vertaal nie. Selfs al praat iemand met jou in jou moedertaal, sal jy dit steeds meet teen die agtergrond van jou tweede of derde taal. Kleuters wat meertalig is, het baie besige breine. Hulle kan meer sensoriese stimulasie hanteer, sonder om gestres te raak.
- Meertalige kinders konsentreer beter. In ‘n studie deur dr Rosie Flewitt van die London University, is bevind dat meertalige kinders beter luistervaardighede het en oor die algemeen ook beter op skool vaar. Hiermee saam is bevind dat hierdie immigrante ouers, wat ’n minderheidstaal tuis praat, ook harder met hul kinders gewerk het. Dit is ook ’n tendens wat onder Suid-Afrikaanse gesinne in die buiteland voorkom.
- Meertalige kinders het meer aktiewe breine. Die navorsers praat van “cognitive flexibility,” of breinsoepelheid. Hierdie breine ontwikkel meer WITSTOF omdat meer konneksies tussen die breinselle gevorm word. Breinverdigting vind plaas. Dit lei letterlik tot ’n meer intelligente brein, want ’n brein met meer konnektiwiteit, gaan lei tot beter skoolprestasie.
Tweetalige kinders leer makliker ’n derde taal aan. Dit is veral in Switserland nagevors. Die groot linguis, professor Francois Grosjean van die Universiteit van Neuchatel, is ’n navorser oor meertaligheid. Sy resep vir ’n meertalige kind is: MLH, oftewel, Minority Language at Home. As die minderheidstaal sterk tuis aangeleer word, vorm dit die basis waarop al die ander tale bou
2. Innigheid
Dit is nou maar eenmaal so dat ’n ma op haar gemaklikste met haar baba is wanneer sy in haar eie taal met die kleinding praat. Van so vroeg as 27 weke voor geboorte, hoor die fetus reeds die ma se stem. Dis die taal wat die kind se hartjie direk ná geboorte laat vinniger klop. Studies met pasgeborenes wys hoe die hartjie vinniger klop wanneer personeel met die baba in die taal praat wat die kind voor geboorte gehoor het. Mamma se taal. Enige ma op die planeet praat dan ook ‘mothereze’ met jul baba. Dis daardie gekoer en geliefie met allerlei verkleinwoordjies. Die ma se stem styg ’n hele paar frekwensies en die baba reageer daarop. Dit ontlok by die baba die vrystelling van oksitosien, die hormoon wat hulle rustig maak, wat die ma se melk laat vloei, wat die goedvoelprentjie voltooi. Hierdie hele proses geskied ten beste as die mamma in haar eie taal praat.
Hierdie innigheid in moedertaal hou nie op as baba ’n tiener raak nie. Die huistaal behoort altyd daardie gevoel van tuis wees en innigheid en gemaklikheid te laat loskom. Dit is ook een van die redes waarom sielkundiges maan dat ouers wat emigreer, hul huistaal moet behou, veral in die beginjare. Dis daardie trooskombersie wat ’n gesin nader aan mekaar bring. Ek is al dosyne kere deur emigrerende ouers gevra of hulle nie sommer ter voorbereiding die huistaal en die skooltaal aan hierdie kant moet verander nie. Nee. Glad nie. Julle kinders sal uitstyg, moedertaal en al. Of juis as gevolg daarvan. Ons tweetalige kinders vaar uitstekend in skole en universiteite die wêreld oor.
3. Identiteit
Nog ’n geskenk wat ouers hul kinders so saam met die moedertaal ingee, is identiteit. Soos die Spaanse skrywer en taalkundige, Maritere Rodriguez Bellas in haar boek, Raising Bilingual Children (2014) sê: “’n Moedertaal is soos ’n padkaart vir ’n kind. Dit wys waarvandaan hulle kom. En kinders wat weet waarvandaan hulle kom, is sekerder oor hul pad vorentoe.” Meksikaanse ouers word nou sterk aangeraai om steeds Spaans tuis te praat, omdat kinders met ’n ryk moedertaal beter in staat is om ook ’n ryk tweede taal aan te leer. Hierdie sterk tweetalige Spaans-Amerikaanse kinders vaar nou so goed op skool en universiteit, dat Amerikaanse ouers nou aandring dat hulle kleuters ook Spaans moet leer. Die voordele van die meertalige brein, verstaan?
In Suid-Afrika met al ons variëteite van Afrikaans, mag daar ouers wees wat voel dat hulle skaam moet wees vir die variant wat hulle praat. Bog. Elke variant het meriete en elke variant is deel van daardie padkaart wat ’n kind se identiteit bepaal. Praat jou taal nes jy dit nog altyd gedoen het. Soos Philip de Vos sê: “Jy moet sing soos jy gebek is!”
Ons identiteit word ook grootliks deur ons uitgebreide familie bepaal. Grootouers is een van ’n kind se grootste luukses. Vir ’n kind en ’n grootouer om gemaklik en intiem met mekaar te kan gesels, is daar niks lekkerder as hul moedertaal nie. Dis baie hartseer dat soveel grootouers hulself uitgeskuif voel wanneer die kleingoed nie meer met hulle kan of wil gesels in hul moedertaal nie.
4. Intelligensie
Daar is baie definisies van intelligensie. Een daarvan is ’n brein wat optimaal funksioneer. ’n Meertalige brein werk bloot harder as ’n eentalige brein, verbind meer dele van die korteks met mekaar en skep soepelheid en nuwe perspektiewe. Karel die Grote het in die 11de eeu al gesê: “Elke taal het ’n ander siel; hoe meer tale ek praat, hoe meer siele het ek.” Wiskundige begrippe word soms makliker verstaan as twee tale se definisies met mekaar vergelyk word. Dit skep nuwe perspektiewe. Die Universiteit van Londen het in 2018/19 groot studies gedoen op groepe immigrante kleuters. Hierdie meertalige kleuters (afkomstig van lande soos Pakistan, Pole, Indië en elders) se gedrag by die skool was oor die algemeen beter as hul Britse maats. Met die aanvang van lees het hierdie kinders ook hul Britse maats uitpresteer. Die hele beginsel van meer aktiewe breine wat tot optimale funksie lei, het weer onder die loep gekom.
Dr Anita Staneva, spanleier van die Universiteit van Sydney, wat die studie van 19 000 Britse kleuters se vordering gevolg het, kom tot die volgende slotsom: “Bilingual children showed a general superiority over their peers in a range of cognitive outcomes such as for Word Reading, Pattern Construction and Math Tests.”
5. ’n Immergroen brein!
Navorsers onder leiding van prof Ellen Bialystok van die Universiteit van York doen nou al jare lank werk met meertalige bejaardes. Dit wil voorkom asof die breine van meertaliges langer neem om agteruit te gaan. Die teorie is juis die verdigting van witvesels in die brein, wat meer reserwes tot gevolg het.
Die meertaligheid wat jy vir jou baba beding deur net jou eie taal met die kind te praat, kan dus dekades later steeds vrugte afwerp.
Opsommend:
Doen jy jou kind ’n onreg aan as jy hulle in jou gekose moedertaal grootmaak? Nee. Jy gee hulle ’n handvol geskenke, waarvan meertaligheid een van die grootste is. Daarby gee jy hulle insluiting in jou intieme kring se kultuur en taal, jy bied hulle groter innigheid met familie, jy gee hulle ’n sterker identiteitsgevoel en jy verseker hulle van ’n vertalende brein wat soepeler kognitiewe vaardighede gaan ontsluit. Jy gee vir hulle ’n ryk bedding waarop hulle ander tale, ook Engels, met groot vaardigheid kan bou. As jy nog meer hiervan wil weet, skaf gerus vir jou die boek aan: HELP! My kind is anders, hoofstuk 13 (Wat as ons meer as een taal praat?) Die boek is uitgegee deur Lapa/Penguin en kan aanlyn of by goeie boekwinkels gekoop word. So nie, vind gerus uit by jul plaaslike biblioteek.
GROOT VRAE:
Daar is talle vrae wat gereeld gevra word, want afgesien van die inligting tot ons beskikking, twyfel ouers steeds wat om te doen. Christien beantwoord van die belangrikste vrae:
Hoe gemaak as ma en pa verskillende tale praat?
Die beginsel van OPOL. ONE PARENT ONE LANGUAGE. Oftewel, elke ouer praat hul eie taal met die baba. Op hierdie manier sal simultane of gelyktydige tweetaligheid gevestig word. Die tydsduur wat elke ouer in sy taal met die kind deurbring, is deurslaggewend.
- Die kind kan ook opeenvolgend of sekwensieel tweetalig raak. Dan sal beide ouers in een taal, die ma se taal of huistaal, met die kind praat. Sodra die baba ouer is en die een taal goed verstaan, sal mens dan met die volgende taal begin. Dit mag selfs die grootouers se taal wees.
- Wanneer ma en pa se tale só uiteenlopend is soos Afrikaans en isiZoeloe, Afrikaans en Pools, of welke twee tale ook al, en waar die pappa dan nie die moedertaal kan praat nie, moet ’n huistaal gekies word. Dis die taal wat aan tafel gepraat word. Meestal is dit Engels. Die ouers sal dan steeds hul eie taal met die kinders praat, maar as hulle saam is, die huistaal.
Hoe gemaak as die kind net ophou praat op skool, waar huistaal en skooltaal verskil?
Gee net tyd. Moenie te gou moed opgee nie.
Soms is ’n bietjie ekstra hulp nodig van ’n spesiale onderwyser of terapeut. Alle kinders gaan deur ’n “stil fase”. Dit is wanneer hulle besig is om die nuwe taal te prosesseer. Die taal klink vreemd in hul eie oor as hulle dit probeer praat. Indien die kind reeds kan lees, is hardop lees by die huis een van die beste maniere om daardie bruggie oor te steek. ’n Fluisterfoon help ook geweldig baie. (Dit is ’n stuk pvc-pyp, swembadpyp, wat met koppelstukke gelas is om soos ’n foon se oorstuk te lyk. Die kind kan dan fluisterend lees en die stem duidelik in die oorstuk hoor.) Prentjies ter illustrasie.
Is daar kinders wat sukkel om meertalig te raak? Kinders met wie mens liewer net een taal moet praat?
- Kinders met ’n sentrale taalprobleem, ’n gehoorverlies, ’n taalagterstand, ’n breinbesering, ’n kondisie soos outisme of ’n sensoriese integrasieprobleem, het dikwels moeite om selfs net ’n eerste taal aan te leer. Elkeen van hierdie spesiale gevalle moet mens op meriete hanteer. Glo my, as ’n onderwyser die ouers vra om hul moedertaal tuis op te gee, is dit gewoonlike nie ’n goeie plan nie. Dit is deur soveel navorsers as verkeerde raad bewys (lees byvoorbeeld die werk van dr Maritere Rodriguez Bellas). Die emosionele verwydering wat hiermee gepaard gaan, het groot implikasies. Maar, in die geval van ’n dowe kind of ’n outistiese kind, maak mens spesiale uitsondering en probeer ’n plan bewerk wat vir almal haalbaar is.
- Ons vind dat kinders op die outisme-spektrum Engels vinniger aanleer. Dit is waarskynlik omdat die taal deel is van hul tegnologiese werklikheid, dit word skerm-geproduseer. Hierdie kinders is geweldig verknog aan hul skerms, soveel so dat die karakters op die skerms vir hulle ’n groter taalmodel word as die mense in hul omgewing (ouers, oppassers, familie).
- Oor outisme: Ek het wel met vele kinders op die spektrum gewerk wat tweetalig en selfs meertalig geword het. Lees gerus die boek, Amper Einstein (NB Uitgewers) wat die verhaal van een so ’n kind vertel.
Hoe kan mens ’n kind speel-speel help om hul moedertaal beter vas te lê, veral as die ouers werk en net ’n paar uur per dag met die kinders is?
- Musiek! Luister soveel liedjies met jou moedertaal se lirieke as moontlik. Maak die uur of twee wat julle in die motor spandeer musiek- en saamsing-tyd.
- Storie CD’s of luisterboeke kan mettertyd ook gebruik word.
- Maak opnames (voicenotes) van jouself wat jou kind se gunstelingstorieboeke vertel of voorlees. Gee dit aan die anderstalige versorger om saam met die kind daarna te luister.
- Oulike toepassings beskikbaar wat afgelaai kan word op jou foon of tablet. Soek gerus op die internet rond. So kan jou kleuter ’n wye reeks woorde en begrippe speel-speel leer.
- Rympies en grappies soos die kinders ouer word. Dis die grootste pret. Onthou dat mens altyd iets onthou wat snaaks is. Lag laat endorfiene afskei. Dis die goedvoel-hormoon wat ook geheue versterk.
- Die heel beste bly egter mamma en pappa en tyd met die kind op jou skoot.
Hoe gemaak as ons oorsee woon?
- Dis harde werk, maar dit is doenbaar. Al die voordele en voorregte van meertaligheid kan jy vir jou kinders gee deur bloot vas te byt om hul moedertaal tuis te praat, te lees en te sing. Daarmee saam bly die innige band met grootouers en ander familie dan ook hegter, aangesien die kinders steeds gemaklik in hul huistaal kan gesels.
- Voorlees van lekker stories voor slaaptyd is een van die beste maniere om taal vas te lê. Hou aan daarmee en stimuleer daardeur ook sommer die boekbedryf in Suid-Afrika.
Wie is Christien Neser?
Christien Neser is ’n spraakterapeut en skrywer van Johannesburg. Nagraadse kwalifikasies sluit ’n Honneurs in Frans en ’n MA in Toegepaste Linguistiek in. Sy skryf veral jeugverhale, soos die Elle-reeks vir LAPA (11 titels). Sy het ’n besondere belangstelling in outisme. Amper Einstein (2013) en Absoluut Einstein (2020) (NB) is jeugverhale met outisme as tema.
Pienk is nie vir sissies nie (2018) is ook deur NB uitgegee. In April 2020 verskyn die niefiksie boek, Help! My kind is anders (LAPA). Dit is ’n gids vir ouers oor die waarde van terapie en vroeë ingryping by kinders met ontwikkelingsagterstande en talle ander kwessies. Gehoorverlies, spraakontwikkeling, lees, ADHD, outisme en angs is enkele van die kwessies wat deur kundiges bespreek word.
Bronne:
- Neser, Christien (2020) Help my kind is anders. Lapa/Penguin
- Bialystok, Ellen et al ( 2012) Bilinguilism: Consequences for mind and brain. Trends in Cognitive Sciences (vol 4) pp 240-250.
- Bellas, Maritere (2014) Raising bilingual children. Atria Books
- University of Haifa ( 2011) Bilinguals find it easier to learn a third language. Science Daily.
- Staneva, A Cobb-Clark et al ( 2018) The bilingual gap in children’s language and emotional development (Working paper). University of Chicago.
- Vaughn, Richard. 2017 Bilingual children outperform native speakers by age 7. I News. 10 April 2018. inews.co.uk.
- De Hower, A (2012) Bilingual language development. In Brooks, PJ et al. Encyclopedia of language development. SAGE15.
Lees ook meer oor die voordele van moedertaalonderrig op Afrikaans.com se leerhulpblad: Moedertaalonderrig – Afrikaans.com