As Suid-Afrikaners het ons al van die moeilikste omstandighede beleef en oorkom. Te midde van die Covid-19-pandemie, voel ’n mens egter opnuut bang en onseker. Dit is ook onmiskenbaar dat talle mense hulle werk en bron van inkomste gaan kwyt wees … Entrepreneur, skrywer en spreker, Albert van Wyk, het met Afrikaans.com gesels oor hoe om te werk te gaan om alternatiewe inkomstebronne te skep. Soos Albert graag sê: “Dit is moontlik, en dit is moontlik vir jou!” Hiermee sy topwenke om die eerste stappe tot entrepreneurskap te neem.
‘’As jy hierdie drie wenke volg sal jy jou tweede inkomste op die been kan kry. Dit gaan harde werk en lang ure neem, maar dit IS moontlik. Begin onder, begin vandag en werk jouself op. Elke treetjie wat jy gee neem jou vorentoe. Neem aksie en doen iets vir jouself waarvoor jou toekomstige self sal dankbaar wees. Neem hierdie grendeltydperk as die geleentheid waarvoor jy nog altyd gewag het en MAAK dit gebeur.‘’ – Albert van Wyk
Vind die besigheid wat reg is vir jou
Die kombinasie van passie en vaardigheid is die sleutel tot ’n suksesvolle besigheid – een wat ekonomiese resessies en persoonlike terugslae sal oorleef.
Albert vertel hoe hy oor die afgelope klompie jare met letterlik duisende besigheidsvoorleggings gekontak is. Menigmaal was daar voorleggings en voorstelle waarby hy graag betrokke wou raak … Tog het hy altyd besluit om toegewyd te bly aan sy drie primêre projekte – eiendom, sy webontwikkelingsmaatskappy Gazzaroo en sy finansiële-onderrigsprogram Millionare at 22.
Hierin lê twee belangrike lesse vir enige voornemende entrepreneur. Die eerste daarvan is dat dit wat vir ander werk, nie noodwendig die regte keuse vir jou is nie. Tyd is ’n rare kommoditeit en moet dus aangewend word aan projekte en in plekke wat die grootste sukses-waarskynlikheid vir jou mag inhou. Weereens is die eerste stap om jou passies, talente en vaardighede te ondersoek en daarvolgens te besluit watter besigheidsrigting lewensvatbaarheid het. Die tweede les, wat ook met die eerste een belyn, is om nie ’n besigheid te begin omdat dit ’n ‘’goeie besigheid’’ is om te begin nie … Vandag is eiendom die gonsindustrie en môre is dit fiksheid. As die idee jou egter nie aanspoor om nagte om te werk en deur moeilike tye te wil aanhou nie, gaan die besigheid in alle waarskynlikheid soos 70% van ondernemings in Suid-Afrika, binne die eerste twee jaar misluk.
Begin die besigheid wat net jy kan begin. Die besigheid wat jou laat oorborrel met opwinding.
Albert gedurende ‘n onlangse radio-onderhoud.
Albert spreek graag gehore toe.
Albert werk ook tans van die huis af.
Skep die regte finansiële fondasie
Kennis is die boublokke wat sal bepaal of jy uiteindelik sukses in ’n besigheid behaal, selfs al is die besigheid op jou passies en vaardighede baseer. Voor ’n mens kan begin geld maak, moet die regte grondslag dus gelê word.
Vir Albert beteken dit om soveel moontlik te leer by die persone na wie hy die meeste opkyk. Reeds vroeg in sy loopbaan het hy onderneem om sy besigheidskennis deur boeke, podsendings, video’s en seminare aan te vul. Hy meen dat gereelde inname van kwaliteit leerstof uiteindelik die binnewerke van jou brein en gedagtes verander. Op die langtermyn stel dit jou in staat om optimale besluite te kan neem en nuwe geleenthede binne jou industrie te kan raaksien.
Begin vandag
Talle entrepreneurs gaan sit vas in die beplanningsfase van ’n besigheid terwyl vele ander opgewonde vertel oor ’n idee, maar ’n veeleisende baas, wankelrige ekonomie of gebrek aan tyd blameer vir die feit dat dinge nooit werklik aan die gang kom nie. Wanneer ’n mens ernstig daaroor is om ’n besigheid te laat werk, moet jy vanuit die staanspoor besef dat daar baie hindernisse gaan wees. Daar gaan ook amper altyd ’n rede wees om nie te begin nie.
Albert meen egter dat die grootste leerskool (en pret!) aan die anderkant van alewige uitstel en verskonings wag. Wanneer jy die besigheidsidee identifiseer het en jouself met die aanvanklike kennis toegerus het om dit te doen … doen dit dan! Maak die eerste produk. Kontak die eerste kliënt. Stig daardie webtuiste.
Neem die eerste stap
Die navolging van hierdie stappe is moeiliker as wat dit mag klink … Jy kan ook verseker wees dat jy soms moedeloos en magteloos gaan voel. Maar, soos die gesegde tereg sê – wie nie waag nie, wen nie.
Vir ’n lys van Albert se topboeke vir voornemende entrepreneurs, klik hier.
Om Albert se webtuiste te besoek, klik hier.
Afrikaans.com is passievol daaroor om inhoud te skep wat Afrikaanse persone oor ’n breë spektrum van onderwerpe inlig en bemagtig.
Albert van Wyk is ’n eiendomsbelegger en besigheidseienaar. Hy is ook die skrywer van die boek Millionaire at 22. Hy is passievol daaroor om mense toe te rus om finansieel onafhanklik te raak en is opgewonde om dit ook in Afrikaans te kan doen. Vir meer oor Albert, klik hier.