Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Dis nou daardie tyd van die jaar, wanneer humeure kort is, spanning hoogty vier en jou matriekkind elke nou en dan in trane uitbars of die kamerdeur dawerend toemoker. Dis eksamentyd. Na twaalf jaar het die “oordeelsdag” aangebreek. Nou ja, darem nie heeltemal so dramaties nie … Teen dié tyd is die langverwagte matriekafskeid iets van die verlede (en laat ons liewer nie daaroor uitwei nie) en al wat nou voorlê, is die eksamen en dan … vakansie! Oftewel, MATRIEK-vakansie. Jou kind dink dis nodig en ‘n absolute moet. Jy as ouer deel nie noodwendig in die vreugde nie. Wat staan jou te doen? Weier jy dat jou kind gaan, is die drama daaraan verbonde ‘n Oscar werd. Laat jy dit toe, lê jy dalk nagte lank wakker – jy het immers die video’s op die internet gesien. Hoe dit ook al sy … matriekvakansie is ‘n realiteit vir die meeste matriekouers en daarom moet ‘n mens die perd maar na die beste van jou vermoë opsaal en hoop jy val nie af nie. En ons praat nie eers oor die koste daaraan verbonde nie!
Die belangrikste oorweging is dat ons wil hê ons kinders moet veilig wees en in een stuk terugkom huis toe. Daarom het ouers en kinders sekere verantwoordelikhede in die verband.
In die artikel poog Afrikaans.com om die saak van albei kante af te beskou. Hoe moet ouers dit hanteer en hoe moet die matriekkind dit hanteer? Mag jy as ouer weier? Wat gemaak as daar eenvoudig nie geld is nie? Daar is natuurlik nie ‘n resep om te volg nie, want kinders en omstandighede verskil, maar die algemene beginsels bly dieselfde.
Eerste smakie van vryheid
Vra die meeste jongmense wat so ‘n matriekvakansie gehad het, en hulle sal vir jou sê dat dit een van die beste tye van hulle lewens was en dat hulle dit weer sou doen as hulle kon. Dit is iets waarna hulle uitsien – daardie geleentheid om vir die eerste keer as “volwassene” alleen saam met hulle vriende te gaan vakansie hou.
Aanvanklik was dit ouers se manier om hulle kinders te bederf, maar mettertyd het diegene met die oog op wins, begin om matriekvakansies te begin bemark en gaan baie van ons matrieks deesdae na spesifieke plekke, soos onder andere die Plett Rage in Plettenbergbaai, Matriekbaai in Mosselbaai, Margate en Hermanus. Omdat ‘n mens dikwels gruwelstories hoor (en sien) van wat alles op so ‘n vakansie gebeur, is baie ouers natuurlik huiwerig en met reg besorg, maar volgens diegene wat daar was, is die stigma aan matriekvakansies gekoppel, meestal ongegrond en word dit dikwels uit verband uit geruk. Hou dit ook al sy, mense en omstandighede verskil, en dit is waar respek, opvoeding en vertroue inkom. Die meeste van ons maak foute. Daarom … gesels vooraf met jou kind, praat oor die misbruik van dwelms en drank, gesels oor onbeplande swangerskappe en seks met minderjariges. Wys hulle op die gevolge van onverantwoordelike optrede (soms kan dit selfs ’n kriminele rekord tot gevolg hê) – en dan … vertrou jou kind.

Groepsdruk: Liewer dood as uit die mode!
Groepsdruk of portuurdruk is die druk wat lede van ’n portuurgroep op mekaar plaas om te doen wat die groep doen. Daar word dus van die individu verwag om sy gedrag, gesindheid en waardes te verander om in te pas by die groter groep. Spesifiek die soort situasie wat tydens ‘n matriekvakansie kan voorkom.
Hoekom swig jongmense voor groepsdruk?
Dit is maar omdat die meeste van ons graag gewild wil wees, wil inpas en bang is ons word gespot omdat ons nie doen wat die ander doen nie. Jy wil tog net nie ‘n sissie of bangbroek genoem word nie en beslis nie eenkant toe geskuif word nie! Soms is dit daardie nuuskierige geen wat die oorhand kry – om iets nuuts of opwindend te probeer – en dan sneuwel gesonde verstand dikwels. Die meeste van die tyd het dit niks te doen met hoe ‘n kind grootgemaak is nie. So, hoekom gebeur dit? Hoekom tree hierdie oënskynlike “ordentlike” kind so onverantwoordelik op? Hoekom lyk risikogedrag skielik so aanloklik?
Positiewe groepsdruk
Dit is wanneer maats mekaar aanmoedig om positiewe dinge te doen – soos om akademies te presteer, aan sport deel te neem, en so meer. Op die oog af nie iets om oor bekommerd te wees nie, hoewel dit sommige kinders onder groot druk kan plaas.
Negatiewe groepsdruk
Om deel van die groep te wees, is die meeste jongmense se strewe, maar volgens navorsing is dit juis hierdie sosiale aanvaarding wat “die waarskynlikheid van risikogedrag verhoog”. Dit is daarom juis die “gewilde kind wat die maklikste onder groepsdruk swig omdat hulle die meeste waarde aan hul portuurgroep se opinies heg”. En blykbaar ervaar meisies die meeste druk in die verband.
Sosiale media speel ook ‘n rol en het dikwels ‘n groot invloed op die jongmens se selfvertroue en twyfel hulle dikwels aan hulle identiteit. Die grootste nadeel van groepsdruk, is dat dit “tot depressie, ongewildheid, seksuele losbandigheid en dwelmmisbruik kan lei”.

Jy kan maar “nee” sê, hoor!
Ons weet dis moeilik om teen negatiewe groepsdruk op te staan, maar jy kan. Staan by jou waardes en beginsels en “kies vriende wat dieselfde oor dinge voel as jy sodat julle saam kan ‘nee’ sê in situasies waarin jy voel jy word gedwing om iets te doen wat jy nie wil doen nie”. Onthou: As jy nie seker, of ongemaklik in ‘n situasie voel, se liewer “nee”. Spyt kom altyd te laat.
So wat nou as jou ouers botweg weier of dit gewoon nie kan bekostig nie?
Gielie Hoffmann sê die volgende in ‘n 2018-artikel op Maroela Media: “Dalk is daar ‘n plek nader aan die huis wat goedkoper is, of rustiger met minder moeilikheidmakers. Onthou, jou doel is om ‘n paar dae lekker te ontspan met skoolpelle – ‘n laaste herinnering voor julle paaie dalk skei.”
Gielie sê ook ‘n mens kan die ervaring op baie verskillende manier kry. “Wees kreatief, onderhandel en wys jou ouers hulle kan jou vertrou. Spaar van jou eie geld. En as jy gaan, geniet dit. En wys jou ouers jy is reg vir die nuwe lewensfase.”
Ten slotte:
Matriekvakansies is hier om te bly. Daarom is dit belangrik om daarvoor te beplan en vroegtydig daaroor te gesels. Dit is jou rol as ouer om jou kind te wys op die gevare wat die dikwels voortvarende jeugdige nie altyd raaksien of besef nie en dan na die beste van jou vermoë te sorg dat hulle veilig bly en in een stuk huis toe kom. Hierdie laaste kuier saam met skoolmaats voor hulle ‘n nuwe fase in hulle lewens betree, bly vir die meeste van ons jongmense belangrik en iets waarna hulle met groot verwagting uitsien.

Nuttige wenke om die matriekvakansie glad te laat verloop.
Die meeste organiseerders het streng reëls wat aan gehoor gegee moet word, het gewoonlik sekuriteit oral en sorg vir pendelbussies om die jongklomp veilig rond te ry. Hier is egter nuttige wenke deur Netcare en Netcare 911 saamgestel en op Solidariteit se webtuiste raakgelees.
Matriek: Maak seker jou ouers het die volgende inligting voor jy op daardie bus, vliegtuig, of in daardie motor klim:
- Die kontakbesonderhede van ten minste twee maats wat saam met jou met vakansie gaan – ook die van hulle ouers.
- Die naam en adres van jou akkommodasie.
Nuttig om byderhand te hê:
- Laai die mySOS-toep af (https://mysos.co.za/index.php) en laai al die nodige besonderhede sodat nooddienste, insluitend paramedici, jou ligging en ander belangrike inligting maklik van die toep kan bekom indien jy jouself in ‘n noodsituasie bevind.
- ‘n Basiese noodhulpsakkie – met onder andere pleisters, antibiotiese salf en pynpille in – jou apteker kan hiermee help.
‘n Motor is nie ‘n speelding nie! En dis nie oukei om onder die invloed van dwelms en alkohol te bestuur nie.
- Wie ook al bestuur, die persoon moet ‘n geldige bestuurslisensie hê.
- Maak baie seker daar is ten minste een persoon met ‘n lisensie wat nugter bly – dit beteken die persoon mag nie alkohol of dwelms gebruik nie – sodat hy die motor kan bestuur.
- Die motor wat julle gebruik moet padwaardig en veilig wees.
- Die persoon wat bestuur se aandag mag nie afgelei word terwyl hy bestuur nie. Hou die lawaai, rondrits en harde musiek vir later.
- Moenie moeg bestuur nie – dis net so sleg as om dronk te bestuur.
- Gebruik liewer taxi’s of ‘n pendeldiens as jy in ‘n vreemde plek is of nie in staat is om self met veiligheid te bestuur nie.
By die jol!
- Koop verkieslik net drankies in verseëlde botteltjies of blikkies. As jy wel ‘n drankie in ‘n glas bestel, koop hom self en pas hom op. Moenie iets te drinke of te ete aanvaar van iemand wat jy nie goed ken nie.
- Bly maar weg van dwelms – selfs al sê die persoon dis ‘n pil vir jou kopseer.
- Maak staat op jou instink. As jy ongemaklik, onveilig of bang voel, verlaat die situasie onmiddellik.
- Moet NOOIT alleen uitgaan nie – veral nie saans nie. Sleep maar liewer jou maters saam en bly in die groep.
Die see is nie jou maat nie
- Luister maar vir die lewensredders en hou by die reëls. Jy is nie in ‘n episode van Baywatch nie.
- Jy mag nie in die openbaar drink nie, maar dit verhoed nie dat jy dalk onder die invloed gaan wees nie. Onthou net: Moet nooit onder die invloed swem nie.
- Dit is beter om saam met ander te swem, maar as jy alleen wil gaan swem, maak seker jou vriende weet waar jy gaan swem en hoe lank jy gaan weg wees.
Die son kan gevaarlik wees
- Dit is belangrik om in die buitelug te kom en die son op jou vel te voel – vir vitamien D en goedvoelhormone – maar dis net so belangrik om voorsorg te tref sodat jy nie brand en/of sonsteek kry nie.
- Gebruik ‘n ordentlike sonblokmiddel (nie kookolie, babaroom of iets dergeliks nie).
- Beperk jou blootstelling aan die son. Gaan sit maar onderdak of onder die sambreel – niemand gaan dink jy is ‘n sissie nie. Sonbrand, veral waar blase vorm, is nie net gevaarlik en seer nie, maar dis letterlik ook nie cool Glo my, niemand wil soos ‘n pruimedant lyk op dertig nie.
- Drink baie water om gehidreer te bly. Die kodewoord hier is WATER. Nie alkohol nie, want al les daardie koue bier jou dors, het dit ‘n dehidrerende effek.
Ouers – wat van die een?
2022 se #NetMATRIEKS-bootreis – 5 – 9 Desember 2022
Die gewilde matriekvakansie aan boord van die luukse MSC Orchestra gaan vanjaar groot. Die lys kunstenaars en bekendes wat gaan sorg vir vermaak en laataandkuiers, sluit die gewilde duo, Droomsindroom en die populêre TikTok-ster, Chané Grobler, in. Dan is daar ook Timo ODV, Early B, Katinka, Brendan Peyper en Marciel Hopkins om na uit te sien en wat gaan sorg vir fantastiese vermaak en laataand kuiers.
#NetMATRIEKS-bootreis is ’n jaarlikse instelling waar graad 12’s die geleentheid kry om in ’n veilige omgewing, saam met matrieks van regoor die land, hulle skoolloopbaan op ’n luukse en luilekker hoogtepunt af te sluit.
Hierdie heerlike wegbreek bied turkoois swembaddens, liplekker-etes (soveel as wat jy kan eet), luukse verblyf, ʼn eilanduitstappie na Pomene en opwindende vermaak teen ’n bekostigbare prys.
Vanaf SLEGS R7 266 per persoon wat deel, kan jy ook nog deel wees van hierdie eens in ’n leeftyd ervaring. Kajuit, etes, vermaak, vertonings, danspartytjies, teatervertonings en die besoek aan Pomene is alles ingesluit in die prys.
Daar is baie oë en ore op die skip en die personeel van MSC doen alles in hulle vermoë om die passasiers ten alle tye veilig te hou. Boonop kan jy en jou maats nie onder die invloed van alkohol agter ʼn motor se stuurwiel inklim nie. Maak seker jy mis nie die skip nie, want hy raak nou vinnig vol!
Besprekings kan direk by MSC by 087 630 0333 of 011 844 6073 / www.msccruises.co.za/cruise-deals/theme-cruises/net-matrieks-bootreis gedoen word en onthou om te sê jy bespreek vir die #NetMATRIEKS-bootreis.
Bronne:
Matriekvakansies: Hoe om veilig die tyd van jou lewe te hê – WelstandWelstand (solidariteit.co.za)
Ek mag nie op matriekvakansie gaan nie | Maroela Media
Gun jou kind ʼn veilige en bekostigbare matriekvakansie | Maroela Media