Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Met ’n huis vol kinders moet ek altyd dink aan gesonde(r) versnaperings. Een van my kinders se gunstelinghappies, is ’n lekker varsgebakte muffin. As hulle hul sin kon kry, sou dit seker elke keer ’n sjokolademuffin wees, maar gelukkig smul hulle ook graag aan dié heerlike bloubessie-en-suurlemoenmuffins.
Dit is dalk nou nie heeltemal “gesond” nie, want dit is tog gebak met suiker en botter, maar ek troos myself daaraan dat hulle darem vrugte ook inneem! Ek het hierdie resep ontdek op die lieflike blog Alexandra’s Kitchen, en het dit nou al ’n paar keer gebak en selfs bietjie aangepas volgens my eie smaak. afrikaans.com se bakkers moet dit beslis probeer – veral nou wanneer bloubessies weer volop en in seisoen is!
Bloubessie-en-suurlemoenmuffins
Maak 8-12, hang af hoe groot jou muffinpan is.
Bestanddele:
113 g botter, by kamertemperatuur
Die fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
1 k witsuiker
1 eier by kamertemperatuur
1 t vanieljegeursel
256 g meel
2 t bakpoeier
1 t sout
2 k vars bloubessies, afgespoel
½ k melk of karringmelk
Versiersuiker en ’n bietjie suurlemoensap
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180° C. Plaas muffinpapiertjies in jou muffinpan.
- Verroom die botter saam met die suurlemoenskil en suiker tot lig en donsig.
- Voeg die eier en vanieljegeursel by en klits tot gemeng.
- Sprinkel ¼ k van die meel bo-oor die bloubessies en roer versigtig (dit keer dat die bloubessies afsak in die beslag).
- Klits die res van die meel, bakpoeier en sout saam.
- Voeg die meelmengsel om die beurt met die melk of karringmelk by die botter-en-eiermengsel. Vou die bloubessies versigtig by sodat hulle nie breek nie. Die beslag sal lekker dik wees.
- Verdeel die beslag tussen die muffinpan se holtes. Bak vir sowat 20 minute tot deurgaar – prik met ’n tandestokkie om te kyk of dit gaar is. As dit skoon uitkom, is die muffins gereed. Groter muffins sal natuurlik langer moet bak. Laat afkoel in die muffinpan en keer dan uit op ’n draadrak om heeltemal af te koel.
- Meng sowat ’n eetlepel versiersuiker met ’n bietjie suurlemoensap net todat dit loperig is. Drup dit bo-oor die muffins vir ’n bietjie ekstra suurlemoensmaak. Bêre die muffins in die yskas vir tot vier dae.
- Aangepas van die blog alexandracooks.com.







