Koop tussen 30 September en 14 Oktober 2020 enige van die titels op hierdie lysie en ontvang 10% afslag in Exclusive Books se aanlyn winkel.
WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom!
Klik hier.
Vandeesmaand groet ons gewilde topverkopers soos Sophia Kapp se Kanaän en Irma van Zyl se Bloedsteen wat vir maande lank met ‘n plek op dié lysie gespog het … Daarmee saam is daar egter vier splinternuwe boeke wat hul weg tot in die land se topverkopers baan. Hykie Berg se rou en eerlike vertelling oor ADHD maak vir die eerste maal ‘n verskyning. Met die koms van die lente blyk Suid-Afrikaners ook om nuwe lus te hê vir die buitelewe met die nuutste hersiene weergawe van die gewilde Voëls van Suider-Afrika wat ook op die lys is. Watter ander boeke verkoop soos soetkoek? Lees hieronder!
1

Hans gee Herklaas horings – Rudie van Rensburg
Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, se vriend Vasie nooi hom vir ‘n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Daar gekom, vind hulle Herklaas in die sop: die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers hardhandig raak, besluit Hans dat Herklaas ‘n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.
2

Merk – Rudie van Rensburg
Kassie het geglo sy speurderdae is getel na die Medusa-pedofielsaak, en sy hartaanval. Maar ses maande tuis bring perspektief – hy is ‘n speurder in murg en been. Terug by die Spookeenheid word hy en kollega Rooi Els dadelik by die diep kant ingegooi: Hulle moet ‘n reeksverkragter vastrek – een wat sy slagoffers met ‘n brandyster merk. Is die skuldige die man wat beskryf word as “‘n weerwolf met die sperm van ‘n wildehond”? Of lê die antwoord by die spesifieke merk wat hy op sy slagoffers laat?
3

Die Brug: Na die hel en terug in Angola – Deon Lamprecht
In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg.
In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Na die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie.
In 2018 keer ’n groep van die ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting – en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.
4

Maggie: My lewe in die kamp – Maggie Jooste
Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Na maande in huisarres word sy en haar gesin na ‘n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms op ‘n verrassende wyse die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ‘n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen.
5

Hans steek die Rubicon oor – Rudie van Rensburg
Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.
6

Anton Goosen – Liedjieboer – Hanlie Retief
Na 40 jaar se rock ‘n roll in Afrikaans vertel die legendariese Anton Goosen nou sy volle verhaal, soos neergepen deur die bekroonde joernalis Hanlie Retief. Die vader van Afrikaanse rock skryf oor sy grootwordjare in die Vrystaat, sukses en roem, sy lewe op die langpad, die Musiek-en-Liriek-era, die hoogtepunte en teleurstellings langs die pad. Aangrypend, eerlik en vol humor: Dit is die lewe van Anton Goosen. ‘n Lewe teen die stroom op.
7

My stryd met ADHD – Hykie Berg
Hykie vertel in rou eerlikheid van sy stryd met ADHD. Van ‘n weerlose seuntjie wat nie kon stilsit nie tot ‘n jong man wat in Weskoppies opgeneem word en alles verloor. Hykie ondersoek die hele fenomeen van ADHD – hoeveel diagnoses daar gemaak word, hoe die medikasie ontstaan het, die samestelling en die newe-effekte daarvan. Hykie wys dat medikasie nie die enigste antwoord is nie. Hykie gee ook waardevolle raad aan Christene oor hoe om mense wat aan geestessiektes lei, te ondersteun.
8

Sasol Voëls van Suider-Afrika – Ian Sinclair, Phil Hockey, Warwick Tarboton, Peter Ryan
Die vyfde uitgawe van Sasol Voëls van Suider-Afrika is tans volledig bygewerk deur die deskundige skrywerspaneel, met bykomende bydraes van twee nuwe voëldeskundiges. Hierdie omvattende topverkopergids is grootliks verbeter en sal beslis sy plek behou as een van die mees betroubare veldgidse in Afrika.
9

Middernag – Sidney Gilroy
Die oorskot van ’n verminkte vierjarige word in die vroeë oggendure in ’n Frutti Tutti-roomyskarretjie aan die voet van Platberg in Harrismith ontdek. Kaptein Brummels besluit oornag om Parkwegstasie se bulhond, Sollie Mtembu, saam te sleep om ’n oudkollega van hom met die ondersoek te help.
Sollie lyk dalk na ’n onervare sersant wat dikwels oor sy eie woorde struikel, maar as hy iets beetkry, laat los hy nie. Sidney Gilroy se debuutroman, Klikbek, is met groot lof deur resensente en krimi-lesers ontvang. Almal stem saam dat sowel skrywer as speurder ’n groot aanwins tot die Afrikaanse krimikorpus is.
10

Donker Web – Fanie Viljoen
Greg Owen, voormalige hoofseun van Lawson Kollege en kuberkraker van formaat, is ‘n eerstejaar-Matie na die jaar waarin sy gesin se lewe uitmekaar val. Sy pa en Dok Pienaar is ontmasker as die Baker en die Candlestick Maker van Project Nursery Rhyme en is agter tralies. Maar wie en waar is die Butcher? Greg sal nie kan rus tot die derde lid van die gewetenlose driemanskap aan die pen ry nie. As jy wil wraak neem, moet jy twee grafte grawe.
WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom!
Klik hier.