Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Afrikaans.com en die Afrikaanse Onderwysnetwerk (die AON) is albei organisasies wat ’n geweldige groot rol speel in die opvoeding van ons kinders. Omdat hulle ouers wil bystaan met die opvoeding en holistiese ontwikkeling van hul kinders, het hulle die geleentheid gekry om deel te wees van ’n splinternuwe program, gesels, op Via-TV. In die loop van 13 episodes gaan verskeie kundiges insetsels lewer oor verskillende onderwerpe wat betrekking het op ons kinders en hulle ontwikkeling.
Die aanbieder, die bekende aktrise, entrepreneur en skrywer, Leandie du Randt, het geen bekendstelling nodig nie. Met haar opregtheid, vriendelikheid en insig, laat Leandie elke gas op haar program welkom en gemaklik voel.
Oor die volgende 13 weke kan kykers/lesers uitsien na lekker loslitgesprekke oor onderwerpe wat saakmaak en wat ons vertrou ons ouers en onderwysers sal help om hulle taak as opvoeders makliker te maak – al is dit dan net om beter te verstaan of die saadjie te plant om verder te lees en navorsing daaroor te doen. Onderwerpe sluit o.a. in die kwessies rondom die emosionele, fisiese, intellektuele en sosiale ontwikkeling van die kind. Elke insetsel sal verwerk word in ’n volledige artikel. Hou Afrikaans.com dop om meer te lees oor elke onderhoud.
Klik hier om ’n voorsmakie van die program te sien.
Episode 1- 22 Junie 2024
Milanie Vosloo, projekbestuurder van Afrikaans.com en Daan Potgieter, uitvoerende hoof by AON, het die reeks afgeskop en vertel hoekom daar besluit is om deel van die reeks te wees en spesifiek oor die holistiese ontwikkeling van die kind te gesels.
Sê Milanie:
Kinders en hul ontwikkeling lê ons na aan die hart en elke kind het ons ondersteuning nodig. Ouers en kinders verkeer onder geweldige druk in die hedendaagse lewe en daarom is dit so belangrik om hulle toe te rus om by omstandighede aan te pas. Ouers wil hê hul kinders moet presteer, nie net op skool nie, maar in die lewe. Maar … nie ten koste van hul emosionele welstand nie. Die verskillende kinder-, ouer- en leergerigte onderwerpe wat in hierdie reeks bespreek word, sal bydra om ons ouers, onderwysers en versorgers toe te rus om hul kinders met insig en empatie by te staan om uiteindelik hul volle potensiaal te bereik.
Daan het hierby aangesluit en uitgebrei op die doel van die AON om gehalte moedertaalonderrig te bevorder. Hy het verduidelik dat dit belangrik is om Afrikaanse vroeëkinderontwikkelingsinrigtings en -programme te organiseer en bestaande voorskoolse instellings te ondersteun om die pyplyn van Afrikaanse onderwys in stand te hou. Die AON se dienste strek uiteraard verder, maar vir die reeks, is die kind en sy holistiese ontwikkeling die fokus en het die AON en Afrikaans.com ten doel om insig in die verskillende kwessies onder bespreking te bewerkstellig.
Onderwerpe wat bespreek word, soos onder andere taalvaardigheid, die belangrikheid van speel, ingebore wiskunde, leesbegrip, robotika en kodering en die emosionele welstand en groei van ons kinders, dra alles by tot die ondersteuning wat ons aan ons ouers en onderwysers bied. Ons hoop om hierdeur die saadjie te plant vir verdere navorsing en lees oor hoe om die heel beste uit ons kinders te haal.
Kyk hier na die episode:
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!
Lees meer:
Oor die pyplynstrategie: Onderwyspyplyn: Afrikaanse onderwys se behoud? – Afrikaans.com
Oor moedertaalonderrig: Moedertaalonderrig – Afrikaans.com
Episode 2: 29 Junie 2024
Taalvaardighede bou ons kinders se kommunikasievaardighede.
Die bekende spraakterapeut en skrywer, Christien Neser, het gesels oor hoekom dit so belangrik is dat ons kinders taalvaardig moet wees. Ouers is dikwels verward oor die taal waarin hulle hul kinders moet grootmaak, veral in ons kosmopolitaanse samelewing. Hoekom is dit nodig om ons kinders in enige taal, buiten Engels groot te maak? Die wêreld is tog Engels! Mens het sekerlik net een taal nodig om mee oor die weg te kom?
Volgens Christien is dit wel so, maar … net omdat Engels die wêreldtaal is, beteken dit nie dat dit jou huistaal ook hoef te wees nie. Ouers is dikwels onder die indruk dat hulle ’n kind iets kosbaars GEE wanneer hulle die kind in Engels grootmaak, veral waar dit nié hul huistaal of moedertaal is nie. Maar hulle moet dalk vandag saam met ons stilstaan en vra: Wat neem ek WEG as ek die kind net één taal gee. Wat neem ek WEG as ek nie in my hartstaal met die kind praat nie? Wat neem ek WEG as ek die kind afsny van ’n deel van hul familie-agtergrond. En wat neem ek WEG as die brein nie die kans kry om meertalig te raak nie. Want ja, ons kinders word in ’n sop van Engels groot. Tussen Peppa Pig en die kleuterskool en die oppasser tuis is die lingua franca dikwels net Engels. So leer kinders van Afrikaans-, Zulu-, Xhosa- en Sotho-sprekers asof vanself Engels aan. Derduisende ouers kan hiervan getuig: Op ’n mooi dag praat die bloedjie Engels, sonder dat iemand hulle dit doelbewus geleer het.
As Engels dan so ’n dominante taal is, en die kinders dit buitendien aanleer, hoekom moet ’n mens dan moeite doen met ’n huistaal, soos byvoorbeeld Afrikaans of Xhosa? Christien gee vyf redes:
Die eerste is intelligensie. ’n Kind wat tuis in ’n minderheidstaal grootgemaak word, wat vir meeste van ons Afrikaans is, se brein raak meer aktief. Die vertalingsaksie begin baie vroeg en hou nooit weer op nie. Hierdie kinders vorm meer konneksies in hul taalarea, aangesien elke taal in sy eie klein deeltjie van die brein geprosesseer word. Hulle is aanliggend, so hulle skakel met senuweebane. Hoe meer senuweebane, hoe beter die konnektiwiteit en hoe effektiewer die brein. Dis in wese ’n verhoging van die brein se potensiaal, dus ook ’n verhoging van intellek.
Tweedens, intimiteit. Ek praat hier van innigheid. Mens is net meer innig en opreg in jou eie taal. Om ’n kind in jou tweede taal groot te maak, is om iets van daardie snoesigheid en egtheid te verloor. Die oumas en oupas en uitgebreide familie se unieke insette word ook so verskraal.
Derdens: Jou identiteit. Die tale wat jy praat, bepaal tot ’n groot mate jou identiteit. Veral hier vanaf 12 tot 16 jaar, vestig kinders hul identiteit. Dan beweeg hulle tussen twee pole: ’n Sterk identiteit teenoor verwarring. En ’n verwarde tiener is moeilikheid. As mens jou huis se taal ontken, ontken jy ook jou eie identiteit.
Vierdens:Interpersoonlike verhoudings. Met jou moedertaal as jou basis, gaan jy meertalig raak. Dis ’n gegewe. Die Switsers noem dit MLA- Minority Language at Home. In Switserland is meeste mense 4- tot 5-talig, alles omdat hulle hul huistaal tuis praat, of dit Duits, Frans, Italiaans of Romaans is. En mense wat meer as een taal praat, kan met ander mense se harte praat, nie net hul verstand nie.
Laastens: Die geheime wapen van meertaligheid. Meertaliges kan beter in chaos funksioneer. As gevolg van die chaos in die brein, die ekstra netwerke wat gevorm word omdat die kind heeltyd vertaal, kan meertaliges geraas en chaos beter hanteer. Dit maak van die meeste Suid-Afrikaners gesogte werkers oorsee.
Nou wat maak ons as daar twee tale in die huis is, want ma en pa praat nie dieselfde taal nie?
Volgens Christien is daar een van twee metodes om dit te hanteer.
- Simultane tweetaligheid. Dis wanneer ma en pa hul eie taal met die kind praat, reg van die begin af. Die kind sal weliswaar ’n bietjie later begin praat, maar dan vlot in beide tale. Dit hang natuurlik ook af hoeveel tyd elke ouer het om hul taal met die kind te praat. Die taal wat die meeste met die kind gepraat word, sal eerste ontwikkel.
- Opeenvolgende tweetaligheid. Dan kies ma haar taal en beide gee die kind kans om vlot te praat, voordat die tweede taal aangebied word. Dis so rondom 24 tot 36 maande. Onthou OPOL: one parent, one language.
Onthou egter: Die wêreld gaan vir jou kind Engels leer. Maar net jý kan vir die kind jou hartstaal gee.
Links: Milanie Vosloo (Afrikaans.com-projekbestuurder) en regs Christien Neser (spraakterapeut en skrywer).
Lees meer:
Oor meertaligheid: Moedertaalonderrig, meertaligheid of nie? – Afrikaans.com; Moedertaalonderrig en meertaligheid is soos vinkel en koljander – Afrikaans.com
Oor die gawe van moedertaal: Die gawe van moedertaal – Afrikaans.com
Transtaling in die klaskamer: Ons verduidelik transtaling in die klaskamer – Afrikaans.com
Episode 3: 6 Julie 2024
Die belangrikheid van speel.
Wilna van Rooyen van die AON, is ’n vroeëkinderontwikkelingspesialis met meer as 40 jaar onderwyservaring. Haar passie vir die onderwys (sy was ook 32 jaar lank hoof by verskillende vooraanstaande skole), opvoeding en neurowetenskappe dra daartoe by dat sy haar droom uitleef om gehalte onderwys te bied en om die jeug toe te rus om die toekoms met briljantheid te bestuur. Wilna het gesels oor hoekom dit so belangrik is dat ons kinders moet speel. Sy sê:
Vir ‘n kind, is speel die lewe. Dit is hoe hulle leer en sin van die wêreld maak. Vir volwassenes, is speel ‘n vorm van ontspanning wanneer hulle klaar is met hulle werk. Vir jong kinders is daar geen onderskeid tussen speel, leer en werk nie. Speel is ‘n natuurlike deel van die kind se lewe. Kinders het ’n ingebore drang om te speel, wat hul motiveer om soveel as moontlik verskillende ervarings te kry, waaruit hul eerstehands leer.
As dit vir kinders voel of hul speel, is hulle gemotiveer om te leer. Speel ondersteun dan ook die totale ontwikkeling van die jong kind en is direk betrokke by hulle fisiese, emosionele, sosiale en kognitiewe groei en ontwikkeling. Speel het te doen met die toename in intelligensie – terwyl kinders speel, ontwikkel hulle breine. Hulle leer deur te doen, te ontdek, te ervaar, deur al hul sintuie en hul spiere te betrek.
Maar hoe leer kinders deur te speel?
Wilna verduidelik dat kinders vanaf geboorte hul sintuie gebruik om meer van hul omgewing te wete te kom en die proses duur lewenslank voort. Hul ervaar deur met hul velle te voel, deur met hul neuse te ruik, met hul monde te proe, met die ore te hoor en met die ogies te sien.
Deur te beweeg, leer kinders hul liggame ken, hul balans ontwikkel, hul teer om tussen links en regs te onderskei. Terwyl hulle met en op verskillende apparaat speel, kruis hul hul middellyne spontaan, hul spiertonus ontwikkel wat hul help om beter te konsentreer. Hulle beleef die ruimte om hulle wat hul in staat stel om te bepaal waar hulle is, hul sin vir rigting word gestimuleer, wat hul help met lees, skryf en wiskunde. Hoe meer hul beweeg hoe meer gekoördineerd word die bewegings en hul ritme verbeter, deur onder andere ritmies te loop, te hardloop, te huppel, te galop en tou te spring.
Hul fynmotoriesevaardighede ontwikkel, deur te suig, te blaas, te kou, kaalvoet te klim en klouter, klein voorwerpies met hul vingers en tone op te tel, papier te skeur, te frommel, met klei te speel, te teken, te verf, spykers met hamers in te kap, knope los en vas te maak, vrugte af te skil en bottelproppe oop en toe te draai.
Die sensories-motoriese ontwikkeling waarvan ons hier praat, vorm die basis van alle leer en is daarom so onontbeerlik.
Speel ondersteun dus kognitiewe ontwikkeling op die volgende wyse:
Wanneer kinders speel, vra hul vrae oor dit wat hul ervaar, hulle dink daaroor totdat hul verstaan wat hul ervaar. Hulle kyk wat gebeur as mens water en sand meng, hoe blare voel en hoe ’n fiets se wiel dit regkry om te draai as jy die pedale trap. Hulle leer meer oor hul eie vermoëns terwyl hul prente verf, boeke deurkyk, bome klim, krale ryg, legkaarte bou en soos grootmense aantrek en die rolle uitspeel.
Terwyl hul so speel, groei hul emosioneel, hul sosiale vaardighede verbeter, hul praat al beter en leer om na mekaar te luister, saam planne te maak en probleme op te los. Dit gee hul ’n gevoel van beheer oor hul omgewing, wat hul selfvertroue en selfbeeld ’n belangrike hupstoot gee.
Speel is ’n aktiewe vorm van leer, wat die verstand, liggaam en gees saambind. Kinders moet altyd kan speel, om hul kreatiwiteit te ontwikkel, hul nuuskierigheid te prikkel, hul verbeelding aan te wakker, te leer hoe om te volhard, om op die ou einde selfgemotiveerde leerders te word.
Dis pret om al spelende te leer en wanneer pappa en mamma saam speel, ervaar hulle liefde en omgee, hul vertroue in ander mense verhoog en om saam pret te beleef, is sommer ’n dubbele vreugdevolle en leersame ervaring!
Lees meer:
Aktiewe kinders leer makliker: Kinders moet speel en aktief wees om te ontwikkel en te leer. – Afrikaans.com
Speel jou kind genoeg? Speel jou kind genoeg? – Afrikaans.com
Episode 4: 15 Julie 2024
Angs en my kind en emosionele ondersteuning
Die bekende kliniese sielkundige (talle van julle sal hom al gehoor het op die RSG-program, Wie is ek?, Louis Awerbuck, gesels oor angstigheid by kinders en hoe ouers hulle emosioneel kan ondersteun, mits hulle verstaan waardeur hulle kind gaan.
Hoe weet ’n mens as jou kind ’n angstoestand het? Louis antwoord:
Angstigheid mag wys as oormatige vrees of bekommernis, maar onthou dit is relatief tot die ouderdom van die kind. Angstigheid kan kinders ook geïrriteerd of aggressief maak. Fisiese simptome soos hipertensie, oormatige sweet, uitputting, hoofpyn, of maagprobleme is algemeen. Herhalende, irrasionele vrese en nagmerries kan ook voorkom by kinders wat sukkel met angs. Pasop egter om net tot gevolgtrekkings te kom as jy sommige van die simptome in jou kind herken; dit is normaal vir kinders in sekere lewensfases om soms angstig te wees. Sommige kinders, veral tieners, kan egter simptome van angs wegsteek, wat dit moeilik maak vir ouers om te sien as hulle kinders sukkel.
Maar hoe moet die ouer sy kind se simptome van angs verstaan?
Louis sê dat ons in gedagte moet hou dat oormatige angs of stres primêr in die liggaam gesetel is, en nie in mens se gedagtes nie. Angs is dus niks anders as ’n oormatige of permanente veg-of-vlug-reaksie nie.
Kinders met oormatige simptome van angs se liggame is gevolglik vasgevang in die abnormale gewoonte om te veel streshormone, soos adrenalien en kortisol, af te skei weens veg-of-vlug-reaksies wat ’n gewoonte geword het. Hierdie proses het ’n negatiewe impak op onder andere bloedsuiker, bloeddruk, konsentrasie en gemoed. Die deel van die brein van die kind met angs wat as mens se “alarmstelsel” funksioneer (limbiese stelsel), is dus permanent aangeskakel en beïnvloed kinders se immuniteitstelsels. Gevolglik word angstige kinders ook meer siek.
Louis raai ouers aan om hulle kind op die volgende maniere met hul angstigheid te help sodat hulle dit beter kan hanteer:
Omdat die simptome van angstigheid meestal in die liggaam sentreer, help dit om die meeste aandag te gee aan fisiese insette. Hiervan is oefening verreweg die beste, en is die ideaal vir ’n kind om gereeld by ’n biokinetikus te oefen, selfs al is die kind nog in die laerskool. Indien moontlik sal konsultasies by ’n fisioterapeut ook goeie resultate oplewer. Tieners kan meditasie, of vorms van ontspanningsterapie aanleer, en daar is vele selfoontoepassings hiervoor.
In baie gevalle is dit van groot hulp vir kinders om terapie by opgeleide sielkundiges te ontvang. ’n Veilige en stabiele emosionele omgewing is van uiterste belang vir kinders om simptome van angstigheid teë te werk, en vir vele kinders (veral jonger kinders) is hulle angsverwante simptome eintlik ’n weerspieëling van wat in die ouerhuis aangaan.
Lees meer:
Hanteer angstigheid: Angstigheid by ons kinders. Hoe hanteer ons dit? Hier is wenke. – Afrikaans.com
Wenke om angstigheid te hanteer:Wenke om jou kind se vrese en angstigheid te hanteer – Afrikaans.com
Obsessief-kompulsiewe steurnis: Obsessief-kompulsiewe steurnis: ’n Komplekse toestand, maar daar is hoop. – Afrikaans.com
Neurodiversiteit: Riglyne: Neurodiversiteit: Riglyne vir ouers en onderwysers om die uitdagings te hanteer. – Afrikaans.com
Sensorieseprosesseringsdisfunksie (SPD) – verstaan jou kind beter: Sensorieseprosesseringsdisfunksie (SPD): Ons help jou om beter te verstaan hoekom jou kind “anders” reageer en optree – Afrikaans.com
Help jou angstige kind so: So help jy jou angstige kind. – Afrikaans.com
Episode 5: 22 Julie 2024
My kind en skermtyd
Dr. Carla Bezuidenhout, ’n opvoedkundige sielkundige verbonde aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, het bietjie meer vertel rondom die onderwerp van skermtyd en die inligting wat ouers in gedagte kan hou ten opsigte van hul kinders se skermgebruik.
Deesdae is tegnologie en skerms deel van ons lewens en al hoe meer ook deel van ons kinders se leefwêreld. Skermtyd het amper ’n tipe van ’n gonswoord geword, maar wat is skermtyd? Volgens Carla verwys skermtyd na die gebruik van enige elektronika op skerms, soos byvoorbeeld, selfone, tablette, televisie, en selfs witbordskerms in klaskamers wat met projektors werk en dan spesifiek, die hoeveelheid tyd wat kinders op hierdie skerms spandeer.
Die rede hoekom die aspek van tyd wat kinders op skerms spandeer, so belangrik is, is wanneer ons vanuit die standpunt redeneer dat holistiese ontwikkeling, m.a.w. ontwikkeling in verskeie areas, belangrik is vir kinders se gesonder funksionering. Daarom is dit dan belangrik om na te dink hoeveel tyd kinders op skerms spandeer.
Navorsing deur die Apple-maatskappy het ’n paar jaar gelede verwys na kinders as die “i-Generation” juis omdat die gebruik van i-Phones en i-Pads onder kinders en tieners so toegeneem het. Navorsing deur Unicef in 2023, het bevind dat ongeveer 2 biljoen kinders in die wêreld ’n slimfoon besit. Wat navorsing aandui, is dat hierdie toename in skermgebruik onder kinders verskeie areas van ontwikkeling kan beperk, bv. breinontwikkeling, fisiese, emosionele en sosiale ontwikkeling. Ontwikkeling, veral van jong kinders, maak staat op perseptuele ontwikkeling, soos beweging – oorkruisbewegings wat later leesvaardighede beïnvloed; ruimtelike prosessering en oriëntasie wat wiskundige vaardighede beïnvloed; en dan ook interaksie met hul omgewings en hul mense vir die ontwikkeling van sosiale en emosionele vaardighede. Omdat skermgebruik daardie tyd in beslag kan neem, ly holistiese ontwikkeling daaronder.
Carla gee die volgende riglyne vir die hoeveelheid tyd wat kinders op skerms moet spandeer:
- Onder die ouderdom van twee jaar word geen skermtyd aanbeveel nie – dit sluit tekenprente op televisie in. Indien daar wel blootstelling is, moet dit beeldmateriaal wees met stadig bewegende beelde.
- Dan vir kinders tussen twee en ongeveer vyf jaar, slegs ’n uur per dag.
- Kinders tussen die ouderdom van 5 en 13, ongeveer twee ure per dag.
- Tieners, afgesien van tyd spandeer op skerms vir skoolwerk en huiswerk, ook ongeveer twee ure per dag.
Carla sluit af met raad aan ouers hoe hulle hierdie riglyne kan implementeer. Sy sê dat kinders leer deur dít wat hulle sien. ’n Beginpunt sal dus wees vir ouers om te besin oor hul eie skermtyd. Is gesinstyd werklik ’n tyd waar ouers fisies en emosioneel teenwoordig is, of word dit onderbreek deur skermgebruik, hetsy aan tafel tydens etenstyd; of tydens ’n gesinsaktiwiteit?
’n Baie belangrike aspek rondom skermtyd, is die aspek van grense. Grense vir jonger kinders skep juis geborgenheid en om grense vir skermtyd te stel, is deel van ouerskap. Dis dan ook belangrik dat ouers konsekwent by hierdie grense sal hou en dit nie noodwendig sal vermeerder as ’n beloning in ’n sekere situasie nie.
Vir ouers waar kinders al middel-laerskool is, beveel sy aan dat ouers saam met hul kind ’n soort ooreenkoms opstel. Hierdie ooreenkoms sit uiteen dat die gebruik van ’n skerm, ’n voorreg is en nie ’n reg nie; dit stipuleer die hoeveelheid tyd wat die kind op daardie skerm mag spandeer; ouers neem eienaarsposisie in dat hulle, soos in die geval van slimfone, die foon se boodskappe en foto’s en internetsoektog mag nagaan; en dit verduidelik dat indien die skerm ’n rede is vir die verbreek van die gesin se waardes, daar gevolge is, soos dat die toestel afgeneem kan word. Soos wat die kind ouer word, word die ooreenkoms hersien, en soos met meeste aspekte van kinderopvoeding, word die grense, na mate die kinder ouer word gestrek sodat die kind ook meer selfverantwoordelikheid leer.
Sy beveel ook aan dat ouers ’n afspraak maak by ’n opvoedkundige sielkundige in hul area; of leesstof bekom wat spesifiek handel oor kinders se skermtydgebruik.
Lees meer:
Gesonde skermgewoontes: Gesonde skermgewoontes, gelukkige gesin: Drie basiese wenke – Afrikaans.com
Tegnologie in die klaskamer:Fokus: Tegnologie in die klaskamer – Afrikaans.com
Skermtyd in die vakansie:Dis vakansie, maar hoe bestuur ons ons kinders se skermtyd. Hier is raad. – Afrikaans.com
Episode 6: 29 Julie 2024
Omarm jou kind se talente
Dr Melodie de Jager, stigter van die Mind Moves Institute moedig ouers aan om hul kinders se talente te omarm, maar daar is natuurlik maniere hoe dit gedoen moet word. ’n Talent is iets wat ’n mens erf en wat dan mettertyd ontwikkel word. Dit is nie dieselfde as ’n vaardigheid wat ’n mens kan aanleer en ontwikkel nie. Dit is net daar.
In die brein word ’n vaardigheid deur herhaling en intensiteit van die ervaring vasgelê, terwyl ’n talent sterk in die brein kodeer word sonder herhaling of ’n intense gebeurtenis, alhoewel ’n talent natuurlik verfyn kan word.
’n Mens is geneig om daardie talente wat pryse kan wen belangriker te ag as talente wat nie meetbaar is nie – soos byvoorbeeld liefde, empatie, en so meer. En dit bring ons weer by die waardes wat binne gesinsverband bestaan. Gesinne moet bepaal wat vir hulle as gesin belangrik is. Dit gaan dus nie net oor pryse en medaljes nie, maar om seker te maak dat elke persoon of kind waardig voel – met of sonder die pryse.
Melodie sê dat elke kind as ’n tweeling gebore word … maar wat beteken dit? Sy verduidelik dit kortliks soos volg: Die tweeling verwys na die kind wat fisies gebore is en die kind wat ’n ouer oor gedroom het en gehoop het om te kry. As jy as ouer jou kind en sy unieke talente dus wil omarm, is dit nodig om daardie droomkind te laat gaan en die regte kind te leer ken en waardeer.
Talent is ook nie altyd meetbaar nie en wat nou gemaak as boetie en sussie nie dieselfde prestasies behaal nie en net een van die sibbe presteer? Melodie raai ouers aan om binne gesinsverband te besluit waaraan hulle waarde heg. Het ‘n plek op die verhoog tydens die skool se prysuitdeling waarde, of het julle as gesin ‘n ander maatstaf wat julle aanwend vir erkenning? Op die manier kan elkeen binne die gesin se talente omarm word.
Ilze Neethling, ’n sielkundige terapeut en psigometris gee die volgende wenke aan ouers om hulle kinders aan te moedig om hul talente te ontwikkel – sonder om onnodige druk op hulle toe te pas.
- ’n Talent moet nie ten koste van ’n ander ontwikkel word nie. Dit is belangriker om in ’n gebalanseerde en produktiewe volwassene te ontwikkel.
- Moenie jou drome deur jou kind probeer uitleef nie. Dalk wou jy daardie prima ballerina of groot sportster geword het, maar jou kind wil dit nie noodwendig wees nie. Omarm daarom jou kind se unieke talent en belangstelling en ondersteun hom ten volle daarin.
- Die ontwikkeling van jou kind se kreatiwiteit strek soveel verder as net kunstalent. Kreatiewe persone weet hoe om leiding te neem, hul eie ondernemings te begin, en so meer.
- Moet nooit te veel druk op jou kind plaas om sy talent te ontwikkel nie. Hou egter in gedagte dat positiewe aanmoediging wel nodig is.
- Hou in gedagte dat jou kind se belangstelling en prestasie in ‘n spesifieke veld nie noodwendig beteken dat hy dit sy loopbaan gaan maak nie. In so ‘n geval is aanlegtoetse wel aangewese. Belangstelling in iets beteken nie noodwendig dat jou kind ‘n buitengewone talent of aanleg daarvoor het nie.
- Jou ondersteuning is goud werd. Op die manier bou jy jou kind se selfvertroue en is dit ook voordelig vir julle verhouding.
- Maak seker jy staan terug wanneer nodig sodat jy nie oorbetrokke raak en so onnodige druk op jou kind plaas nie.
- Handhaaf balans in die verhouding tussen jou kinders. Dit is normaal dat die buitengewoon talentvolle kind dalk meer aandag (dikwels onbewustelik) sal ontvang, maar maak seker dit gebeur nie ten koste van jou verhouding met jou ander kinders nie.
Die verband tussen talente en selfwaarde
Ouers kan hulle kinders help om hul uniekheid te erken en te omarm. Daarom is dit belangrik om elke kind se unieke talente te identifiseer en hulle dan te ondersteun om hulle talente uit te leef. Hulle moet weet dat hulle maar mag trots wees op hul eie vermoëns en belangstellings. Wat dit ook al mag wees. Daarom is dit belangrik dat jou kind veilig moet voel in sy huis, veral omdat hy weet hy word onvoorwaardelik aanvaar en waardeer, ongeag sy prestasies.
Kyk hier na die volledige episode:
Lees meer:
https://afrikaans.com/2021/08/17/wenke-vir-n-goeie-selfbeeld-by-kinders/
10 maniere om jou kind se talente te help ontwikkel | Vrouekeur
Wat is selfwaarde? | Maroela Media
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders. Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!
Episode 7: 5 Augustus 2024
Wiskunde is ingebore
Dr Melodie de Jager, stigter van die Mind Moves Institute, het gesels oor wiskunde en hoekom kinders (en baie van hul ouers) bang is daarvoor en daarmee sukkel.
Volgens Melodie is wiskunde iets waarmee ons gebore word, want “’n kind word gebore met een lyf, twee arms, vyf vingers aan elke hand en vyf tone aan elke voet wat hul in staat stel om sommer groot somme met die lyf te maak”. Hierdie sogenaamde lyfwiskunde begin egter met getalbegrip en die ontdekking van patrone wat dan later oorgaan in berekenings en meting.
Maar wat maak wiskunde so moeilik?
Volgens Melodie is wiskunde beide ’n wetenskap en ’n vorm van kuns. En soos met alle ander kunsvorms is almal ook nie ewe vaardig met wiskunde as met prentjies verf, sing of dans nie. Mense sukkel met wiskunde omdat dit abstrak is. Jy kan nie daaraan voel en vat nie. Wanneer onderrigtyd egter wel tyd afstaan aan die voel en vat van wiskundige konsepte, dan raak dit vir almal haalbaar. Dit is daardie wiskundige geletterdheid wat ons kan toepas en gebruik. Daarteenoor is daar diegene wat ’n talent het om op die abstrakte vlak rond te speel en dit is natuurlik die persone wat later byvoorbeeld ’n aktuaris word.
’n Vrees vir wiskunde hou jou gevange in die laer deel van die brein. Analise, logika en so meer is gesetel in die hoër brein.
Wiskunde is ‘n omvattende wetenskap met onder meer die volgende dissiplines: rekenkunde, meetkunde, algebra, versamelingsleer, vektore, grafieke en funksies, statistiek, differensiasie, integrasie, tensorrekening, komplekse getalle, matrikse, rye en reekse, skakel-algebra, topologie, waarskynlikheidsrekening en selfs ook programmering.
Die pyn vir die wat met wiskunde sukkel is meestal omdat die aanleer van wiskunde as ’n taal tydens die vroeë jare nie konkreet gebeur nie. Konkreet beteken aanvatbaar en as jy aan getalle en patrone kan vat word abstrakte konsepte makliker beheerbaar.
Ons JAAG te veel. Wanneer getalbegrip, patrone en bewerking s t a d i g aangeleer en die eerste klompie jare (voorskoolse fase) op vele maniere herhaal word, dan is daar ’n positiewe ingesteldheid en stewige basis vir die res.
Kyk gerus na die volledige insetsel:
Episode 8: 20 Augustus 2024
Wat is kodering en hoekom is dit deesdae so belangrik dat ons kinders daarmee vertroud moet wees en dit moet kan gebruik?
Felix Spies, stigter en hoof- uitvoerende beampte van die Siyafunda Education Foundation (SEF), is ’n dinamiese leier in STEM-onderwys (STEM = Science, Technology, Engineering, Math) en bekend vir sy innoverende benadering en kundigheid in kodering, robotika en strategiese bestuur. Hy verduidelik kodering soos volg:
Kodering is die proses om ‘n programmeertaal te gebruik om ‘n rekenaar opdrag te gee om spesifieke take uit te voer. Dit behels die skryf van reekse van instruksies (kode) wat ‘n rekenaar kan interpreteer en uitvoer. Kodering is fundamenteel vir die skep van sagteware, toepassings, webwerwe en nog baie meer. (By Siyafunda Education Foundation (SEF) beklemtoon ons die belangrikheid van kodering as ‘n noodsaaklike vaardigheid vir die toekoms, wat leerders in staat stel om in die digitale wêreld te skep en te innoveer.)
Digitale geletterdheid
Ons ken wiskundige geletterdheid, maar wat is digitale geletterdheid en hoe kan ouers hul kinders hiermee help? Volgens Felix verwys digitale geletterdheid na die vermoë om effektief en krities te navigeer, te evalueer en inligting te skep deur ‘n reeks digitale tegnologieë te gebruik. Dit sluit vaardighede in soos om die internet veilig te gebruik, om te verstaan hoe om sagteware en toepassings te gebruik, en om te weet hoe om jou digitale voetspoor te beskerm. Ouers kan hul kinders se digitale geletterdheid ondersteun deur die gebruik van opvoedkundige toepassings en webwerwe aan te moedig, hul aanlyn aktiwiteite te monitor en aan gesprekke oor aanlyn veiligheid en digitale etiek deel te neem. (SEF bied hulpbronne en programme aan om ouers en opvoeders te help om kinders te lei om digitaal geletterd te word.)
Robotika
Felix wys daarop dat kodering ‘n integrale deel van robotika is. In robotika word kodering gebruik om die robotte te programmeer om spesifieke take uit te voer, op insette te reageer en met hul omgewing te kommunikeer. Om te leer kodeer is noodsaaklik om te verstaan hoe robotte werk en om nuwe robotoplossings te skep. (By SEF integreer ons kodering en robotika in ons kurrikulum om leerders te voorsien van ‘n omvattende begrip van hoe hierdie velde mekaar kruis en om hul probleemoplossingsvaardighede te verbeter.)
Die Departement van Onderwys het die nieverpligte vak, kodering, nou ingestel vanaf grondslagfase tot op graad 9-vlak. Volgens Felix behoort kinders so vroeg as voorskools reeds te kodeer. Vroeë blootstelling aan kodering help om kritiese denke, probleemoplossing en logiese redenasievaardighede vanaf ‘n jong ouderdom te ontwikkel. Laerskool is ook ‘n deurslaggewende tyd om op hierdie fondamente te bou. (By SEF bied ons ouderdomsgeskikte koderingsprogramme vanaf kleuterskool om te verseker dat kinders hierdie noodsaaklike vaardighede vroeg ontwikkel.)
Aflyn hulpbronne
Die lekker hiervan is dat mens nie noodwendig ’n rekenaar nodig het, alhoewel ‘n toestel en internettoegang die leerervaring kan verbeter. Daar is baie aflyn hulpbronne en aktiwiteite beskikbaar om koderingskonsepte aan te leer. Unplugged-koderingsaktiwiteite, wat nie ‘n rekenaar benodig nie, is ‘n goeie manier om jong leerders aan kodering bekend te stel. Om egter ten volle voordeel te trek uit die groot verskeidenheid koderingshulpbronne en -instrumente wat aanlyn beskikbaar is, is toegang tot ‘n toestel en internet voordelig. (SEF verskaf beide aanlyn en vanlyn koderingsbronne om verskillende behoeftes en omstandighede te akkommodeer.)
Koste
Dit kan duur raak om van die sagteware en toerusting aan te koop en skole sal toegerus moet word om die vak aan te bied. Felix sê dat skole basiese rekenaartoerusting, toegang tot die internet en opgeleide opvoeders benodig om kodering as vak aan te bied. Alhoewel dit dalk uitdagend lyk, is dit prakties moontlik met die regte ondersteuning en hulpbronne. (SEF werk saam met skole om bekostigbare kodering- en robotikaprogramme te verskaf, insluitend onderwysersopleiding en toegang tot nodige hulpbronne.)
Probleemoplossing
Kodering en robotika hou verband met probleemoplossing deur logiese en berekende denke – belangrike vaardighede vir die toekoms. Felix brei soos volg hierop uit:
Kodering en robotika leer kinders om komplekse probleme in hanteerbare dele af te breek, logies te dink en stap-vir-stap oplossings te ontwikkel. Hierdie vaardighede is nie net deurslaggewend vir loopbane in tegnologie nie, maar is ook waardevol in die alledaagse lewe en enige professionele veld. Deur by kodering en robotika betrokke te raak, ontwikkel leerders ‘n ingesteldheid wat hulle toerus om uitdagings kreatief en doeltreffend aan te pak. SEF is toegewyd aan die bevordering van hierdie vaardighede deur ons omvattende programme, om te verseker dat leerders goed voorbereid is vir die toekoms.
Fokusareas
Die belangrikste fokusareas in kodering- en robotikaprogramme is volgens Felix die volgende:
- Fundamentele koderingvaardighede: Verstaan basiese programmeertale en konsepte.
- Robotika: Bou en programmering van robotte om take uit te voer.
- Probleemoplossing: Ontwikkel logiese en kritiese denkvaardighede.
- Digitale geletterdheid: Om te verseker dat studente digitale tegnologieë veilig en effektief kan navigeer en gebruik.
- Kreatiwiteit en innovasie: Aanmoediging van kreatiewe benaderings tot tegnologie en probleemoplossing.
- Samewerking: Bevordering van spanwerk deur groepprojekte en samewerkende leer.
Jongmense kan net baat by kodering
- Kodering is meer as net die skryf van reëlskode om videospeletjies te skep. Dit is ‘n basiese vaardigheid wat die jeug toerus met waardevolle hulpmiddels vir die digitale era. Studies wys dat om te leer kodeer verbeter probleemoplossing deur uitdagings in kleiner, logiese stappe af te breek.
- Dit versterk kritiese denkvaardighede, wat noodsaaklik is vir sukses in enige veld. Daarbenewens bevorder kodering rekenaardenke, die vermoë om probleme op ‘n sistematiese manier te benader en oplossings te ontwerp deur algoritmes te gebruik. Hierdie vaardigheidstel is baie gesog in vandag se arbeidsmark, ongeag die spesifieke loopbaan wat ‘n jong persoon kan kies.
Kodering is dus baie meer as net vermaak, want kodering:
- ontsluit ‘n wêreld van kreatiewe moontlikhede. Kinders kan interaktiewe animasies ontwerp, hul eie stories bou met vertakkende vertellings, of selfs speletjies skep wat hul vriende uitdaag.
- stel kinders in staat om hulself op unieke maniere uit te druk en hul idees in ‘n digitale formaat tot lewe te bring. Stel jou ‘n kind voor wat lief is vir diere. Deur kodering kan hulle ‘n interaktiewe animasie skep waar gebruikers verskillende dierefeite kan leer of selfs ‘n speletjie kan ontwerp waar hulle vir virtuele troeteldiere omgee.
Wat van te veel skermtyd wat breinontwikkeling kan beïnvloed? Felix beaam dat dit ’n geldige bekommernis is. Oormatige skermtyd kan nadelig wees vir breinontwikkeling. Kodering kan egter ’n gesonde, skermgebaseerde aktiwiteit wees wanneer dit met ander ervarings gebalanseer word. Die American Academy of Pediatrics beveel eintlik aan om kodering in opvoedkundige ervarings in te sluit. Die sleutel is om ‘n balans te vind en skermtydperke op grond van ‘n kind se ouderdom te stel.
Felix gee die volgende wenke vir ouers om gesonde skermtydgewoontes te bevorder:
- Moedig pouses aan en inkorporeer fisiese aktiwiteit deur die dag om verskillende areas van die brein te stimuleer.
- Verken “unplugged”-koderingsaktiwiteite soos die gebruik van bordspeletjies wat basiese koderingskonsepte leer. Hierdie aktiwiteite kan die kernbeginsels van kodering bekendstel sonder oormatige skermtyd.
Lees ook:
Kunsmatige intelligensie: KI bied talle geleenthede indien reg aangewend – Afrikaans.com
ChatGPT – kletsbot: ChatGPT – ‘n Kletsbot wat jou stomslaan – Afrikaans.com
Episode 10: 25 Augustus 2024
- Chareldine van der Merwe is deel van die ATKV waar sy die projekbestuurder van Vriende van Afrikaans (VVA) is. Chareldine het ons meer oor die VVA se werksaamhede vertel en uitgebrei oor hoekom leesbegrip so belangrik is.Oor die kwessie van leesbegrip sê Chareldine dat kinders sonder begrip baie stadig lees en juis daarom het hulle dan ’n negatiewe houding teenoor lees. Hierdie probleem kring egter verder uit en lei tot beperkte woordeskat, logiese denke wat ontbreek, uitdagings met spelling en skryf, ’n lae selfbeeld en selfvertroue, swak kommunikasievaardighede, dissiplinêre uitdagings, probleme met geheue en so meer.Ons almal lees met die doel om te verstaan wat ons lees. Indien kinders egter sonder begrip lees, weet hulle nie wat van hulle verwag word nie en kan hulle nie optimaal presteer nie. Kom ons kyk na die statistiek. Dit bevestig net weereens hoekom kinders uitdagings ten opsigte van lees het, omdat ’n leeskultuur in baie huishoudings en skole ontbreek. Tog, as daar aan hierdie kinders voorgelees word en die regte metodes toegepas word, sal hulle en kan hulle gehelp word.
- Net 14% Suid-Afrikaners lees aktief.
- 58% van huishoudings het nie ’n enkele boek nie.
- ’n Derde van alle ouers vertel nie vir hul kinders stories nie.
- 50% van ouers het nog nooit vir hul kinders ’n boek voorgelees nie.
- Selfs leerders in graad 11 en 12 kan nie met begrip lees nie.
Hoekom is voorlees so belangrik?
“Elke mens beskik oor die verstandelike vermoë om feitlik enigiets te leer. Natuurlik leer sommiges makliker as ander, maar dit is nie die punt nie. Die feit is: Almal kan eintlik reg en vinnig lees as dit op die korrekte manier vir hulle geleer is,” aldus dr Jan Strydom – Audiblox.
Wat kan ouers doen? Stel jou kind reeds van babatyd af aan ’n uitgebreide woordeskat bloot. Praat met jou kind. Praat en praat en praat. Vanaf 4 jaar oud behoort jou kind tussen links en regs te kan onderskei, groot en klein, bo en onder – want ons lees van links na regs en dit is ook vaardighede wat nodig is om wiskunde te kan doen. Hierdie boublokke is uiters belangrik vir die kind se ontwikkeling en om te verseker dat hulle uiteindelik gereed sal wees vir akademiese prestasies.
Verder moet kinders weet dat enige leesstuk uit ’n begin en einde bestaan, vertelvaardighede, fonologiese vaardighede, fyn- en grootmotoriesevaardighede – al hierdie goed kan met voorlees van stories gedoen word. Uitgebreide woordeskat word deur middel van voorlees verbreed en terselfdertyd word empatie ontwikkel.
Waarom is lees vir so baie kinders ’n uitdaging?
Chareldine noem dat die brein bedraad is om gesproke taal te ontwikkel (dit is hoekom babas taal van vroeg af kan aanleer). Maar daar is geen outomatiese bedrading vir lees en spel nie (hierdie vaardighede word stelselmatig onderrig). Kinders is baie meer visueel ingestel – blootstelling aan skerms.
In ons digitale eeu praat ons minder met mekaar. Baie van ons verbale kommunikasie bestaan uit opdragte: “Dis badtyd. Tel jou klere op.” Fokus daarop om gesprekke aan die gang te kry. Praat byvoorbeeld oor die hoogte- en laagtepunt van die dag, vra vrae soos: “Sê nou jy kon enigiets doen – wat sou dit wees, en hoekom?” of “Wat was die mooiste ding wat jy vandag gesien het?” Lok jou kind uit om gesprekke te voer en verlei hulle om lief te word vir lees deur hulle so vroeg as moontlik aan lekker leesboeke en stories bloot te stel.
Raad aan ouers: Maak altyd oogkontak – laat sak jou foon! Gee aandag aan wat jou kind sê en stel so ’n goeie voorbeeld. Raak opgewonde oor jou kind se ontwikkelende taalvaardighede.
Episode 11: 3 September 2024
Annelie van Jaarsveldt van Afrikaans.com het gesels oor emosionele intelligensie en wat ouers kan doen om ’n emosioneel intelligente kind groot te maak. Tot onlangs, is ’n mens se IK nog altyd as deurslaggewend beskou vir prestasie, maar meer onlangs word emosionele intelligensie deesdae gesien as die belangrikste bepaler vir sukses.
In ’n neutedop: Wat is emosionele intelligensie?
Emosionele intelligensie moet aangeleer word. Ons word nie daarmee gebore nie. Nog ’n rede hoekom ouers so ’n belangrike rol speel om hulle kinders emosioneel intelligent groot te maak!
Emosionele intelligensie is die vermoë om jou eie emosies te erken, te verwoord en te reguleer, maar belangriker nog, om die emosies van ander rondom jou te verstaan sodat jy met empatie en begrip kan reageer, jouself kan reguleer om by die omstandighede aan te pas en stres te hanteer.
Emosionele intelligensie dra ook by tot suksesvolle sosiale interaksie en konflikhantering.
’n Emosioneel intelligente persoon ken sy sterk en swak punte maar het insig en selfvertroue om dit te hanteer. So ’n persoon weet dan ook gewoonlik hoe om gepas in die situasie ter sprake op te tree – juis omdat hy respek vir ander se gevoelens en waardes het. (Dink byvoorbeeld aan die werksituasie waar dit belangrik is om met kollegas oor die weg te kom en saam te werk).
Op die ou end, bevorder emosionele intelligensie goeie verhoudings, leersukses en vooruitgang.
Hoe lyk ’n kind wie se emosionele intelligensie goed ontwikkel is?
Dit is die sogenaamde “maklike” kind – die kind wat homself ken, homself aanvaar en kan sê hoe hy voel.
So ’n kind het gewoonlik ook ’n goeie selfbeeld en weet hoe om met sy maats om te gaan.
Dit is die kind wat sy speelgoed maklik deel (dit is natuurlik ouderdomsgepas, want wanneer hulle kleuters is, is dit nie altyd so maklik nie en moet dit nog aangeleer word).
Dit is ook die kind wat sy beurt kan afwag en wat graag sy maats help.
So ’n kind het gewoonlik ook die vermoë om konflik, hartseer, woede en teleurstelling te hanteer – juis omdat hy sy eie emosies verstaan en homself dus kan reguleer.
Die emosioneel intelligente kind het respek vir ander se gevoelens en waardes en word nie sommer negatief beïnvloed nie – want … as ’n mens se emosies onder beheer is, dink jy voor jy doen.
Dit klink dalk alles baie volwasse, maar hou in gedagte emosionele intelligensie is iets wat ontwikkel – dit het dus baie met ouderdom en omstandighede te doen – en moet ook nooit ons kinders onderskat nie.
Emosies ontwikkel soos wat die kind ouer word. Maar wat is die rol van die ouer in die verband?
Die ouer se rol is om hulle kinders te help en leiding te gee oor hoe om hulle gevoelens of dan emosies te erken en op gepaste wyse daarop te reageer.
Dit gebeur van babatyd af – waar dit belangrik is hoe jy op sy gesigsuitdrukkings reageer – dis hoekom gereelde oogkontak en reaksie op sy emosies so belangrik is.
Staan kwaliteittyd aan jou kind af – speel, gesels en hier van 6 maande af – begin sy gevoelens verwoord – “Is jy honger? Is jy moeg?”
Die kleuter wat negatief en gefrustreerd optree, moet leer uit jou voorbeeld – daarom mag jy nooit uit woede optree nie. Raak maar eers kalm.
Gee jou kinders die geleentheid om sosiaal met ander kinders te verkeer. Wys hom jy is trots op hom, help hom om te sê hoe hy voel en help hom om die gevoelens ’n naam te gee.
Dit is egter onmoontlik om jou kind en ander se emosies te erken alvorens jy nie self eers leer om jou emosies te verwoord en te hanteer nie – ons kinders leer mos maar deur die voorbeeld wat aan hulle gestel word.
Jou kind moet weet dat dit oukei is om te wys hoe ’n mens voel, maar hy moet ook sien hoe dit lyk om aanvaarbaar op te tree.
Dit is daarom belangrik om met jou kind te gesels oor sy emosies, maar jy moet werklik na hom luister sodat jy hom kan leer hoe om die beste daarop te reageer.
’n Wenk vir diegene met kleuters. Blaai saam deur tydskrifte en leer jou kind om die verskillende emosies van die karakters op die foto’s raak te sien. Vra hom om te motiveer hoekom hy dink die persoon is hartseer, kwaad of gelukkig.
Leer jou kind om te dink voordat hy reageer – stoom afblaas is dalk die antwoord – gaan skop die bal, ry fiets – kom dan terug en hanteer die situasie dan.
Baie belangrik – ’n mens hoef NOOIT skuldig te voel omdat jy negatiewe emosies openbaar het nie – dit is die reaksie daarop wat belangrik is.
En … seuns mag maar emosies wys en huil – want emosies moet nie onderdruk word nie omdat dit tot onnodige spanning kan lei wat kort voor lank oorreaksie tot gevolg kan hê.
Dus … jy kan dalk nie jou emosies kies nie, maar jy het wel ’n keuse hoe jy daardie emosies gaan gebruik en daarop gaan reageer. Wys dus gerus wat en hoe jy voel, maar doen dit met insig en respek teenoor ander – en veral jouself.
Kyk hier na die onderhoud
Episode 12: 7 September 2024
Die koskenner en -konsultant, Heleen Meyer, het gesels oor die belangrikheid van gesonde voeding en die verskil wat dit veral by jong kinders en tieners kan maak. Sy het ook wenke gegee vir gesonde en interessante kosblikke, sodat daardie kosblik leeg by die huis kom en ’n mens nie dae later verras word met ’n onwelriekende wetenskapeksperiment nie.
Hoekom is dit belangrik om ouers aan te moedig om veral vir jong kinders en tieners gesonde kos te gee?
Heleen sê dat daar so baie onkunde is oor wat gesonde kos en etes behels, dat sy mense graag bewus maak van die belangrikheid van ’n gesonde leefstyl. Sy doen dit graag met praktiese riglyne en raad. Eers verduidelik sy vir mense die basiese riglyne van ’n gesonde leefstyl, soos hoe ’n gebalanseerde bord kos lyk, met iets uit elke voedselgroep en beslis ’n gesonde proteïen. Die belangrikste manier om dit te onthou, sê Heleen, is om te dink: eet die reënboog – jou bord moet kleurvol wees.
Nog iets om na op te let, is die hoeveelheid suiker, sout, ongesonde vette en verwerkte en verfynde stysel in ons etes. Dit is wel belangrik om gesonde vette deel te maak van etes, soos met neute, sade, avocado, olierige vis en olyfolie.
Vir kosblikke is iets soos net broodjies met kaas en konfyt beslis ’n minder goeie keuse as ’n kosblik met frikadelle of ’n stukkie hoender met slaaibestanddele en ’n klein porsie stysel, soos ’n stukkie gaar mielie. Voorafbereide en geriefskos of produkte wat juis vir kosblikke bemark word, is dikwels ook baie hoog in die ongesonde elemente. Gebruik dus jou aandetes as basis vir die volgende dag se kosblikke. As jy byvoorbeeld hoender vir aandete gemaak het, kan jy daarvan met slaaibestanddele of ’n gaar aartappel of stukkie mielie inpak.
Jong kinders en tieners moet groei en ontwikkel – dit sluit hul beenstruktuur en spiere in EN veral hul breinontwikkeling. So hoe gesonder en meer gebalanseerd hulle eet, hoe makliker is dit vir hul lywe om genoeg energie vir die dag te hê. ’n Goeie immuunstelsel word ook deur ’n gesonde leefstyl bevorder en hou algemene gesondheid in stand.
Hoe meer suiker en ongesonde of verfynde stysels kinders eet, hoe minder volhoubare energie het hulle vir die dag. ’n Kind wat bv hawermout met neute en vrugte eet, gaan aansienlik meer energie hê, as ’n kind wat Rice Krispies met melk en suiker eet, ’n witbroodjie in sy koblik kry of by die snoepie soetgoed vir pousetyd koop.
Heleen sê ook dat sy mense bewus daarvan maak om te leer om kosetikette te lees. ’n Mens moet weet wat daarop staan en wat dit beteken en so leer ’n mens dan wat jy regtig eet.
Om kinders goeie gewoontes aan te leer, is naas liefde, een van die grootste geskenke wat jy jou kind kan gee. Dit kan in hul grootmenslewe ’n reuseverskil maak.
Party kinders het beperkte kossoorte wat hulle sal eet – en meestal maak groente beslis nie deel uit van die bord nie. Het jy raad vir ouers hoe om dit te hanteer?
Heleen antwoord dat ’n mens nooit ’n kind moet forseer om iets te eet wat hulle nie wil nie. Verduidelik liewer op ’n ouderdomsgepaste vlak hoekom dit tot hul voordeel is om gesonder te eet. ’n Kind wat byvoorbeeld nog groei, moet liewer gesonde kos eet, sodat hulle genoeg energie het om heeldag rond te hardloop, energie te hê om te wil speel. Gesonde kos help hulle ook om minder emosioneel wipplank te ry, so as ’n kind verstaan dat hulle minder huilerig, moeg of geïrriteerd is as hulle gesond eet, kan hulle leer.
Nog iets wat hulle kan motiveer, sê Heleen, is as hulle leer hoe hul lywe voel wanneer hulle nie gesond geëet het nie. ’n Ekstreme voorbeeld is ’n kind wat naar geword het van iets soos byvoorbeeld te veel soetgoed of koek of baie deurmekaar eet – hulle voel vir lank nie lus om dit weer te eet nie. Op dieselfde manier kan ’n kind leer dat seker kosse hulle minder lekker laat voel.
Tieners leer byvoorbeeld dat sekere kosse hul velle negatief affekteer, of hulle baie moeg maak, hoofpyn gee en laat sukkel om in die klas te konsenteer.
Op dié manier leer ’n kind om interne motiverings te gebruik om beter keuses te maak en nie net omdat ’n ma of pa dit afdwing nie.
Nog ’n belangrike faktor, is dat ouers ’n goeie voorbeeld vir hul kinders moet wees. Jy kan nie van jou kind verwag om groente te eet, as jy dit self nie eet nie!
Daar is maniere om groente bietjie te verdoesel, soos in ’n verpulpte sop of selfs in ’n maalvleismengsel, maar wees liewer eerlik met jou kind, sodat hulle weet daar is groente in die kos, maar hulle gaan dit nie noodwendig proe of sien nie, net die gesonde voordeel daarvan kry. Anders kan ’n kind dalk besluit om selfs die andersins gunstelingkos, nie verder te eet nie, omdat hulle bang is jy steek iets weg daarin.
Dis ook belangrik om kinders te leer om van iets te hou, deur hulle aan te moedig om dit ten minste 7 tot 10 keer te probeer, voor hulle net besluit hulle eet dit nie. Sommige kinders het natuurlik voorkeure vir spesifieke vrugte of groente. Een kind eet dalk nie ertjies/perske nie en ’n volgende een nie avokado/lemoen nie, maar hulle eet wel ander vrugte en groente en dit is dan geen probleem nie.
Hou aan om die voordele van sekere kossoorte te verduidelik, sodat die kind self gemotiveerd voel om dit te proe. Bv: As jy groente en vrugte eet, help jy jou lyf om gesond te bly en teen die kieme te kan veg. Heleen vertel dat toe haar kinders klein was, het hulle altyd vir hulle gesê dit help die soldaatjies wat in jou lyf is om teen die kieme en siektes te veg. So selfs al word jy dalk siek, het jou lyf bietjie reserwes om vinniger gesond te word, of energie vir die dag te hê, selfs al is jy nie siek nie.
Kan gesonde kos vir kinders tydens die eksamentyd ’n verskil maak?
Kos en veral peuselgoed, is iets waarvan almal in die eksamentyd hou. Gebruik dit as motivering en bederf, maar op die gesonde manier. Met lekker peuselgoed, kan jy jou kind ondersteun en bederf, wys dat jy omgee en emosioneel ondersteun, maar doen dit op ’n manier wat ook vir hul breine en energievlakke goed is.
Soetgoed en te veel stysel, laat ’n mens se bloedsuikervlakke (energievlakke) vinnig styg, maar dan val dit ook weer net so vinnig. Dan verloor mens maklik fokus, party voel bewerig en ander slaperig – nie ideaal vir eksamentyd of selfs net vir elke dag se huiswerk nie.
Die brein het energie en vog nodig om optimaal te kan funksioneer, so maak dit vir jou kop en lyf so maklik as moontlik om te sit, hard te werk en dit te onthou.
Hou peuselhappies vullend, voedsaam en gebalanseer.
Interessante kleure, teksture en smake sal al ’n groot verskil maak om ’n kind aan te moedig om liewer aan iets gesond te peusel.
Watter maklike wenke is daar vir gesonde kosblikke en as peuselhappies vir die eksamentyd?
Hou dit gebalanseerd, met iets uit elke voedselgroep, met ander woorde: Eet die reënboog.
Kies dit wat in seisoen is: dis maklik bekombaar, geuriger en aansienlik goedkoper as bestanddele wat nie in seisoen is nie.
Proteïene is belangrik – dit hou jou langer versadig en hou jou bloedsuiker meer stabiel, selfs al is dit ’n handjievol neute. Vrugte en neute is ’n uitstekende kombinasie.
Sny appels in dik skywe, smeer grondboontjiebotter op en ‘garneer’ met neute, geroosterde sade, gekapte donkersjokolade of kakaosplinters.
Maak gesonde energieballetjies van hawermout, dadels, kaneel, neute of sade en grondboontjiebotter. Self ’n bietjie kakao daarin is heerlik.
Daar is meer as een resep daarvoor op my webwerf: heleenmeyer.co.za (kry skakels onderaan)
En dis alles baie gesonder as ’n stuk sjokolade, koekie of lekkergoed.
Gebruik oorskiet van gisteraand se aandete vir kosblikke, bv. hoender, repies vleis, frikkadelle, ens.
Sluit altyd vars elemente in by ’n kosblik, beide groente en vrugte, soos appel, piesang, bessies, klein tamaties, komkommer, wortelrepies of repe soetrissie.
Meng gladde, ongegeurde maaskaas met ’n bietjie korrelmosterd of pesto en gebruik as doopsous met groente en vrugte soos hier bo genoem.
Roer grondboontjiebotter by gladde, ongegeurde maaskaas in en gebruik as doopsous met wiggies peer, appel of ander vrugte.
Resepte vir heerlike en gesonde snoepgoed is op Heleen se webwerf te kry: heleenmeyer.co.za. Hier is so paar voorbeelde:
Gesonde peuselhappies: https://heleenmeyer.co.za/2018/11/02/gesonde-peuselhappies-vir-kinders/ of
Appel-en-dadelballetjies: https://heleenmeyer.co.za/2017/08/11/pink-lady-apple-date-balls/ of
Energieballetjies: https://heleenmeyer.co.za/2023/07/06/twee-idees-met-hawermout/ of
Japtrap-happies: https://heleenmeyer.co.za/2023/10/03/6-japtrap-happies/
Lees ook:
Pak ’n gesonde kosblik wat jou kind se mond sal laat water … PLUS gratis resepte! – Afrikaans.com
Gesonde en bekostigbare kosblik-idees – Afrikaans.com
Vir heerlike, maklike, bekostigbare en veral gesonde resepte deur Heleen Meyer, kyk hier: https://afrikaans.com/leerhulp/kook-dit/
Episode 13: 16 September 2024
Nicolette Kritzinger, Afrikaans.com se webredakteur en assistent-projekbestuurder het gesels oor boeliery in ons skole en aanlyn, na watter tekens ouers moet oplet en wat jy as ouer kan doen as jy agterkom jou kind word geboelie.
Boeliery is ’n nare werklikheid – nie net op skoolvlak nie, maar ook in die werkplek. Soveel as 57% van Suid-Afrikaanse leerders word op een of ander tyd gedurende hulle skoolloopbaan geboelie. En verdere navorsing het getoon dat 7 uit 10 van diegene wat erken het dat hulle ander boelie, self slagoffers was. Daarom is dit so belangrik dat ’n mens dit sommer vroeg in die lewe in die kiem smoor.
Daar is verskillende soorte boeliery:
- Verbaal – noem ander lelike/afbrekende name, dreigemente dat die persoon seergemaak gaan word en uittarting.
- Sosiaal – om iemand met opset te ignoreer of uit te sluit en ander aan te moedig om dit ook te doen, onwaarhede oor die persoon te versprei, of die persoon in die openbaar te verkleineer.
- Fisiek – lei dikwels tot fisieke en soms gewelddadige aanranding van ’n persoon of beskadiging van hulle besittings. Hierdie soort aanranding kan tot strafregtelike stappe lei.
- Kuberboeliery – vind oor die internet plaas op sosialemediaplatforms en is gewoonlik die verspreiding van kwetsende en skadelike stories, gerugte en so meer.
Hoe lyk die tipiese slagoffer?
Dit is die persoon wat …
- nie goed met ander oor die weg kom nie en minder gewild is;
- min of geen vriende het nie;
- afwyk van normale gendernorme;
- fisies of etnies anders is;
- ’n lae selfbeeld het; en
- depressief of angstig is.
Hoe lyk die tipiese boelie?
Hoewel baie boelies gewild is, en dikwels sosiale mag het, is hulle dikwels ook depressief en angstig en het ’n lae selfbeeld. Die meeste kinders leer om hulle woede en instinkte om te baklei, te beheer na gelang hulle ouer word, maar die tipiese boelie kry dit nie reg nie. Die boelie:
- is dikwels bekommerd oor sy/haar gewildheid;
- hou daarvan om in beheer te wees en ander te domineer en seer te maak;
- het vriende wat ander boelie;
- moet altyd wen of die beste wees in alles;
- kan nie identifiseer met ander se emosies of gevoelens nie;
- is aggressief en beskou geweld as positief en raak daarom dikwels betrokke in ’n bakleiery – hetsy fisies of verbaal;
- hou nie van reёls nie en is dikwels in die moeilikheid – word byvoorbeeld gereeld na die hoof se kantoor toe gestuur of sit dikwels detensie;
- weier om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle optrede;
- is ’n heethoof wat maklik gefrustreerd raak;
- het niks goed te sê oor ander nie en blameer sommer vinnig iemand anders;
- het dikwels ekstra geld of nuwe besittings waarvoor hy/sy nie ’n verduideliking kan gee nie; en
- sowel as die slagoffer kan op die langtermyn sielkundige letsels opdoen – dit sluit posttraumatiese stres in.
Tekens om na op te let
Slagoffers praat nie sommer daaroor nie, want hulle voel senuweeagtig of selfs skaam. Hoe weet jy dus jou kind word geboelie? Hier is van die tekens:
- Die kind onttrek, wil skielik nie skool toe gaan nie.
- Verloor belangstelling. Jou kind stel skielik nie meer belang in voorheen gunsteling- skoolaktiwiteite nie.
- Skoolwerk gaan agteruit. Omdat die kind bang of angstig is om skool toe te gaan, kan dit negatiewe gevolge inhou en kan die kind selfs belangstelling in hulle skoolwerk verloor.
- Bang om alleen skool toe te gaan. Die kind dring daarop aan om skool toe geneem te word – as hy/sy dalk vroeёr bus gery het.
- Gelukkig tuis, ongelukkig by skool. Jou kind is gelukkig oor naweke, maar ongelukkig, in gedagte, of gespanne op Sondae.
- Bly liewer tuis. Jou kind verkies skielik die geselskap van volwassenes en verkies om naweke tuis te bly.
- Jou kind slaap nie goed nie en het dalk nagmerries.
- Dit kan ook lei tot depressie – wat natuurlik ook ’n invloed op die kind se slaappatroon kan hê en hulle slaap sleg of te veel.
- Hoofpyn/maagpyn. Jou kind kla dikwels oor hoofpyn of maagpyn. Hy/sy praat ook dikwels oor angstigheid of paniekaanvalle, of gevoelens van hartseer of depressie.
- Jou gelukkige en vrolike kind is skielik huilerig, buierig of kwaad. Dit kan deur hormone veroorsaak word – veral by tieners – maar kan ook daarop dui dat jou kind afgeknou word. Soms kan die kind dan ander begin afknou (bv. sibbes, kinders in die buurt).
- Nie goed genoeg nie. Jou kind voel hopeloos en nikswerd en voel dikwels nie goed genoeg nie. So ’n kind blameer hom-/haarself ook dikwels vir hulle probleme.
- Fisiese tekens. Kneus- of krapmerke, bang om alleen skool of huis toe te loop, sleg eet, vernielde skoolboeke of verlore skoolboeke, klere, of elektroniese toestelle, klagtes oor maagpyn of naarheid, ens.
- Verkeerde vriende. Soek die geselskap op van verkeerde vriende (bv. dwelmgebruikers, bendes, ens.).
- Loop weg van die huis af.
- Selfleed. Die kind/tiener maak hom-/haarself seer (deur byvoorbeeld met ’n lemmetjie of mes te sny – gewoonlik waar ander dit nie kan raaksien nie).
- Praat oor selfdood.
As jou kind geboelie word, sit jy dikwels met jou hande in die hare en weet jy nie altyd hoe om dit te hanteer nie.
Hier is so paar wenke:
- Belangrik is om nie sommer net reguit te vra of hy/sy geboelie word nie. Vra liewer meer subtiele vrae: Boeliery is deesdae in die nuus, gebeur dit by julle skool ook? Ek is bekommerd oor jou. Is daar dalk iemand wat jou afknou? Word jy gespot? Word jy aspris uitgesluit van sekere groepe/vriende?
- Verseker jou kinders dat hulle enige iets met jou kan bespreek en dat jy altyd daar is vir hulle. Jou kind moet weet dat jy hulle bekommernisse ernstig opneem en daadwerklik sal optree om hulle te beskerm.
- Gaan praat met die skool en onderwyser en neem jou kind saam met jou sodat julle almal saam kan werk om te verseker dat dit nie weer gebeur nie.
- Dokumenteer boelievoorvalle – wat gebeur het, waar en wanneer dit plaasgevind het, hoe jou kind gereageer het en hoe die boelie en omstanders gereageer het. Dui ook aan of daar op oplossings besluit is en of dit suksesvol was.
Nog wenke:
- As jou kind jou vertel van ’n boelievoorval, vra wat gebeur het en om aan jou te beskryf wat gebeur het. Bly kalm, wys jy gee om, maar moenie oorreageer nie, aangesien dit die kind kan ontsenu en hy/sy dan toeklap en ophou praat.
- Praat met jou kind oor boeliery sodat hy/sy weet hoe dit lyk, hoe dit voel en of dit is wat hulle of hul klasmaats ervaar. Stel hulle gerus dat hulle ter eniger tyd met jou daaroor kan praat.
- Wys jou kind daarop dat boeliery meer as net fisieke geweld is en dat dit verbaal, nieverbaal, sosiaal, seksueel en ook via die kuberruim kan geskied.
- Maak seker hulle ken die verskil tussen stories aandra en die feite oordra.
- Leer jou kind om nie saam te lag of deel te neem aan boeliery nie en dit duidelik moet maak dat hulle aan die slagoffer se kant is. Moedig hulle ook aan ’n volwassene daarvan te vertel.
- Kinders leer deur die voorbeeld wat aan hulle gestel word. Wees dus bedag op jou eie gedrag.
- Maak seker jou kind weet boeliery is verkeerd en dat dit beslis nie sy/haar skuld is dat hy/sy geboelie word nie en dat almal van ons respek verdien.
- Vra jou kind vir insette oor die stappe wat geneem kan word om hulle veilig te laat voel. Werk saam met hulle om oplossings te kry.
- Moenie hulle aanmoedig om terug te baklei nie – om hulle vuiste of beledigings te gebruik, kan dinge net erger maak, hulle laat seerkry of in die moeilikheid laat beland.
- Help jou kind om strategieё en vaardighede te ontwikkel om boeliery te hanteer. Hulle kan byvoorbeeld leer om meer selfgeldend op te tree, die boelie te ignoreer, humor in te span om die spanning te ontlont en om hulp te vra.
As jou kind die boelie is.
- Luister en wees objektief. Moenie verdedigend optree of dit persoonlik opneem nie. Praat met jou kind en vra vir ’n verduideliking. Vind ook uit wie die voorval begin het en of jou kind dalk eers later deel daarvan geword het.
- Maak seker jou kind weet dat boeliery onaanvaarbaar is en hoe dit ander kan raak.
- Werk daaraan om oplossings te vind – saam met die skool en die onderwysers. Maak seker jou kind weet hy/sy word dopgehou en gemonitor.
Voorkom boeliery
Ons het almal ‘n verantwoordelikheid om boeliery stop te sit, maar dit moet geskied met die samewerking van almal wat in die kind se lewe betrokke is – onderwysers, skoolpersoneel, die skoolbeheerliggaam, ander leerders, versorgers en ouers.
Die beste manier om hierdie kwessie in skole te hanteer, is om ’n kultuur van aanvaarding en kommunikasie te kweek. Op die manier word leerders bemagtig om positiewe maniere te vind om konflik op te los. So ’n kultuur kan soos volg geїmplementeer word:
- Vestig ’n teenboeliebeleid wat gedragskodes, skoolreёls, rapportering en prosesse om boeliegedrag te hanteer, insluit. Sorg dat almal (onderwysers, leerders en ouers) daaroor ingelig word en dat die beleid konstant toegepas word.
- Stel ’n plan in werking wat alle volwassenes in die skool betrek sodat almal weet hoe om positiewe gedrag te ondersteun, hoe om onaanvaarbare gedrag te benader en hanteer en om leerders wat bykomende berading nodig het, te verwys.
- Skep ’n klaskameromgewing wat leer en goeie gedrag bevorder. Elke onderwyser moet op die uitkyk wees vir tekens van boeliery sodat hulle betyds kan optree. Dit is ook hulle verantwoordelikheid om met ouers en ander rolspelers in gesprek te tree om die kwessies te hanteer.
- Reёl teenboelie-bewustheidsveldtogte en organiseer werksessies vir onderwysers en ouers.
- Gee leerders geleentheid om te praat en verslag te doen.
- Boeliery gaan oor viktimisering en het min met konflik te doen, daarom is gewone konflikoplossingsvaardighede en –bemiddeling nie noodwendig die beste manier van optrede nie.
- Voed die skoolgemeenskap op deur boelievoorkoming by lesplanne in te sluit, onderwysers te leer hoe om doeltreffend te reageer en ouers van hulpbronne te voorsien sodat hulle kan deel uitmaak van die skool se teenboelieprogram.
Daar is baie oorsake oor hoekom sekere kinders/volwassenes boelies is, en ’n mens praat sulke gedrag nooit goed nie, want ons almal weet dat die gevolge dikwels baie ernstig is en selfs tot selfdood kan lei. Dit is egter belangrik om te besef dat boelies dikwels uit wanfunksionele huise kom – huise waar die kind min of geen liefde ontvang nie en dikwels blootgestel word aan aggressiewe gedrag. Daarom wil so ’n kind in beheer wees en floreer dan wanneer hulle slagoffers bang is vir hulle. Die boelie hou van die aandag – selfs al is dit negatief. So ’n kind het ook nog nooit geleer wat empatie met ander is nie – en kan nie hulle emosies beheer nie. So ’n kind het eintlik dringend hulp nodig. Die heel belangrikste is en bly: As jy vermoed of weet jou kind of iemand word geboelie, doen iets daadwerkliks en maak seker daar word opgetree.