September, alhoewel altyd geassosieer met nuwe lewe en moontlikhede, kom vanjaar opnuut met spesiale betekenis … Die ergste van die Covid-19-inperking is skynbaar agter die blad met mense wat weer stuk-stuk, en versigtig, begin droom en doen. Planne word gemaak, vriende gesien, en provinsiegrense oorgesteek. Ter viering hiervan, het Afrikaans.com dit goedgedink om hierdie lente met verskeie invloedryke en suksesvolle persone in die Afrikaanse leefwêreld te gesels om beter te verstaan hoe hulle die meeste uit elke dag maak …
Vandeesweek is Simoné Pretorius aan die beurt. As geliefde aktrise ken Suid-Afrikaners vir Simoné uit rolprente en reekse soos Vir die Voëls, Hotel, Binnelanders en Wonderlus. Dit is egter veral haar motiveringspraatjies soos My lewenslesse voor 30 en haar en manlief (Andries Pretorius) se webinaar-reeks oor verhoudings, wat Simoné as kandidaat vir dié reeks laat uitstaan het.



Fotos: Instagram
Wat het sy geleer sedert sy getroud is, wat is haar benadering tot sosiale media en publisiteit, en waarom beskou sy elke mislukte oudisie as ’n seën? Lees en leer saam!
Wat is die boek (of boeke) wat jy graag en mees dikwels as geskenk gee en hoekom?
Of, wat is die een tot drie boeke wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het en hoekom?
- Boundaries deur dr Henry Cloud & dr John Townsend
Ek is van nature ‘n sagte mens en ‘n “empath”. Ek sukkel om nee te sê omdat ek altyd meegevoel met mense het en mense nie wil seermaak of teleurstel nie. Die teenkant daarvan is dat mens maklik manipuleer word en nooit op die gevolge van die “ja” van jou besluite fokus nie. Jy begin verwyt kweek teenoor mense vir wie jy nie nee kan sê nie, en dis natuurlik onregverdig. Jy alleen is verantwoordelik vir jou besluite, niemand anders nie. Die boek het my lewe verander.
- What’s so amazing about grace deur Phillip Yancey
Yancey deel staaltjies van mense wat die minste vergifnis verdien het en dit steeds gekry het. Dis uitlokkend en aanstootlik. Hy verwys na “the scandal of grace”. Ek het emmers vol trane gehuil; dit het ‘n groot impak op my gemaak. Ek lees dit steeds oor en oor.
- Unlocking the Bible deur David Pawson
Ek is lief vir die Woord. Ek hou van die groot prentjie. Unlocking the Bible gee ‘n oorhoofse blik op elke boek van die Bybel, asook die agtergrond en konteks daarvan – veral met betrekking tot Paulus se briewe. Ek werk gereeld daardeur in my stiltetye.
In die laaste vyf jaar, watter nuwe siening of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?
Vandat ek getroud is, het ‘n nuwe openbaring rakende spanwerk in my lewe plaasgevind. Ek is die enigste kind en het sodoende redelik selfstandig en onafhanklik grootgeword. Andries (my man) maak dit maklik om my lewe neer te lê en alles met hom te deel. ’n Mens dink dat die huwelik moeilik gaan wees in ‘n industrie soos myne, maar die huwelik is tot dusver werklik nog net ‘n aanwins vir beide van ons. Hetsy in die vorm van ‘n verhouding, ‘n vriendskap, ’n familielid, of ‘n kombinasie van hierdie drie dinge, sal ek mense werklik aanraai om ander mense in hul lewens toe te laat, in ag te neem en te vertrou. Twee is werklik beter as een!
Wat is slegte advies wat jy al ten opsigte van jou beroep / vakgebied gehoor het?
Enige publisiteit is goeie publisiteit. En dat jy altyd moet instem vir onderhoude. Ek dink dis gesond om ‘n balans te handhaaf in jou persoonlike lewe en loopbaan. Almal hoef nie altyd en heeltyd van jou te hoor, van jou te weet, of bewus te wees van wat in jou lewe aangaan nie. Mense sal seker dink dis teenstrydig met my teenwoordigheid op sosiale media, maar ek het baie beheer oor wat ek deel en gebruik wysheid en onderskeiding wanneer ek iets persoonliks plaas.
Oor die afgelope vyf jaar, waarvoor sê jy nou meer geredelik, of makliker, nee?
(Byvoorbeeld uitnodigings, afleidings, ens.) Watter nuwe insig of siening het jou gehelp om dit te doen? Enige ander advies?
Ek het vrede gemaak met die oorverdowende feit dat ek ‘n introvert is. Dit het jare geneem om genade met myself te hê in hierdie aspek. Dit was altyd moeilik om sosiale geleenthede van die hand te wys. Maar deesdae is dit amper té maklik, omdat ek fokus op waarvoor ek ja sê. Ek sê ja vir ‘n ontspanne, “recharged” Simoné wat genoeg energie het om vir haar man te gee, om aandag aan haar werk te gee, om heel te wees en ordentlik met mense te kan connect wanneer die geleentheid hom wel voordoen. Ek sê ook makliker nee vir mense wat wil hê dat ek gratis advertensies vir hulle moet gee of maak op sosiale media. My man het daarmee gehelp. Die les is dus eenvoudig – moenie soveel ja sê, dat jy niks oor het vir die dinge wat werklik belangrik is nie.
Watter aanvanklike mislukking of skynbare mislukking, het later vir jou sukses ingehou?
Het jy ’n ‘’gunsteling’’-mislukking?
As akteur het ‘n mens redelik gereeld te doen met die gevoel van mislukking, soos byvoorbeeld wanneer jy nie ‘n call back kry nie, of selfs as jy ‘n call back gekry het en op die ou end word die rol steeds aan iemand anders gegee. ‘n Mens leer later dat dit wat vir jou beskore is na jou toe sal kom, maar dit was aan die begin van my loopbaan redelik moeilik om te glo. Later kon ek sien dat elke toe deur gelei het na ‘n oop venster. ’n Venster kan egter so klein klink … asof dit ‘n troosprys is. Maar as ek baie van die oudisies in my vroeë loopbaan, waaroor my hart so seer was, gekry het, sou ek nie later beskikbaar gewees het vir Hotel of Vir die Voëls nie. So, elke rol wat ek nie kry nie, is my gunsteling-mislukking. Ek weet die Here se hand is in elkeen van ons se lewens. Hierdie beginsel, glo ek, het toepassing op elke individu en industrie.
As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom?
Dit kan ’n paar woorde wees of ’n volledige paragraaf. Jy kan selfs iemand aanhaal.
“Grace, like water, flows to the lowest part.” – Philip Yancey
Wat is ’n ongewone gewoonte wat jy het, of iets skynbaar absurd wat jy baie graag doen?
Soms, as ek ‘n oorsese reeks/film kyk, sal ek die dialoog herhaal in die aksent wat die karakter praat. Ek sal ook soms die toneel re-enact, ander interne keuses neem en speel met waarheen die toneel kon gaan. Ek sal ook soms klemme hardop verander. Dit irriteer my man grensloos. En as daar geweld is, sit ek die klank af tot die toneel verby is. Ek hou ook daarvan om op die vloer te sit of te lê, al is die bed reg langs my. As kind het ek gereeld by my ma se voete gesit. Ek dink dit kom daarvandaan.
Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?
Ek sit ‘n potgooi in my ore en gaan stap om die blok. Daar is ook ‘n houtbankie langs die rivier hier voor ons huis. Dis my “prayer bench”. Die oom en tannie wat voor ons hier gebly het, het dit daar gesit. Ek het al ure daar spandeer waar ek op skrif mediteer of sommer net na my worship-speellysie luister en probeer stil raak en asem skep. Ek sal dit aan mense aanbeveel om ‘n tree terug te neem en perspektief te kry, wanneer ‘n mens voel dat jy dit kwyt is.
Afrikaans.com doen gedurende September 2020 ’n reeks gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors. In Tribe of Mentors, gesels Ferriss met invloedryke en suksesvolle persone uit verskillende omgewings om die publiek die geleentheid te bied om beter te verstaan hoe hierdie mense dink en leef. Ferriss gebruik 11 vrae wat hy aan hierdie persone stel. Vir hierdie reeks, wat weekliks gepubliseer gaan word, het ons dieselfde gedoen.