Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Sandra Prinsloo het geen bekendstelling nodig nie.
Of dit nou die verhoog, die silwerdoek of televisie is, na meer as 50 jaar bekoor en vermaak sy steeds oud en jonk en lewer sy keer op keer ’n kragvertoning.
Die lys is te lank, maar lesers sal haar onthou vir haar rolle in The Gods must be crazy, Die Seemeeu, Konings, Egoli: Plek van Goud en meer onlangs as Moekie in die Afrikaanse misdaadkomedie Koek. Watter rol sy ook al aanpak, sy maak dit haar eie. Geen wonder dan ook dat Sandra al talle toekennings ontvang het nie. Die mees onlangse is ’n eredoktorsgraad wat deur die Noordwes-Universiteit aan haar toegeken is vir haar “bereidwilligheid om gevestigde maatskaplike grense uit te daag, en wat gewys het hoe teater ook as ruimte vir gesprek en maatskaplike verandering kan dien”. Dit is ook nie die eerste keer dat die eer haar te beurt val nie. In 2018 het die Universiteit Stellenbosch haar ook met ’n eredoktorsgraad vereer.
Sandra het onlangs 79 jaar oud geword, maar aan ophou toneelspeel dink sy nie eers nie – daarvoor het sy heeltemal te veel energie en planne in die pyplyn.
Afrikaans.com het met Sandra gesels oor haar grootwordjare, haar besluit om eerder drama te gaan swot as net tale, en hoekom dit vir haar so belangrik is om by Afrikaans en kultuur betrokke te wees. En dit is maar net ’n klein kykie op die lewe van hierdie fenomenale vrou.
Sy vertel dat haar kinderjare in Pretoria baie gelukkig was. “Daardie jare was Pretoria ’n heerlike stad om in groot te word.” Vakansietye was verdeel tussen haar oom se plaas in die Vrystaat en haar ouma se strandhuis in Kleinmond. “Dit is seker hoekom ek nog steeds vandag so lief is vir die see. Ek was nog altyd baie gelukkig op die water, in die water, onder die water …” lag sy. Sandra het juis ’n skipperlisensie en seil graag wanneer sy die kans kry. “Ek is ook lief vir ’n plaas. Ek en my broer het altyd lekker saamgespeel en omdat ek ’n tomboy was, was kleilat speel en bloots perdry vir my heerlik. My pa het ons ook gereeld Wildtuin toe geneem en tot vandag toe hou ek van die bos.”
Nadat sy op Meisies Hoër in Pretoria gematrikuleer is, is sy Tukkies toe – aanvanklik om tale te gaan swot met Frans en Engels as hoofvakke.
Toneelspel was dus glad nie deel van haar planne nie.
“Maar ek hoor toe van die nuwe dramadepartement by Tukkies en dit het my nuuskierigheid geprikkel. Dalk maar omdat dit beweging ingesluit het. Ek het jare lank ballet gedoen en het aan die einde van matriek ophou dans. Omdat ek besef het dat ek beweging en my ander liefde, tale, kon kombineer, het ek besluit om drama te gaan swot.” (’n Besluit waaroor haar aanhangers natuurlik baie bly is.)
Na haar studies het die destydse TRUK haar ’n kontrak aangebied, maar Sandra het besluit om nie die aanbod te aanvaar nie, maar wel vir hulle te speel. “Ek dink die rede vir my besluit was omdat ek nie seker was oor wat ek wou doen nie. Ek was ook nogal bang, want ek het gedink ek is nie goed genoeg nie en dat ek dit dalk nie sou maak nie. Dalk was my selfbeeld net nie sterk genoeg nie en die gedagte om voor ’n klomp mense ’n gek van myself te maak, was nie vir my lekker nie.”

Sandra Prinsloo en Marius Weyers in: Siener in die Suburbs.
Sandra en Marius Weyers het baie saamgewerk en het in die vroeër jare al die hoofrolle by TRUK teenoor mekaar gespeel – ’n gedugte span om die minste te sê.
Die stuk wat hulle egter bekendgemaak het, was Siener in die Suburbs en beslis ’n hoogtepunt, afgesien van die ontevredenheid van party mense en die sensuurraad oor hoe die blanke bevolking uitgebeeld is. “Die stuk speel af in ’n arm buurt en dit was vreemd dat daar soveel ontkenning was dat sulke mense bestaan. In die oë van die publiek was die Afrikaner net edel en het hulle goed gedoen en beslis nie so opgetree soos in die toneelstuk voorgehou is nie. En tog het die stuk soveel aanhang gekry en het dit soveel impak gemaak. Dit wys tog dat mense wel iets herken het in daardie spieël wat ons vir hulle opgehou het. En dit is soms nodig om die vere so bietjie te skud,” glimlag sy.
Sandra vertel dat sy eintlik skaam is, en veral toe sy jonger was, was dit erger.
“Deesdae is ek minder skaam, alhoewel dit nog soms vir my moeilik is om ’n klomp nuwe mense te ontmoet.”
Sy beskou haarself dus meer van ’n introvert as ’n ekstrovert. Afgesien daarvan het sy nog altyd ’n sterk mening van haar eie gehad. “Ek is nie spesifiek grootgemaak om vir myself te dink en my eie mening te hê nie, maar my pa het ons altyd aangemoedig om self by die antwoorde uit te kom. Hy het eie denke omarm en wou hê dat ons self moes dink oor kwessies en dan daaroor moes besluit. Ons is streng grootgemaak, maar ons is toegelaat om ’n mening te hê.”
In 1985 het Sandra behoorlik gehore laat verstik aan hulle koffie toe sy en John Kani in die stuk Miss Julie gesoen het.
Die stuk het groot opslae gemaak, maar ten spyte van die vyandigheid en dreigemente het Sandra haar nie laat stuit nie. “Ja, dit was ’n ongemaklike tyd in ons geskiedenis, met baie opstande en dit was omtrent oorlog. Die reaksie wat ek gekry het was nie lekker nie en ek is deur ’n groot deel van die Afrikaanse publiek verdoem en is selfs ’n prostituut genoem.” Sandra sê egter dat dit later indirek ’n invloed op haar loopbaan gehad het, toe sy in 2014 die Orde van Ikhamanga in silwer ontvang het vir haar bydrae tot die uitvoerende kunste en so erkenning gekry het vir die politieke standpunt was sy onder andere teen apartheid en rassisme ingeneem het. Sy glimlag wanneer sy praat oor haar en John se latere toneelstuk So ry Miss Daisy. “Dit was ’n heeltemal ander ervaring. Die gehoor het so lekker gekry en ek wonder altyd of van hulle dieselfde mense was wat destyds so kwaad was vir my.
Dit was heerlik om die positiewe terugvoer vir die vriendskap tussen my en John in Miss Daisy te kry.”

Sandra is van mening dat mense die invloed van teater op mense se denkwyse, veral die meer kontroversiële werk, onderskat.
“Teater is geweldig kragtig en mense moet uitgedaag word, want deur hulle te konfronteer met die waarheid – en akteurs en teatermakers is altyd op soek na die waarheid – word hulle gedwing om die goed wat hulle nie altyd in hulleself wil sien nie, te erken en te ondersoek.”
“As akteurs wil ons daardie waarheid voor ’n gehoor ophou. En dit is nie hoodwendig polities nie. Dit kan ook emosioneel of intellektueel wees, maar uiteindelik kan teater debat veroorsaak. En debat lei dikwels na verandering, na sienings wat verander, na die omarming van gedagtes wat miskien vroeër moeilik was. Hoewel teater moet uitdaag, glo ek dit is ook helend. Dis nie asof akteurs mense uitdaag en dan net daar los nie … daar is altyd ook heling by betrokke.”
Na meer as 50 jaar in die bedryf sê Sandra dat daar talle hoogtepunte en seker ook laagtepunte was, maar dis moeilik om iets spesifiek uit te sonder. “Ja, daar is stukke waarvan ek dalk nie so baie gehou het nie, en wat dalk nie die impak gehad het wat mens gehoop het nie, maar jy beweeg eenvoudig aan, want jy moet weer die volgende ding doen. Ek moet erken Die Moeder was ’n hoogtepunt, maar ek is lief vir al my eenvrouvertonings. Die jongste een, Die Ander Dogter, is byvoorbeeld so ’n ragfyne stuk oor skuld, familie en verlies – en ’n interne gesprek. Dit is wonderlik.”
Sandra sê dat sy van rolle hou met ’n boodskap – daardie rolle wat belangrike kwessies aanroer.
Sedert die negentigs is sy ook regisseur. Ek wou weet wat volgens haar ’n goeie regisseur maak. “’n Goeie regisseur is iemand wat sterk lei, maar wat die akteur ook toelaat om kreatief te werk. Ek hou van ’n regisseur wat self kan speel, maar dis nie altyd nodig nie, want jy kry baie goeie regisseurs wat nog nooit self gespeel het nie. ’n Regisseur wat egter self gespeel het – met of sonder sukses – verstaan die proses van akteur wees dalk net so tikkie beter. Op die ou end is ’n goeie regisseur vir my die persoon wat leiding neem, visie het, en jou as akteur kan dwing in ruimtes in waar jy dalk ongemaklik is, maar wat dit dan regkry om jou grense te verskuif.”
Sandra vertel dat sy nie juis kan onderskeid tref tussen eenvrouvertonings en opvoerings waar sy die verhoog met ander akteurs deel nie – sy geniet albei ewe veel. “As ek ’n eenvrouvertoning opvoer, word die gehoor my medespelers. Maar dit kan maar eensaam raak – dis net jy en die regisseur. Daarom hou ek daarvan om saam met ander spelers te werk en lê die verskil vir my meer af van die verhoog af. Dis lekker om met medespelers te gesels, idees uit te ruil, saam te lag … en saam by die waarheid uit te kom.”
Sandra is besig en haar rolle is dikwels uitdagend. “Dis hoekom dit vir my pure plesier is om by die huis saam met my honde te wees. Ek stap elke dag met hulle en dit is my kopskoonmaak-tyd, my lagtyd en wanneer ek regtig kan ontspan. Hulle gee met net vreugde en liefde.”
As ondervoorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) is Sandra nou betrokke by die werk wat die SBA doen om te help “om geletterde gemeenskappe te vestig en om ’n trots en liefde vir Afrikaans en sy kultuur te kweek”, veral onder die jeug. “Dit was nog altyd vir my belangrik om stories vas te lê en met die Onse stories– en Ons onthou-reekse was dit vir my ’n baie spesiale ervaring om deur die land te reis en die mense se stories en erfenis vas te lê.

“Vroeër jare het ons grootgeword om die etenstafel waar stories vertel is en jou herkoms vir jou uitgelê is. Ek glo tot vandag toe dat ’n mens moet weet waar jy vandaan kom om te kan vorentoe gaan. En dit is iets wat nie meer deesdae gebeur nie.”
“In ons gejaagde lewe word daar nie meer genoeg stories vertel nie. Almal is op hulle selfone.”
Oor haar werk by die SBA sê sy dat dit belangrik is om in ons kultureelryke land die kosbare stories van agtergeblewe gemeenskappe te vertel. “Om meer te wete te kom van die begin van Afrikaans, die verskillende bevolkingsgroepe wat daartoe bygedra het, is geweldig interessant.” Sandra noem ook dat sy tans besig is met ’n reeks oor die invloed van sendingstasies op die taal en die gemeenskap. “Dis ’n wonderlike reis deur die geskiedenis.”
Sandra lag wanneer ek vra of sy raad vir ons opkomende akteurs het. “Nee, wat! Ek geniet dit regtig om saam met hulle te werk. Ek hou van hulle nuwe, vars aanslag en staan telkens verstom oor die talent wat daar is.”
Dat Sandra ‘n kampvegter vir Afrikaans en sy kultuur is, kan nie betwyfel word nie.
“Afrikaans is die mooiste en wonderlikste taal. Taal en kultuur is baie belangrik solank dit mense omarm en niemand uitsluit nie.”
Sy voel sterk daaroor dat Afrikaans as taal sal bly voortbestaan. “Kyk net ons ongelooflike skrywers en digters – die werk wat in Afrikaans gedoen word.”
Haar lewensfilosofie? “Ek het nie eintlik iets wat ek kan deel nie, maar so paar jaar gelede het ek die volgende raakgelees: ‘It’s better to be kind than to be right.’ Dit is nogal iets wat ek in gedagte probeer hou.”
Bronne en lees meer:
NWU vereer Sandra Prinsloo met eredoktorsgraad – Maroela Media
SBA-Stories | Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans







