Geskryf namens die AON deur Lizette van Huyssteen
van die Practica Program
Wat is “gedeelde aandag”?
Gedeelde aandag is die spesiale interaksie wat tussen twee mense ontstaan wanneer hulle doelbewus saam aan ’n voorwerp of gebeurtenis aandag gee om daaroor te kommunikeer.
Babas kan aanvanklik nog nie doelbewus saam met iemand anders aan ’n voorwerp of gebeurtenis aandag gee om daaroor te kommunikeer nie. Hulle bemeester hierdie vaardigheid eers in die laaste drie maande van die eerste lewensjaar.
Babas se belangstelling in voorwerpe en hul belangstelling in sleutelvolwassenes ontwikkel aanvanklik langs mekaar, maar vanaf 8½ maande integreer die twee en begin hulle aan gedeelde-aandag-interaksies deelneem.
Hoe lyk “gedeelde aandag” in die praktyk?
Hier is voorbeelde van tipiese gedeelde-aandag-interaksies wat van 9 tot 12 maande voorkom:
- ’n Ouer of opvoeder kyk en wys na ’n voorwerp in die verte en die baba reageer deur sy of haar aandag ook op die voorwerp te fokus.
- ’n Baba kyk na ’n voorwerp, dan na ’n sleutelpersoon om te sien of die persoon ook daaraan aandag gee, en dan weer na die voorwerp.
- ’n Baba wys na iets en kyk na ’n ouer of opvoeder om te sien of die persoon ook daarna kyk.
Babas se latere verstandelike, sosiale en taalontwikkeling hang grootliks af van hoe goed hulle ‘gedeelde aandag’ bemeester.
Babas leer besonder maklik terwyl hulle saam met ’n sleutelpersoon aan iets aandag gee omdat ’n leeromgewing so ontstaan wat soveel inligting bevat dat (1) die babas verstaan wat gebeur en (2) hulle uit die konteks kan aflei wat woorde beteken.
Hierdie impak is so groot dat navorsers sê hulle kan voorspel hoe vinnig ’n 12-maande-oue baba later woorde sal kan leer uit die gemak waarmee hy of sy in gedeelde-aandag-interaksies betrokke raak.
Kan ons babas tydens die eerste 8 maande op hierdie belangrike ontwikkeling voorberei?
Ja. Beslis. Dit help baie wanneer ons babas vooraf doelbewus help om:
(1) ’n Sterk belangstelling in voorwerpe te ontwikkel,
(2) Gewoond te raak daaraan om basiese heen-en-weer-interaksies met sleutelpersone te hê, en
(3) ’n Veilige gehegtheidsband te ontwikkel met die volwassenes saam met wie hulle tydens die kritiese 9-12 maande periode baie tyd sal spandeer sodat hulle gemaklik sal voel om op daardie stadium gedeelde-aandag-interaksies met hulle te hê.
Wenke vir ouers en onderwysers
- Praat baie dikwels met babas van alle ouderdomme oor alles wat gebeur, wat hulle sien en wat die twee van julle dink en doen.
Begin so vroeg as moontlik.
Tree eerstens op asof jy ’n kommentator is wat alles beskryf. So wys jy vir ’n baba dat die wêreld ’n interaktiewe plek kan wees en dat dit opwindend is om in mense, voorwerpe en gebeure belang te stel.
Praat tweedens ook dikwels namens ’n baba.
Sê hardop wat jy dink die kind sou voel, dink, en wou weet as hy of sy ouer was, bv. “Die kombers is lekker warm. Dankie vir die kombers.”/ “Waar is Juffrou?”/ “Watter vreemde ding is dit hierdie? Kyk sy lang ore!”
- Reageer op babas se vroeë glimlaggies deur terug te glimlag en te gesels.
Jong babas glimlag eers instinktief; die gedrag word eers na ’n paar weke werklik sosiaal.
Wanneer ons getrou op hulle glimlaggies reageer help ons hulle om so vriendelik as moontlik te word.
- Reageer vanaf 2½ maande af gereeld op babas wat spontaan spraakgeluide maak.
Wanneer ’n baba ’n geluid maak wat klink of hy of sy wil gesels, sê iets soos: “Ja? Ek hoor vir jou? Wat sê jy vir my?” Wag vir nog ’n geluid en reageer weer – asof julle gesels. Herhaal hierdie heen-en-weer-interaksie soveel kere as wat gemaklik voel.
- Wees van 3½ maande af op die uitkyk vir babas wat wil oogkontak maak, en reageer daarop.
Babas leer op die ouderdom van 14 tot 16 weke om (1) oogkontak met ’n sleutelpersoon te inisieer en (2) om self oogkontak te verbreek om te rus en herlaai.
- Speel van 4 maande af ‘waar’s-hy-daar’s-hy’ (peekaboo) met babas.
Die voorspelbare verloop berei babas op die hoogtepunt voor. Die spel laat babas ontspan, verdiep ’n mens se verhouding met hulle, en lê ’n belangrike grondslag vir heen-en-weer-interaksies.
*Op hierdie vroeë ouderdom sal babas nog nie self lag wanneer jy die lap oplig en nie self ook lag nie. Hulle lag nou omdat hulle ’n ingebore drang het om die emosionele uitdrukkings van sleutelpersone na te boots.
- Speel van 4 maande af met ’n opgestopte diertjie wat naderkom om babas te kielie.
Sit of staan voor ’n baba en hou die diertjie ’n ent weg. Fokus die baba se aandag daarop deur self daarna te kyk en iets te sê soos: “Hier kom die hasie! Hy gaan jou kielie! Hier kom hy!” Herhaal die woorde terwyl jy dit nader bring. Kielie die kind dan daarmee terwyl julle lekker saam lag. Herhaal.
* Hierdie speletjie is besonder waardevol omdat dit babas voorberei om tydens die 9 tot 12 maande periode saam met ’n sleutelvolwassene op iets te fokus met die doel om daaroor te kommunikeer.
- Maak op 4 en 5 maande ’n speletjie daarvan om voorwerpe van voor af aan te gee.
Babas wat só oud is geniet dit om voorwerpe met twee hande voor hul bors (by die middellyn van hul liggame) vas te vat. Maak dus ’n speletjie daarvan om speelgoed en interessante voorwerpe reg van voor af aan te gee terwyl jy sê wat dit is en daaroor gesels. So help jy om hul belangstelling in voorwerpe te stimuleer terwyl hulle ook sommer oog-handkoördinasie ontwikkel.
- Wees van 6 maande af op die uitkyk vir wanneer ’n baba begin om sy of haar arms uit te steek om opgetel te word.
Reageer sover moontlik daarop, al maak jy net seker dat die baba weet jy sien dat hy of sy met jou probeer kommunikeer. Sê iets soos: “Ek sien jou! Ek sien jy wil hê ek moet jou optel. Gee my ’n kans – ek is nou-nou by jou!”
- Maak opmerkings en vra vrae oor die voorwerpe waarmee ’n baba besig is.
Ouer babas leer ontsettend baie wanneer hulle gereeld op ’n kombers sit met genoeg interessante voorwerpe binne hul bereik wat hulle kan optel, hanteer, en in hul monde kan steek om te voel hoe dit voel. Wag en kyk waarin ’n baba belangstel en gesels dan spesifiek dáároor. So berei jy hulle voor om later maklik self entoesiasties aan gedeelde-aandag-interaksies deel te neem.
Vra vrae en maak stellings, bv. “Wat het jy daar? Dis ’n ratel! Maak die ratel ’n geluid? Hoe klink hy? Ek hoor hy kan lekker raas! Oeps. Daar val hy!” Beklemtoon hoe jy jou aandag verskuif. Terwyl jy oor die voorwerp praat, kyk op ’n oordrewe manier daarna en wys met jou voorvinger. Kyk dan in die baba se oë en dan weer na die voorwerp. So demonstreer jy dat daar ’n verband is tussen jou belangstelling en die manier waarop jy na iets kyk en met jou voorvinger wys.
- Blaai dikwels saam met babas deur storieboeke om oor die illustrasies te gesels.
Dis vir ’n baba ’n intieme ervaring om op iemand se skoot te sit en saam deur ’n boek te blaai. Elke illustrasie is vir die kind soos ’n nuwe klein wêreldjie. Jy hoef nie alles op elke bladsy te lees as ’n baba nie lank op jou skoot kan sit en luister nie – vertel net die basiese storielyn. Lees dieselfde boeke oor en oor en gesels oor dieselfde voorwerpe om herhaling te verseker. Wag voor jy omblaai as jy sien dat die baba na iets anders kyk, en praat daaroor.
Verwysings:
- Lowry, L. (2022, February 10). Paying attention to children’s joint attention.
The Hanen Centre. Retrieved from https://www.hanen.org/informationtips/paying-attention-to-childrens-jointattention
- (PDF) The Development of Joint Attention and its Possible Role in Early Language Development
- Sensory Solutions. (2017, September 5). The benefits of sign language for
babies and toddlers. Retrieved from The Benefits of Sign Language for Babies and Toddlers’ – Sensory Solutions.
Hierdie artikel is met vergunning van die Afrikaanse Onderwysnetwerk geplaas. Besoek hul webtuiste om meer te leer.







