Opsommend: Annelie van Jaarsveldt
In ‘n onlangse artikel op Maroela Media: Moedertaalonderrig: ‘Dis MOS ’n slim plan’ (27 Maart 2024) word berig dat Die MOS Inisiatief – ‘n privaat maatskappy wat in 2019 deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is – met ‘n slim plan vorendag gekom het om hul netwerk van Afrikaanse privaat skole wat ten doel het om gehalte-onderrig aan kinders van ses maande tot matriek te bied, nog verder uit te brei. Rudolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die MOS (Moedertaal in Onafhanklike Skole) Inisiatief sê dat die voorgestelde wysigings aan die Wet op Basiese Onderwys (Bela) en die gevolge daarvan vir Afrikaanse moedertaalonderrig, hulle genoop het om met dié plan vorendag te kom. Die MOS beklemtoon die belangrikheid van volgehoue gehalte moedertaalonderrig, juis omdat dit “leerders bemagtig om ten volle in die samelewing te kan integreer. Verder moedig dit wedersydse verstandhouding en respek vir mekaar aan en help om die ryk kulturele en tradisionele erfenis, wat deel van elke taal in die wêreld is, te beskerm.”
Volgens Van der Westhuizen voorsien hulle “uitsonderlike groei in die vraag na die hoëgehalteskole” in die MOS-netwerk, maar dat dit ‘n “kapitaal-intensiewe proses” is. Daarom het die MOS besluit om hul reeds sterk sakemodel uit te brei en “kapitaal by ondersteuners en beleggers te werf”.
Sê Van der Westhuizen: “Deur geldbydraes vir bykomende Afrikaanse privaat onderrig te werf, kan ons in ons ryk Afrikaanse kultuur belê en die toekoms van jong mense in ons land beskerm en uitbou.”
Unieke slim-effekte (skuldbriewe)
“Die beoogde slim-effekte gaan ‘n nuutjie vir Afrika wees, omdat dit as bewyse verhandel sal word op ‘n stelsel wat deur blokkettingtegnologie onderskryf word. Hierdie innoverende tegnologie sal die MOS in staat stel om die effekte aan ‘n groter groep beleggers beskikbaar te stel as wat die geval sou wees indien hulle tradisionele kapitaalmarkte gebruik het.”
Die MOS-slim-effekte word deur die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis (deel van die Dagbreek Trust) onderskryf en gewaarborg en het ten doel om R100 miljoen te werf om die MOS-netwerk van Afrikaanse skole uit te brei.
Belê in moedertaalonderrig
Beleggers kan van 11 tot 26 April op die MOS-slim-effekte inteken wat vir 10 jaar teen prima plus 2% uitgereik word. Van der Westhuizen glo dat die “vraag na die slim-effekte die aanbod wesenlik sal oorskry, aangesien mense die waarde van moedertaalonderrig verstaan”.
Mesh.trade (Mesh), ‘n Nederlandse maatskappy met sakebelange in Suid-Afrika se wêreldklas- digitale kapitaalmark-ekosisteem en uitgebreide kennis van finansiële markte en produkte sal aangewend word om die MOS-slim-effek se sukses te verseker. Mesh se unieke stelsel maak dit moontlik om slim-effekte in die alternatiewe finansiële en privaat kapitaalmarkte uit te reik, te verhandel en te bestuur.
Die ekonoom, Dawie Roodt, het die volgende oor die nuwe bateklas gesê: “Dis sal ongetwyfeld ‘n presedent skep te opsigte van die wyse waarop ander plaaslike ondernemings in die toekoms kapitaal sal werf. Boonop bied dit nuwe geleenthede aan beleggers wat toegang kry tot unieke bates waartoe hulle nie noodwendig vantevore blootstelling gehad het nie.”
Van der Westhuizen noem ook dat die MOS-slim-effekte die eerste korporatiewe effek is wat as ‘n slim-effek in Afrika uitgereik sal word. “Beleggers het die geleentheid om rojale opbrengste te verdien op ‘n belegging waarvan die risiko redelik bestuur word, terwyl hulle terselfdertyd ‘n beduidende en belangrike bydrae tot die beskerming van Afrikaans as onderrigtaal sal maak.”
Gaan lees gerus die volledige artikel op Maroela Media Moedertaalonderrig: ‘Dis MOS ’n slim plan’ | Maroela Media