Mediavrystelling van die Afrikaanse Taalraad
2 November 2022
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het ’n verslag, “Die algemene demografie van Afrikaans (2022)”, op 4 November by Joostenberg naby Stellenbosch bekendgestel.
Dr Conrad Steenkamp, hoof van die ATR, sê dit is die eerste keer dat so ’n deeglike studie van die Afrikaanse bevolking in sy geheel gedoen is. “Dit is belangrik, want Afrikaanssprekendes gaan oor alle grense heen moet saamwerk om die gevolge van demografiese verandering oor die volgende dekades te hanteer.”
Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut en medeskrywer van die verslag, sê by wyse van ’n aanhaling dat demografie die toekoms is wat reeds gebeur het. “’n In-diepte demografiese studie soos dié maak dit dus moontlik om vooruit te kyk en vooruit te beplan, selfs tot op die vlak van individuele buurte.”
Volgens Steenkamp gebruik die verslag UNESCO se raamwerk, Language vitality and endangerment (2003), om die kwesbare aspekte van Afrikaans te identifiseer en om sodoende die impak van demografiese verandering beter te verstaan.
Afrikaanssprekendes krimp as ’n persentasie van die land se algehele bevolking wat hulle bedingingsmag teenoor die staat verminder. Terselfdertyd verskuif die groeiende meerderheid van bruin/swart teenoor wit Afrikaanssprekendes toenemend die magsbalans binne die taalgemeenskap en skep daarmee nuwe uitdagings wat die sprekers sal moet hanteer.
Die toenemende gebruik van Engels as de facto-amptelike taal en nóg minder Afrikaans in belangrike taaldomeine soos die openbare onderwys het enorme implikasies vir die behoud en groei van die taal. “Hierdie neigings sal die verengelsing van Afrikaanssprekendes (reeds meer as 20 000 per jaar) aanjaag en Afrikaans se groeipotensiaal verder knou,” sê Mulder. “Verengelsing dryf ook die buitengewone sterk groei van Engels as huistaal.”
Volgens die verslag steek Engels – gevoed deur al die inheemse tale – reeds in 2022 vir Afrikaans, die derde grootste taal in die land, verby.
“Let wel, hierdie verslag se analise is geensins finaal nie en ons nooi alle belanghebbers uit om dit saam met ons verder te ontwikkel en verfyn,’ sê Steenkamp. ‘Dis egter duidelik Afrikaanssprekendes gaan uit hulle gemaksone moet beweeg om Afrikaans se lewenskragtigheid te verseker,’ sê Steenkamp. “Die wat nie deeglik beplan nie gaan in die stof byt en sonder samewerking tussen alle Afrikaanssprekendes gaan die wa in die drif bly staan.”
Belangrike demografiese neigings (2021 – 2041):
- Sterk bevolkingsgroei en migrasie sal taaldiversiteit in stedelike gebiede verhoog;
- Afrikaanse getalle groei in absolute terme van 7,11 miljoen (2021) na 7,12 miljoen (2031), wat dui op ’n groeiende behoefte vir skole;
- Afrikaanssprekendes krimp relatief tot die algehele bevolking van 11,7% (2021) na 9% (2041), wat hulle toegang tot staatshulpbronne verswak;
- Die reeds hoë vlakke van verengelsing (ongeveer 20,000 Afrikaanssprekendes per jaar) sal waarskynlik toeneem en die groei van die taal beperk;
- Die bruin/swart meerderheid binne die Afrikaanse taalgemeenskap groei van 59,5% (2021) na 63.8% (2041).
Strategiese aanknopingspunte:
- Beter samewerking tussen Afrikaanse organisasies en netwerke;
- Nuwe in-diepte gesprekke tussen wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes;
- Die groei van die Afrikaanse ekonomie en die handhawing van Afrikaans se infrastruktuur;
- Verbetering van die sosio-ekonomiese omstandighede van jong Afrikaanssprekendes;
- Versnelde herstandaardisering van Afrikaans;
- Handhawing van die Afrikaanse onderwyspyplyn;
- Beter oordrag van Afrikaans tussen die generasies: daarsonder sterf ’n taal;
- Vennootskappe met die Afrikatale;
- Navorsing vir taalbeplanning en -bestuur.
Kontak: Conrad Steenkamp, 082 613 6725 (conrad@afrikaansetaalraad.co.za)