Skrywer: Karla Janse van Vuuren
“Mamma, Leané mag op Sondae-aande TV kyk, hoekom mag ek nie?”
“Mamma, Stefan en sy boeties mag die hele naweek X-box speel, hoekom mag ek nie?”
“Mamma, Martin se hele kosblik is vol lekkergoed – hoekom het ek net ’n broodjie en ’n piesang?”
Vergelyking.
Ons kinders doen dit. En ons doen dit as ouers. Daar is nie maklike antwoorde op die vergelykings wat jou kinders tref nie. My antwoorde word altyd met ’n gesug en ’n gefrons ontvang, want dit is gewoonlik iets soos, “Leané/Stefan/Martin se ouers doen dinge op hulle manier, en in ons huis volg ons ons reëls.” Dit is natuurlik geen aanvaarbare antwoord vir ’n negejarige nie. Ek is al na so ’n gesprek ingelig dat dinge lekkerder is in maatjies se huise en dat ek “altyd vir alles ‘nee’ sê”.
’n Vriendin vertel vir my onlangs hoe sy geworstel het nadat sy begin het om haarself te vergelyk met ’n ander vriendin van ons. Dié vriendin glo in “co-sleeping” vir so lank as wat die kind wil (moontlik tot sy tienerjare, wie weet?), ’n vegetariese dieet, geen tegnologie (dalk ook tot sy tienerjare), en “gentle parenting” – dus geen rapsies, ooit, nie. En sy is baie uitgesproke oor haar manier van dinge doen en gryp elke geleentheid aan om breedvoerig daaroor uit te wy.
Nou, as jy dalk jou baba op vyf maande in sy eie kot in sy eie kamer gesit het waar hy moes leer om self te slaap (as ma het jy darem die hulp van ’n slaapafrigter ingeroep en nooit die kind laat huil totdat hy blou is nie), kan jy dalk soos ’n vrot ouer voel as jou vriendin vertel hoe lekker sy met haar vierjarige cuddle (die hele nag lank). Slaap is egter vir my broodnodig sodat ek wél op my beste kan wees – en ek het nog nooit lekker geslaap met ’n klein hakskeen in my rug of ’n kleuter wat die hele nag lank wil borsmelkies drink nie.
As jy so nou en dan die pakkie Flings of Jelly Tots nader trek sodat daar tog net iets is om hulle mee om te koop om hulle broccoli en visvingers te eet, kan jy ook soos ’n mislukkig voel as jou vriendin vertel dat haar driejarige NOG NOOIT suiker geëet het nie. As jou dag so lank geword het dat daar al weer vrieskas-pizza voor jou kroos neergesit word vir aandete, kan jy soos ’n slegte ma voel as jou vriendin vertel van hulle organiese, tuisgemaakte maaltyd met vyf groentes (en min sout).

As jy weer Bluey vir jou kinders aansit sodat jy net vinnig kan stort of die skottelgoed kan was, kan jy soos ’n vrot ouer voel as jy hoor hoe jou vriendin aangaan oor die gevare van skerms, en hoe sy nooit as te nimmer sal toelaat dat haar bloedjie sinnelose gemors soos Bluey of Paw Patrol kyk nie. As jy op ’n lang karrit na die wildtuin vir jou kleuter dansende vrugte wys op YouTube sodat daar net bietjie vrede kan wees, kan jy soos ’n mislukking voel as jy dink aan hoeveel breinselle opkrul en opgee, aldus jou vriendin.
En as die handjie piets kry wat al weer mik na die elektriese prop, voel jy asof iemand dalk die welsyn gaan bel. As jou sesjarige jou in die gesig met ’n frisbee gooi nadat sy pa vir hom gesê het om om die draai te gaan speel, voel jy baie skuldig wanneer jy hoor hoe pappa drie rapse op daai boude gee…
Daar is so baie druk op ouers om “perfek” te wees en die regte keuses te maak.
Maar die een gesin se “perfek” en “reg”, is nie dieselfde as ’n ander een s’n nie. Dit is juis hoekom vergelyking so ’n euwel is. Ek glo as ouers probeer ons altyd net die beste doen vir ons kinders, en as dit soms beteken dat hulle ’n bietjie skermtyd moet hê en ’n roomys eet sodat jy as ma kan asemskep, gaan die wêreld nie vergaan nie.
Ons moet daardie cliché onthou dat jy nie uit ’n leë beker kan skink nie. Jou eie geestesgesondheid is belangriker as hoe lank jou kind in jou bed slaap, of die vyf minute wat hulle skermtyd het. Balans is my wagwoord – want ek stem beslis saam dat te veel skermtyd nadelig is en dat kinders gesond moet eet. Dalk moet ons ook ’n wag voor ons monde plaas en dink aan die impak wat die dinge wat ons kwytraak op ander ma’s het. Wanneer ek so saam met my vriendinne kuier, het ek begin om meer te luister, en minder te sê. Soms wil ma’s net afpak, nie raad hê oor hoe dinge “beter” gedoen kan word nie.
So, hou gerus op om jouself met ander te vergelyk. En oppas ook dat jy nie die een is wat die vergelykings veroorsaak nie.
Ons almal swem in dieselfde stroom, dit is nie nodig om iemand te laat voel asof sy verdrink nie.
En as jou kinders weer kla omdat dit soveel lekkerder gaan in hulle maatjies se huise, sê dalk vir hulle dit kon veel erger gewees het – geen lekkergoed, geen skerms… Soms kan vergelyking tot jou voordeel wees!







