“Ek is lief vir tale soos ouers vir hulle kinders, maar Afrikaans is die oogappel. Alles wat belangrik is in my lewe en alles wat my EK maak, doen ek in Afrikaans. Dis beskrywend, eg en die grondslag van my kultuur.”
– Azelia Morkel, Kanaalhoof, VIA-TV
Februarie is Moedertaalmaand en op 21 Februarie vier ons Internasionale Moedertaaldag – ‘n dag wat reeds in 1999 deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) ingestel is en sedertdien jaarliks gevier word.
Nou vra jy seker: Dis ou nuus, holrug gery, wat kan ‘n mens nog sê oor hierdie onderwerp? Die kort antwoord: Baie – sommer heelwat! Want:
- Deur moedertaalonderrig word die gehalte van onderrig verbeter wat uiteindelik tot akademiese sukses lei.
- Lande wat moedertaalonderrig hulle erns maak, is oor die algemeen meer welvarend.
- Die diversiteit wat deur meertaligheid bewerkstellig word, dra by tot ‘n nasie se sukses omdat elke taal tot ‘n gedeelde toekoms bydra.
Die Engelse skrywer, Samuel Johnson het gesê: “Taal is die klere van die gedagte. Ons woorde is die boustene van ons drome … die grootste skeppende krag en energie wat ons het.” En daarom bly ons moedertaal en dan ook moedertaalonderrig belangrik en is dit ‘n onderwerp wat voortdurende bewusmaking verdien. Moedertaalonderrig lê Afrikaans.com na aan die hart en daarom vier ons ook vanjaar hierdie belangrike dag en maand en verfris ons net weer ons lesers se geheues oor hoekom moedertaalonderrig die grootste geskenk is wat jy jou kind kan gee.
MOEDERTAALONDERRIG BEVORDER AKADEMIESE SUKSES
“Dit is baie belangrik om in jou moedertaal skool te gaan, veral in die laerskool. Dit is omdat ‘n mens vinniger verstaan en makliker nuwe werk leer. En juis omdat ons Afrikaans so goed onder die knie gehad het, het ons goed reggekom in die hoёrskool waar party van ons vakke en handboeke in Engels was. Buitendien voel ‘n mens net soveel gemakliker in jou moedertaal en is dit makliker om deel te neem aan gesprekke of om kennis oor te dra. Ons het beslis nie ‘n agterstand omdat ons in ons moedertaal skoolgegaan het nie.”
– Christiaan en Carla Botes, 2021-matriekleerders wat saam 24 onderskeidings verwerf het.
- Moedertaal word spontaan aangeleer – selfs voor geboorte.
- Moedertaal vestig die basis vir kognitiewe leer en dus probleemoplossing.
- Hoe groter ’n kind se woordeskat, hoe beter leser en leerder word die kind.
- Navorsing het bewys dat moedertaal jou kind ’n leervoorsprong gee.
- Deur moedertaalonderrig word die gehalte van onderrig verbeter.
- ’n Mens verwoord jou gevoelens beter in jou moedertaal.
- ’n Kind verstaan moeilike begrippe in ’n vreemde taal makliker deur moedertaal.
- ’n Kind hoef nie in Engels skool te gaan om Engels aan te leer nie.
- Moedertaal bevorder veeltaligheid, mits die moedertaal goed gevestig is.
- Lande waar die moedertaal die kennistaal is, presteer veel beter.
Wat kan ouers doen?

“Dit was deur Afrikaans dat ek die wêreld begin verstaan het. Woord vir woord het dit vir my betekenis gegee, en so kon ek toe van kleins af my eie betekenis daaraan heg en my sodoende in die taal uitdruk.”
– Edwin van der Walt, akteur.
- Praat gereeld met jou kind in jou moedertaal – selfs voor geboorte.
- Stuur jou kind na ’n skool waar hy moedertaalonderrig kan ontvang.
- Dring aan op jou reg tot moedertaalonderrig.
- Lees vir jou kind en brei so sy woordeskat uit.
- Moedig lees aan.’n Goeie leser is ’n goeie leerder.
- Stel kinders bloot aan hul taal en kultuur. Leef in jou taal.
- Moedig die aanleer van nog ’n taal aan – veeltaligheid open deure.
- Wees trots op jou taal deur dit te praat en stel so ’n goeie voorbeeld.
- Respekteer ander se taal en kultuur.
- Jou moedertaal is wie jy is, dus: Praat dit, leef dit, lees dit!
MOEDERTAAL LEI TOT MEERTALIGHEID
“As jy jou kind ‘n voorsprong wil gee, maak dit meer sin om ‘n liefde en grondige begrip vir jou moedertaal te kweek. Leer ook minstens een ander inheemse taal aan. Dit gaan jou lewe op soveel vlakke verryk.”
– Ivor Price, mediapersoonlikheid
Nou hoe so? Navorsing het bewys dat wanneer jy jou moedertaal, met ander woorde, die taal waarin jy die sterkste is en die gemaklikste in voel, goed onder die knie het, het jy die regte grondslag om meer as een taal te bemeester, want jy kan die beginsels van jou moedertaal makliker op ander tale toepas.
Maar hoekom is meertaligheid belangrik?
“Die diversiteit van tale is net so kosbaar as die diversiteit in die natuur … taal simboliseer die diversiteit van die mensdom.”
– Christien Neser, spraakterapeut en skrywer
Dit dra by tot ‘n suksesvolle toekoms. ’n Mens hoef maar net na die suksesverhale van talle Afrikaanssprekendes te kyk wat in hulle moedertaal onderrig is. Baie van hulle woon elders in die wêreld, maar hulle presteer buitengewoon en is leiers op hulle vakgebiede op vele terreine. So staan hulle hulle plek vol.
Om meer as een taal magtig te wees het ook baie ander voordele en veral in Suid-Afrika kan ’n mens dit nie sterk genoeg beklemtoon dat die aanleer van een van die inheemse tale ’n aanwins kan wees wat jou lewe sal verryk. As jy meer as een taal verstaan en kan praat:
- Maak dit deelname net soveel makliker.
- Kry jy toegang tot nuwe kennis en kulturele ervarings.
- Maak die res van die wêreld vir jou oop.
- Dra dit by tot ’n beter begrip van ander.
VYF DINGE WAT OUERS MOET WEET
“Net wanneer ‘n mens jou moedertaal onder die knie het, kan jy die basiese vaardighede van lees, skryf en syfergeletterdheid aanleer, juis omdat moedertaalonderrig kinders se begripsvermoё en kognitiewe ontwikkeling ondersteun.”
– Afrikaans.com
Dit is nie altyd maklik om te besluit na watter skool om ’n mens se kind te stuur nie, maar wat ook al jou besluit, maak dit ’n ingeligte een. Onthou ook: Volgens die Grondwet (artikel 29), is dit elke kind se reg om in sy moedertaal onderrig te word.’n Paar riglyne:
- Verstaan die belangrike rol van moedertaal in jou kind se opvoeding, veral vir ten minste die eerste ses jaar van skool, maar weet ook dat jou kind die vermoë het om meer as een taal aan te leer.
- Praat met jou kind in jou moedertaal en laat jou kind dat leer in sy sterkste taal.
- Lees vir jou kind – so word hy blootgestel aan akademiese taal.
- Kies ’n skool wat veeltaligheid/meertaligheid ondersteun, want blootstelling is belangrik sodat jou kind ’n addisionele taal kan bemeester.
- Kies ’n skool wat kinders toelaat om hulle eie identiteite, kreatiwiteit en kritiese denke te ontwikkel.
Koester jou moedertaal en meertaligheid. Só skryf ons saam aan die toekoms van Afrikaans, maar veral ook aan die toekoms van moedertaalonderrig.