“Tuisonderwys is ontwerperonderwys. Dis ’n manier van leef wat jou toelaat om aan te pas by jou gesin se unieke omstandighede.” – Marisa Haasbroek, oolfant.com
Jy wil jou kind tuisskool en dit is jou reg en boonop wettig in Suid-Afrika, maar hoe en waar begin jy? Afrikaans.com het die volgende riglyne uit verskeie bronne saamgestel:
Voordat jy daaraan dink om jou juffrou-hoed op te sit en voor die “swartbord” in te skuif, moet jy deeglike navorsing doen en soveel moontlik inligting inwin, want wanneer dit by tuisskoling kom, is daar heelwat scenario’s om te oorweeg. Daar is beslis nie net een resep om dié koek te bak nie. Daarom stel ons voor jy gebruik die internet en sluit aan by een of meer tuisskoolgroepe en/of -forums waar jy nie net raad kan kry nie, maar ook die regte ondersteuning. Een so ’n instansie is die Pestalozzi Trust waar tuisskolers saamspan om mekaar se vryheid te beskerm om tuisonderrig te doen. Daar is ook heelwat video’s, aanlyn klasse en e-boeke oor die onderwerp.

’n Paar riglyne
- Maak kontak met ander tuisskolers in jou omgewing – dalk kan julle soms uitstappies saam reël of sommer net idees uitruil. Dit is ook ’n manier vir die kinders om te sosialiseer met ander kinders wat tuis onderrig word, want alhoewel navorsing bewys het dat sosialisering oor die algemeen nie ’n probleem is by tuisskolers nie, is daar wel verskille in die tipiese dag van ’n tuisskoler teenoor ’n kind wat skool toe gaan.
- Doen tuisonderwys sover moontlik in jou moedertaal. Navorsing het bewys dat kinders wat in hulle moedertaal leer moeilike konsepte beter verstaan en kan toepas en hulleself ook makliker kan uitdruk. Hulle leer dus makliker.
- Taal en wiskunde is die twee belangrikste vakke wat alle kinders moet baasraak. Die res van die leermateriaal kan aangepas word na gelang van die kind se belangstellingsveld.
- Tuisonderwys is nie maklik nie en dit is belangrik dat jy genoeg tyd inruim vir ontspanning en rus – net sodat jy weer jou batterye kan herlaai – en weer kans sien vir die tuisskooldag.
Die belangrikste take as tuisskoler
- Leer jou kinders HOE om te leer – nie wat om te leer nie.
- Kinders leer die beste as hulle probleme moet oplos. Daarom is dit baie belangrik om nie net bloot die antwoorde te verskaf nie. Die kind moet self m.b.v. die bronne wat beskikbaar is, by die antwoord uitkom.
- Werk altyd op jou kind se ouderdom- of ontwikkelingsvlak. Die rede hiervoor is dat kinders se breine/verstand volgens sekere fases ontwikkel. Daarom kan ’n kind van 10 nie op dieselfde vlak dink as sy/haar ouer sibbe of ’n volwassene nie.
- Stel jou kinders bloot aan inligting, bv. boeke, die biblioteek, gesels oor die nuus/wêreldgebeure, lees vir hulle voor oor ’n verskeidenheid onderwerpe.
- Laat tyd toe om inligting te internaliseer. M.a.w. baie kinders het tyd nodig en dit kan soms lyk asof die kind niks nuuts bygeleer het nie, maar kort voor lank sal jy tog agterkom dat leer wel plaasgevind het, maar teen die kind se unieke pas.
- Stel altyd haalbare doelwitte. Moeilike take hoef nie op een slag afgehandel te word nie – breek dit af in afsonderlike stappe.
’n Voorbeeld: Ses dinge wat jy met jou sesjarige moet doen
Leer vind nie noodwendig in die klaskamer plaas nie. In ’n blog op oolfant.com, noem ’n tuisskoler, Louise Bodenstein, die volgende belangrike aspekte wat met jou sesjarige gedek moet word:
- Lees: Dit sluit voorlees in.
- Tel: ’n Mens kan letterlik alles rondom jou tel – selfs die borde in die kas.
- Vorms en patrone: Kyk na voorwerpe en bepaal of ’n deur ’n reghoek of ’n vierkant is, ens.
- Ruim tyd in vir speel en aktiwiteite: Dit is belangrik vir motoriese vaardighede. ’n Fikse liggaam is belangrik vir ’n fikse brein.
- Maak die leerwerk prakties en meer konkreet: Doen eksperimente om byvoorbeeld die watersiklus te illustreer, oefen lees en skryf met magneetletters op die yskas, ens.
- Praat oor alles waarmee julle besig is en luister: ’n Gefokusde geselsie/bespreking verg so min as 15 minute per dag en dit sluit voorlees, sing en rympies leer in.
Vyf hoofstrome van tuisskool
Die keuse oor hoe jy tuisskoling wil benader, berus by jou as ouer en jou kind. Kies uit:
- Tradisionele onderrig: Dit is “skool” soos jy dit waarskynlik ervaar het. Jy volg dus ’n kurrikulum met toeste, eksamens en take.
- Klassieke onderrig: Die kind word geleidelik geleer om te dink. Charlotte Mason, ’n onderwyseres in Engeland rondom die draai van die 20ste eeu, het geglo ’n kind is ’n persoon en daardie “hele” persoon moet onderrig word. Hieruit het onder andere die gebruik van “lewende boeke” (waar die onderwerp lewendig word deur die narratief) voortgespruit. ’n Metode waardeur kinders geleer word om hul eie konneksies/verbande te vorm en die storie soos wat hulle dit gelees/gehoor het in hulle eie woorde terug te vertel. ’n Uitstekende manier om byvoorbeeld woordeskat, begrip en redenasievermoë te ontwikkel.
- Eenheidstudies: Dit kom daarop neer dat ’n tema gekies word en die spesifieke tema word dan ’n paar weke lank gevolg. Kinders leer dus deur te doen.
- Skoollosse benadering: Behalwe skoolwerk, word die alledaagse lewe ingespan en dien as leerskool. Kinders is entrepreneurs en bedryf hulle eie ondernemings, of hulle help hulle ouers in hulle ondernemings. Een voorbeeld is Niah Malan wat op 12-jarige ouderdom ’n prys ontvang het vir die mees innoverende Afrikaanse produk, Boeremeisie Beeldskoon. ’n Onderneming wat sy vanaf hulle plaas bedryf.
- Die eklektiese benadering: Dit is ’n kombinasie van bogenoemde metodes en word aangepas volgens die kind se behoeftes of voorkeure. So kan wiskunde tradisioneel d.m.v. ’n spesifieke kurrikulum wat toetse en eksamens insluit, onderrig word, terwyl geskiedenis weer op die eenheidstudie-metode geleer kan word.
Voordele van tuisskool
- Jou tyd en skedule is aanpasbaar volgens die gesin se behoeftes.
- Die kurrikulum of lesplanne word volgens die kind se behoeftes en belangstellings aangepas.
- Jou kind se unieke behoeftes, potensiaal en talente word in aanmerking geneem en ontgin en is nie onderworpe aan die invloed van groepsdruk nie.
- Leergierigheid ontwikkel omdat die kinders deur projekte en uitstappies die werklike lewe kan ontdek en sodoende hulle kritiese denke kan ontwikkel. Dit is dus vir hulle lekker om te leer.
- Gesinsbande word versterk.
Nadele van tuisskool
- Ouers neem volle verantwoordelikheid vir hulle kinders se onderrig en dit kan oorweldigend wees, veral omdat hulle nie opgeleide onderwysers is nie.
- Ouers word blootgestel aan kritiek van familie en vriende omdat tuisskoling nie die norm is nie.
- Ouers se vrye tyd word in ’n mate ingeboet, aangesien tuisonderrig ’n hele oggend/middag in beslag kan neem.
- Finansieel is dit wel goedkoper as om jou kind skool toe te stuur, maar daar is gewoonlik net een voltydse inkomste beskikbaar, en net soms ’n deeltydse inkomste.
- Die geleentheid vir spansport is min en afrigting by klubs is duur.
- Sosialisering verg meer reëlings, maar is nie noodwendig ’n nadeel nie.
- Ouers voel hulle is nie altyd opgewasse nie. Hou egter in gedagte dat jy as ouer nie ’n onderwyser hoef te wees nie. Daar is talle onderwysgidse, toetse en memorandums op die internet beskikbaar en indien nodig, kan jy ekstra hulp by gekwalifiseerde onderwysers kry.
- Die kwessie van matriek. Dit hang af van die roete waarop jy as tuisskoler besluit. Daar is heelwat opsies beskikbaar, bv. Nasionale matriek, IEB, Cambridge, ens. Maak net seker dit word deur universiteite erken.