Skrywer:Annelie van Jaarsveldt
Wanneer ’n mens lees dat 68% van Suid-Afrikaanse werknemers sukkel met stres, met baie wat uitbranding ervaar, en dat afwesigheid as gevolg van depressie die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks sowat R19 miljard kos, is dit duidelik dat stres en die gepaardgaande geestesgesondheidskwessies ‘n wesenlike probleem met uiters negatiewe gevolge is. Een van die beroepe waar dit veral die afgelope jare al hoe meer ondervind word, is die onderwys.
Ons onderwysers sukkel emosioneel en baie van hulle sien geen ander uitweg as om te bedank en van beroep te verander nie.
Baie van ons wat in die 70’s en 80’s en selfs 90’s op skool was, weet dat ons onderwysers se woord wet was en of jy nou daarmee saamgestem het of nie, dissipline was nie sommer bevraagteken nie. Ouers was betrokke, maar het min ingemeng met die besluite op onderrig- en sportvlak.
Dinge het verander – en baie daarvan ten goede – maar daarmee saam het die onderwyslandskap ook verander. Deesdae word onderwysers opgesaal met administratiewe take, nuwe reëls en regulasies en neem dit soms soveel tyd in beslag dat die werklike opvoedingstaak agterweë bly. Onderwysers moet nou ook twee keer dink voordat hulle ’n kind dissiplineer en konflik moet grootliks vermy word. Oorvol klasse met leerders uit verskillende agtergronde en leerbehoeftes – die sogenaamde inklusiewe klaskamer – dra verder by tot die probleem en dit is soms haas onmoontlik om orde te handhaaf en kennis oor te dra, gegewe die omstandighede. Geen wonder dan dat soveel toegewyde onderwysers liewer ander weivelde soek nie.
Geen mens kan daagliks aan soveel stres blootgestel word en steeds heel anderkant uitkom nie.
Daarom is dit so belangrik dat ons met deernis en begrip na ons onderwysers sal omsien, want sonder hulle lyk die toekomsprentjie maar redelik donker. Dit is juis ons onderwysers wat help om volwaardige grootmense te kweek. Mense wat hulle plek in die lewe kan volstaan.
In ’n artikel op Netwerk24 (30 September 2025) lees die opskrif: Die stille krisis: Onderwysers se emosionele welstand wankel. In die artikel word daar dan ook gevra hoe lank ons onderwysers nog so kan aangaan sonder ernstige gevolge. Dr Marelize Vergottini, senior lektor in maatskaplike werk aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is dit eens en sê in die artikel dat dit ’n krisis is wat nie langer onder die mat gevee kan word nie. Sy erken dat onderwys nog altyd ’n veeleisende beroep was, maar dat die huidige toedrag van sake beslis nie bydra tot die emosionele welstand van ons onderwysers nie – daardie mense wat “die ruggraat vorm van ons onderwysstelsel en een van die belangrikste rolle in die toekoms van ons kinders speel”. En tog word daar van hulle verwag om “in ondraaglike toestande te werk”.

Werklading
Volgens Vergottini is een van die grootste uitdagings die werklading waaraan onderwysers blootgestel word. Onderwysers se taaklys is so lank dat daar nie genoeg tyd is vir behoorlike onderrig nie. Behalwe die gewone take soos lesbeplanning, assesserings, buitemuurse aktiwiteite en meer, verhoog die onderwysdepartement se “klem op aanspreeklikheid en prestasiemeting onbedoeld die druk op onderwysers” en word daar na skool ure lank spandeer aan administratiewe take sodat daar min tyd oorbly vir rus of ’n gesinslewe. Boonop voel die eindelose vorms invul, verslae saamstel en dies meer dikwels sonder betekenis en is dit nie verteenwoordigend van dit wat werklik in die klaskamer plaasvind nie.
Inklusiewe en diverse klaskamers
In baie skole is klaskamers oorvol (veral in plattelandse skole kan daar soms tot 70 leerders in een klas wees!) en omdat daar nie onderskeid gemaak word tussen leerders en hul spesifieke leerbehoeftes en emosionele of gedragsuitdagings nie, word onderwysers verder blootgestel aan stres. Die groot rede vir hierdie stres is bloot omdat hulle nie noodwendig opgelei is om hierdie kwessies te hanteer nie. Daar is dikwels ook ’n gebrek aan hulpbronne en spesialisondersteuning en dit lei weer tot frustrasie en ’n gevoel van magteloosheid. Individuele aandag en gehalte onderrig kan nie plaasvind nie en daar heers oor die algemeen chaos. Die gevolg is dat onderwysers uiteindelik uitbrand.
Dissipline
Kom ons praat maar reguit oor hierdie olifant in die vertrek. Leerders se sogenaamde regte en gebrek aan verantwoordelikheid en genoegsame respek veroorsaak dat dit dikwels onmoontlik is om behoorlike dissipline te handhaaf. Dit is gewoonlik enkele leerders wat die chaos veroorsaak, maar ongelukkig ly almal daaronder – juis omdat daar nie genoegsame ondersteuning is om die skuldiges vas te vat nie – wat ook al die rede vir hulle gedrag is. Baie leerders het eintlik hulp nodig en hulle gedrag is waarskynlik ’n hulpkreet, maar hierdie gespesialiseerde hulp is nie beskikbaar nie.
Fokus op dit wat saakmaak
Volgens dr Vergottini berus beter onderwys op die welstand van sy onderwysers. Daarom moet daar gepoog word om klaskamers kleiner te maak, die administratiewe pligte van onderwysers af te skaal, voldoende opleiding en ondersteuning te verskaf sodat onderwysers sal weet hoe om inklusiewe onderwys te hanteer. “Sonder dringende ingryping loop ons die gevaar om nog van ons mees toegewyde onderwysers te verloor.”

Afrikaans.com het met onderwyskundiges gesels om hulle mening oor hierdie kwessie te kry. Ons gee ook riglyne oor hoe om stres te herken, en te hanteer.
Wilna van Rooyen, vroeëkinderontwikkelingspesialis by die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), beaam dat inklusiewe onderwys beslis ’n bydraende faktor is vir uitbranding. Sê Wilna: “Die eise wat ekstra take betref, eis ‘n tol, bv. onderwysers moet deesdae bydra tot die opvoeding wat higiëne van die leerders betref, hulle moet die ouer se taak oorneem om die leerders van dissipline te leer, respekvolle gedrag moet ingeoefen word, eise wat ouers stel, is ook ‘n groot faktor.
“Wat sport betref, vereis ouers watter posisie en in watter span ‘n kind moet wees, in plaas van om die onderwyser te vertrou. Sodanige gedrag plaas groot spanning op die onderwyser se skouers.
Dis veral die eise wat buite die kurrikulum lê, wat die onderwysers uitput.”
Wilna noem ook dat administratiewe take nog verdere druk op onderwysers plaas. “Onnodige aftiklyste en gedurige bewyse van assessering wat gelewer moet word, eis baie tyd en dit beperk onderrigtyd, wat weer ‘n ander soort spanning veroorsaak.”
Daan Potgieter, hoof- uitvoerende beampte van die Afrikaanse Onderwysnetwerk, is dit eens dat die emosionele welstand van onderwysers inderdaad relevant is en dit daarom noodsaaklik is om hieroor te praat en oplossings daarvoor te kry. Volgens Daan het die AON hande geneem met die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) om hulp te verleen. Die onlangse verslag oor die Stand van Afrikaanse Onderwys het ook kommerwekkende statistiek getoon. “
“Amper 50% van beginneronderwysers verlaat die professie binne vier jaar, juis omdat hulle nie meer weet watter kant toe nie.”
So ook toon statistiek uit die SAOU se Welstandprogram dat ingryping oor die welstand van onderwysers noodsaaklik geword het. Die SAOU het daarom ’n hulplyn in plek gestel wat dien as onmiddellike krisisondersteuning en om psigo-opvoedkundige strategieë en inligting te bied. Van die probleme wat aangemeld word, sluit in: werkverwante uitdagings soos dissipline, klasgrootte en administratiewe las, stres en angs, lae gemoed, trauma, interpersoonlike konflik en selfs selfdoodneigings. Sê Daan: “Hierdie is maar die ore van die seekoei. Onderwysers in leierskaprolle is minder geneig om hulle emosionele welstand te bespreek of om raad te vra. (Hulle moet mos “sterk” wees!) Veral skoolhoofde kan nie wys dat hulle “swaarkry” nie, want hulle is immers vir die welstand van hul personeel en leerders verantwoordelik en wil dus nie erken dat hulle ook hulp nodig het nie.”
Wat is stres?
Dalk moet ’n mens liewer vra hoe voel stres. Dit verskil van mens tot mens, maar oor die algemeen is dit wanneer jou liggaam fisies en emosioneel reageer omdat dit bedreig en onder druk voel. Jy voel dikwels oorweldig en sit letterlik met jou hande in die hare. Dikwels lei hierdie stres ook tot ander siektetoestande.
Hoe weet ’n mens jou stresvlakke is dalk te hoog?
- Fisies: Jy kry gereeld hoofpyn, jou spiere is styfgespan, jy is moeg, het dikwels spysverteringsprobleme, sukkel om te slaap.
- Emosioneel: Uiters geïrriteerd, angstig, voel oorweldig en kan depressief wees.
- Kognitief: Sukkel om te konsentreer, jou geheue laat jou in die steek, heeltyd bekommerd.
- Gedrag: Onttrek jou van ander, eetgewoontes verander, kan selfs te veel alkohol gebruik.

Oplossings en strategieë
Stres en die gepaardgaande geestesgesondheidskwessies, is nie iets wat sommer net vanself verdwyn nie. ’n Mens is ook nie “swak” of “pateties” as jy by kundiges aanklop nie. Maak ’n afspraak by jou dokter en kry hulp.
Wilna van Rooyen van die AON gee ook die volgende riglyne om stres baas te raak:
- Selfsorg: Prioritiseer persoonlike welsyn deur opleiding in selfsorg en gesonde verhoudings.
- Professionele ondersteuning: Kursusse oor hantering van probleemgedrag en stresbestuur.
- Professionele verhoudings: Om vriendskappe te ontwikkel met kollegas in plaas van om met selfone besig te wees, help om spanning te ontlaai.
- Gemeenskapsondersteuning: Netwerke vir onderwysers om ervaringe te deel en ondersteuning te kry (soos die SAOU se Welstandprogram).
- Ouerleiding: Daar sal moeite gedoen moet word om ouers te betrek by opleiding oor hoe hul self vir hul kinders se opvoeding behoort te sorg, wat higiëne, gedrag, optrede teenoor volwassenes en maats, optrede in ‘n klaskamer, optrede op ‘n sportveld, emosionele selfregulering, ens. betref.
- Negatiewe mense: Beperk kontak met negatiewe mense, fokus op mense wat oplossings bied in plaas van probleme uitwys.
- Stel grense: Leer om ‘nee’ te sê vir minder belangrike aktiwiteite wat tyd steel. Maak ook seker om tyd vir die gesin in te ruim, waarop ander mense nie aanspraak mag maak nie.
- Gereelde oefening: Stap is ‘n baie goeie oefening, kan enige plek beoefen word, verminder spanning en verbeter gemoedstoestand.
- Eet gesond. Verminder die inname van soetgoed: Suiker, pastas en ander koolhidrate kan bydra tot ‘n wisseling in bloedsuiker, wat op sigself buie negatief beïnvloed.
- Slaap genoeg: ’n Goeie nagrus herlaai jou batterye en jy voel sommer meer energiek.
- Veerkragtigheid: Veerkragtigheid help om balans te skep, daarom is dit belangrik om na die fisiese en emosionele gesondheid om te sien.
Om uitbranding te bekamp, moet individuele onderwysers strategieë aanleer, en skole behoort ondersteunende stelsels te skep om die druk te verlig en die welstand van onderwysers te verseker.

Hier is enkele tegnieke wat jy kan probeer as jy oorweldig voel:
- Sit op ’n stil plek en raak bewus van waar jy is en wat jy doen. Haal rustig asem.
- Probeer om drie tot vier keer per week te mediteer – 10 – 20 minute.
- Ontspan jou spiere geleidelik. Sit op ’n stoel met jou hande op jou skoot. Knyp jou tone en ontspan hulle. Asem in (dit maak jou kalmer). Trek nou jou bene styf en ontspan. Dan jou arm/s … gesig, en laastens skouers. Doen dit geleidelik terwyl jy jou spanning uitasem.
- Stadige, diep asemhaling kalmeer die senuweestelsel. Doen dit so: Asem in 1 … 2 … 3 … Hou nou jou asem op vir drie tellings en asem dan uit vir drie tellings. Herhaal ‘n paar keer.
- Probeer om ten minste een maal per week iets te doen wat vir jou lekker is – ’n stokperdjie wat jou laat ontspan, ’n lekker warm bad … enigiets wat jou laat ontspan.
- Lag genoeg.
- Skryf elke dag drie dinge neer waarvoor jy daardie dag dankbaar was.
SAOU Help
Die SAOU Welstandprojek is ’n eerste van sy soort. “Ons glo dat die welstand van ons onderwysers die hoeksteen van ’n sterk onderwysstelsel is, en ons is trots om op ’n sinvolle, praktiese manier ons onderwysers by te staan. Hierdie projek bied ’n holistiese ondersteuningstelsel wat poduitsendings, video’s, selfhelp-hulpbronne en ’n 24/7-noodkrisislyn vir onmiddellike emosionele bystand insluit.”
As jy ’n onderwyser is wat ’n oor nodig het of net nie meer weet waar om aan te klop vir hulp nie, skakel gerus die SAOU se hulplyn. Alle oproepe en boodskappe is gratis en word vertroulik en met die grootste omsigtigheid hanteer.
WA – stuur ’n WhatsApp-boodskap aan 064 609 1150.
Noodlyn – word 24 uur per dag beman. Skakel 012 436 0911
Bronne:
Die stille krisis: Onderwysers se emosionele welstand wankel | Netwerk24
Mev Wilna van Rooyen, vroeëkinderontwikkelingspesialis by die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) – www.aonetwerk.co.za
Mnr Daan Potgieter, hoof- uitvoerende beampte by die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) – www.aonetwerk.co.za







