Skrywer: Nicolette Kritzinger
Die mens kan darem maar bitter wees.
Die tannie voor my in die winkelry trek haar mond soos ’n gedroogte pruim en stamp haar man in sy sy.
“Kyk nou net hier! Ek kan nie glo Checkers het al hul Kersversierings op nie. Dis nou eers Oktober.”
Ek kan dit glad nie hanteer nie. Ek dink eintlik ons moet al ons Kersversierings aan die begin van die jaar uitpak. Dan het ons die hele jaar iets om na uit te sien.
Ek is mal oor Kersfees. Dis die enigste dag van die jaar wat ek vyf keer kan gaan skep sonder dat iemand my oordeel. Ek slaan elke jaar my Kersboom al in April op en dwing my man om Mariah Carey se All I want for Christmas te speel elke keer as ons brood gaan koop.
Kerstyd is eintlik veronderstel om ’n tyd van feesviering te wees. Tog het die feestyd altyd die manier om die slegste in ons uit te bring.
Dis drie maande voor die groot dag en arme Jacomien waag dit om die woord “Kersfees” op die familiegroep te noem.
Dis nou daardie tyd van die maand wat jy water in jou sjampoebottel gooi en jou tandapastabuisie soos ’n zol rol om die laaste bietjie uit te pers. “Gaan ons vanjaar Secret Santa doen?” vra iemand op die familiegroep.
Ek sug. Ek gaan nou weer een van daardie Oh so Heavenly-geskenkpakke kry met ’n badwollie en twee lavender-roompies wat ’n sinusvoorval by enigiemand in ’n radius van 30 km gaan veroorsaak. Elke keer as ek daardie pers geskenkplakker aan die bokant van die boksie sien, dan wonder ek oor die ander twee siele wat slagoffers was van die Clicks “buy-two-get-one-free special”.
Volgende op die agenda: die kos.
Tannie Kobie spring dadelik in. Ons moet net onthou, haar klein Luka is vegetaries en allergies vir gluten, laktose, neute, plastiekbome en die kleur rooi.
My arme pa maak die onskuldige voorstel dat ons eerder op Kersdag moet braai.
Hy moes liewer nie. ’n Oorlog breek uit en beledigings word heen en weer geslinger. Dis die tipe goed waarvoor jy nie borgtog sal kry nie.
Tannie Kittie betree die geveg. Volgens haar sê dit baie duidelik in Eksodus dat jy kouevleis en slaai op Kersdag moet bedien!
Skaam my. Ek het dit seker misgelees.
Een van die dinge wat ek glad nie van ’n Suid-Afrikaanse Kersfees kan verstaan nie, is die oormaat kos.
Daar kan ’n skamele vier gaste wees en my ma sal steeds kook asof daar onverwags ’n ekstra dertig mense gaan opdaag en ’n stuk gammon gaan eis.
Die groot kook begin reeds twee dae voor die tyd.
Dis nou eers seweuur die oggend op Oukersdag en tannie Kittie het al drie keer gedreig om haar man te skei. Selfs die kat het al deurgeloop.

Alles wat roer word ingelê, geryg, gebak, gerol, gepiekel en gestol.
Ons vermoed dis wat met my nefie gebeur het. Almal sê hy het skielik Nederland toe emigreer vir werk. Maar ek sê jou nou, hy sit iewers in ’n ou Console-flessie langs die ingelegde perskes in tannie Kittie se kombuiskas.
Tannie Rienie is verantwoordelik vir die vleisbord. Sy het met trots aangekondig dat daar vanjaar ses verskillende vleise gaan wees. Dit maak my altyd effens bekommerd. Die bure se Yorkie het verlede jaar kort voor Kersfees spoorloos verdwyn en tannie Rienie was besonders stil oor die aangeleentheid.
En dan is daar die slaaie. Daar is sewe van hulle, elkeen met ’n onnatuurlike hoeveelheid mayonaisse. Suid-Afrikaners het darem die manier om enigiets wat die potensiaal het om jou maer te maak, te verander in ’n vlak 5-gesondheidsrisiko. Ag, wat is ’n bietjie cholesterol nou tussen familie?
En moenie dat ons van die kontroversiële trifle vergeet nie.
Oom Bennie se hand glip altyd “per ongeluk” met die sjerrie. Tannie Kobie het net liggies daaraan geruik toe sy die Glad wrap oor die bak verwyder het en ons sukkel nou al vir ’n uur om haar van die sitkamertafel af te kry. Sy is vas oortuig sy het die onderlyf en die vokale potensiaal om Jingle Bell Rock op te voer.
Die foelie is skaars af, dan duik almal in asof hulle nog nooit ’n gevulde eier gesien het nie. Voor ons ons oë uitvee, is alles verby. Daar is ’n groot stilte aan tafel.
Soos geswelde kaaspoffers sit ons en staar met skok en afgryse na mekaar.
Ek het nie geweet oom Bennie kan nog ronder word nie. My niggies het laatmiddag ’n toutjie aan sy voet vasgemaak en die storie loop dat hy nou nog soos ’n groot pienk ballon oor die strate van Bellville sweef.
Ten spyte van die afwesigheid van haar man, kondig tannie Kobie met groot fanfare aan dat klein Luka ’n sangitem gaan lewer: Feliz Navidad. Luka val in op ’n noot waaraan die menslike oor nog nooit blootgestel is nie. Dis ’n Kersfeeswonderwerk. Ek weet nie wat bewe meer nie: die trifle of Luka se stem as hy die hoë note slaan nie. Ek dink hierdie weergawe van Feliz Navidad tel as ’n kriminele oortreding in Spanje.
Na wat voel soos ’n ewigheid, rol almal soos gestopte frikkadelle huis toe. En net daar is die feesviering verby.
Nee. Dis waar jy die fout maak. Dan begin die ewige stryd met die oorskietkos.
Elke jaar, so ’n week na Kersfees, breek daar altyd ’n “onverklaarbare” maagaandoening uit.
Kom ek vertel jou die waarheid. Dis nie iets in die lug nie. Dis daardie weekoue noedelslaai wat veg om sy lewe in jou yskas. Ons het al vergeet van Kersfees, dan pluk iemand nog ’n ou roomysbak met oorskiet-tong uit. Die tong het al ’n lewe van sy eie ontwikkel. Om die waarheid te sê, ek het vanoggend ’n volle gesprek daarmee gehad. Dit het my gevra om dit asseblief te verlos van die Country Fresh-hel waarin dit al ’n week lank vasgevang is.

Ten spyte van al die drama, sien ek altyd met kinderlike opwinding uit na Kersfees.
Ek onthou die groot Krismisbed saam met al my niggies en nefies op Oukersaand. Die opwinding as ons die volgende oggend die spoor van Kersvader se stewel op die buitekant van die braai ontleed (die middernagtelike handewerk van my pa en oupa). Ek onthou hoe ons as kinders mekaar op Kersdag vir ure om die swembad kon jaag met ons splinternuwe watergewere en met trane en moeë lywe moes groet as die dag tot ’n einde kom.
Selfs as volwassene dra ek hierdie herinneringe saam met my gedurende die Kerstyd en wens ek hierdie kinderlike samesyn vir al die grootmense rondom my. Kan ons nie net vir een keer hierdie jaar vergeet van die bakleiery oor oupa se boedel, my niggie se kommin matriekafskeidrok of die manier waarop Kittie haar kinders dissiplineer nie? Kan ons net vir een dag om ’n tafel sit en vir ’n oomblik vergeet van alles wat ons gedurende die jaar verdeel het?
Mag ons feestafels vanjaar bult – nie met gammon of trifle nie, maar met liefde, dankbaarheid en begrip.
Ek sê nie ons moet mekaar soos kinders met watergewere om ’n swembad jaag nie, maar mag jy ten minste vanjaar ’n ekstra stoel of twee by jou Kerstafel voeg.







