Daar is baie vrae wat ter sprake kom wanneer jy as ouer vermoed of bevestiging ontvang dat jou kind akademies sukkel. Wat is die eerste stappe wat jy moet volg, watter moontlikhede bied die kurrikulum en wat hou die toekoms vir jou kind in?
Afrikaans.com het met Dalena van der Westhuizen, ’n kognitiewe breinontwikkelingspesialis van BrainAbility en Johannes van Schalkwyk, skoolhoof by die Westcliff Vaardigheidskool gesels vir antwoorde op hierdie vrae.
Wat is die eerste stappe wat jy moet volg as jy uitvind jou kind sukkel akademies?
Johannes meen die meeste ouers se eerste reaksie is dié van paniek. “Die eerste stap wat jy as ouer moet volg is om kalm te raak en die saak oordeelkundig aan te pak.”
Volgens Dalena is dit baie belangrik om so gou as moontlik die oorsaak van die probleem te identifiseer sodat dit hanteer kan word. “Hoe langer jy as ouer neem om die nodige hulp te kry, hoe langer en moeiliker akademiese paadjie stap jou kind. Dit beïnvloed jou kind se selfbeeld, selfvertroue, keuses, vriendekring, verhoudings, ens.”
Een van die belangrikste maniere om inligting oor jou kind se akademiese vermoëns in te win, is deur met sy/haar onderwyser(s) in verbinding te tree. Op hierdie wyse kan jy baie inligting kry oor wat hulle in die klaskamer waarneem. Indien jy as ouer voel dat die onderwyser(es) se terugvoer nie kommer wek nie, maar jy wil eerder seker maak jou kind kry die voordeel van verdere ontwikkeling (of jy as ouer vermoed daar is wel ’n probleem), dan is daar heelwat maniere waarop jy jou kind kan help.
Sodra die probleem geïdentifiseer is, is dit belangrik om die volgende punte in ag te neem:
- Bly jou kind se grootste ondersteuner – moenie aanmekaar net op die probleemareas fokus nie. Elke kind het sterkpunte wat ook uitgelig moet word.
- Moenie oorkompenseer deur jou kind altyd met alles te help nie – “Ek verstaan, my ma-hart raak net so sag as ek my kind sien sukkel, maar dit is ook nodig vir ’n kind om die waarde van deursettingsvermoë te leer, sonder dat sy/haar moed gebreek word,” sê Dalena.
- Kry die regte tipe hulp en doen dit so as gou moontlik. Die volgende kundiges kan gespreek word vir die onderskeie ontwikkelingsprobleme:
- Motoriese/fisiese ontwikkelingsprobleme – arbeidsterapeut, biokinetikus
- Kognitiewe ontwikkelingsprobleme (geheue, konsentrasie, lees- en leervermoë) – kognitiewe ontwikkelingspesialis
- Emosionele/selfvertroue probleme – spelterapeut, kindersielkundige
- Spraakprobleme – spraakterapeut
- Visuele ontwikkelingsprobleme – oogkundige (“Behavioural Optometrist”)
- Moenie elke oomblik van jou kind se dag skielik vul met allerlei gestruktureerde aktiwiteite nie. Kry die hulp wat nodig is, maar maak ook seker jy laat genoeg tyd vir speel en ontspan toe. Al hoe meer navorsing wys die belangrikheid van speeltyd uit, ongeag jou kind se ouderdom.
Het my kind ’n toekoms?
Johannes meen een van die grootste foute wat sommige ouers maak, is om te aanvaar dat hul kind nie ’n toekoms het indien hul akademies sukkel nie. “Dit is eenvoudig nie waar nie. Net omdat jou kind akademies sukkel beteken nie hy of sy is ‘dom’ nie. Dit beteken hy/sy leer dalk net verskillend of hul belangstelling is dalk net anders as dié van ’n hoofstroomkind.”
Ouers van kinders wat akademies sukkel moet dalk eerder begin dink aan ’n tegniese rigting. Volgens Johannes is daar tans drie verskillende stroomrigtings in skole:
- Gewoon akademies – Hierdie staan ook bekend as hoofstroomskole en akkommodeer ’n akademiese kurrikulum.
- Tegniese skole – By hierdie skole word tegniese vakke aangebied.
- Tegnies- beroepsgerigte kurrikulum (vaardigheidskole) – In hierdie skole word ’n hoë vlak van intervensie benodig.
Dit is belangrik dat ouers in gesprek moet tree met kundiges by hierdie drie tipes skole en bepaal wat die beste opsie vir hul kind sal wees.
Waarom sukkel sommige ouers om dit te aanvaar?
“As ouer, verstaan ek waarom dit partykeer vir ouers moeilik is om te aanvaar dat hul kind akademies sukkel, veral as dit ouers is wat akademies goed gevaar het op skool, ouers wat baie kompeterend van aard is, of ouers wat bang is hul kind word ‘ge-label’ en anders behandel deur onderwysers, maatjies en selfs ander ouers,” sê Dalena.
Volgens Dalena gebeur dit ook dikwels dat ouers die vinger na hul kind se onderwyser rig in ’n poging om iemand te vind wat die blaam sal dra vir hul kinders se akademiese vermoëns.
“Ek vind ouers glo ook soms dat ’n onderwyser(es) dalk net te krities is teenoor hul kind, dat hul kind hul akademiese probleme sal ‘ontgroei’, dat ’n kleiner skool of ’n ander kurrikulum of tuisonderrig die probleem sal oplos.
“Maar deur die probleem te ignoreer, te ontken, of só te kompenseer daarvoor dat jy as ouer dag en nag besig is om jou kind te ‘beskerm’ of met menigte aspekte van skoolwerk te moet help – doen jy jou kind eerder ’n onreg as ’n guns aan.
“Ek wil herhaal wat ek menigmaal vir ouers sê – die feit dat jou kind hulp nodig het, beteken nie jou kind is ‘dom’ of dat jy iets verkeerd gedoen het as ouer nie.
“Net so natuurlik as wat dit is om hulp te kry vir ’n gebreekte arm, of jou oë te laat toets om beter te kan sien, so natuurlik behoort dit vir ouers te wees om die nodige hulp te kry vir ’n kind wat akademies sukkel of gefrustreerd is. En hoe vinniger jou kind die regte hulp kry, hoe makliker raak die akademiese pad wat jou kind stap.”
Meer oor BrainAbility
BrainAbility kognitiewe toetsing- en ontwikkelingsentrums werk met kinders en volwassenes om die oorsaak van leer-, lees-, konsentrasie- en geheueprobleme te identifiseer, en werk dan op ’n een-tot-een basis met kliënte om kognitiewe breinfunksie te verbeter.
BrainAbility se kognitiewe toetse en kognitiewe ontwikkelingsprogramme is klinies nagevors, en word in 49 lande regoor die wêreld gebruik.
Tydens die SA afsonderingsperiode, is die BrainAbility-span ingerig om kognitiewe toetse, terugvoerkonsultasies, en een-tot-een kognitiewe ontwikkelingsessies aanlyn te doen.
Kontak BrainAbility gerus by:
Tel: (012) 345 1541 / 082 4488 221 / 082 4488 159
E-pos: info@brainability.co.za
Webwerf: www.brainability.co.za
Volg hul op Facebook: BrainAbilitySA