Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Om te besef dat jou kind nie deel is van ’n groep of selfs een spesiale maatjie het nie, kan ’n ouerhart baie seermaak.
Nikki Bush, ’n ouerskapkenner en medeskrywer van die boek Future-proof Your Child: for the 2020s and beyond (Penguin Random House, 2019), het aan Afrikaans.com gesê kinders ervaar al hoe meer probleme met vriende en om vriendskappe te onderhou. “Die probleem is, hulle sien dikwels nie dat hulle ouers sosialiseer nie. Dis ook ’n nagevolg van die Covid-pandemie. En, mense is moeg gewerk en wil dikwels in hul vrye tyd net voor die TV ontspan. Om te kuier klink soos te veel moeite.” Kinders leer egter deur wat hulle sien en ervaar, en as ons wil hê ons kinders moet sosiaal wees, moet ons dit vir hulle demonstreer, meen Nikki. “Doen praktiese dinge saam met ander gesinne, en reël aktief speeltye met maatjies. Ouers kan optree as die brug tussen die kinders, en as rolmodelle vir sosialisasie.”
Redes hoekom jou kind dalk sukkel
Kaashifa King, ’n hulpbronontwikkelaar, berader en ouer-opvoedingfasiliteerder by The Parent Centre, sê daar is nie net een verklaring nie. Probleme met vriendskappe kan ontstaan uit ’n kombinasie van die kind se eie eienskappe, portuurgroepdinamika en die omgewing. “Algemene moontlikhede sluit in jou kind se temperament, sosiale angs, onvolwassenheid of ontwikkelingsverskille, outisme of verskille in sosiale kommunikasie, ’n lae selfbeeld, verskillende belangstellings, of gesins- of omgewingsfaktore, om net ’n paar te noem.”
Nog ’n rede kan wees dat jou kind nie gesosaliseer is nie, sê Nikki. “Skerms moet hier die blaam kry. Om ’n konneksie te vorm met ’n ander mens, om te leer hoe om te gee en te ontvang en te reageer op ander, is ’n sosiale vaardigheid. Dit kan nie in ’n vakuum geleer word nie, dit gebeur deur die praktiese doen daarvan. Ouers moet ook die kind se ouderdom in ag neem – wanneer hulle baie klein is, speel hulle op hul eie, en dan langs mekaar (parallel-speel). Eers vanaf die ouderdom van drie jaar kan hulle begin saamspeel en maatjies maak.”
Wat ouers kan doen
Die ouer kan help deur die kind se geleenthede vir betekenisvolle kontak te vergroot en hulle die vaardighede en selfvertroue te gee om daaraan deel te neem, sê Kaashifa.
- Begin klein: Een kind op ’n slag. ’n Kort speelafspraak. ’n Aktiwiteit rondom ’n gedeelde belangstelling. ’n Gestruktureerde omgewing waar interaksie natuurlik plaasvind. “Vir ’n introverte kind kan dit baie nuttiger wees om een persoon te vind met wie hulle goed oor die weg kom as om te probeer om deur die ‘gewilde’ groep aanvaar te word,” verduidelik Kaashifa. Moedig ook jou kind aan om uit te reik na enige nuwe kinders in hulle klas en om vriendelik te wees. “Besef ook dat alle kinders verskil, beide in terme van hulle persoonlikhede en hoe hulle sosialiseer. Sommige kinders is skaam, maar sal later meer selfvertroue kry. Gee jou kind kans om te ontwikkel,” voeg Nikki by.
- Leer ook spesifieke vaardighede aan eerder as om net te sê “Wees meer sosiaal”. Kaashifa stel voor dat jy saam met jou kind oefen oor hoe om byvoorbeeld by ’n bestaande speletjie aan te sluit, hoe om ’n ander kind ’n vraag te vra, hoe om belangstelling te toon, hoe om beurte te maak, of hoe om te verskil sonder dat ’n argument eskaleer. “Selfvertroue is baie belangrik, en kinders kan leer hoe om hulself te laat geld. As ouer kan ons kinders help om vaardighede te ontwikkel, en dan moet ons hulle ook kans gee om daardie vaardighede te beoefen voordat ons intree,” sê Nikki.
- Ouers kan geleenthede skep, sonder om die uitkoms te probeer beheer. Daar is ’n verskil tussen: “Marie kom Saterdag kuier, want jy het ’n vriend nodig,” en: “Jy het genoem dat jy en Marie albei van flieks hou. Wil jy hê ek moet haar ma vra of sy wil kom kuier om saam ’n fliek te kyk?” Die tweede benadering behou die kind se waardigheid en gevoel van selfstandigheid, sê Kaashifa. “As jou kind uitgesluit voel, is dit ook nie nodig om onmiddellik tot drastiese aksie oor te gaan nie. Stel ondersoek in. Praat met jou kind se onderwyser oor wat sy in die klas en op die speelgrond sien. Pas dit by wat jou kind jou vertel?” is Nikki se raad.
Wanneer professionele hulp wel nodig is
“As jou kind nie wil skool toe gaan nie en baie teruggetrokke raak en selfs sy aptyt verloor, is dit iets om oor bekommerd te raak,” sê Nikki. Professionele assessering kan nodig wees wanneer die probleem aanhoudend is, beduidende emosionele spanning veroorsaak, vererger, of die kind se funksionering beïnvloed, voeg Kaashifa by.
“Belangrike waarskuwingstekens sluit in aanhoudende eensaamheid, intense vrees vir sosiale situasies, weiering van skool, groot veranderinge in slaap of eetlus, baie lae selfbeeld, aanhoudende hartseer of hopeloosheid en ’n beduidende afname in akademiese funksionering,” sê sy.
Onthou egter, sê Nikki, dat nie almal van jou kind sal hou nie, en net so sal hulle ook nie van almal hou nie.
“Mens kliek mos net nie met sommige mense nie, en dis oukei. Moenie oorreageer nie.”
“Jou kind moet leer om sy eie ‘mense’ te vind, en hy kan ook die een wees wat ander nooi om by hom aan te sluit, eerder as om heeltyd op die uitkyk te wees vir ’n groep.”
Nie elke kind wat sosiaal sukkel, hoef “reggemaak” te word nie, sluit Kaashifa af. “Soms het ’n kind ondersteuning met sosiale vaardighede nodig. Soms het hulle ’n ander portuuromgewing nodig. Soms moet hulle teen boeliegedrag beskerm word. Soms het hulle behandeling vir angs of depressie nodig. En soms het hulle bloot nodig dat hul ouers aanvaar dat hulle ’n stiller kind is wat ’n kleiner sosiale wêreld verkies.”
“Ons leer steeds elke dag iets nuuts”
Amanda* se seuntjie David* (8) is ’n kind wat sukkel om maatjies te maak. “Ons het begin agterkom dat David nie maklik maatjies maak nie toe hy in die kleuterskool was. Hy was toe omtrent twee jaar oud. Ons het aanvanklik net opgemerk dat hy daarvan hou om vir lang tye op sy eie te speel. Hy was tevrede in sy eie geselskap, en daarom het ons nie gedink dat daar ’n probleem was nie. Dit was eers toe hy so vyf jaar oud was, wat ons begin besef het dat hy wel ’n behoefte aan ’n maatjie het.” Amanda vertel hulle het in daardie stadium in ’n ander land gewoon, met ’n ander taal en kultuur, en dit het ook ’n groot rol gespeel. “Die situasie het nie net ’n knou aan sy selfvertroue gegee nie, maar het hom ook ’n teiken vir boelies gemaak.”
David het in sy voorskoolse jaar ’n maatjie gemaak wat uitstekend was vir sy selfvertroue. Ongelukkig het die maatjie later verhuis, wat ’n groot terugslag vir hom was. “Daar was natuurlik ander faktore wat ’n rol gespeel het, maar een ding wat hy amper elke dag, sonder uitsondering, vir ons gesê het, was dat hy eensaam is. Hy het gesê dat hy nie maats het nie, dat niemand met hom wil speel nie en dat ander kinders hom om verskillende redes spot. By die huis vergelyk hy homself ook soms met sy ouer sussie, wat ’n groot ekstrovert is. Dit beklemtoon vir hom soms die verskil tussen sy eie persoonlikheid en dié van iemand wat maklik sosiaal aanpas.

“As ’n ouer van ’n introverte kind was die moeilikste deel vir my om te besef hoe sy sosiale uitdagings ander dele van sy lewe begin beïnvloed het.”
“David sê nie maklik wanneer iets verkeerd is nie, en daarom is dit soms moeilik om te weet wanneer hy werklik sukkel.” Amanda sê hulle het speelafsprake met verskillende maatjies gereël om hom te help om vriendskappe te bou. “Ons het hom ook aangemoedig om by die skool op die Buddy Bench te gaan sit wanneer hy voel dat hy nie ’n maatjie het nie. Die idee was dat ander kinders dan kan sien dat daar iemand is wat graag ’n maatjie wil hê. By die huis probeer ons hom leer om tydens pouse by ’n aktiwiteit aan te sluit en op dié manier natuurlik met ander kinders kontak te maak. Ten spyte van hierdie pogings, kom ons egter telkens terug na dieselfde bekommernis: David voel eensaam. Hy voel naar, kry gereeld hoofpyn of maagpyn en sê dat hy graag in ’n ander skool wil wees.”
Amanda sê hulle leer steeds elke dag iets nuuts van hul seun en uit elke situasie waardeur hy gaan. “Ons het nog nie al die antwoorde nie en weet ook nie altyd presies hoe om hom die beste te ondersteun of te help nie. Hy sien van tyd tot tyd die skoolkapelaan, wat vir hom ’n veilige persoon geword het met wie hy kan praat. Ons leer om nie net te fokus op hoeveel vriende hy het nie, maar eerder op die kwaliteit van die verbindings wat hy met ander mense vorm – en om hom te help verstaan dat daar niks verkeerd is met hom omdat hy nie maklik of vinnig vriende maak nie.”
*Skuilname







