Skrywer: Alita Steenkamp
Wêreldwyd is die gebruik van potgooi-uitsendings deur kenners reeds lankal ʼn goeie, gevestigde praktyk en Jacques Basson het dadelik geweet dat potgooi-uitsendings die heel beste manier sou wees om hierdie inligting oor te dra. Dit is immers beskikbaar aan enigeen wat toegang tot die internet het, en boonop kan die reikwydte preseis gemeet word, anders as radio- en televisieuitsendings, sowel as gedrukte media waarop die gehoor bloot op skattings bereken word. Dit was vir Jacques ook belangrik om nie bloot te gesels oor dinge wat vlietend is en wat oor ’n jaar van nou af nie meer gaan saak maak nie. Dit wat hy op die Klipkouers-potgooie deel, moes selfs oor vyf jaar vanaf die eerste uitsending, nog van waarde wees.
“Wanneer ek ’n jong entrepreneur ontmoet, is my eerste vraag nie: Weet jy van Klipkouers nie? My eerste vraag is: Weet jy wat is ’n potgooi?” sê Jacques. “Ek het agtergekom soveel mense weet nie werklik wat ’n potgooi is nie. Die radiostasies hier in Suid-Afrika het die gemiddelde luisteraars deurmekaar gemaak deur na radioprogramme wat digitaal gestoor word te verwys as ’n potgooi. Eintlik verskil ’n potgooi hemelsbreed hiervan en die enigste gemene deler is dat dit digitaal gestoor word. Wanneer ’n mens gaan kyk na die grootste potgooier in die wêreld, Joe Rogan, wat ’n $100 miljoen kontrak met Spotify geteken het, dan sal jy sien dit is eintlik ʼn “content creator” wat vir ’n nismark spesifieke inhoud skep met sy of haar potgooi.”
Die afgelope paar jaar het Jacques ook sy vlerke bietjie wyer gestrek. In 2020 het hy ’n tweede reeks potgooie, Boerpot, beskikbaar gestel met besigheidsinligting vir boere. Vroeër vanjaar het hy Nostalgooi geloods. Dit was sy eerste probeerslag met ’n ligter aanslag wat meer oor mense in die vermaaklikheidsbedryf gaan. In samewerking met Helpende Hand het hy die reeks waarin hy op vermaaklikheidslegendes fokus, saamgestel. Mense soos David Kramer, Deon Meyer, Sonja Herholdt, Anton Goosen was onder meer sy gespreksgenote op hierdie reeks potgooie.
Sowat twee jaar gelede het Jacques ook sy eie digitale bemarkingsagentskap, Nr7 Media gestig. Hy het ook digitale tydskrifte, propvol inligting wat gebaseer is op die potgooie, aan intekenare versprei, alles in Afrikaans.
Jacques Basson het reeds in 2016 ’n leemte in die Afrikaanse besigheidswêreld raakgesien. Hy en sy gesin het toe nog in Londen gewoon. Toe Jacques in 2003 in die diepkant ingegooi is nadat hy sy werk verloor het, moes hy eenvoudig net leer swem. Iets wat hy gou en goed reggekry het. Hy het besef dat daar ’n gulde geleentheid op hom wag om ook besigheidsadvies aan ander entrepreneurs te bied. Veral aan diegene wat ’n bestaan in Afrikaans wil maak. So is Klipkouers gebore met die idee dat dit ʼn platform moet wees om besigheidsbeginsels en lewenswaarhede te deel.
Op Vrydag 21 Oktober 2022 het Jacques met nog ’n nuwe konsep na vore gekom. Hy noem dit potgooiradio. “Elke Vrydagoggend tussen 6 en 8 saai ons regstreeks deur middel van ’n sogenaamde internetradio uit. Drie baie goeie vriende van my, wat al drie content eksperts is, help my om inhoud te skep hiervoor. Daar is ’n prokureur met regskennis, ’n finansiële kenner en ’n besigheidsanalis. Al drie is presies op hoogte van sake wat ek van ’n goeie potgooi vereis. Ek fasiliteer weekliks die gesprekke met die drie en uiteindelik word hierdie uitsending verpak in vier potgooiepisodes wat ook later beskikbaar is. Klipkouers SON bevat dus die kwaliteite van ’n lewendige radio-uitsending, maar na ’n paar ure is dit ook as potgooie beskikbaar om af te laai en te luister. Daar gaan dan ook maandeliks ’n digitale tydskrif met infografika beskikbaar wees indien jy daarop inteken. Die digitale tydskrif sal ook bekend staan as Klipkouers SON.”
Die SON-gedeelte van die naam van hierdie platform, staan vir Sakeondernemingsnetwerk, ’n private sakekamer wat Jacques loods. Die internet- potgooi-radioprogram kan op ’n Vrydagoggend tussen 6 en 8 hier geluister word. Die verskillende potgooiprogramme wat deel is van die weeklikse uitsending, kan ook afgelaai word.
Een man se droom om waardevolle inligting aan besigheidmense te deel, is besig om al hoe groter te word. Vra jy hom wat hom aanvanklik gedryf het om hiermee te begin, kom sy antwoord: “Ek wou in Afrikaans besigheid doen en my Britse ponde, wat ek daardie tyd verdien het, in Suid-Afrika spandeer, terselfdertyd wou ek werk skep en ander entrepreneurs help om uit die wegspringblokke weg te kom. Dit was nog altyd my dryfveer om te kyk hoe ons meer ponde, dollars en euro in Suid-Afrika kan kry sonder dat almal op ’n vliegtuig spring en ’n kraak maak. Ons gee aan mense dus die geleentheid om digitale produkte en dienste aan die buiteland te lewer.
Hopelik gaan ons baie mense deur middel van Klipkouers SON bemagtig en inspireer om op hierdie manier hulle vlerke te sprei, maar steeds hier in Suid-Afrika te bly, en boonop in Afrikaans te kan handel dryf.”