Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die spraakterapeut en skrywer Christien Neser skryf in haar boek, Help! My kind is anders, dat daar min dinge is wat ’n ouer en onderwyser so magteloos kan laat voel soos ’n kind wat onvlot is. Statistiek wys ook dat daar wêreldwyd ongeveer 68 miljoen mense hakkel … dit is 1 uit elke 1 000! Maar hoekom hakkel ’n mens? Is dit oorerflik? Is alle onvlotheid hakkel? Kan ’n mens dit ontgroei?
Afrikaans.com het ’n paar bronne geraadpleeg en poog in die artikel om van die meer algemene vrae te beantwoord. Dit is egter belangrik dat ouers wat vermoed of weet hulle kind hakkel en is nie net bloot onvlot om ander redes nie, ’n kundige, soos ‘n spraakterapeut, sal raadpleeg vir die regte diagnose en terapie.
Wat is hakkel?
Daar is glo nie ’n eenvoudige antwoord op die vraag nie. Daar is ook baie kinders en volwassenes wat soms onvlot praat, maar nie noodwendig hakkel nie. Die SASLHA (South African Speech, Language and Hearing Association) defineer dit egter soos volg:
“Die meeste spraak-taalterapeute stem saam dat hakkel ’n onderbreking in die vorentoe vloei van spraak is. Dit word gekenmerk deur onvlothede soos:
- Herhalings (r-r-r-rroom)
- Verlengings (eeeeemmer)
- Blokkasies (om vas te hak)
Baie persone wat hakkel ontwikkel ook (dikwels onbewustelik) liggaamsbewegings in ’n poging om die hakkelmoment te oorkom.
Nie alle onvlotheid is hakkel nie
“Ouers weet nie altyd wanneer om te gaan hulp soek nie. Die goue reёl: Gaan eerder een keer te veel ‘n terapeut sien, as een keer te min. Bemagtig jouself met inligting.”
– Christien Neser in “Help! My kind is anders, Hoofstuk 8
Kleuters wat leer praat, is dikwels onvlot. Soos wat die kind se taalvaardigheid ontwikkel, raak sy spraak al hoe vlotter. Daarom kan alle onvlotheid nie op dieselfde manier benader word nie. Wanneer die onvlotheid egter inmeng met ’n mens se kommunikasievermoё, word dit ’n spraakafwyking of hakkel genoem en is daar gewoonlik ’n versteuring in die neurologiese stelsel wat spraak beheer. Daar is wel faktore wat tot ontwikkelingshakkel kan bydra. Dit is:
- ‘n Genetiese verband of oorerflikheid – een van die ouers of ’n ander familielid het dalk gehakkel as kind – ’n “neurologiese geneigdheid tot hakkel”.
- Dominansie – daar is beduidend meer linkshandiges wat hakkel.
- Emosionele of fisieke trauma.
- Onvoldoende spraak-taalontwikkeling – “die kind dink vinniger as wat hy kan praat”; “hy het nie genoeg woordeskat om sy gedagtes uit te druk nie …” Tog is ’n taalagterstand nie genoeg rede nie – “daar moet ’n neurologiese geneigdheid daartoe wees”.
- Spanning – die kind is gespanne en bewus van sy onvlotheid. Dit kan ook gepaardgaan met “liggaamlike spanning, soos toeknyp van oё, trek van gesig, bal van vuiste”, rukbewegings van nek, ens.
- Ons gejaagde lewenswyse – ouers/onderwysers het gewoon net nie genoeg tyd om stil te staan en die hakkelaar kans te gun om sy storie te vertel nie, wat dan soms tot ongeduld kan lei.

Wat sê ‘n terapeut vir ’n moedelose ouer – wat jammer voel vir hulle kind?
Die jonger kind
Christien sê dat dit afhang van die kind se ouderdom. “As die kind pas begin hakkel het, tussen 3 en 5 jaar oud, is die ouers oorbluf of bekommerd. Dan is dit my werk om hulle gerus te stel. Hoe minder hulle reageer op die onvlot spraak, hoe beter. Ons beraam dan saam planne hoe om vlotter spraak te bewerkstellig, deur middel van allerlei prettige aktiwiteite. Dit sluit in sing, versies, ritmiese speletjies, handpoppe, rollespel, maskers, fluisterspeletjies, en meer. Die reël is dat dit net ontwikkelingsonvlotheid is tot op 5, buiten as die kind self daarvan bewus raak. As die kind begin onttrek, hand oor die mond slaan, snaakse aanwendsels aanleer, dan is dit egter hakkel. Met klem op vlotspraak, leer mens die brein dat vlot spraakpatrone moontlik is. Die kind moet op hierdie ouderdom ekstra liefde, tyd en aandag kry, want so ’n onvlotheid is vir die kind ontwrigtend, al weet hulle nie mooi wat aangaan nie.”
Die ouer kind
“As die kind ouer is, en reeds terapie onsuksesvol deurgaan het, en dalk op skool baie swaar kry, dan is dit ’n ander storie. Dan is die proses heelwat langer en is die suksessyfer laer. Maar die statistiek sê dat 3 uit elke 4 hakkelaars heeltemal vlot raak teen ongeveer 16. Dis die ander 1 uit 4 wat lewenslank hul spraak sal moet leer beheer, of net moet aanvaar dat hulle soms onvlot is en dit so aanvaar.
“Spraakterapie is by die ouer kind selde net ’n spraakterapeut se domein. Dikwels moet ’n kliniese sielkundige of spelterapeut ook nader getrek word. In sommige gevalle moet ’n neuroloog gesien word, want ’n klein persentasie hakkelaars mag ook geringe neurologiese uitvalle hê. Sekere medikasie, vir kondisies soos epilepsie, mag soms die hakkel vererger, en soms die hakkel verbeter.”
Hakkel is nie staties nie
Christien noem ook dat hakkel nie staties is nie. “Dit gaan soms vir langer periodes weg, kom dan terug en mag selfs vererger. Siekte en spanning kan die onvlotheid vererger. Daar is sekere situasies wat die hakkelaar se spraak kan vererger, soos eksamens. Of daar is mense wat die situasie vererger. Met sekere mense praat hulle vlot, met ander is dit net nie moontlik nie. Die brein is net ’n baie ingewikkelde orgaan en reageer intens op die mens se emosie.”
Enkele wenke deur ouers
Raadpleeg ’n spraakterapeut en indien nodig ’n spelterapeut of sielkundige om jou te help, gesels met ander ouers in dieselfde bootjie en raak rustig. Daar is raad. “Onthou, hoe meer gereeld ’n vlot spraakpatroon voorkom, hoe groter die kans dat die spraak vlot gaan bly.” So sê ander ouers:
- “Probeer verstaan hoe jy sou voel as jou mond en jou brein nie wil saamwerk nie,” m.a.w. sit jouself in jou kind se skoene.
- Bly kalm en geduldig terwyl jou kind praat. Luister aandagtig. Behou oogkontak.
- Moenie die kind se sinne namens hom voltooi nie.
- Praat stadiger sonder om gejaagd te wees.
- “Gee ekstra tyd aan rym en ritme, bv. bons die kind op jou skoot terwyl julle verspotte sinne sê of sê rympies op.” Of speel handeklapspeletjies.
- Lees stories voor, veral boeke met baie herhaling. Dramatiseer die karakters en die kind kan dit naboots. “Sodra ‘n mens met ’n ander stem praat, is die spraak vlot.” Ook handpoppe kan hiermee help, want dit is weereens ’n “ander” karakter aan die woord.
- Probeer geleenthede skep vir vlotspraak-ervarings, bv. voorlees, rympies opsê – so word die “vlotpatroon in die brein vasgelê”.
- Gebruik ’n “spraakvennoot” as julle storie lees. Dit is ’n sagte speelding of troeteldier vir wie die kind die storie terugvertel.
- Moenie die kind etiketteer nie – veral nie op voorskoolse vlak nie.
- Sing, want hakkelaars hakkel nie as hulle sing nie. Saamsing met gunstelingmusiek is ook “uitstekende oefening in rym, ritme en sinskonstruksie”.
- Fluistertyd is nog ’n tegniek om vlotheid te oefen omdat die kind dit sal naboots en vlot wees.
- Sang en blaasintrumente, soos karinet of blokfluit, vereis asembeheer, wat ook baie goed is om spraakvlotheid te ondersteun.
- Dramalesse kan help, maar moenie jou kind dwing om aan skoolkonserte deel te neem waar hy moet praat nie. Hakkelaars is egter dikwels vlot op ’n verhoog – veral in die dramatiese rolle – juis omdat hulle ’n ander persona (karakter) aanneem. Net ’n paar hakkelaars wat uitstekende akteurs geword het: Rowan Atkinson (Mr Bean), Marilyn Monroe, Emily Blunt, Hugh Grant en Anthony Hopkins.
Enkele alternatiewe terapieё
“Enige aktiwiteit wat die kind geniet, kan die spraak ondersteun. Waak egter teen ’n oorvol program sodat daar meer tyd vir rustige samesyn kan wees.”
– Christien Neser
- Speelterapie – dit is veral nuttg as daar spanning of angs teenwoordig is.
- Musiek, ballet, dans – het gewoonlik goeie resultate ten opsigte van vlotheid.
- Karate – “die uitskree van katas saam met liggaamlike beweging is uitstekende vlotheidsterapie”.
- Hippoterapie – “perde is wonderlike terapeute”.

Tegnieke/oefeninge vir kinders en volwassenes om vlotheid aan te help
Volgens Christien is dit iets wat binne ’n terapiesessie met ’n terapeut geoefen word. Sy sê egter dat ’n mens die omstandighede van ’n kind of ouer persoon met hakkel baie kan beheer. Deur iemand wat hulle vertrou saam met hulle te hê in ’n stresvolle kommunikasie-scenario help baie. Christien voel ook dat ’n kind wat hakkel nooit voor die klas hardop hoef te praat nie – maar dit iets wat die ouer met die onderwyser moet bespreek. “Net as die kind WIL praat, moet die onderwyser dit toelaat.” Sy voeg by dat toesprake volgens haar opgeneem en per foon aangestuur kan word. Op die manier is daar nie ’n moontlikheid dat die kind verneder voor die klas voel nie. Oor die algemeen is musiek en ritme van die beste agtergrond om teen vlot te praat. “As die kind die toespraak wil doen met oorfone op en musiek in sy ore, dan moet die onderwyser dit ook so aanvaar.”
Dit is ’n feit dat angs enige toestand vererger, soos ook hakkel. Daarom is dit belangrik om agstigheid te beperk sodat die kind geleenthede kry om vlot te praat. Soos reeds genoem, “hoe vlotter die kind praat en hoe langer die vlot periodes duur, hoe meer lê die brein daardie vlot patrone neer.”
’n Volwasse hakkelaar wat elke dag ’n halfuur sit en hardop lees, doen hulself ’n baie groot guns. “Die vlot patrone word deel van hul brein se verstekinstelling (default setting).”
In die klas
’n Empatiese en ingeligte onderwyser kan daartoe bydra dat die hakkelaar makliker aanpas. Doen die volgende:
- Verseker die kind dat jy verstaan en dat hy met selfvertroue in die klas kan praat, selfs al hakkel hy – moet hom egter NOOIT dwing nie.
- Verduidelik aan die klas wat hakkel is en dat hulle die klasmaat moet toelaat om te hakkel en hom nie mag spot of verkleineer nie.
- Voorskools moet die terapeut en juffrou nou saamwerk. Behandel so ’n kleuter met liefde en koestering.
- Hakkel mag nie gestraf word nie – “hoe minder aandag geskenk word, hoe beter”.
- Koorspraak en koorlees, asook handklapspeletjies is uitstekende terapie wat in die klas gedoen kan word.
- Laat die hakkelaar hardop saam met jou by die tafel lees en gee goeie punte. “Alle positiewe versterking is heilsaam!”
- Laat die kind sy les vir ’n pop of hond voorlees.
- Moedig ouers aan om baie vir die kind voor te lees – want dit verbeter hulle taalvermoё sodat hulle die woorde het om hulle gedagtes uit te druk.
En as die kind geterg word?
Dis nooit lekker om geterg te word nie en kan ’n kind se selfbeeld lelik knou. Dit is waar die ouers of onderwyser kan help en met die klas gesels en verduidelik waaroor dit gaan. Of, soos een leerder dit in die pdf-boekie Ek hakkel (kyk onderaan vir die skakel) hanteer het: “Kom terug as julle beter as ek kan hakkel!” Die uiteinde? Hy is nooit weer geterg nie.
Twee soorte volwasse hakkelaars
- Die een groep kan mens “happy stutterers” noem, want hul spraak affekteer nie hulle menswees nie en identifiseer hulle nie as persoon nie. Dis maar net een van hul vele eienskappe.
- Dan is daar die ander groep vir wie hul spraak ’n lewenslange las en bron van spanning is, en wat hulself in die eerste plek as ’n hakkelaar beskou, eerder as ’n persoon met talle interessante eienskappe en talente.
“Dit is natuurlik ideaal om vlot te raak, maar indien nie, dan is die eerste prys om hakkel net as ’n lastigheid te beskou, nie as ’n struikelblok wat hul potensiaal as mens beduiwel het nie. Daardie verskynsel lei tot die sindroom van ‘a giant in chains’. Met ander woorde, hulle sou groot sukses behaal het, was dit nie vir die hakkel nie.” Aldus Christien.
Uit die mond van ’n hakkelaar
Hentie van Jaarsveldt (64) is ’n volwasse hakkelaar wat reeds van ongeveer 4-jarige ouderdom af hakkel, maar wat ’n mens meestal in die kategorie van “happy stutterer” kan plaas, alhoewel daar tog tye is wat sy onvlotheid tot geweldige frustrasie en ongemak lei.
Hy vertel dat hy nie kan onthou of daar ’n spesifieke gebeurtenis was wat daartoe aanleiding gegee het nie. Hy het grootgeword in ’n klein kusdorpie en in die vroeё sestigerjare was daar nie spraakterapeute naby nie – buitendien was daar ook nie geld om ‘n kundige te betaal nie. Luister ’n mens na die omstandighede kom jy agter dat die onvlotheid ook nie met die nodige begrip, insig en geduld hanteer is nie. Die ongelukkige gevolg was dus dat die onvlot patrone neergelê is en tot volwasse hakkel gelei het. Later jare, na sy studies en toe hy reeds in ’n beroep gestaan het, het hy wel iemand geraadpleeg, maar daar was nie noemenswaardige sukses nie en het hy nie met die sessies volgehou nie.
Het jou onvlotheid jou gekniehalter, bv. wat ’n beroep betref?
“In ’n mate, ja. Ek wou graag ’n onderwyser word, maar dit sou natuurlik nie gewerk het nie, want stel jou voor in ’n klas voor leerders (veral hoёrskoolleerders) en hulle onderwyser hakkel … dit sou net nie gewerk het nie. Tog, het ek dit wel reggekry om ten spyte van my spraakgebrek sukses te behaal. Daar is natuurlik situasies waar dit my gefrustreerd laat, maar ek kry dit meestal reg om redelike vlot aanbiedinge en opleiding in my veld van kundigheid te gee. Trouens, wanneer ek oor ’n onderwerp moet praat waarin ek kundig is, hakkel ek baie min.”
So, is daar tye wat jy meer hakkel as ander tye?
“Beslis ja. Daar is geen verduideliking daarvoor nie, maar ek kan wel sekere situasies uitlig. Ek is byvoorbeeld ten volle tweetalig, maar wanneer ek moet Engels praat, hakkel ek meer. Ek hakkel beslis ook meer oor die telefoon en selfs oor Zoom-vergaderings – selfs al kan die ander persoon my nie sien nie.
“Ook in meer stresvolle situasies is ek meer onvlot. Daar is tye wat dit goed gaan, maar dan skielik kom ek agter dat ek nou weer meer as gewoonlik hakkel – dis amper asof dit in fases gebeur. Die rede daarvoor is ook nie noodwendig voor die hand liggend nie, maar dalk is ek dan onbewustelik meer gespanne – ek weet nie regtig nie.
“Ek hakkel ook meer op sekere woorde/klanke. Die frustrasie is dat ek weet waarmee ek sukkel en probeer om dit te omseil, deur ander woorde of sinsnedes te soek om te gebruik, maar dit is natuurlik nie altyd moontlik nie.
“Hardoplees vir iemand anders is ook soms problematies, afgesien daarvan dat ek nie ’n probleem met uitspraak of begrip het nie. Ek struikel oor die woorde/klanke waarmee ek in elk geval sukkel as ek net gewoonweg gesels.
“Ek hakkel natuurlik nie as ek sing nie en ook nie as ek ’n storie in ‘n ander aksent vertel nie. Dalk is laasgenoemde die feit dat ek ’n ander karakter aanneem …”
Hakkel jy in jou kop? Met ander woorde, as jy dink voordat jy praat, help dit met vlotheid?
“Soms help dit en soms nie. En ja … ek hakkel soms in my kop – vreemd soos wat dit dalk klink.
“Een van die tegnieke wat ’n mens geleer word, is om asem te haal en jou diafragma te ontspan. Ek glo dit kan help in ’n mate, maar ek vind steeds dat ek op die ou end te min asem het om my sin klaar te maak. So ja, dis beslis ’n asemhaal-ding, maar dis vir my meer as dit. In my werksituasie moet ek byvoorbeeld op my voete dink en vinnig met ’n oplossing na vore kom – dus is asemhalingstegnieke nie altyd prakties nie. So ’n mens beur maar voort en hoop die hakkelmoment is vinnig verby.”
Dink jy mense raak ongemaklik as jy hakkel? Raak jy ongemaklik of verleё?
“Ek veronderstel daar is mense wat my nie ken nie, wat dalk effens ongemaklik sal word, maar ek kom dit nie juis agter nie. Diegene wat my ken, is seker maar gewoond daaraan – en wag maar geduldig tot ek my storie klaar vertel het.
“Ek raak nie juis ongemaklik nie – meer gefrustreerd. Veral as dit met liggaamsbeweging gepaard gaan – ek knyp my oё toe. Maar ek is nie verleё daaroor nie.”
Watter raad het jy vir ouers met kinders wat hakkel?
“Vandag is daar baie hulp daarbuite. As hulle dit kan bekostig, gaan sien ’n spraakterapeut of ander kundige. En ondersteun jou kind. Doen die oefeninge saam met hom, gesels met die onderwysers en maak saam planne oor hoe om dit vir jou kind makliker te maak. Jy moet dit nie noodwendig ignoreer nie, maar ook nie iets groot daarvan maak nie.
“Moenie onnodige druk op jou kind plaas nie. Aanvaar dat hy ’n spraakgebrek het en werk saam om dit beter te maak. So ’n kind het jou geduld nodig, ’n liefdevolle en veilige omgewing, waar hy onvoorwaardelik aanvaar word. Moet NOOIT raas nie en ook nie die heeltyd ‘raad’ gee nie, soos byvoorbeeld dat hy moet dink voor hy praat, asemhaal, stadiger praat, ens. Die kind weet dit waarskynlik, maar om dit so te hanteer, plaas net nog meer stres op hom en dra nie tot vlotheid by nie.”
’n Laaste woord?
“In my geval is dit wat dit is. Ek het geleer om daarmee saam te leef en dit het my nie teruggehou nie. Ja, soms is dit moeilik om met my kleinkinders te gesels as ek onvlot is, maar dis hoe hulle my ken en hulle dink nog steeds hulle oupa ‘weet alles!’ Kortom, daar is ‘no regrets’. My hakkel definieer my nie …”
Wat is stamel? Is dit ook hakkel?
In Engels staan dit bekend as “cluttering”. Dit is ook ’n vorm van onvlotheid, maar is nie hakkel nie. “Die Internasionale Stamelvereniging definieer stamel as ’n vlotheidsversteuring wat gekenmerk word deur vinnige, onduidelike spraak, met ’n gebrek aan egalige ritme. Daar kom onreёlmatige onderbrekings voor, swakker taalontwikkeling, onduidelike uitspraak, swakker beplanningsfunksies, impulsiwiteit, aandagafleibaarheid en slordige handskrif.”
Die tipiese stamelaar
Weereens is dit noodsaaklik dat die kind wat stamel so gou as moontlik kundige hulp kry. As die stamelgedrag teen ses jaar steeds voorkom, is dit raadsaam om ook ’n pediater of pediatriese neuroloog te raadpleeg.
- Stamelaars begin gewoonlik later praat en het swak taalontwikkeling.
- Daar is nie ’n opbou van onvlotheid nie – die stamelaar se spraak is van meet af aan onduidelik en onritmies.
- Interessant is dat die stamelaar onder druk beter praat – waarskynlik omdat hulle hulle gedagtes beter orden.
- Aandagafleibaarheid, hiperaktiwitei en impulsiewe gedrag kom dikwels voor.
- Fynmotoriese beplanning is gewoonlik swakker, en slordige handskrif kom voor.
- Probleme met ouditiewe verwerking, m.a.w. die kind sukkel om te luister.
- Dit gaan dikwels saam met lees- en leerprobleme.
- Selfvertroue ontbreek gewoonlik nie en die kind is dikwels glad nie besorg oor spraak nie.
Help die stamelaar so
- Moedig die kind aan om te dink en dan hulle storie te herhaal. As hulle geleer word om stadiger te praat, beplan hulle beter en help dit met vlotheid.
- Prentjies wat as leidrade gebruik word om die storie chronologies oor te vertel, kan van hulp wees.
- Meerlettergrepige woorde kan in lettergrepe geklap word.
- Luisteraktiwiteite wat ritme en herhaling insluit, kan die kind help om beter te luister en te prosesseer.
- Beloon die kind as hy dit regkry om sy beurt af te wag.
- Beperk skermtyd.
- Help die kind om sy oormaat van kreatiewe gedagte te orden, sy woorde agtermekaar te sit en gedagtes logies, duidelik en verstaanbaar uit te druk.
Daar is altyd hoop
Die meeste kinders ontgroei hakkel teen die tyd dat hulle volwassenes is, tog is dit vir ’n hakkelaar dikwels ’n nagmerrie net om ‘n eenvoudige gesprek te voer of ’n telefoonoproep te maak. Daar is ook nie ’n wonderkuur nie. Daarom bly dit beter om ’n terapeut te sien en saam-saam die pad te stap.
Met die regte terapie, deursettingsvermoё en empatie kan daar egter groot vordering gemaak word. Onthou: Die hakkelaar voel dikwels verleё, raak gefrustreerd en het dikwels ’n lae selfbeeld. So ’n kind moet weet dat dit “nie belangrik is hoe hy dit sê nie, maar wat hy sê”.
Kontak gerus die SASLHA by www.saslha.co.za vir hulp of inligting.
Bronne:
Help! My kind is anders deur Christien Neser – Hoofstuk 8, pp 117 – 129 met ’n uitgebreide lees-/verwysingslys op p. 265 (Lapa Uitgewers – ISBN 978-0-7993-9629-4 – ook in e-publikasie beskikbaar)
https://welstand.solidariteit.co.za/spraakdisfunksie/
Ook nuttig vir self- of saamlees:
Ek hakkel – ’n pdf-boek vir kinders tussen die ouderdomme van 7 en 12 deur Eelco Geus van Nederland en vertaal deur Ursula Zsilavecz en Herman Tesner. Klik hier.