Waak teen ’n ‘helikopter’-ouerskapstyl

Tuis 5 Leerhulp 5 Artikels 5 Algemeen 5 Waak teen ’n ‘helikopter’-ouerskapstyl
helikopter-ouerskapstyl

Skrywer: Karla Janse van Vuuren

Jou kind vergeet sy projek by die huis, en jy jaag skool toe daarmee sodat hy tog net nie in die moeilikheid kom nie. Hy moet 25 km weg van die huis gaan krieket speel, maar jy laat hom nie op die skoolbus ry nie, jy karwei hom self soontoe en terug. Jou kind weet nie hoe om haar bed op te maak of waar die wasgoedmandjie is nie, want jy maak die heeltyd agter haar skoon. Dié is alles tekens van ’n “helikopter”-ouer, het Afrikaans.com uitgevind.

Daar is tans ’n “pandemie” van skuldgevoelens by ouers wat dikwels lei tot oorbeskerming, oftewel “helikopter”- of “grassnyer”-ouerskapsmetodes, sê  Nikki Bush, ’n ouerskapkenner, spreker en medeskrywer van die boek Future-proof Your Child: for the 2020s and beyond (Penguin Random House, 2019). “Dié benaderings saboteer ’n kind se ontwikkeling. Almal wil hê hulle kinders moet gelukkig en suksesvol wees – en dié behoefte is dikwels die dryfveer vir ouers wat soos helikopters of grassnyers optree. ’n Helikopterouer sweef die heeltyd bo haar kind en is by alles wat met die kind te doen het, betrokke. ’n Grassnyerouer beweeg voor die kind uit en verwyder alle hindernisse in die kind se pad sodat die kind nie enige uitdagings of teleurstellings hoef te ervaar nie. In die proses ontneem die ouer die kind van lewenservaring wat hulle sal help groei en om uiteindelik eendag as ’n onafhanklike volwassene te leef,” verduidelik Nikki.

Dr. Ken Resnick, ’n opvoedkundige sielkundige en familie-onderhandelaar van Linden en stigter van The Smart Choice-ouerskapprogram, help al vir meer as 30 jaar gesinne. Hy voeg by: “In plaas daarvan om hul kind te begelei om onafhanklik te word, is die kind van ’n helikopterouer baie afhanklik van sy ouer(s) se goedkeuring en voortdurende beskikbaarheid om hom te help. Die kind word nie aangemoedig om enigiets sonder die ouers se goedkeuring te doen nie.”

Hoekom word jy ’n helikopterouer?

Nikki meen skuldgevoelens is dikwels die oorsaak. “In baie huishoudings werk albei ouers, en hulle voel skuldig omdat hulle nie genoeg tyd saam met hul kinders deurbring nie. Die liefde is baie, maar die tyd is min. Dan is daar ook sosiale druk en vrees. Ouers wil graag hê hulle kinders moet toppresteerders wees, in die eerstespan speel, en oor die algemeen goed lyk ‘op papier’. Baie ouers wil ook vir hulle kinders meer gee as wat hulle as kinders gehad het, en hulle voel jammer vir hul kinders wat nou moet leef in ’n onvoorspelbare wêreld waar KI en sosiale media soveel skade kan aanrig.”

Ken voeg by dat veral ma’s maklik oorbeskermend kan raak. “Dit kan byvoorbeeld wees omdat sy byna ’n kind verloor het (of wel ’n kind aan die dood afgestaan het), gesukkel het om swanger te raak, of onseker en angstig voel dat iets met haar kind kan gebeur wanneer sy nie daar is nie. Oorbeskerming kan dan verder deur vrees, skuldgevoelens, onsekerheid en ’n gebrekkige begrip van haar rol as ma gedryf word.”

Hou die regte doel voor oë

Nikki verwys terug na die meeste ouers se doelwit vir hul kinders – dat hulle gelukkig en suksesvol moet wees. “Maar, kan jy as individu iemand anders, selfs jou kind, gelukkig en suksesvol maak deur jou aksies? Die antwoord is nee. Baie mense het die verkeerde doel in gedagte wanneer dit kom by ouerskap. Ons doel moet wees om vindingryke en veerkragtige kinders groot te maak wat eendag sonder jou sal kan leef. Dit is amper ondenkbaar vir ouers met klein kinders (onder 10 jaar), maar jou uiteindelike doel is om jou kinders groot te maak sodat hulle op hul eie voete kan staan. Ek noem dit ‘let them go to let them grow’.”

Een van die grootste gevolge van oorbeskermende ouerskap is dat kinders ’n gebrek aan vertroue in hul eie vermoëns kan ontwikkel, voeg Ken by. “Hulle sukkel om dinge selfstandig te doen en toon dikwels ’n gebrek aan deursettingsvermoë en vasberadenheid. Wanneer ’n uitdaging te moeilik lyk, is hulle geneig om sommer vinnig tou op te gooi.”

Jou doel moet wees om vir jou kinders belangrike lewenslesse te leer, en dit word geleer aan die voete van pyn, teleurstelling en frustrasie. “Kinders moet leer om uitdagings aan te pak. Hulle moet leer: ‘ek kan, ek is, ek wil’. Hulle moet in die wêreld uitgaan en dit glo, anders gaan hulle geen lewensvaardighede hê nie,” sê Nikki.

Aangeleerde hulpeloosheid

Ouers moet ophou om die pad vir die kind voor te berei, en eerder die kind vir die pad voorberei, is Nikki se raad. “Ons kan ook nie altyd die slagofferkaart speel nie. Baie ouers verskoon hulle kinders se gedrag, want hulle voel hulle is ’n slagoffer van die samelewing, die skool, of hulle huislike omstandighede soos ’n egskeiding. Maar, as jy foute en slegte gedrag onder die mat invee en nooit jou kind aanspreeklik hou vir haar gedrag nie, leer sy geen verantwoordelikheid nie.”

Ken sê ook dit wil vir hom voorkom asof die meerderheid leerders in skole vir kinders met leerprobleme oorbeskermende ouers het. “Hierdie kinders is geneig om uitdagings te vermy en toon uiteindelik al die kenmerke van ’n leerder wat aangeleerde hulpeloosheid ontwikkel het.”

Aangeleerde hulpeloosheid is ’n werklike ding, en ’n groot probleem. “Dit is maklik om so ’n kind groot te maak. Hulpeloosheid seëvier, en hulpvaardigheid verdwyn. Ouers laat die kind nie toe om enigiets te doen nie, en doen eerder alles self of vir die kind. Kinders moet bydra tot die huishouding deur takies te doen, en so vaardighede en verantwoordelikheid te leer. ’n Massiewe fout wat ouers maak is om kinders groot te maak wat nooit leer om op hul eie voete te staan nie en wat totaal afhanklik is van hul ouers, vir groot en klein dinge,” verduidelik Nikki verder.

Ons moet onthou mislukkings en teleurstellings is ’n onvermydelike deel van die lewe. “Die kind van ’n helikopterouer kan egter vertroue in sy eie vermoëns verloor, geneig wees om tou op te gooi sonder om eens te probeer, uitdagings vermy en glo dat hy nie goed genoeg is wanneer hy voor ’n moeilike situasie te staan kom nie. Hierdie kinders word die slagoffers van oorheersende, oorbeskermende ouers wat hulle nie aanmoedig om selfstandige besluite te neem nie. Gevolglik kan hulle grootword met besluiteloosheid en onsekerheid oor hul eie vermoëns,” sê Ken.

Laat hulle hul vlerke sprei

Kinders moet leer wat dit beteken om mens te wees, om foute te maak, om te val en weer op te staan. Hulle kan dit nie doen as ’n ouer hulle die heeltyd regop hou of keer dat foute gemaak word nie. “Jy leer uit jou foute, en jy leer uit die gevolge van jou aksies. Dit is beter dat ’n kind in graad vier sleg doen in toetse omdat hy nie wil leer nie, as wat hy graad 11 dop, want hy het nooit geleer om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy skoolwerk nie. Leer kinders van kleins af om aanspreeklikheid te aanvaar, hoe ouer hulle word, hoe erger word die nagevolge van hulle aksies. Wees daar vir jou kind om hulle te ondersteun, maar nie om hulle lewe namens hulle te leef nie. Besef jy kan hulle nie uit elke penarie red nie, en gee vir hulle geleenthede om self dinge te doen,” is Nikki se raad.

Van die oomblik van geboorte af begin ’n kind die wêreld om hom ervaar en is hy gereed om dit te ontdek en te verken. “Aanvanklik is hy egter heeltemal van sy ouers afhanklik om hom aan te moedig en toe te rus met die nodige vaardighede om die uitdagings wat die lewe aan hom gaan stel, die hoof te bied. Dit is belangrik dat ouers verstaan dat kinders alles wat hulle reeds self kán doen, ook self béhoort te doen. Dit sluit in om self aan te trek, hul eie skooltas te pak, hul speelgoed weg te pak, met ’n mes en vurk te eet, goeie maniere aan te leer, take te voltooi en deursettingsvermoë te ontwikkel. Kinders behoort ook aangemoedig te word om met ander kinders te sosialiseer en vriendskappe te bou sonder dat hul ouers altyd teenwoordig is,” voeg Ken by.

Besoek gerus die kenners se webwerwe: www.nikkibush.com en www.smartchoiceparenting.co.za.

by | Okt 16, 2026 | Algemeen, Artikels, Leerhulp

Deel hierdie plasing