Net buite Pella kom ek my eerste duine tee. Die dierbare Suster Katriena wat eenvoudig net nie genoeg vir my kon doen nie. Hierdie is die grot wat snags verlig word en is glo sonder vergoeding deur mans uit die gemeenskap gebou. Voor ek uit Springbok uit weg is, het ek gaan hulp soek vir my waaierband wat tjirp soos ‘n swetterjoel voëltjies in ‘n versamelnes. En daar kry ek vir Morris en oom Jan wat op ‘n Saterdagoggend hul tyd afstaan om my te help en al wat ‘n los ding is vasmaak en die waaierband vir stof spuit. Die jong Morris weier vergoeding. “Ek het dit mos uit my hart uit gedoen.” Tant Katriena Basson in hul tradisionele ronde huis wat steeds langs hul steenhuis staan en graag deur hul kinders gebruik word wanneer dié kom kuier. In die dak hang emmertjies en ‘n poster van ‘n vorige pous. Die voorportaaljie in die nonnehuis waar daar vir my gedek is.
Onder ‘n palm in Pella
Sommer met die intrapslag hoor ek in Pella uitdrukkings wat ek nog nooit voorheen teëgekom het nie. Ek gaan tuis in die Rooms-Katolieke huis waar kamers vir gaste te huur is. Daar is geen ander gaste nie en dit voel byna asof ek self een van die ‘susters’ is. Ek het mos hoeka lankal die regte ‘skirtsie’ vir hierdie lewenstyl! Die eenvoud trek my onmiddellik aan en ‘n kinderlike vrede, wat ek baie lanklaas ervaar het, dring van die grond af na my toe deur. Iets in my wil snik van verligting. Al was ek nog nooit voorheen hier nie, wéét ek, ek was al baie hier.
Soggens word ek wakker met die gelag van skoolkinders wat vrolik in groepe skool toe stap verby die wit Jesus op die katedraal se balkon met sy uitgestrekte arms en netjiese baard. Hulle klank is anders as meeste ander dorpe se kinders en ek herken dié klank – dis kinders wat werklik gelukkig is. Verder hoor ek die groep mense wat die erf skoon hark en vee. Ek hoor sandale in stof en duiwe wat op die dak paar en gly. ‘n Bekendheid laat my stil van weemoed. Hier is ‘n klankbaan byna soos by die Dera in Indië.
My etes word deur die nonne verskaf en ek moet opstap na die nonnehuis om daar in hul voorportaaltjie by ‘n klein, wankelrige tafeltjie te gaan wag om bedien te word. Hulle mag nie saam met my eet nie, maar saans as hulle tyd het, hou veral Suster Katriena Johanna my graag geselskap.
Sy lag maklik. Haar mooi is rondommooi.
“Gaan vra vir die mense wat is bloed maak,” por sy my aan.
So stuur sy my die gemeenskap in en is ek uit die veld geslaan om van ‘n hele klomp tradisies en sêgoed op Pella te leer wat aan my heeltemal onbekend is. Daar is heelwat rituele wat gevolg word wanneer iemand afsterf, en ‘bloed maak’ is die slag van ‘n dier op dieselfde dag wat die tyding ontvang word. Dan moet die bloed opgevang en gekook word sodat dit nie sleg word nie en in ‘n yskas gestoor word om die besoekers mee te ‘streep.’ Om te streep, is om met hierdie bloed ‘n strepie op jou maag te maak (vroue) en vir die mans is dit op hul een arm.
“Ek het al dodekos geëet sonder om te streep en ek was self daarna byna dood. Dis nie vir spot nie. Dis ‘n ernstige saak of jy nou daaraan glo of nie,” waarsku Aggie my. Sy is een van die vroue by wie ek van al hierdie dinge leer.
“Ek doen nie die bloed nie,” sit Mary Fienies in. “Ek druk sommer my vinger gou in die vleis se sous en dan streep ek my daarmee,” beduie sy so onder haar hemp in. Dit is blykbaar ook voldoende, mits met die nodige erns aangewend.
Aggie vertel sy dink die gestrepery met bloed is omdat die oorledene honger dood is. “Daai persoon kon mos vir dae nie eet nie? Die streep wys jy deel met die oorledene in jou gedagtes.”
Maar nog voor ‘n mens by die huis van die oorledene kan inkom, moet jy eers by die hek deur familielede besprinkel word met heilige water.
“Jy kan koes, maar dis beter om dit maar te verdra,” verduidelik Mary.
Snags in Pella brand daar ‘n kruis met gekleurde ligte in ‘n grot van klippe gehou langs ‘n standbeeld van Maria waar bokke bedags opklouter en die potplante vreet.
Ek wil nie slaap nie, want ek wil niks mis nie. Snags wanneer die tavernes uiteindelik ophou doef en die kakofonie van honde ophou blaf, is daar ‘n magiese atmosfeer. Behalwe vir die twee honde wat in ‘n hok aangehou word sonder voldoende skadu in die priester se erf, is alles vir my ‘n verwondering.
Onder ‘n palm in Pella hoef mens nie te bid nie. Daar is stilte genoeg.