Hierdie maand het Afrikaans.com weereens met ons vriende by NB-Uitgewers hande geneem vir die samestelling van die NB-Uitgewers en Sarie-tydskrif se top-10-boekbederf. Hierdie boeke vorm deel van Sarie se boekbederf-pakkies – ’n maandelikse geskenkpakkie wat bestaan uit allerhande lekkernye soos wyn, lekkergoed, tydskrifte en natuurlik een NB-boek.
Hierdie maand bied ons jou ook ’n gratis hoofstuk uit elke boek. Laai dit hieronder af en lees lekker saam.
Besoek ook gerus jou naaste Exclusive Books of bestel een van hierdie boeke aanlyn en bederf jouself met lekker leesstof gedurende die inperkingstyd.

Somtotaal
Anschien Troskie
ISBN: 9780798180856
Uitgewer: Human & Rousseau
Ester Labuschagne en Nonthando Majolo het saam grootgeword op ‘n afgeleë plaas in die Oos-Kaap. Boesemvriendinne gewees – tot een dag van verraad. Nou, soveel jare later, met Nonthando se dogter Mila self al ‘n volwasse vrou, kom spook die verlede by Ester. Met dié nuwe roman vestig Troskie haar opnuut as meevoerende skrywer. Dit is ’n storie wat geen leser onaangeraak sal laat nie. Troskie skryf met groot vertedering, maar ook met humor. Somtotaal is ’n hoogtepunt in haar skrywersloopbaan.

Die seders van Libanon
Adriana Faling
ISBN: 9780796321510
Uitgewer: Lux Verbi
In Sirië vrees Ilizabith elke dag vir haar lewe, die man wat haar sy vrou gemaak het, is boos. In Libanon probeer Pascale haar roeping uitleef, maar sal haar ouers dit insien? Hoewel hulle in dieselfde skool in Pretoria is, verskil Talitha en Yasmine se wêrelde hemelsbreed. Talitha probeer vreesloos veg vir wat reg is en Yasmine probeer oorleef. Deur ‘n Goddelike saamloop kruis Ilizabith, Pascale en Talitha en Yasmine se paaie, en elkeen moet besluit of hulle gehoorsaam sal wees aan God.

Luistervink
Madré Marais
ISBN: 9780798180887
Uitgewer: Human & Rousseau
‘n Verrassende kortverhaaldebuut deur ‘n jong skrywer van Bloemfontein. Marais is goed geskool in die klassieke Afrikaanse kortverhaal, maar bied vernuwing op vele vlakke. Elke verhaal bevat iets ongewoons, nie net wat betref taal en register nie, maar veral t.o.v. karakter en perspektief. Hoogtepunte sluit in “Brandoffer” (briewe aan ‘n ma), “Sinker” (oor ‘n seun wat op die rand van ‘n damwal huiwer) en “Driehonderd-vyf-en-sestig en ‘n kwart”.

Soekmekaar
Dana Snyman
ISBN: 9780624088660
Uitgewer: Tafelberg
Soekmekaar is ’n stuk of vyftig stories waarin Dana Snyman besin oor enigiets van Donald Trump tot ’n veertigste skoolreünie. Hy vertel van sy kennismaking met Eugène Terre’Blanche en van die Bogosi-gesin van Ventersdorp wat by hom op Jacobsbaai gewoon het. Hy gesels met Jemina Meko oor Karel Schoeman se laaste dae. Hy beskryf hoe mense oor grense na mekaar probeer uitreik. Hoe ons mekaar soek en nie altyd vind nie. Menslik, roerend, harsteer én snaaks, soos net Dana Snyman kan.

Kyk na my
Nataniël
ISBN: 9780798179935
Uitgewer: Human & Rousseau
Met hierdie unieke boek vertel Nataniël die verhaal van ’n kindertyd in drie klein dorpies en een groot voorstad, ’n era waartydens reëls blindelings gevolg is en oor ’n jong seun met ’n oorweldigende vrees vir die gewone. Kyk na my is Nataniël se eerste volwaardige memoir.

Zephany: Twee ma’s. Een dogter. ‘n Ongelooflike ware verhaal
Joanne Jowell
ISBN: 9780624086437
Uitgewer: Tafelberg
Die ontvoering van baba Zephany Nurse uit die kot langs haar ma se hospitaalbed het die hele Suid-Afrika aangegryp – en toe die Nurse-gesin haar per toeval vind, was dit weer orals hoofnuus. Haar naam is Miché Solomon, en sy vertel hier vir die eerste keer háár storie, in haar eie woorde. Dit is ’n ontstellende storie van trauma en verlies, maar ook ’n storie vol hoop, oor liefde en wat dit beteken.

Die kind uit die wingerd
Helene de Kock
ISBN: 9780798179096
Uitgewer: Human & Rousseau
In die herfs van 1918 kom ’n driejarige uit Vredenhoek se wingerd die Erasmus-familie se binnekring ingestap. Die kind kan nie sê waar hy vandaan kom nie. En dié wat weet, wil nie praat nie. Altyddeur smag Laurens Erasmus om te weet wie hy werklik is. Nie eens die buurdogter, wat daardie eerste dag in die wingerd haar hand na hom uitgesteek het, kan hom help nie.
En dan met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, verander alles. Vir sommige beteken dit die einde. Vir ander maak dit deure oop.

Kinders van Spookwerwe
Lize Albertyn-du Toit
ISBN: 9780798177207
Uitgewer: Human & Rousseau
Milano Kaliempie is Mieta en Hennerik se enigste vlaktekuiken op die plaas Spookwerwe in die dorre Bo-Karoo. Hul buurman, Geelsuiker, leer Milano die geheime van die veld, ook jakkalsjag, en op die werf is dit Mieta wat soggens douvoordag brood inknie en die hartklop van hul bestaan is. Dis wanneer juffrou Meintjies die dag met haar wit karretjie by die huis aankom, dat die hol kol op Mieta se maag kom sit. Dis ’n roman wat soos die vaal stof van die Bo-Karoo diep in jou hart kom lê.

Die Wolkversamelaars
Nadia de Kock
ISBN: 9780795709036
Uitgewer: Kwela
Die laaste wens van ’n liewe vriendin stuur Talla na die Glencoe-vallei in Skotland. Sy neem haar wolkboekie saam om haar stokperdjie, die soeke na seldsame wolke, voort te sit. Daar word sy by ’n eienaardige rondloper, Mikey, se soektog na sy verdwene geliefde betrek. Maar dit blyk gou dat Mikey se geestestoestand troebel is. Dan duik herinneringe aan Talla se kinderdae in Warmbad, en aan haar eerste liefde, Astian, by haar op. Sal sy waag om antwoorde op vrae uit haar verlede na te jaag?

Die dekonstruksie van Retta Blom
Zelda Bezuidenhout
ISBN: 9780795708992
Uitgewer: Kwela
Lauretta Blom is al jare lank dolgelukkig in die rol van ma en eggenoot in haar pynlik netjiese wit-en-beige droomhuis. Maar een Donderdagoggend laat die skynbaar onbenullige optrede van haar man haar gedagtes oortyd werk. Gou voel dit asof al die sekerhede in haar lewe wankel. Retta begin dinge doen wat sy nooit vooheen sou oorweeg het nie. ’n Road trip Kaap toe lei tot onverwagse ontdekkings – nie net oor haarself nie, maar ook oor Tobias, die man met wie sy ses-en-twintig jaar getroud is.