Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Meer as 120 jaar sedert die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika gewoed het, bekoor stories oor dié tydperk steeds.
Die Vrywilligers is ’n boek wat almal wat belangstel in hierdie geskiedenis, moet lees. Dit fokus op Eleanor Campbell, ’n jong meisie van Pretoria wat saam met haar pa, dr. Robert Campbell, na die gevegsfront reis as vrywillige mediese personeel. Haar broer, Rory, wat sy mediese studies in Edinburgh, Skotland onderbreek om by die ambulanspoging aan te sluit, is ook ’n groot deel van die storie. Net so ook die Rus Ivan en sy twee kamerade wat as vrywilligers aan Boerekant kom veg. Eleanor en Ivan se paaie kruis, en die liefdesvuur vat vlam.
Maar alles is teen hulle, van hul omstandighede tot hul kultuur en godsdiens. Die Vrywilligers is ’n boek oor die hartseer en gruwels van oorlog, maar ook oor hoe liefde ten spyte van alles kan oorwin. Ek het ook die beskrywings van Pretoria baie geniet – Boereoolog-stories vind dikwels op plase, konsentrasiekampe of kommando plaas, so hierdie was ’n interessante ander milieu.
Afrikaans.com het vir die skrywer, Malene Breytenbach, ’n paar vrae oor Die Vrywilligers gevra:
Wat was vir jou die grootste uitdaging met die skryf van hierdie boek?
Die grootste uitdaging was om navorsing te doen om uit te vind hoe dinge op mediese gebied gewerk het tydens die Boereoorlog. Die mediese dienste en kennis was in daardie dae gebrekkig. Prof. Kay de Villiers het daaroor geskryf en ek het sy werk geraadpleeg. Wat hulle wel gehad het was chloroform, verbande en gaas, watte, antiseptiese middels soos karbolsuur en jodium, seep, chirurgiese instrumente soos skêre, naalde, skalpels, maar dit het afgehang van wat beskikbaar was. Hulle het ook spalke gehad, hoewel hulle soos in die verhaal, selfs geweerkolwe gebruik het. Daar was morfien vir pyn, kasterolie en aspirien. Ek moes hou by wat beskikbaar was en nie iets byvoeg wat in later tye eers gebruik is nie.
’n Mens hoor nie baie van Russe wanneer dit kom by die Boereoorlog nie. Wat het jou geïnspireer om vir Ivan en sy kamerade by die storie in te sluit?
Ek weet lankal dat Russe kom veg het en ambulanse gestuur het. Die Russiese tsaar was pro-Boer, anti-Brits. Die eerste keer wat ek werklik daarvan kennis geneem het was toe prof. Philip Nel van Sowjetstudies by Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch ’n aantal jare gelede ’n uitstalling en praatjie gereël het oor die Russe wat in die Boereoorlog kom veg het. Hulle het selfs ’n volkslied gehad: Transvaal, Transvaal, my land, wat in vlamme gehul is (my vertaling). Hulle was skoon ‘patrioties’ oor die Transvaal. Dit was fassinerend om te sien hoe vrywilligers van daar af die Transvaal wou help, ook met ambulanse en mediese personeel. Ivan en sy vriende moes voorbeelde wees van daardie begeesterde Russe, wat dan die Boere leer ken en saam met hulle in die oorlog ly en heldedade verrig. Ivan moes ook op ’n verpleegster verlief raak om die romanse in die verhaal te verskaf… Amor vincit omnia: die liefde oorwin alles, selfs kulturele verskille.
My vernaamste inspirasie was ’n boek wat ek gelees het: A Russian on Commando deur Yevgeny Augustus, geredigeer deur Boris Gorelik, vertaal deur Lucas Venter.
Is die storie enigsins gebaseer op ware gebeure (in terme van die vrywillige mediese personeel en ambulans)?
Die storie is gebaseer op werklike gebeure en toestande in die Boereoorlog. Karakters is fiktief, maar daar is ware historiese karakters ook, byvoorbeeld die hoof van die Staatsartillerie se mediese dienste, dr. Hohls, is ’n ware karakter. Die Bourke Hospitaal en ambulans het ook werklik bestaan, so ook die plaas Rietfontein naby Ladysmith waar die ambulanse gevestig is en van waar hulle na die slagvelde gegaan het. Die Slag van Elandslaagte en wat daar gebeur het, is op die werklikheid gebaseer. Ware geskiedenis dra die verhaal. Ek het byvoorbeeld genl. Ben Viljoen se memoires ook nagevors. In my verhaal is twee Boerevegters sy neefs. Hy was by Elandslaagte een van die Johannesburg Kommando se offisiere. Die Boere het daar ’n slegte nederlaag gely, maar hy het net-net ontsnap. Ander veldslae waaroor ek skryf, soos Colenso en Spioenkop, het ek deeglik nagevors. Ook natuurlik die beleg van Ladysmith en hoe almal, ambulanse inkluis, moes vlug toe dit opgehef is.
Hoe het jy jou navorsing vir die boek aangepak?
Ek het verskeie boeke oor die Boereoorlog versamel, dus het ek baie bronne. Dis nie my eerste boek oor die Boereoorlog nie. Ek het ook goed gegoogle soos onder andere betrokkenes se dagboeke. Prof. Kay de Villiers se boeke oor die mediese dienste in die oorlog was waardevol. Boeke soos Commando van Deneys Reitz, genl. Viljoen se memoires, en Goodbye Dolly Gray van Rayne Kruger is byvoorbeeld nog bronne wat ek geraadpleeg het. Prof. Fransjohan Pretorius se boeke oor hoe die burgers in die oorlog geleef het, is ook ’n goeie bron. Ek moes weet wat hulle geëet het, hoe hulle kamp opgeslaan het, hoe hulle ’n ambulans en hospitaal, al was dit primitief, gevestig het. Selfs watter klere hulle gedra het. Hoe hulle begrafnis gehou het. Oor die Bourke Hospitaal en ambulans kon ek ook inligting kry wat my storie dra. ’n Mens ontdek juwele van geskiedenis. Eintlik is daar geweldig baie bronne om oor die Boereoorlog te raadpleeg. Die skrywer moet egter die navorsing soomloos inwerk en nie die onderrok laat uithang nie.
Wie dink jy sal die boek geniet?
Enigeen wat van geskiedenis en spanning hou, en graag die kronkelende weë van die liefde volg. Wat hou van dapper helde en heldinne wat ten spyte van teenstand en oorlog oorwin. Dit gaan ook oor die krag van geloof, hoop en liefde.
- Die Vrywilligers deur Malene Breytenbach word deur Lapa uitgegee en is tans op boekwinkels se rakke teen die aanbevole prys van R300.







