Fanakalo
Die Verenigde Nasies het 2019 as die Internasionale Jaar van Inheemse Tale verklaar – die uitsluitlike doel om bewustheid te skep van die gevolg van die verlies aan inheemse tale asook die belangrike skakel tussen taal, welvaart, vrede en ontwikkeling.
Lees die Afrikaans.com-nuusverklaring hier.
Fanakalo – die lingua franca van die Suid-Afrikaanse mynbedryf
Menán van Heerden skryf ’n interessante artikel op LitNET oor die pidgintaal Fanakalo, die oorbruggingstaal van kommunikasie tussen mynwerkers (en ook mynwerkers en opsigters) in die Suid-Afrikaanse mynbedryf en gebaseer op ’n inheemse taal. Die frase fanakalo beteken “só” / “soos hierdie/dit” en dui op Fanakalo as ’n taal van opdragte/instruksies. Histories is dit via taalkursusse en instruksiehandleidings aan arbeiders en bestuurders onderrig, en deur die meeste mynmaatskappye aangebied. Dit is ook ’n handelstaal in landelike KwaZulu-Natal en in Suider-Afrika. In KwaZulu-Natal word dit in winkels, fabrieke en markte gebruik. Taalinvloede is Afrikaans, Nederlands, Engels, Zoeloe en Xhosa en Fanakalo se woordeskat bestaan uit ongeveer 70% Nguni, 24% Engels en 6% Afrikaans. Enkele voorbeelde gebaseer op Afrikaans/Nederlands:
- spor (Afrikaans: spoorlyn)
- mosha (Afrikaans: mors)
- skafu (Nederlands: schaften / kos eet)
- stul (Afrikaans: stoel)
Daar bestaan baie woorde- en fraseboeke vir Fanakalo, byvoorbeeld Woordeboek Afrikaans-Fanakalo, English / Fanakalo Dictionary (Yskor, Afdeling Onderwys en Opleiding, 1966) en Phrasebook, Grammar and Dictionary (Bold, 1951–1974).
Kitsfeite
Alhoewel Fanakalo nie ’n moedertaal is nie, is hierdie oorbruggingstaal van kommunikasie “’n skaars voorbeeld van ’n pidgin gebaseer op ’n inheemse taal eerder as op die taal van ’n koloniserende of handelsmag.” (Miningweekly.com)
Die Suid-Afrikaanse mynbedryf
- In 1867 is diamante in die Noord-Kaap gevind en in 1886 is die hoofgoudrif op die plaas Langlaagte op die Witwatersrand (naby Johannesburg) ontdek.
- Die Suid-Afrikaanse mynbedryf het massiewe mannekrag vereis.
- Arbeiders van oor die hele land en ander Afrika-lande het in die myne gewerk.
- Vandag is die Witwatersrandbekken die wêreld se grootste bron van goud.
Pidgintaal1 vir ’n veeltalige omgewing
Fanakalo word in die multinasionale en veeltalige myne van Suid-Afrika (asook die res van Suider-Afrika) as ’n oorbruggingstaal van kommunikasie tussen mynwerkers (asook mynwerkers en opsigters) gebruik.
- Hierdie kommunikasie versterk veiligheid en produktiwiteit in die myne.
- Fanakalo word ’n Suid-Afrikaanse pidgintaal genoem, asook die lingua franca van die Suid-Afrikaanse mynbedryf.
- Histories is dit elke dag in die werkplek gepraat.
Volgens Christo van Rensburg (Van Afrikaans gepraat, 2018) is Fanakalo “tot ’n paar dekades gelede nog op die goudmyne gebruik”. Verskeie artikels is die afgelope jare gepubliseer rakende die uitfasering / moontlike uitfasering van Fanakalo in die myne.2
- Arbeiders kom van verskillende gebiede binne Suid-Afrika; een mynoperasie kan veelvuldige tale soos Xhosa, Sotho, Tswana, Ndebele en Zoeloe insluit.
- Arbeiders kom ook van ander Afrika-lande, soos Mosambiek, Swaziland, Zimbabwe, Malawi en Angola. Arbeiders neem hul kennis van Fanakalo terug na hul eie lande. Fanakalo word ook in mynbedrywe in byvoorbeeld Zimbabwe gebruik.
- Fanakalo is histories formeel via taalkursusse en instruksiehandleidings aan arbeiders en bestuurders onderrig, en deur die meeste mynmaatskappye aangebied.
- Fanakalo word nie slegs op die myne gebruik nie. Dit is byvoorbeeld ’n handelstaal in landelike KwaZulu-Natal (en ook elders in Suider-Afrika, byvoorbeeld Zambië). Immigrantehandelaars van byvoorbeeld Gujarat, Indië en Pakistan moet met hul Zoeloesprekende klante kan praat. In KwaZulu-Natal word dit in winkels, fabrieke en markte gebruik.
Lees meer hier – die verkorte weergawe van die oorspronklike artikel deur Menán van Heerden
“Fanakalo: the language of mining culture” wat in 2017 op South African History Online gepubliseer is.