“Die kind het miere in sy agterwêreld! Hy kan eenvoudig nie vir langer as ’n paar minute op sy boude stilsit en op een ding konsentreer nie.” Klink bekend? Is die kind bloot stout of verveeld, of is daar ’n ander rede vir sy woeligheid? En wat van die vergeetagtige dromertjie? Glad nie woelig nie, maar in sy eie wêreld?
Die meeste van ons het al van ADHD (Attention Deficit Hyperactivity Disorder) gehoor. In Afrikaans staan dit bekend as AGHS – aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom, of ook AAHS – aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom. Maar wat presies is dit, hoe word dit gediagnoseer en is daar raad? Afrikaans.com het met die skrywer en spraakterapeut Christien Neser gesels en deel graag haar antwoorde met ons lesers.
Kennis is, mag ...
Jy vermoed jou kind het AAHS of jou kind se onderwyser merk op dat hy sukkel om stil te sit en te konsentreer. Wat doen jy?
CN: Liewe ma, liewe pa. As jy bekommerd is oor jou kind se vermoë om te konsentreer, as jy in jou hart weet dat jou kind te woelig en te afleibaar is, dan is dit goed om oor AAHS te gaan oplees. (ADHD). Mens moet jouself heel eerste met kennis bemagtig. Mens kan byvoorbeeld op die internet die DSM 5 se kriteria vir AAHS gaan google. Met ’n lysie in die hand, sal ’n eerlike ouer baie gou sien of hul spruit wel die meeste van die eienskappe openbaar.
En vir onderwysers …
Liewe juffrou, liewe meneer. Onderwysers mag glad nie ’n diagnose maak nie. Dit is oneties vir ’n onderwyser om ’n kind as AAHS te etiketteer of om dit selfs vir die ouer te noem. Mens mag nie jou vermoedens ’n naam gee en dit so aan die ouer oordra nie. Al wat die onderwyser mag doen, is om te sê wat hulle in die klas waarneem en ervaar. My advies aan onderwysers: Hou jou aanmerkings op die rapport so positief as jy kan. Maar … kry die ouer in vir ’n onderhoud en noem dan die negatiewe aspekte op die naam, soos hiperaktiewe gedrag, swak luistervaardighede, impulsiwiteit, gedurige gevroetel, geskuif, toiletbesoeke, swak geheue vir opdragte, ensovoorts. Sit dit verkieslik op ’n persoonlike brief aan die ouer en laat jou departementshoof of jou skoolhoof dit teken. Dan kan niemand vinger wys na jou as ’n onnie wat nie die probleem betyds hanteer het nie. Die prerogatief bly die ouer s’n. Hulle moet die volgende stap neem en ’n dokter gaan spreek.
Slegs ’n spesialis op die gebied behoort ’n diagnose te maak
Terapeute en sielkundiges, juffrouens en mammas, oumas en tannies, weet dikwels lank vóór die doktersbesoek wat die diagnose gaan wees. Maar dit is slegs ’n spesialis op hierdie gebied, ’n mediese praktisyn, soos ’n pediater of ’n pediatriese psigiater, wat die diagnose behoort te maak. Op hierdie punt wil ek dit beklemtoon: Moenie geld en moeite ontsien om die beste moontlike spesialis te kry om jou kind te assesseer nie. Dis nie ’n vinnige ondersoek nie. Allermins. Dit neem tyd om die diagnose te maak en dit neem soms selfs maande om die regte medikasieprotokol te vind. Mens durf nie hier met ’n kind se gesondheid speel nie.
Omsigtigheid is die wagwoord
Dit is belangrik om nie diagnoses om kinders se nekke te hang voordat dit op medies verantwoordbare wyse gedoen is nie. Selfs daarna, moet die proses omsigtig hanteer word. Eers as die kind ouer is, kan die realiteite van AAHS met hulle bespreek word. Verkieslik moet ’n spelterapeut of ’n sielkundige die ouers daarmee bystaan. AAHS is gewoonlik ’n langdurige toestand en moet soms lewenslank bestuur word. Soos kinders ouer word, en die saak reg hanteer word, begin hulle later sommer daaroor grappe maak en is hulle glad nie skaam om met ander te deel dat hulle met konsentrasie of hiperaktiwiteit sukkel nie. Dit is deel van wie hulle is, hul eie unieke persoonlikheid en wese.
Dis spanwerk
As ouer en onderwyser ’n oop vertrouensverhouding het, kan baie planne gemaak word om die kind se aandagspan en fisieke gedrag te verbeter. Selfs sonder dat daar ’n diagnose is, kan ’n woelige of afleibare kind reeds in die klas gehelp word. Die ouer-onderwyserspan is krities belangrik. As ma en juffrou saamwerk en gereeld met mekaar gesels, is die stryd halfpad gewen.

Soms kan ’n ouer nie insien dat die kind ’n probleem het nie. Gedrag tuis en in die klas verskil. Hoekom?
CN: Dis gevaarlik om veralgemenings te maak. Maar hier is ’n paar voorbeelde van gevalle waar juffrou en mamma nie dieselfde gedrag van die kind ervaar het nie:
- Die kind konsentreer dan ure lank wanneer hy ’n rekenaarspeletjie speel …
Tuis is boeta vir ure voor die televisie of met sy rekenaarspeletjies besig. Hy pla niemand nie. Mamma kan dan maklik aanvaar dat sy konsentrasie uitstekend is, want kyk net hoe lank kan hy op sy boude voor ’n skerm sit! Oppas, oppas … Dit is bekend dat dit die linkerbrein is wat deur die aktiwiteite van ’n rekenaarspeletjie gestimuleer word. So ook ’n TV-skerm. En belangrik, daar is heeltyd vinnige aksies, dis kleurvol, aksiebelaai en reg binne die kind se belangstellingsveld. Die regterbrein word egter nie uitgedaag tydens hierdie aktiwiteite nie. En die regterbrein is die setel van ouditiewe geheue (om te onthou wat jy hoor), vir verbeelding en vir empatie. Die brein werk soos die rugbyreël: use it or lose it. Die breinhelfte wat afgeskeep word, sal dus minder sinapse vorm.
In die klas is juffrou ongelukkig nie ’n rekenaarspeletjie nie. Sy praat oor dinge wat nie noodwendig die kind se belangstelling prikkel nie. Die kind moet dus sit en luister na goed wat hulle nie fassineer nie. En omdat die regterbrein minder aktief is, is die verbeelding minder aktief. Wat juffrou sê, word dus nie sonder meer in beelde omgeskakel in die kind se brein nie. As boet of sus dus van kleins af heeltemal te veel skermtyd kry, gaan die luisterproses in die klas moontlik ’n probleem wees.
- Sensories-sensitief?
Boeta is tuis dalk die enigste kind of het baie meer persoonlike ruimte. Boet of sus mag sensories sensitief wees. In die klas, met 30 ander lyfies, is die sensoriese stimulasie eens te veel. Sommige kinders kry swaar om in ’n klas waar daar baie sensoriese stimulasie is, te funksioneer. Dertig ander kinders praat en skree, die interkom gaan kort-kort af, die pouseklok lui, juffrou of meneer praat hard. Dis alles ouditiewe stimulasie wat ’n sensitiewe kind omver kan gooi. Voeg hierby 30 lyfies wat ná pouse snaaks ruik, na sweet of grondboonbotter of vissmeer of kaas (reuk/olfaktoriese sensasie). Hierby kom tassensasie, want 30 kinders druk en stoot en stamp. Vir baie kinders is dit onhanteerbaar. Maak eers seker dat hierdie faktore nie die kind se konsentrasie affekteer nie. ’n Arbeidsterapeut se hulp is in hierdie geval van onskatbare waarde.
- Sosiale angs
Boet of sus mag in die klas dalk sosiale angs ervaar. Angstigheid is ’n realiteit en dit word al meer. ’n Kind wat angstig is, kan nie konsentreer of leer nie. Dis dikwels die kind wat gedurig wil gaan piepie. Die uitkomkans uit die klas is ’n ontsnapping van die situasie en boonop word die blaas ook deur angs geprikkel. ’n Onderwyser se stem mag angs in ’n kind sneller. Die kind sal dan sê dat juffrou op haar skree. Dis egter net die subjektiewe ervaring van die kind. Sorg asseblief dat jou angstige kind by ’n knap spelterapeut of sielkundige uitkom. In uitsonderlike gevalle mag ’n kinderpsigiater se hulp nodig wees.
- Kinetiese leerder?
Boet mag tuis dalk die ruimte hê om te beweeg. Hy kan hardloop en speel tot hy gaan slaap. In die klas word die beweging ingeperk. Baie kinders is kinetiese leerders. Hulle leer op hul beste terwyl hulle beweeg. Daarom moedig ek alle grondslagfase-juffrouens aan om hul kinders gereeld te laat opstaan en gereeld buite te gaan hardloop. Gebruik rympies en liedjies met beweging om die alfabet aan te leer, om tafels en kombinasies te leer. Almal sal daarby baat. Musiek en beweging as deel van jou leerproses is kosbaar. Onthou, jong kinders leer met hul hele lyf. Niks so dodelik vir ’n kinetiese leerder as ’n klomp werksvelle nie. Nee, hy wil buite touspring terwyl hy die alfabet opsê of sy tafels herhaal.
- Besige mamma
Mamma mag ’n superbesige ma wees wat die kind eers teen 17:30 by die skool kry. Dan is dit bad, eet, slaap. Die huiswerk is reeds in naskool gedoen, die kind is gedaan teen die tyd dat mamma hulle oplaai. Dis ’n ander realiteit vir juffrou, wat ses ure lank dieselfde lyfie in haar klas ervaar. Ongelukkig is superbesige mammas nie altyd bewus van die realtiteit van hul kinders se gedrag nie, bloot omdat hulle die kinders eintlik net naweke sien. En dan is dit heeltyd speeltyd. Hersaamgestelde gesinne, wat naweke afwisselend by ouers is, maak dinge selfs meer gekompliseerd.
- Hipo-aktief, d.w.s. onderaktief
Sussa is dalk tuis ’n voorbeeldige, dromerige kind wat popspeel en fantasiespeletjies geniet. Niemand kom agter dat sy eintlik hipo-aktief is nie, met ander woorde, onderaktief. In die klas droom sy voort, terwyl juffrou klanke en somme verduidelik. En sussa raak agter, want sy is nie by nie. Haar lyfie is in die klas, maar haar gedagtes is elders. Sy moet so gou as moontlik by ’n goeie pediater of psigiater uitkom. Medikasie vir hipo-aktiewe kinders maak gewoonlik ’n reuseverskil.
- Dissipline tuis en by die skool
Dissiplinêre sisteme van huis en skool mag radikaal verskil. In ’n laissez-faire huishouding, gaan ’n ontspanne ma beslis nie dieselfde ervaring van haar woelwater hê as die juffrou in die klas nie.
Aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit: gaan dit hand aan hand? Of kan ’n kind aandagafleibaar wees en nie noodwendig hiperaktief nie?
CN: Volgens die DSM 5 is daar twee groot indelings: een groep het te doen met aandagafleibaarheid (AAV) en die ander met hiperaktiwiteit en impulsiwiteit (AHV). En dan kan beide groepe simptome in een individu voorkom, beide aandaggebrek en hiperaktiwiteit. Kinders is individue en hulle simptome verskil grootliks. (Lees meer hieroor in die kassie.)
Hipo-aktiewe kinders het gewoonlik ’n aandaggebrek. Hulle is die dromertjies. Moet ook glad nie hulle intelligensie onderskat nie. Hulle onderpresteer ongelukkig in die laerskool, omdat hulle nie goed genoeg kan konsentreer nie. Gewoonlik verbeter hul aandagspan in puberteit, aangesien hormonale ontwikkeling die ontwikkeling van sinapse ook aanvuur. Dis jou tipiese “late bloomer” wat eers later op skool begin blom.
Hiperaktiewe kinders is gewoonlik so besig dat hulle nie behoorlik luister nie. Maar dan is dit wyd gedokumenteer dat sulke superbesige lyfies baie goed kan luister terwyl hulle vroetel. Dit is die kinetiese leerders wat nodig het om te beweeg terwyl hulle leer.
Kan ’n kind met AGHS in die hoofstroom floreer?
CN: Absoluut. Met ’n simpatieke onderwyser, ’n betrokke ouer, die korrekte medikasie (indien aangewese), terapeute wat ondersteun en genoeg fisiese beweging, kan hierdie kinders hul potensiaal bereik. Daar is soveel van my oudleerlinge, wat maar met baie trane en gestoei deur die laerskool is, wat op hoërskool net vlerke gekry het. Ek kan aan ’n hele paar dink wat tans besig is met hul mediese opleiding. Daar is ’n paar wat alreeds in die beroep staan as onderwysers, ingenieurs, prokureurs. Party het professionele sportmanne geword, daar is akteurs, entrepreneurs. Sommige is so ver ek weet lankal van hul medikasie gespeen, ander verkies om dit te bly neem.
Soms vind ouers egter dat die gewone skool te besig, te raserig en selfs te onsimpatiek is. Dan is ’n kleiner skool, of selfs ’n remediërende skool, eerder aangewese. Soms gaan die kind vir ’n tydperk na ’n remediërende skool, maar skakel later weer terug na die hoofstroom – of andersom. Die emosionele welsyn van die kind moet altyd voorop staan. Die intellektuele vermoë van ’n kind speel natuurlik ook ’n rol. Die span wat die kind ondersteun, sal die ouer help om hierdie besluite te neem.
Kan dieet ’n rol speel?
CN: Ons is wat ons eet. So dieet speel ’n geweldige belangrike rol. Dit is veral die ontbyt wat vir kinders met AGHS uiters belangrik is. Sekere medikasie, soos Ritalin, kan die aptyt laat afneem. Hierdie outjies moet ’n ontbyt hoog in proteïen en kalorieë inkry, want hulle gaan dalk nie weer later die dag wil eet nie. Hier moet mamma planne maak. Smoothies, melkskommels, aanvullings mag met sukses gebruik word. Oppas maar vir suiker. Soetgoed moet liefs vermy word. Baie ouers rapporteer dat hul kinders “van die kandelare af swaai” ná ‘n suikerbelaaide partytjie. Gaan sien tog gerus ’n dieetkundige om te help planne maak sodat die kind behoorlike voeding inkry en elke ete nie in ’n oorlog ontaard nie. Omega 3-aanvullings is altyd ’n goeie idee. So ook vit C en vit B.
Lig loop vir wonderkure
Daar is baie preparate op die mark wat beloof dat die gebruik daarvan die kind se punte met 30% sal laat klim, ensovoorts. Lig loop. Volg jou dokter en dieetkundige se raad en ook jou eie gesonde verstand. If it sounds too good to be true … dan is dit waarskynlik.
In jou boek, Help! my kind is anders, praat jy van die “ritteltits oor Ritalin” en ouers is bekommerd oor die newe-effekte. Sal medikasie ’n kind in ’n zombie verander? Hoekom sal ’n mens enigsins medikasie oorweeg?
CN: Dit lyk gewoonlik of daar net twee kampe is: vir en teen. Die feit is dat daar baie fopnuus is en dat baie onwetenskaplike aannames gemaak word. Hoekom sou mens medikasie oorweeg? Beslis nie om die lewe vir juffrou of mamma makliker te maak nie! ’n Mens oorweeg dit as die kinders se funksionering ingeperk word daardeur.
Medikasie vir AAGS is nie iets wat ligtelik gegee moet word nie. Dit is immers bylae 6 voorskrifmedisyne. Dit moet, soos reeds gesê, deur ’n spesialis voorgeskryf en bestuur word. Medikasie is die laaste uitweg, nadat liefde, dissipline, terapie, genoeg slaap, optimale voeding, gesonde oefening en ’n beperking op skermtyd nie ’n beduidende effek het nie.
Meer oor die medikasie
Medikasie word in twee groepe verdeel. ’n Derde groep medikasie is in wording, maar nog nie op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar nie. Die neem gemiddeld vier weke om die medisyneprotokol uit te sorteer.
- Die eerste groep is stimulante. Die hoofbestanddeel is metielfenidaat. Dit is medisyne soos Ritalin (kortwerkend) en Concerta (langwerkend). Op sellulêre vlak sorg hierdie medikasie dat die liggaam minder dopamien herabsorbeer, sodat daar meer dopamien in die sinaps oorbly om impulse mee te gelei.
- Die tweede groep is die niestimulante, wat handelsname soos Strattera insluit en waarvan die aktiewe bestanddeel atomoksetien is. Hierdie bestanddeel teiken die herabsorpsie van noradrenalien. Beide soorte medikasie werk in die prefrontale korteks van die brein.
Daar mag newe-effekte wees:
Elke newe-effek moet onmiddellik met die dokter bespreek word.
- Groei kan ingeperk word aangesien die medisyne die aptyt kan belemmer.
- Slaappatrone kan versteur raak.
- Die persoonlikheid kan verander: ’n Ekstroverte kind kan skielik meer bedees raak, asof die persoonlikheid gedemp word. Dit is dan wanneer ouers dikwels van die “zombie-effek”praat. ’n Stil kind kan weer oornag in ’n kekkelbek verander. Hierdie gedragspatrone is gewoonlik net tydelik.
- Die kind kan depressiewe neigings toon. Hiperaktiewe kinders het egter dikwels ongediagnoseerde depressie, wat gemaskeer word deur hul gedrag. Wanneer die gedragspatrone wegval, lê dit egter die depressie bloot. Sulke gedrag moet dadelik met die spesialis bespreek word.

Die regte medikasie vir AAGS kan lewensveranderend wees, vir die kind en die ouers. Die newe-effekte kan aanvanklik egter uiters ontstellend wees. As daar net een les is wat ons moet onthou, is dit: Geen medikasie mag deur iemand anders as ’n ervare spesialis voorgeskryf en bestuur word nie.
Dus, hoewel dit ’n uitdaging is om seker te maak jou kind wat met AGHS gediagnoseer is, kry die beste moontlike ondersteuning en leiding om te verseker hulle toestand word bestuur op ’n manier wat hulle uiteindelik vlerke gee, is daar goeie raad en metodes om aan te wend om seker te maak jou kind bereik sy/haar volle potensiaal.
Afrikaans.com bedank Christien Neser vir haar volledige en insiggewende antwoorde op ons vrae.
*DSM-kriteria
Belangrik om te weet:
“Ten minste ses van die gelyste simptome moet vir langer as ses maande teenwoordig wees om betekenisvol te wees. Die simptome moet voor die ouderdom van 12 duidelik wees. Dit moet in twee of meer omgewings voorkom. Dit moet duidelik inmeng in die kind se sosiale interaksie, skoolwerk en funksionering. Dit moet nie met ander psigiatriese toestande verwar word nie.”
Simptome:
Aandagafleibaarheid:
- Sukkel om aandag te gee en maak nalatige foute.
- Sukkel om gefokus te bly.
- Lyk asof die kind nie luister nie.
- Opdragte word nie behoorlik uitgevoer of klaargemaak nie.
- Sukkel om hulself te organiseer.
- Vermy take wat konsentrasie verg.
- Verstrooid, vergeet en verloor daagliks besittings.
- Aandag word maklike afgetrek.
- Dromer.
Hiperaktiwiteit/Impulsiwiteit:
- Vroetel, woelig, rusteloos.
- Staan heeltyd van stoel af op wanneer hy eintlik moet sit.
- Klim, klouter, hardloop op onvanpaste tye.
- Sukkel om saggies te speel/aan aktiwiteit deel te neem.
- Hou net nooit op beweeg nie.
- Praat dikwels baie op onvanpaste tye / val ander dikwels in die rede.
- Kan nie sy beurt afwag nie en dit kan tot konflik met maats lei.
Lees meer: In hoofstuk 14 van die boek, Help! My kind is anders (LAPA), deur Christien Neser, word hierdie aspekte deur dr. Brendan Belsham opgesom en maklik leesbaar uiteengesit. Lees ‘n uittreksel hier. Sy boek, What’s the fuss about ADHD (2014) is ook ’n handige gids.
Kyk ook:
Word kinders te gou met AGHS gediagnoseer? Kabous Meiring gesels op Prontuit met Amelia Esterhuizen, dr. Brendan Belsham en Sorein Steyn (lsg is self met AGHS gediagnoseer) oor die feite en mites aangaande die sindroom. Kyk hier.
Luister ook:
Marí Hudson gesels op RSG in die program, Gesondheid, (2 September 2020) met professor Renate Schoeman oor AGHS en die gebruik van medikasie. Luister hier.