
Jacques Basson staan aan die stuur van Klipkouers, ‘n digitale platform wat jou help om jou besigheidsaspirasies te realiseer en waar jy jouself kan toerus met goeie besigheidsbeginsels en lewenswaarhede – alles in Afrikaans!
Aanhouer wen!
“In Klipkouerwêreld is onmoontlik maklik. Hier pak ons die bul by die horings en voeg waarde toe aan almal met wie ons in aanraking kom.” – Jacques Basson

Dalk weet jy nie waar om te begin of hoe om vorentoe te beweeg nie. Dit is waar Klipkouers jou ‘n hupstoot gaan gee om die wiel aan die rol te sit. Elke week gesels ek, Jacques, met suksesvolle Afrikaanse entrepreneurs en impakmakers wêreldwyd en vra hy hulle dieselfde vrae – alles vrae wat jou kan help om jou besigheid of omstandighede te verbeter.
Klipkouers deel hierdie insiggewende potgooie gratis en nou is daar ook ’n digiTydskrif en e-boek beskikbaar.
Jacques het natuurlik self ook sy porsie klippe gekou in die lewe. Tog bly sy mantra in die lewe: Aanhouer wen en hierdie raad deel hy graag uit. Alita Steenkamp het namens Afrikaans.com so bietjie van nader gaan kennis maak.
Suid-Afrika na Engeland en terug!
In 2003, nie lank nadat Jacques en sy vrou Chrisna getroud is nie, het die maatskappy vir wie hy gewerk het hom gevra om in Gauteng te gaan help om die besigheid se sake agtermekaar te kry. Drie maande later het die maatskappy besluit om hom af te lê toe ʼn aantal poste geskrap is. In plaas daarvan om in sak en as te gaan sit, het Jacques hierdie as die ideale geleentheid gesien en besluit om sy vlerke te sprei. Chrisna het as jong meisie die geleentheid gekry om tydens ʼn werksvakansie in Europa soveel heerlike dinge te ervaar, en die wye wêreld het geroep. Jacques het sy werk in Desember 2003 verloor en op 18 Januarie 2004 het die nuwe avontuur begin. Hy en Chrisna het in Engeland gaan woon in ʼn area waar daar geen ander Suid-Afrikaners was nie. In Engeland het hy vir ʼn paar maatskappye gewerk voordat hy in 2007 sy eie kommersiële skoonmaakbesigheid, VanBroc Cleaning, begin het. In 2012 het hy uitgebrei en ʼn gesamentlike onderneming met ʼn kommersiële skoonmaakbesigheid in Austin, Texas begin.
In 2015, tydens een van die vakansies in Suid-Afrika, het Jacques begin speel met die idee om ʼn digitale platform te skep wat entrepreneurs sal help om hulle drome te bewaarheid. Hy wou dit doen deur inligting oor verskeie aspekte van die besigheidswêreld te verskaf. In Afrikaans, natuurlik. Klipkouers is op 18 Januarie 2016 geloods en in Februarie 2018 het Jacques en sy gesin sak en pak na Suid-Afrika teruggekeer.
Waarom huis toe kom?
“Die miljoenrandvraag wat ek dikwels moet antwoord, is wat het my na veertien jaar laat besluit om terug te kom,” vertel Jacques. “Om dit kortliks op te som sal ek sê die besluit is 60% gedryf deur die feit dat ons ons mense, ons land, ons kultuur en ons taal te veel gemis het. Elke ding het sy prys en die prys wat jy betaal om in die buiteland te bly, al is dit dalk veel veiliger, is maar ʼn rowwe prys. Dis begrafnisse en troues en Kersfeesetes wat jy mis, grootouers wat nie naby die kleinkinders is nie, en om nooit êrens buite die huis te kan Afrikaans praat nie. Dit alles laai die prys baie swaar. Die ander 40 persent is gedryf deur die besigheidsgeleenthede wat ek hier in Suid-Afrika raakgesien het. Ek en Chrisna wil ook graag hier ʼn verskil maak en ons het definitief nie teruggekom omdat ons visas verstryk het nie.”
Jacques het in November sy 100ste potgooi op Klipkouers beskikbaar gestel. In elkeen van hierdie potgooie gesels Jacques met Afrikaanssprekende besigheidsmense. Mense soos Kobus Wiese, Ina Paarman, Gert Johan Coetzee. Louis van der Watt en Francois van Niekerk van die Mertech-groep, Theo Vorster en Gideon Galloway het al hulle sakegeheime in hierdie potgooie gedeel. Dis egter nie net bekendes wat agter die mikrofoon inskuif nie. Jacques hou juis daarvan om doodgewone mense te nader om te hoor watter lesse hulle langs die pad geleer het in die proses om ʼn eie besigheid op te bou of om werklik suksesvol in hulle loopbane te wees. Soms kry sy potgooie ook ʼn internasionale kleur wanneer hy met Suid-Afrikaners wat elders in die wêreld woon en werskaf gesels om meer van hulle dinge te hore te kom.
Hier is ‘n voorsmakie – Adam Tas gesels met Jacques oor sy besigheid, Loopgraaf Produksies
Jacques verduidelik dat die term podcast of potgooi nie altyd korrek gebruik word nie. Sommige van die radiostasies gebruik die term om bloot na ʼn digitale storing van ʼn radioprogram te verwys, sê hy. Daar is egter ʼn handjievol potgooipioniers in Suid-Afrika wat hulle wel met ware Afrikaanse potgooie besig hou. Dit sluit mense soos Willim Welsyn en Bouwer Bosch in. Jacques verduidelik dat daar nog altyd gewonder is hoe om met sulke digitale uitsendings geld te maak. Hy het met die idee vorendag gekom om van die onderhoude wat as ʼn potgooi uitgesaai is, te neem en dit te herverpak in ʼn e-boek en digitale tydskrif wat dan verkoop word. Jacques sê hierdie e-boek wat op sy webblad beskikbaar is, is eintlik meer ʼn besigheidsgids met interessante data daarin wat baie waardevol is vir enigeen wat daaraan dink om die sakewêreld te betree. Jacques help tans besighede om hul dienste digitaal, veral in die buiteland, te bemark.
Prontuit
Daar is heelwat video-onderhoude op Klipkouer.com waar raad verskaf word en besigheidseienaars raad deel.
Sake doen in Afrikaans!
Oor die vraag of Afrikaans werklik in die sakewêreld hoort, skud Jacques net sy kop. “Dis soos om vir my te vra of dit belangrik is om elke dag asem te haal. Dit is belangrik om te sê dat indien iemand besigheid in Afrikaans doen, beteken dit nie noodwendig dat die besigheid goed gaan wees nie. Omdat jy Afrikaans is beteken dit nie jy het integriteit of ek kan op jou vertrou nie. Daar is ʼn persoonlikheidsdinamika wat ook hierby betrokke is en wat gaan bepaal of jy ʼn goeie sakeman of -vrou is of nie. Ek hou van Afrikaanse besigheidsmense, want hulle is in my ondervinding, wêreldklas. Vir 14 jaar was ek verwyder van my land en my taal en eers wanneer ʼn mens ontneem word van iets, besef jy die waarde daarvan. Ek het teruggekeer met ʼn honger vir my taal en nou is dit vir my heerlik om te kan sê dat Klipkouers die personifikasie is van my behoefte na my kultuur, my taal en werkskepping. Op hierdie platform doen ons dit trots in Afrikaans.”
Luister hier hoe gesels Jacques Basson op Groot Ontbyt net voor sy terugkeer na Suid-Afrika.
Besoek https://klipkouers.com/ of stuur ʼn e-pos aan jacques@klipkouers.com