Fanie Viljoen (Krag) en Jan Vermeulen (Veergewig) is ou hande wanneer dit kom by die skryf van boeke vir tieners en jongmense. Beide van hulle het onlangs boeke uitgegee met temas wat oorvleuel – hoe leerders sport en oefening inspan om raakgesien te word; hoe dit soms jou lewe oorheers en wat die nagevolge is wanneer jy nie jou oog op die bal hou nie. Ons het by die skrywers gaan inloer en meer oor die twee boeke uitgevind.
Meer oor Krag
Fanie Viljoen se boek, Krag, handel oor Alden Valentyn wat wil hê meisies moet hom raaksien – op Instagram en in die regte lewe. Ongelukkig is hy nie soos een van daardie spiertiere wat mens op sosiale media sien nie. Daarom besluit hy om te begin gym, maar selfs dit is later nie genoeg nie – hy het hulp uit ’n bottel en ’n naald nodig … Maar liggaamsbou is nie sommer ‘n tema wat mens in boeke raaklees nie. Fanie het besluit om die tema aan te pak, want hy oefen ook graag met gewigte en sien hoe mense hulself druk om swaarder ysters op te tel en meer spiere te bou. Die dag toe hy ’n gebruikte inspuiting in ’n gymasblik sien, het hy geweet waaroor sy volgende boek moet handel.
Fanie, die hoofkarakter is nie tevrede met wie hy is nie, hy voel nie of hy behoort nie. Hoekom dink jy is hierdie so ‘n groot probleem onder tieners en jongmense?
Sosiale media skep onrealistiese verwagtinge by tieners. Hulle is dikwels onder geweldige druk om ook daardie lyf of leefstyl te hê. As hulle dit nie kry nie, lei dit tot ‘n gevoel van nie-aanvaarding en ‘n gebrek aan selfvertroue.
Watse persoonlike raad het jy vir kinders/tieners wat minderwaardig voel?
Aanvaar jouself soos jy is. Moenie jouself vergelyk met ander nie, maar fokus op jou eie unieke kwaliteite en sterkpunte. Praat met iemand wat jy vertrou, soos ‘n ouer, familielid of skoolberader, wat jou kan ondersteun en help om jou selfbeeld te verbeter.
Hoekom sal jy die boek vir skole aanbeveel?
Die temas van selfaanvaarding en sosiale druk sal spreek tot tieners. Dit kan ook ‘n geleentheid bied vir klasbesprekings en die bevordering van emosionele intelligensie onder leerders. Die skryfstyl is ’n verdere bonus en sal sukkelende lesers aan die lees kry, want daar is nie moeilike woorde in nie. Die sinne is ook kort en maklik verstaanbaar. Krag is daarom ’n voorbeeld van ’n “High/Low”-boek. Dit het ’n hoë belangstellingsvlak, maar is geskryf vir lesers met ’n lae leesvlak.
Oor Veergewig
Jan Vermeulen se Veergewig handel oor Talia Bekker, ’n aangenome kind wat in ’n gewone omgee-gesin grootword. Sy voel egter dat sy letterlik in die bokskryt moet veg om as ’n ware Bekker aanvaar te word, teenoor haar tronkvoël-broer wat as ’n Bekker gebore is. Eindelik vind sy dat die grootste geveg om identiteit, innerlik in haar diepste wese geveg moet word.
Hoekom het jy besluit om boks as tema aan te pak?
Soeke na en ontdekking van eie identiteit is altyd deel van die mens se grootwordproses. Veral in die lewe van tieners raak die soeke intens. Ek het gedink tienerfiksie met die milieu van amateurboks kan ’n heel nuwe invalshoek op die vraagstuk vir skrywer en leser bied. Boks is die een kontaksport waar jy op jou voete moet bly of weer vinnig op jou voete moet kom as jy wil wen. Maar jy moet ook jouself leer ken, jou sterkpunte en jou brooshede, as jy wil wen. Maak nou die hoofkarakter ’n meisie wat boks en jy skep ’n unieke situasie wat nog bitter min indien ooit in die Afrikaanse tienerliteratuur aangebied is; wat hopelik vir ’n nuwe leeservaring sal sorg.
Die hoofkarakter is nie tevrede met wie sy is nie, sy voel om duidelike redes nie of sy behoort nie. Hoekom dink jy is hierdie so ‘n groot probleem onder tieners en jongmense?
Tieners bevind hulle in ’n seisoen van selfontdekking waar faktore soos groepsdruk, onrealistiese verwagtinge (self óf van ander), boelies, selfrealisering en ontluikende hormone hulle soos vreemdelinge in ’n vreemde wêreld kan laat voel.
Ons leef in ’n prestasiegerigte samelewing waar iemand se waarde (worth) te dikwels gemeet word aan hoe hulle lyk, wat hulle agtergrond is, wat hulle reeds bereik het in die lewe en watter potensiaal of ambisie hulle toon om selfs tot nog hoër hoogtes uit te styg. Hoewel dit in wese wonderlik is om jou volle potensiaal in jou lewe te ontwikkel, kan tieners en jongmense maklik begin voel dat hul ware, innerlike menswees, hulle innerlike identiteit nie vir die wêreld belangrik genoeg is nie. In hul proses en ‘gevegte’ om aan ander se standaarde te voldoen, kan hulle begin twyfel of hul innerlike self goed genoeg is. So kan hulle vervreem raak van hulle ware identiteit en eindelik voel dat hulle nêrens hoort nie en hulle is niemand, behalwe wanneer hulle presteer (maar dan ervaar hulle weer in stilte ’n groot verlies aan hulleself).
Watse persoonlike raad het jy vir kinders/tieners wat minderwaardig voel?
Word en wees jou eie ‘beste maatjie’:
Ontdek jou uniekheid. Onthou, elke persoon, selfs die bekendste helde, het hul eie sterkpunte en swakpunte. Niemand is volmaak nie en niemand maak nooit foute nie. Alle mense het iets besonders wat hulle spesiaal maak, jy ook! Almal is goed genoeg om hulleself te wees, jy ook!
Moet jou dus nie met ander vergelyk nie en moenie van jouself slegpraat nie, nie eens in jou gedagtes nie. Gooi enige negatiewe oortuigings oor jouself uit jou kop uit. Vervang dit met positiewe gedagtes oor jouself. Fokus op jou eie vordering en persoonlike doelwitte. Fokus daarop om jou eie talente en belange te ontdek en te ontwikkel. Herinner jouself daaraan dat elkeen ‘n unieke pad en doel op aarde het, en onthou jou reis is uniek vir jou. Net jy kan daardie reis voltooi.
Sorg vir jou liggaam én jou emosies. Doen gereelde fisiese oefening, geniet ’n stokperdjie, kweek gesonde eetgewoontes aan en slaap genoeg. Wanneer jy emosioneel gesond voel en fisiek gesond lyk, kan dit jou selfvertroue en selfbeeld verbeter. Stel vir jou bereikbare doelwitte: Breek jou aspirasies op in klein, haalbare doelwitte. Wanneer jy enige mylpaal bereik, verhoog dit jou vertroue en gee ‘n gevoel van prestasie. Vier jou suksesse, ongeag hoe klein dit mag lyk.
Praat gereeld jou hart uit by iemand wat verstaan:
Moenie huiwer om ‘n betroubare volwassene soos ‘n ouer, onderwyser of berader te nader wat ondersteuning kan bied nie. Hulle kan jou help om jou gevoelens uit te sorteer en perspektief te kry oor jou selfwaarde. Omring jouself met positiewe invloede. Party noem dit ‘talking cure’. Spandeer tyd saam met ondersteunende vriende en familielede wat jou waardeer vir wie jy is. Gevoelens van minderwaardigheid word nie oornag oorwin nie. Soms neem dit ’n leeftyd. Wees geduldig met jouself en vertroetel jouself. Met vasbyt en ‘n positiewe ingesteldheid kan jy selfvertroue opbou en jou ware waarde ontdek en voluit uitleef.
Hoekom sal jy die boek vir skole aanbeveel?
Veergewig neem die allerbelangrike kwessie van tienerwees op: Selfontdekking. Eie identiteit. Wie is ek? Hoekom is ek? Dit is ’n tema en ’n verhaal wat seuns én meisies sal boei, daarvoor sorg veral die boks-milieu. Verder word van die belangrikste vraagstukke van die tienerlewe en skoollewe aangeraak. Subtemas soos gesinsverhoudinge, vriendskappe, boeliegedrag, groepsdruk, eerste liefde vs hormonale ontwaking, vergifnis, emosionele rypwording, deursettingsvermoë, eerlikheid en respek vir ander mense word onder die loep geneem. Die storie kom tot ’n hoogtepunt en afsluiting, maar het ook ’n ‘oop einde’ wat in ag neem dat geen tiener in graad tien klaar grootgeword het nie.