Tydens die grendelperiode is dit maklik om in negatiwiteit te verval en selfs depressief te raak. Daar is soveel dinge wat skielik onherroeplik verander het … meeste daarvan buite ons beheer. Tog is die handhawing van ’n positiewe gesindheid iets waaroor ons wel invloed kan uitoefen. Ons het met motiveringspreker en skrywer, Albert van Wyk, gesels oor die beste maniere om die korrekte denkwyses deur hierdie moeilike tyd te behou.
Wenk 1: Handhaaf ’n roetine
Dit is baie belangrik om ’n roetine te handhaaf sodat jy op ’n klein skaal steeds produktief en suksesvol kan voel. Moenie verval in ’n posisie waar jy heeltemal bewustheid van tyd verloor nie. Die beste manier om dit te handhaaf, is om te hou by ’n roetine soortgelyk aan die een wat voorheen vir jou gewerk het. Staan vroeg op, trek mooi aan en identifiseer dan drie tot vyf takies wat jy kan voltooi. In Albert se geval is dit om elke dag joga, meditasie, Spaanse klasse en oefening te doen. Hierdie aktiwiteite sal eie tot elke individu wees. Maak ook gebruik van hierdie tydperk om daardie dinge te doen wat jy altyd graag wil doen, maar nie die tyd voor het nie.
Wenk 2: Kry ’n doelwit
Dit is belangrik om tydens die grendeltydperk ’n doelwit te hê. Doelwitte hou ’n mens gemotiveerd en gee ’n mens iets om op te fokus en na uit te sien. Maak seker jy het ’n doel wat jy met sekerheid kan najaag ondanks die onsekerheid rondom ons. Daar is talle opsies – maak tuin of bou legkaart. In Albert se geval is dit om aanlyn kursusse op sy webtuiste, Millionare at 22, te skep.
Wenk 3: Hou aan groei
Die vinnigste manier om negatief of depressief te raak, is as jy begin voel dat jy tot stilstand gekom het, of in agteruitgang gedompel is. Hierdie wenk hou dus verband met die eerste twee en fokus daarop om attent te bly op persoonlike groei en vooruitgang. Dit voel dalk dat die opsies daarvoor beperk is, tog is dit eintlik legio. Albert beveel byvoorbeeld aan dat ’n mens boeke lees of stokperdjies aanpak. Let ook op die daaglikse verbeteringe wat jy in jou roetine- en doelwit-items beleef en wens jouself geluk daarmee.
Wenk 4: Bly gesond
Dit is wetenskaplik bewys dat ’n gesonde leefstyl ’n groot invloed het op ’n gesonde en gelukkige verstand. Moet dus nie ophou om te oefen nie en eet reg. Kry ook daagliks ’n dosis vars lug – al is dit net om ’n koppie tee by die oop venster te geniet.
Ter afsluiting:
Die fisiese, emosionele en verstandelike impak van Covid-19 is onmiskenbaar. Met die toepassing van hierdie wenke is dit egter nie heeltemal onoorkombaar nie. Wees dus proaktief in die klein goedjies – dit maak ’n reuseverskil.
Afrikaans.com is passievol daaroor om inhoud te skep wat Afrikaanse persone oor ’n breë spektrum van onderwerpe inlig en bemagtig.
Albert van Wyk is ’n eiendomsbelegger en besigheidseienaar. Hy is ook die skrywer van die boek Millionaire at 22. Hy is passievol daaroor om mense toe te rus om finansieel onafhanklik te raak en is opgewonde om dit ook in Afrikaans te kan doen.
Vir Albert se topwenke vir voornemende entrepreneurs, klik hier.