Dit het alles in 2018 begin; een middag voor ’n koffie-afspraak met ’n vriendin. Karla Swanepoel het voor die ontmoeting vinnig haar eerste ontwerp aanmekaargeslaan deur die woord “Liplekker” op die voorkant van haar T-hemp te verf. Haar vriendin was gaande daaroor, en net daar is die idee vir Flink gebore.
Vandag is dit ’n Afrikaanse aanlyn klerewinkel wat uit sy nate bars.
Flink se stylvolle T-hemde bevat eg Afrikaanse woorde soos “Liplekker”, “Meisiekind”, “Sorgeloos”, “Koekeloer”, “Oogappel “ en “Sonvanger” en sluit selfs ’n reeks vir mans in met woorde soos “Breëbors” en “Vreesloos”.
Die idee om juis in Afrikaans besigheid te doen, spruit uit Karla se liefde vir haar moedertaal.
“Met die verkoop van my produkte het ek gou besef dat daar baie ander mense is wat my passie vir Afrikaans deel. Kliënte voel gemaklik om in hulle moedertaal met ons te kommunikeer. Dit is vir my net so lekker om besigheid in Afrikaans te doen,” sê sy.
Karla meen haar passie lê nie soseer by mode nie, maar eerder by die uitbeelding van kreatiwiteit op ’n manier wat ander kan waardeer en moontlik inspireer.
“Flink is nie net nóg ’n Afrikaanse T-hempreeks nie. Die T-hemde is slegs ’n uitbeelding van ons kreatiwiteit. Die detail op die mou is vir ons baie belangrik en ons wil graag hê dat mense die oorspronklikheid en uniekheid moet kan raaksien. Hierdie detail is wat ’n Flink T-hemp van ’n ander een onderskei.”
Een van die unieke kenmerke van ’n Flink T-hemp, is die detail op die mou.
Buiten hul gewilde T-hempreeks, het Flink ook onlangs hul eerste nagklerereeks bekendgestel.
“Dit was nog altyd deel van Flink se plan om die reeks nie slegs tot T-hemde te beperk nie. Ons het besluit op nagklere, omdat ons gevoel het dat daar ’n gaping in die mark is vir ’n meer moderne en unieke produk. Toe die regte tyd aangebreek het, het ons besluit om die mark te toets met ’n Slaapkous-pakkie,” sê Karla.
Die aantal Slaapkous-pakkies wat gemaak word, word beperk tot 25. Die materiaal word spesifiek uitgesoek en die pakkies word plaaslik deur een persoon gemaak om te verseker dat Slaapkous uniek bly.
Karla se droom is om Flink uiteindelik uit te brei met ’n groot verskeidenheid produkte, maar steeds uniek en oorspronklik te bly. Verder hoop sy ook om eendag mense in diens te neem en ander te inspireer om ook hul drome na te volg.
Wil jy ook een van hierdie mooi T-hemde hê? Stuur vir ons ’n e-pos na myafrikaans@afrikaans.com met jou naam, van en die kodewoord FLINK, en staan ’n kans om met ’n stylvolle T-hemp uit die Flink-reeks weg te stap.
Gaan loer ook gerus na ons vorige Produk van die maand. Klik hier.