Foto: Die Pienaars: Sophia saam met haar ouers en twee ouer broers.
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
’n Mens kry oulike dogters en dan kry jy regtig besonder oulike dogters. Sophia Pienaar hoort in die laaste kategorie. Haar pragtige Afrikaans, vrolike en vriendelike geaardheid en positiewe gesindheid, laat ’n mens sommer weer moed skep vir vandag se jongmense. Maar hoekom skryf ek nou oor Sophia spesifiek? Dit het alles begin met ‘n video van ‘n toespraak wat Afrikaans.com op Helpmekaar Kollege se FB-blad gesien en gehoor het. Die vriendelike personeel van Helpmekaar het my verder gehelp om met haar te gesels. Sophia is vanjaar ‘n postmatriek-Helpie waar sy gedurende die week in die koshuis bly en naweke by haar ouma. “Dis heerlik in die koshuis en ek het soveel vriendinne gemaak (sy noem hulle haar ‘sisterhood’) – ek gaan hulle so mis wanneer ek weer terug is by die huis, maar hoop hulle kom kuier.”
Sophia vertel dat haar ouers en twee ouer boeties ongeveer 20 jaar gelede uit Suid-Afrika na Nieu-Seeland geëmigreer het om hul onderskeie loopbane as mediese dokter en tandarts in Motueka (’n dorp in die Suid-Eiland van NS) voort te sit. Twee jaar later, is Sophia daar gebore en het sy in die pragtige omgewing (dit herinner ‘n mens nogal aan die Wes-Kaap) grootgeword en ook haar skoolloopbaan in 2023 daar voltooi.
Maar hoekom dan Suid-Afrika toe kom vir ‘n postmatriek?
Sophia lag en vertel dat hulle in 2022 in Suid-Afrika was vir ‘n familievakansie en dit het haar laat besluit om ’n jaar lank hier te spandeer – nie net om haar familie beter te leer ken nie, maar om hier skool te gaan en meer oor die kultuur te leer (en vir die Springbokke te skree mits hulle verloor!). Buitendien … “niks kom by ‘n Suid-Afrikaanse braai nie”! – aldus Sophia.
Sy sê dat hulle in die afgelope 10/12 jaar slegs twee keer in Suid-Afrika was en maar deur die jare op video-oproepe en Facetime moes staatmaak om in kontak te bly, maar “dit is nie dieselfde as om iemand in persoon te leer ken nie”. Sophia gesels ook graag oor die Suid-Afrikaners en die Afrikaanssprekendes met wie sy gedurende die afgelope jaar in kontak gekom het. Volgens haar is ons hier aan die suidpunt van Afrika vriendelik, gasvry en het sy sommer baie welkom gevoel. Sy vertel die Nieu-Seelanders is bietjie meer terughoudend – veral as hulle jou nie ken nie. (Dis waar – Suid-Afrika is hoeka bo-aan die lys van die land met die vriendelikste mense!)
Nou waar kom die mooi Afrikaans vandaan?
Sophia se oor was waarskynlik ingestel op Afrikaans – dit is immers ingebore – en al het sy nie die taal self gepraat nie kon sy dit verstaan, want sy het dit wel tuis en tydens gesprekke met familie gehoor. Sy en haar boeties kommunikeer nog altyd hoofsaaklik in Engels (kompleet met die Kiwi-aksent). Toe die besluit egter geneem is dat sy vanjaar in Suid-Afrika sou kom bly, het hulle as gesin besluit om gedurende 2023 net Afrikaans tuis te praat. “Dit het soms gewerk en soms nie, want ek het maar dikwels vergeet om Afrikaans te praat. Toe ek eers by die skool (Helpmekaar Kollege) gekom het en tussen die medeleerders beland het, moes ek eenvoudig my sokkies optrek en Afrikaans praat. Maar, ek meng dit maar nog dikwels,” lag sy. (Toemaar, Sophia, die meeste jongmense en ouer mense praat deesdae Mengels.)
Matriek in Suid-Afrika
Sophia hoef net sekere vakke te neem en skryf ook nie eksamen nie, maar sy reken dat die standaard by Helpmekaar uitstekend is en dat die leermodel leerders eintlik beter vir tersiêre onderrig voorberei.
“Hier kry ’n mens huiswerk. In Nieu-Seeland is dit meer “chilled en laid-back” en skryf ’n mens eers in graad 10 eksamen.”
Wat sport betref het Sophia hier die eerste keer muurbal gespeel en geniet dit baie. Sy het ook netbal gespeel. Maar dit lyk of haar talent eintlik elders lê, want sy is as een van die hoofdansers gekies vir die opkomende skoolproduksie “Uitsonderlik”. Iets wat sy nie verwag het nie.
Sy sien ook uit na die matriekafskeid, is klaar gevra en het reeds haar rok.
Gunstelingplek in Suid-Afrika?
Sophia reken Kaapstad het haar hart gesteel, maar dat Heroldsbaai (Tuinroete) beslis die heel mooiste plek is.
Sophia Pienaar in haar Helpmekaar-skooldrag.
En volgende jaar?
Sophia vertrek 19 Desember terug huis toe sodat sy Kersfees by haar gesin kan deurbring. Sy besluit nog watter universiteit sy gaan bywoon, maar vertel laggend dat sy altyd gedink het sy weet wat sy eendag wil word, maar dat die besluit nou onlangs drasties verander het. Na haar blootstelling aan ander idees en mense in Suid-Afrika, het sy besluit om nie ook in die mediese veld te studeer nie en liewer BCom LLB te gaan swot.
En dan moet ons darem vra: Wat is jou gunstelingwoord in Afrikaans?
Sophia se antwoord kom dadelik: “Lekker!” Nou ja, die woord word deesdae om elke hoek en draai in die wêreld gehoor. Sy skerts dan ook en sê dat sy “lekker” oral gaan gebruik en haar vriende gaan leer hoekom die woord “lekker” so lekker is om te sê.
*Afrikaans.com bedank Sophia Pienaar en Helpmekaar Kollege vir die vergunning om die artikel te skryf en te plaas. Sophia, ons wens jou ’n veilige terugreis toe. Geniet jou studies. Ons weet sommer jy gaan suksesvol wees.