
Dit was vir my interessant om te sien hoeveel waarde Whasheila aan spesifieke rituele in haar geloof heg.

Whasheila woon in ‘n netjiese huis saam met ‘n gesin waar sy iemand versorg en waar almal duidelik baie erg is oor haar.

Die foto waarop Whasheila so trots is en waar sy uiteindelik haar rooi, langhaar-pruik en spierwit rok kon dra!
‘n E-pos aan die pous – Matjieskloof, Springbok
Wat is in ‘n naam? Hierdie insetsel ruk my hoe meer ek dit redigeer. Aanvanklik was ek teleurgesteld omdat dit nie was wat ek beplan het nie, maar eers later het ek besef my klem het op die verkeerde plek gelê. Hier is iets so rou jy kan dit aanvanklik heeltemal miskyk.
Matjieskloof lê net oor die berg vanaf Springbok en terwyl ek daar was, het ek selfs mense oor die ‘berg’ sien dorp toe stap. Padlangs is dit sowat 30 km weg. Vandat ek die eerste keer oor die berg dié Rooms-Katolieke-nedersetting ontdek het, het ek gewonder wie ek hier sal kry om ‘n onderhoud mee te kan voer. Eers kon ek nie die regte persoon kry nie.
Ek het nie vir Whasheila op Matjieskloof ontmoet nie, maar by die gemeenskapsradiostasie op Okiep waar sy my as ontvangsdame verwelkom het.
“Happy days, happy days!” het sy my gegroet toe ek vir my radio-onderhoud opdaag en dadelik het ek geweet, met haar wil ek meer gesels. Toe ek boonop hoor sy kom van Matjieskloof af – die plek waaroor Vaselinetjie se regisseur liries was – het ek haar vir ‘n opname genader.
Ek het baie uitgesien om die opname te maak, want met ‘n karakter soos Whasheila het ek gemeen dit sou baie sports wees. Maar die onderhoud het glad nie verloop soos ek beplan het nie. Maak nie saak wat ons voor die tyd bespreek het oor hoe ons dit gaan aanpak nie (my doelwit was om oor gay-Afrikaans te gesels), die oomblik as ek verfilm, het Whasheila in ‘n ‘aanbieder’ verander en haar sinne selfs begin met “Liewe kykers!” En die toon van haar dialoog was presies ook dit. Na ‘n tyd het ek besef ek gaan nie hier iets anders kry nie en ek moet eerder dit wat gegee word, ‘inspan’ en gebruik.
Dit was Whasheila se idee om die nonne wat vir haar op laerskool skoolgehou het vir die groot kerk se sleutel te gaan vra en sjoe, wat ‘n fantastiese idee was dit nie! Dit was ook lieflik om een van die susters van Matjieskloof se gemeente te ontmoet en uit hierdie deel van die opname het veral die klanke vir my uitgestaan: die sleutel in die konsistorie se deur, Whasheila se hoë hakke wat voor op die vloer weergalm.
En daar ontdek ek Whasheila kan nie fluister nie, ha!
Of ons het te lank gedraai, of die suster het nie gehou van wat Whasheila te vertel gehad het nie, maar skielik het ons gemerk die suster staan op en begin die ligte afskakel – ‘n duidelike teken dat ons vergunning verby was.
Op Matjieskloof draai die dorpie se lewe om die kerk en was dit jare lank die klein, verstote seuntjie, Charlton Boois, se grootste droom om eendag ook saam met sy klasmaats ‘aangeneem’ te word, maar hy wou dit doen in lang, rooi hare en ‘n pragtige wit rok met hoë hakke.
By ander inwoners sou ek hoor dat hierdie kind soms bo agter die rotsplate teen die omliggende koppies gehoor is waar hy wegkruip en huil. Die feit dat hy as Whasheila so dapper was om selfs te waag om vir die pous in Rome ‘n e-pos te stuur ondanks al die teenkanting wat hy reeds gekry het, het my net weereens laat besef, ‘n mens moet nooit iemand onderskat nie.
Tussen tonele het ons in my kar teen die snerpende koue en ysige wind weggekruip. Dit is hier in my kar toe ons sommer net gesels het, waar ek amper gestik het toe ek hoor hoe Whasheila op haar besondere naam besluit het! Ek was werklik so geskok dat ek vir etlike oomblikke net stilgesit het en haar wéér gevra het om te verduidelik.
Smart én triomf in een naam.