Gadija Sydow-Noordien benader die lewe met vreugde en positiwiteit.

Tuis 5 Kook dit 5 Gadija Sydow-Noordien benader die lewe met vreugde en positiwiteit.
Gadija Sydow-Noordien

Skrywer: Annelie van Jaarsveldt

Die geur van kardemom, naeltjies, vars knoffel en gemmer, kaneel en masala kom haal jou by die voordeur in ’n huis waar daar eg Kaaps-Maleis gekook word … en jy weet sommer jy gaan lekker eet, lekker kuier en nog lekkerder lag. En bly daar van die kos oor, kan jy maar met groot vrymoedigheid daarvan inpak en huis toe neem. Dit is tradisie en boonop ’n groot kompliment vir die gasvrou. So is dit ook aan huis van Gadija Sydow-Noordien. Gadija het hier rondom 2019 bekendheid verwerf toe sy en haar tweelingsuster, Fatima Sydow, die reeks kosprogramme, Kaap, Kerrie en Koesisters, op VIA TV aangebied het. Fatima is intussen oorlede, maar Gadija doen haar belofte aan haar suster gestand en sit hulle erfenis voort. “Ek het Fatima belowe om ons naam hoog te hou. Haar versoek op haar sterfbed het baie van my gevra, maar tog is dit ook ’n seën. Dit het my ’n nuwe doel in die lewe gegee. Dit was aanvanklik baie uitdagend, want sy was altyd saam met my en nou moes ek alleen voortgaan, maar ek is oukei en het geleer hoe om hartseer in oorwinning om te sit. Ek weet sy glimlag vir my daar van bo af en is baie trots op my.”  Afrikaans.com wou meer weet oor Gadija se reis intussen en het met haar gesels oor haar grootwordjare op die Kaapse Vlakte, haar liefde vir haar mense en haar erfenis, haar opstaan na terugslae en die rol wat sy in haar gemeenskap speel om lees en geletterdheid te bevorder.  

Gadija was een van ses kinders en het grootgeword op die Kaapse Vlakte – eers Manenberg, toe Westridge in Mitchell’s Plein en later Strandfontein.

“Ons was baie arm en daar was nie veel nie, maar ons was gelukkig.”

“Ons kinders het sonder sorge buite gespeel en saans wanneer Mammie ons geroep het vir supper en om te kom hande was, kon ons nie wag nie. My ma was ’n bobaaskok en kon iets maak uit niks en dit laat lekker proe. Sy sou ’n ui, aartappel en tamatie vat en ’n lekker smoortjie maak van ’n klein pakkie hoendernekkies en dit laat smaak soos meer. Sy het altyd plan gemaak en ons het nooit honger gaan slaap nie.” Gadija sê dat sy tot vandag toe nog so kook. “Ek kyk in die kas en die fridge en dis dalk leeg, maar lo and behold, vanaand is daar ’n pot kos,” lag sy. “Een van my kosbaarste herinneringe is hoe ons altyd reggekom het met baie min. Tog, as ek aan my kinderdae dink, glimlag ek, want daar was ’n oorvloed van vreugde, geluk en liefde.”

Gadija is reeds 33 jaar lank getroud met die liefde van haar lewe, Yaasien Noordien. Hulle het vier kinders en twee kleinkinders. “Hulle is my alles.”

Sy het haar graad in Inligtingswetenskap aan Unisa verwerf en werk reeds jare lank as bibliotekaresse.   

Gadija is die ewige optimis, afgesien van moeilike tye en terugslae. In 2022 het sy ’n beroerte gehad wat haar linkerkant geaffekteer het. Sy was drie maande lank in die hospitaal en ’n rehabilitasiesentrum en moes van vooraf leer om alles te doen. Nou, vier jaar later, gaan dit goed met haar herstel al is daar nog ’n paar defects, soos wat sy dit noem, maar sy kan dit hanteer. “Ek het letterlik van ’n rolstoel waar ek doek moes dra, gevorder tot waar ek nou alles weer vir myself kan doen. Ek is net so dankbaar!”

Dis dalk moeilik om te glo, maar Gadija vertel dat kook en bak nie haar eerste liefde is nie. Die geskrewe woord en boeke is haar ware lewensaar. “Waar ek grootgeword het, was toekomsplanne min, want daar was nie geld en geleenthede nie, maar ons ouers het ons altyd aangemoedig om te lees. My ma se eerste werk was in ’n biblioteek en omdat die biblioteek naby ons huis was, is dit waar jy ons na skool gekry het. Ek het verlief geraak op boeke en die geskrewe woord en hoe die inligting wat jy in boeke kry mens met soveel goed kon help.” Dit is dan ook hierdie beginjare wat haar gemotiveer het om tussen kinders grootmaak en werk haar graad deur Unisa te behaal. Sy het jare lank by die Kaapstad Biblioteek gewerk voordat sy ’n ruskansie geneem het om tyd by die huis saam met die kinders te spandeer. Die “ruskansie” het egter nie lank gehou nie, want gou was hierdie literêre aktivis en bibliotekaresse betrokke by die skool oorkant hulle huis en het sy aanvanklik op vrywilligerbasis gehelp met hulle geletterdheidskwessies.

“Ek het ’n leë klaskamer en stoorkamer verander in ’n pragtige biblioteek.”

Dit was juis hierdie biblioteek en haar werk met die leerders om hulle aan te moedig en te help met lees en leesbegrip, wat gelei het tot talle toekennings, onder andere deur die Departement van Onderwys. “Ja, dit was nie net ’n biblioteek nie. Dit was ook die plek waar ek leerders wat gesukkel het, gehelp het met lees, klank en die betekenis van woorde. Ek het gedigte, boekbesprekings, sing, dans … enigiets gebruik, solank hulle pret gehad het terwyl hulle leer. En dit het gewerk! Dis waar die eerste toekenning vandaan gekom het, want ons kon sien hoe die leesbegripsvlakke verbeter het.”

En het sy wenke vir ouers om hulle kinders lief te maak vir lees? “Ek glo mens moet sáám met jou kind lees – elke dag. Storietyd voor slaaptyd is ideaal. Kry vir jou kind ’n biblioteekkaartjie en neem boeke uit. So kweek jy nie net ’n liefde vir lees by jou kind nie, maar die verhouding tussen jou en jou kind word ook versterk.” Gadija sê ook dat dit nie dik en moeilike boeke hoef te wees nie. “Begin klein, lees vir hulle feëverhale, sprokies – die boeke waarmee ons grootgeword het. Dis die konneksie met die ouer wat saamlees, wat belangrik is. Speel woordspeletjies – soos die magneetletters wat mens op die yskas kan plak – en spel woorde waarmee hulle sukkel so tussen die kosmaak deur.”

Gadija Sydow-Noordien
Maar kom ons keer terug na die kospotte toe. . .

Dit was juis terwyl Gadija besig was met haar skoolbiblioteek dat haar ander liefde, kook en bak, op die voorgrond getree het. Haar tweelingsuster, Fatima Sydow, was op daardie stadium ’n sosialemediasensasie met haar kosvideo’s en het ongeveer 500 000 volgers gehad en is deur die DStv-kanaal, Via, genader om ’n kosprogram te vervaardig. “Fatima het my toe saamgesleep vir moral support en aan die einde van die aanbieding deur Via se produksie- en bemarkingsmense, waartydens ek ook tussenin geantwoord het, het hulle gevra of ons dit nie asseblief saam wil doen nie. Nou ja, ek het geen intensie gehad om ’n kookprogram te maak nie, maar die Here het ander planne gehad. Fatima het na my gekyk en gesê, ‘Gadija, kom ons doen dit, ons het nog altyd hiervan gedroom daai jare toe ons so deur die kosboeke van Peter Veldsman geblaai het, en laat ons vir ons bruin gemeenskap wys dat al kom jy van Manenberg af dat jy steeds groot dinge kan bereik.’ En toe doen ons dit. Die eerste keer dat twee Moslemvroue van Mitchell’s Plein en boonop ’n tweeling, op ’n hoofsaaklik blanke kanaal, die potte laat prut het.” Die res is geskiedenis en na sewe suksesvolle seisoene van Kaap, Kerrie en Koesisters en ’n kookboek, het Gadija en Fatima se kleintyddrome vlerke gekry. Die sukses van die program en die kookboek (reeds in sy vierde herdruk) kan toegeskryf word aan die outentieke Kaaps-Maleise resepte waar die komvandaanstories en kosse waarmee hulle grootgeword het, die hoofrol vertolk het. Selfs hulle ma se hoendernekkiekerrie het sy staanplek in die boek gekry. “Ons het gehuil oor die boekaanbod, want boeke was ons eerste liefde, maar ons het nooit gedink dat ons eendag self ’n boek sou uitgee en dat ons boek op die biblioteekrak sou opeindig nie – boonop met ons gesigte daarop! Dit was harde werk, maar ons was so trots!”

Na Fatima se kankerstryd en haar dood, moes Gadija die kospad alleen verder loop en vertel sy dat twee seisoene van Plain en Simple gevolg het. “Dit was uitdagend en ook na my beroerte. Maar ek het regtig vir Fatima langs my gemis en het toe nie kans gesien vir ’n derde seisoen nie. Dalk was dit te gou na haar dood, want ek was nog besig om gesond en heel te raak na die groot verlies, maar ek het dit gedoen, want ek het haar belowe. Maar, nou is ek gevra om ’n ander program te maak en ons begin binnekort skiet. Dis baie opwindend!”

Vertel van jou kosfilosofie

“Kos en die bestanddele moet bekostigbaar en maklik verkrygbaar wees … en dit moet fantasties proe. Vir my gaan dit daaroor om ons komvandaan te bewaar. Om die kos wat my ma gemaak het nog steeds elke dag te maak, soos byvoorbeeld boontjiebredie (Gadija is juis bekend as die bredie-queen). My kinders is baie lief daarvoor. En dis bekostigbaar. Die kos gaan ver, dis voedsaam en dis nie duur om te maak nie. Dis ook veelsydig. Jy kan dit as ’n vegetariese gereg maak, of jy kan vleis bysit. So ja, soos wat ek by my ma geleer het, doen ek vandag nog.” Gadija lag wanneer sy sê: “Ek kan eenvoudige huiskos met min bestanddele maak, maar iets waarop ek nie skimp nie is my spices. My speserye, knoffel en gemmer. Dis hoofsaaklik vars, want dit doen iets vir die geur en smaak van die kos tienvoudig.”

Wat maak jou bredie anders?

Ek is baie lief vir koolbredie, maar ek sit so bietjie van alles in, wat ook al in die vrieskas is. Ek dink die verskil lê in die speserye wat ek gebruik. Daar moet naeltjies, all spice, kaneelstokke en so aan daarin wees. En ek gebruik ook net ’n spesifieke soort handelsnaam. Die ander make gee net nie dieselfde smaak nie.”

Jy is ook bekend vir jou gebak. Is daar ’n geheim wat jy kan deel?

Sy gee daardie aansteeklike lag van haar wanneer sy sê: “Al sê ek dit self, my gebak is baie goed. Ek dink dis maar die bestanddele wat ek gebruik – ek sit so ’n kinkel in alles in en probeer so die geurprofiel verander. Klein goedjies het gewoonlik ’n groot effek op die eindproduk. Regte room, regte botter, die beste sjokolade, free-range eiers … dis wat dit uniek maak. Dis dalk bietjie duur en daarom doen ek dit nie so gereeld nie, maar dis die moeite werd.”

Gunstelingete?

Gadija hou van eenvoudige huiskos, soos suikerboontjiebredie en gewone Sondagkos – gebraaide hoender (sy sit vars knoffelrepies onder die vel in, want “dan smaak dit nog lekkerder”), met krakerige aartappels en broccoli met soet geelrys en avokado en kersietamaties, of beet. “En as daar atjar is, dit ook!”

En vir Kersfees?

“Ek hou dit eenvoudig, maar my bejeweled Krismisrys met neute en gedroogde vrugte, moet daar wees. Dit gee net so ’n geurontploffing. En dan hoender of lamsboud met ’n botterskorsiepuree of gebraaide botterskorsieskywe en dan natuurlik die usual suspects,” lag sy.

Hoe sou jy jouself beskryf?

“Baie positief en optimisties, selde negatief. Dit maak nie saak wat die lewe na my kant toe gooi nie, ek baklei terug met positiwiteit. En ek kan altyd lag. My motto in die lewe is: Ek beplan my vreugde. Ek kry goed om te vier of te doen. Dis so ’n goeie gevoel. Lag, geluk en liefde. Dit maak alles beter. Hartseer, pyn, die negatiewe, stres en bekommernis, verdwyn te midde van ’n strewe na vreugde. Ek is nie blind vir die sleg van die lewe nie, want ek is al deur baie, maar ek het geleer om balans te skep en gesond te raak ten spyte van die swaarkry.”

Gadija se geluk lê opgesluit in haar gesin en om vir hulle te kook. “Net om die glimlagte te sien wanneer hulle daardie eerste happie neem en sê, ‘joh mammie, die kos is vreklekker!’ En die waardering op hulle en my man se gesigte, want hulle weet waar ek vandaan kom, die tye wat ek nie eers my vingers en hande kon gebruik nie en nou maak ek weer hierdie heerlike maaltyd. Om mense gelukkig te maak en dat hulle weet hulle kan net hulleself wees in my geselskap … ja, as ek iemand se dag ’n bietjie beter kan maak … dit is wat my gelukkig en tevrede maak.”

by | Okt 27, 2026 | Kook dit

Deel hierdie plasing