Hier kry jy as voornemende student inligting oor watter instellings in Afrikaans klas gee, ongeag die studierigting, waar jy Afrikaans as vak kan neem en waar om aan te klop as jy ’n beurs of studielening nodig het. Ons verskaf ook ‘n lys van instellings in die buiteland waar Afrikaanse taal- en/of letterkunde en kultuur as vak aangebied word. Vind meer uit oor mentorskapprogramme en leerlinggeleenthede by maatskappye, asook werksgeleenthede vir Afrikaanssprekendes.

Hoe om ’n wen-CV op te stel
’n Curriculum Vitae kan klink na ’n moeilike ding, maar eintlik is ’n CV net ’n advertensie en vertel jy maar net vir ’n moontlike werkgewer waarom jý die beste persoon vir die werk is. Want jy is mos! Dis die eerste indruk wat ’n werkgewer van jou kry en die doel daarvan is om vir jou ’n onderhoud los te slaan. Daarom moet dit so professioneel moontlik gedoen word.
Op Solidariteit se webblad gee Adelle Roux, stap-vir-stap-riglyne wat beslis kan help.
Die Noordwes-Universiteit se loopbaansentrum gee ook wenke en raad en heelwat moets en moenies met nuttige voorbeelde.