Skrywer: Alita Steenkamp
Foto bo: Dian ontvang sy prys by die Carthage Filmfees.
’n Jong rolprentmaker het pas weer sy vaardigheid met die skep van ’n kortfilm bewys toe hy tydens die Carthage Filmfees in Tunis, Tunisië die tweede plek verower het met sy kortfilm Bergie. Hierdie fliek, wat ook by vanjaar se Silwerskermfees vertoon is, duur minder as agt minute, maar vertel binne daardie paar minute die verhaal van ’n hawelose wat ’n Parkrun ‘ontwrig’ en verwyder moet word. Bergie is Weys se derde kortfilm. Dit was veral die tweede fliek, Plaashuis, wat oral in die buiteland op filmfeeste aandag getrek het. Plaashuis vertel die verhaal van twee Vrystaatse vroue wat ’n plaashuis gaan skoonmaak na afloop van ’n plaasaanval. Sy fyn waarnemingsvermoë en medemenslikheid, kenmerk sy kortfilms. Dian sê dat die tweede plek by hierdie gerekende internasionale filmfees, gekom het as ’n heerlike verrassing. Hy was self in Tunis tydens die fees, en kon eerstehands beleef hoe gehore oor hierdie fliek gevoel het.
“Die Carthage Filmfees is al sedert 1966 aan die gang en ek was regtig verras om te sien hoeveel mense die fees bywoon. Bergie is vier keer tydens die filmfees vertoon en op die eerste aand was daar meer as duisend mense in die gehoor. Daar was 12 kortfilms uit Afrika en die Midde-Ooste en ook 12 vollengte rolprente. Die tweede plek het my werklik verbaas want ek het nie gedink hulle gaan Bergie kies nie. Daar was sulke goeie films wat vertoon is. Tog bly dit ’n lekker verrassing,” gesels Dian telefonies uit Bilbao in Spanje waar hy tans die ZINEBI internasionale dokumentêre- en kortfilmfees bywoon.
Op die vraag of hy kortfilms sien as blote vingeroefeninge om eendag ’n vollengte rolprent aan te pak, lag Dian net. Dit is duidelik dat hy hierdie genre as ’n tawwe uitdaging beskou, en dit nie sommer net afskryf as ligte vermaak nie.
“Daar is veral twee redes waarom ek juis op kortfilms fokus. Vir my is dit ’n heerlike medium want dit forseer my as skrywer en regisseur om te kyk of ek ’n betekenisvolle storie in so ’n kort tydjie kan vertel. Kortfilms is nie in Suid-Afrika so gewild nie, maar oorsee is dit ’n baie belangrike en gewilde genre. Baie mense daar ondersteun die kortfilms. Die ander rede is dat dit beslis ’n mens se vermoëns slyp en jy kry die geleentheid om jou styl te toets en te sien wat werk en wat werk nie. Dis ook hoekom ek daarvan hou om hierdie filmfeeste by te woon en in die gehoor te sit want dan ervaar ek eerstehands hoe die gehoor oor die film voel en as iets nie werk nie, weet ek om volgende keer iets anders te probeer,” sê Dian.
Vir Dian is dit belangrik om sosiale kwessies in sy films aan te spreek. Hy verwys na die groot sosiale probleme in Suid-Afrika maar voeg vinnig by dat hy kan sien ons landsmense is goeie mense wat baie omgee vir mekaar. Geweld bly maar een van die moeilikste kwessies in ons land. Dian voel ook dat ons ʼn verantwoordelikheid het teenoor mense wat baie swaarkry en dat dit nie ideaal is om in ’n klein enklave weg te kruip nie. Ons moet onsself op die spel plaas en bereid wees om betrokke te raak. Anders as Hollywood wat geweld gebruik as ’n manier om mense te vermaak, weet hy dit is verkeerd om so na geweld te kyk. Hy hoop om altyd met sy films ’n raakplek raak te boor sodat mense nie ongeërg by die teater sal uitstap nie.
Dis juis Suid-Afrika met al sy wonderlike stories wat hom hier hou, sê hy dan. Hy het geen behoefte om oorsee te gaan werk en ander stories te vertel nie. Hy wil ons plaaslike stories vertel, en dit in Afrikaans doen.
Dian kyk nugter na die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf, maar tog voel hy wel positief daaroor. Hy het die geleentheid gekry om klas te gee vir derdejaar dramastudente aan die Universiteit van Stellenbosch wat ’n kortfilm moet maak as deel van die sillabus. Tydens hierdie ervaring het hy terdeë bewus geword van die jongmense se passie hiervoor en al hulle idees en planne.
“Natuurlik is daar probleme met befondsing van rolprente en om ’n begroting te kry wat groot genoeg is om ’n ordentlike fliek te maak, maar indien ’n mens mooi kyk en jy sit ’n groter lens op, en jy kyk na die wye wêreld, sien jy ander se uitdagings raak. Die oplewing in die rolprentbedryf van plekke soos Roemenië en Iran het juis gekom omdat daar baie beperkings was en mense moes kreatiewe maniere vind om daardie dinge te omseil. In daardie opsig is ons dus besig met ’n waardevolle leerskool. As filmmakers leer ons om met min klaar te kom, maar terselfdertyd ons alles in ’n projek te sit om sodoende die beste moontlike produk te kry,” sê hy.
Dian is besig met die skryf van ʼn teks vir ’n komediereeks wat volgende jaar op kykNET uitgesaai sal word. Tans kan hy nog nie enigiets daaroor verklap nie, maar hy glo dat dit ook ’n heerlike reeks sal wees. Hierdie jongman wat as ’n seuntjie daarvan gedroom het om eendag flieks te maak, het ’n paar ander draaie geloop, maar hy het geweet hy sal uiteindelik niks in die pad van hierdie droom van hom laat staan nie. Plaashuis is met die hulp van skarebefondsing gemaak en vandag is hy dankbaar dat hierdie kortfilm nou op YouTube beskikbaar is waar enigeen daarna kan kyk.
“Aangesien dié kortfilm met die hulp van skarebefondsing gemaak is, behoort dit nie aan ons nie,” sê Dian. “Dit is die mense s’n en nou kry hulle die geleentheid om almal daarna te kyk.”