Saamgestel deur Annelie van Jaarsveldt
Dis nou amper tyd vir die eksamen en dit bly maar ’n spanningsvolle tyd in leerders (en hul ouers) se lewens. Dalk volg jy reeds hierdie studiemetodes, maar vir diegene wat tot nou toe nie met ’n plan geleer het nie, het Afrikaans.com so ’n paar wenke saamgestel. Hou in gedagte, dit is beter om elke dag jou deel te doen en nie net te studeer wanneer die eksamen om die draai is nie. Herhaling bly steeds een van die beste maniere om daardie skoolwerk onder die knie te kry. En as jy boonop gereeld opsommings maak van jou werk, is die stryd al half gewonne teen die tyd dat jy begin hersiening doen vir die eksamen.
Nou hoe maak jy?
- Stel vir jou ’n studierooster op. Begin altyd met die vakke waaraan jy weet jy die meeste tyd gaan spandeer.
- Wanneer dit by die “groot” vakke kom, is dit raadsaam om die vak in kleiner gedeeltes te verdeel (want … as jy ’n olifant moet eet, is dit maar die beste om dit happie vir happie te doen!).
- Hoe lank jy aanmekaar studeer, hang van jou af, maar dit kan enige iets tussen 30 minute en ’n uur wees, voordat jy eers weer moet rus.
- Neem gereelde ruskansies van ongeveer 10 minute op ’n keer sodat jou brein geleentheid het om dit wat jy so pas geleer het, in te neem en vas te lê. Om te beweeg, is ook goed vir jou bloedsomloop en postuur.
- Kom weg voor jou lessenaar – al gaan loop jy net ’n draai in die tuin of gaan skink vir jou koeldrank.
- Eet gesond en drink genoeg water.
- Rus en slaap veral genoeg. As jy agt/nege ure per nag kan slaap, kan dit jou net baat en sal jy beslis met ’n uitgeruste brein kan eksamen skryf.
- Dit gaan van jou afhang wanneer jy die beste studeer – oggend, middag of aand – solank jy uitgerus is voordat jy begin leer. En as jy klaar geleer het, is ’n slapie aan te beveel, want dit gee jou liggaam en brein kans om te rus en wanneer jy dan die werk moet herroep, sal jy ervaar dat dit makliker is.
Jou studieomgewing
- Dit moet stil wees met genoeg lig en vars lug.
- ‘n Gemaklike stoel is noodsaaklik.
- Goeie beligting is belangrik.
- Moet liefs nie op jou bed sit en leer nie – voor jy jou oë uitvee, verloor jy konsentrasie en kort voor lank is jy vas aan die slaap. (En al lê jy nou ook met daardie boek onder jou kopkussing, die werk gaan nie vanself in jou brein inspring nie!)
- As jy beter leer met musiek in die agtergrond, is dit reg so, maar maak seker dat die lirieke nie jou aandag aftrek nie – in dié geval is instrumentele musiek beter.
Wat moet jy doen voordat jy eksamen gaan skryf?
- Sorg dat jy uitgerus is – moenie direk voor die eksamen nog probeer leer nie. Sorg dat jy die vorige dag klaar gestudeer het.
- Maak seker alles wat jy tydens die eksamen sal nodig kry, is reeds bymekaar en staan betyds op sodat jy nie hoef te jaag nie.
- Probeer om aan ander goed te dink, want dit sal help dat jy nie angstig voel oor die eksamen nie.
- Moenie op die dag van die eksamen met jou maats oor die leerwerk gesels nie, want die kanse is goed dat jy gaan begin twyfel of jy genoeg geleer het en dit kan dan tot onnodige angs lei.
- Haal 10 keer diep en stadig asem voordat jy die vraestel oopmaak en deur die vrae lees.
- Hou ’n bottel water byderhand en drink so nou en dan tydens die eksamen ’n paar slukkies. Dit help om jou brein “geolie” te hou.

Raad om die vraestel te beantwoord
- Beplan jou tyd deur eers deur die hele vraestel te lees.
- Beantwoord nou die kort vrae eerste.
- Takel daarna die vrae waarvan die antwoorde uit een of twee sinne bestaan.
- Beantwoord heel laaste die lang vrae. Maak net seker jy ken ’n bepaalde tyd toe aan elke vraag. As jy nie binne die geallokeerde tyd vir daardie vraag, kan klaarmaak nie, beweeg eers na die volgende vraag. Indien daar tyd oor is, kan jy teruggaan na die vrae wat nog nie klaar is nie.
- Moenie onnodig talm oor vrae waaroor jy onseker is nie. Maak ’n merkie daarby en gaan solank na die volgende vraag. As jy al die vrae beantwoord het wat jy ken, kan jy teruggaan na die vrae waar jy onseker was.
- Probeer om al die vrae te beantwoord, al moet jy soms ’n raaiskoot waag. Wie weet, dalk raak jy reg en dan kry jy darem ’n punt.
- Indien jy nog tyd oor het, lees deur jou vraestel en maak seker dat jy al die vrae beantwoord het en nie dalk iets gemis het nie.

Wat kan ouers doen?
- Aanmoediging en positiewe ondersteuning is hier die belangrikste.
- Nie alle kinders is A-plussers nie, maar as jou kind sy beste lewer, maak seker hy weet dat dit goed genoeg is. Veral tieners se selfbeeld kan maar broos wees.
- As jy agterkom jou kind sukkel, doen alles in jou vermoë om hom te help om sy werk baas te raak. Dalk is ’n kort kursus in doeltreffende studiemetodes die antwoord. Of dalk het hy hulp nodig om ’n eksamenrooster op te stel. Kortom, stel belang in jou kind se doen en late.
- Maak voorsiening vir jou kind se studiegewoontes – veral die tye wanneer hulle die beste leer – en probeer om die res van die gesin te motiveer om hom te akkommodeer en nie onnodig lawaai te maak of sy aandag af te trek nie.
- Beplan tye om iets lekker saam te doen, sodat jou kind kan wegkom voor die boeke en net ’n uur of twee kan ontspan.
- Gesonde voeding en rus is belangrik. Hou gesonde peuselkos byderhand en beperk maar die suiker en leë kalorieë, maar ’n bederfie so nou en dan gaan nou ook nie skade doen nie.
- Moedig jou kind aan om steeds te oefen. Na so ’n oefensessie is die brein weer lekker wakker.
- As jou kind liewer in die aand wil studeer, is ’n middagslapie aangewese.
- Maak ’n reël ten opsigte van toestelle soos selfone, televisie, ens. en beperk die gebruik daarvan terwyl hulle vir die eksamen moet voorberei..
Sterkte met die eksamen!
Bron:
Studiewenke: Haal die Angel Uit Eksamenskryf met Hierdie Nege Studiewenke (edubloxsa.co.za)