Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Datum: 29 Julie 2024
Omarm jou kind se talente
Dr Melodie de Jager, stigter van die Mind Moves Institute moedig ouers aan om hul kinders se talente te omarm, maar daar is natuurlik maniere hoe dit gedoen moet word. ’n Talent is iets wat ’n mens erf en wat dan mettertyd ontwikkel word. Dit is nie dieselfde as ’n vaardigheid wat ’n mens kan aanleer en ontwikkel nie. Dit is net daar.
In die brein word ’n vaardigheid deur herhaling en intensiteit van die ervaring vasgelê, terwyl ’n talent sterk in die brein kodeer word sonder herhaling of ’n intense gebeurtenis, alhoewel ’n talent natuurlik verfyn kan word.
’n Mens is geneig om daardie talente wat pryse kan wen belangriker te ag as talente wat nie meetbaar is nie – soos byvoorbeeld liefde, empatie, en so meer. En dit bring ons weer by die waardes wat binne gesinsverband bestaan. Gesinne moet bepaal wat vir hulle as gesin belangrik is. Dit gaan dus nie net oor pryse en medaljes nie, maar om seker te maak dat elke persoon of kind waardig voel – met of sonder die pryse.
Melodie sê dat elke kind as ’n tweeling gebore word … maar wat beteken dit? Sy verduidelik dit kortliks soos volg: Die tweeling verwys na die kind wat fisies gebore is en die kind wat ’n ouer oor gedroom het en gehoop het om te kry. As jy as ouer jou kind en sy unieke talente dus wil omarm, is dit nodig om daardie droomkind te laat gaan en die regte kind te leer ken en waardeer.
Talent is ook nie altyd meetbaar nie en wat nou gemaak as boetie en sussie nie dieselfde prestasies behaal nie en net een van die sibbe presteer? Melodie raai ouers aan om binne gesinsverband te besluit waaraan hulle waarde heg. Het ‘n plek op die verhoog tydens die skool se prysuitdeling waarde, of het julle as gesin ‘n ander maatstaf wat julle aanwend vir erkenning? Op die manier kan elkeen binne die gesin se talente omarm word.
Ilze Neethling, ’n sielkundige terapeut en psigometris gee die volgende wenke aan ouers om hulle kinders aan te moedig om hul talente te ontwikkel – sonder om onnodige druk op hulle toe te pas.
- ’n Talent moet nie ten koste van ’n ander ontwikkel word nie. Dit is belangriker om in ’n gebalanseerde en produktiewe volwassene te ontwikkel.
- Moenie jou drome deur jou kind probeer uitleef nie. Dalk wou jy daardie prima ballerina of groot sportster geword het, maar jou kind wil dit nie noodwendig wees nie. Omarm daarom jou kind se unieke talent en belangstelling en ondersteun hom ten volle daarin.
- Die ontwikkeling van jou kind se kreatiwiteit strek soveel verder as net kunstalent. Kreatiewe persone weet hoe om leiding te neem, hul eie ondernemings te begin, en so meer.
- Moet nooit te veel druk op jou kind plaas om sy talent te ontwikkel nie. Hou egter in gedagte dat positiewe aanmoediging wel nodig is.
- Hou in gedagte dat jou kind se belangstelling en prestasie in ‘n spesifieke veld nie noodwendig beteken dat hy dit sy loopbaan gaan maak nie. In so ‘n geval is aanlegtoetse wel aangewese. Belangstelling in iets beteken nie noodwendig dat jou kind ‘n buitengewone talent of aanleg daarvoor het nie.
- Jou ondersteuning is goud werd. Op die manier bou jy jou kind se selfvertroue en is dit ook voordelig vir julle verhouding.
- Maak seker jy staan terug wanneer nodig sodat jy nie oorbetrokke raak en so onnodige druk op jou kind plaas nie.
- Handhaaf balans in die verhouding tussen jou kinders. Dit is normaal dat die buitengewoon talentvolle kind dalk meer aandag (dikwels onbewustelik) sal ontvang, maar maak seker dit gebeur nie ten koste van jou verhouding met jou ander kinders nie.
Die verband tussen talente en selfwaarde
Ouers kan hulle kinders help om hul uniekheid te erken en te omarm. Daarom is dit belangrik om elke kind se unieke talente te identifiseer en hulle dan te ondersteun om hulle talente uit te leef. Hulle moet weet dat hulle maar mag trots wees op hul eie vermoëns en belangstellings. Wat dit ook al mag wees. Daarom is dit belangrik dat jou kind veilig moet voel in sy huis, veral omdat hy weet hy word onvoorwaardelik aanvaar en waardeer, ongeag sy prestasies.
Kyk hier na die volledige episode:
Lees meer:
https://afrikaans.com/2021/08/17/wenke-vir-n-goeie-selfbeeld-by-kinders/
10 maniere om jou kind se talente te help ontwikkel | Vrouekeur
Wat is selfwaarde? | Maroela Media
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders. Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!