Persverklaring
Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord.
In die kategorie Prys vir Poësie was die beoordelaars Lynthia Julius, Bernard Odendaal en Christo van der Westhuizen.
Die wenner is Herman Wasserman met Waterman, uitgegee deur Queillerie.
Die beoordelaars meen dat die weerklank wat Herman Wasserman se van in die titel Waterman vind, reeds suggereer dat wat in dié digbundel verwoord staan, sterk outobiografiese oorspronge het. Tog verteenwoordig die “ek” wat in die gedigte figureer ook ’n bepaalde soort mens: ’n “geleerde drenkeling” wat sterk bewus is daarvan dat hy “blank, bejaard en bang” is, soos dit in sekere van die verse lui.
Die bundel ondersoek die spanningsveld tussen persoonlike belewenisse en die groter uitdagings van ons politieke, maatskaplike en natuurlike omgewings.’n Wye kulturele verwysingsveld spreek uit die gedigte; tog bly Waterman ’n toeganklike, innemende bundel. Die verspreide metaforiese benutting van water- en seevaartverwante woordeskat en segswyses val op en versterk die indruk van bundelsamehang. Dié afgeronde digdebuut van hom dra kragtig by tot Wasserman se reeds gevestigde skrywerskap.
Rina Cilliers van die Romanza-stal wen in die kategorie Prys vir Romanses met In ’n sprokie verweef.
Die beoordelaars, Carol-Ann Alexander, Christelle Botha en Amanda Claassens, meen dat In ’n sprokie verweef ’n lekkerleesverhaal met geloofwaardige hoofkarakters is. Dit speel af in die pragtige landskap van die Hemel-en-Aarde-vallei.
Die ontwikkelende verhouding tussen Alichi en Stefan lees natuurlik, en die spanning tussen hulle word nie te vroeg ontlont nie.Alichi se beroep – weefwerk en weefontwerp – is ’n minder bekende handvaardigheid en bring ’n interessante en vars aspek na die storielyn.
Die kulturele dinamiek van die plaaswerkers se vroue, asook familiekonflik, rond die storie goed af en verskaf ’n groter konteks. Baie lesers sal met die storie kan identifiseer. Dit spreek van hoop en drome en moed hou.
Die Prys vir Liefdesroman is vanjaar deur Malene Breytenbach, Anschen Conradie en Cliffordene Norton beoordeel.
Sophia Kapp met Sterre is vir altyd, uitgegee deur Boekdiva Uitgewers is vanjaar die wenner.
Sterre is vir altyd is ’n sterk liefdesroman wat in Parys afspeel. Dit is ’n moderne, eg Suid-Afrikaanse roman. Max se verlede, veral sy ma se storie, gee die roman onverwagse en nodige diepte.
Max en Janie se Parys-week staan sentraal in hierdie romantiese verhaal wat ewe gemaklik as ’n goedvoelroman beskryf kan word. Die koestering en geborgenheid van omgeegroepe skep ’n holte vir die lesersvoet wat toenemend uitgedaag word deur die hedendaagse onrus en chaos.
Subtiele perspektiefwisselings verseker ook dat die leser by die binnewêreld van die twee hoofkarakters betrek word, eerder as om deurlopend ’n eensydige beeld te verkry of ’n onbetrokke toeskouer te wees.
Hierdie aangrypende en genuanseerde verhoudingsroman is duidelik die werk van ’n ervare skrywer, sê die beoordelaars.
Drama gee lewe aan die letterkunde, en vanjaar se Prys vir Dramateks is beoordeel deur Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Wim Vorster.
Nicola Hanekom is vanjaar die wenner met Deur die donker uur. Die beoordelaars beskryf Deur die donker uur as ’n Griekse tragedie in ’n eietydse voorstelling oor ’n verbygegane era wat immer sal voortduur.
Die werk is ’n absurde of abstrakte weergawe van die werklikheid. Nie alleen ruk dit die siel nie, maar dit onderstreep weer eens, sonder kanonskote, die feit dat die vrou altyd, in alle omstandighede, tydens vrede of oorlog, die onderspit delf. Nie soseer in persoonlike verhoudings nie, maar polities en sosiaal gesproke.
Emily Hobhouse is die vertrekpunt, maar nie die hoofkarakter nie.
Dit is ’n ryk geskakeerde teks vol wendinge en onverwagse beelde. Hanekom is ’n skerpsinnige en intelligente dramaturg met onberispelike intuïsie en ’n fyn aanvoeling vir wat belangrik is en gesê móét word, teenoor dit wat bloot inslag by ’n gehoor sal vind.
In die kategorie Prys vir Spanningslektuur, een van die mees snelgroeiende en gewildste genres in Afrikaans, was die beoordelaars Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen.
Die wenner vanjaar is Deon Meyer met Skorpio, uitgegee deur Human & Rousseau.
Die beoordelaars sê as spanningsverhaalskrywer met internasionale aansien het Deon Meyer hom oor die afgelope drie dekades as ’n meester van misdaadfiksie
bewys. Derhalwe word elke nuwe Meyer-roman aan buitengewoon hoë verwagtinge onderwerp: die uitdaging is nie meer bloot om ’n goeie spanningsverhaal te skryf nie, maar om binne ’n gevestigde en hoogs herkenbare oeuvre (en genre) steeds te verras.
Met Skorpio slaag Meyer uitstekend daarin.
Die roman demonstreer opnuut Meyer se buitengewone beheer oor die “argitektuur” van die spanningsverhaal: die fyn dosering van inligting, die afwisseling tussen verhaallyne, die manipulasie van lesersverwagtinge en die geleidelike samevloeiing van oënskynlik onverwante gebeure.
Veral opvallend is die wyse waarop Meyer in Skorpio die morele sekerhede waarop die tradisionele misdaadverhaal berus, kompliseer. Die onderskeid tussen reg en verkeerd, skuld en onskuld, word toenemend minder vanselfsprekend.
Lindie Koorts, Jean Meiring en wyle Bettina Wyngaard het vanjaar as beoordelaars opgetree in die kategorie Prys vir Niefiksie.
Zirk van den Berg met Landuit, uitgegee deur Tafelberg, is vanjaar die wenner.
Die beoordelaars beskryf Landuit as die roerende oopskryf van ’n ervaring wat vir baie Suid-Afrikaners nie meer ’n vreemdheid is nie. Emigrasie en vat-jou-goed-en-trek-Ferreira het ’n uitwerking op byna elke Suid-Afrikaanse familie. Binne die kader van die groeiende boekrak oor dié onderwerp, staan Landuit uit.Met snydende eerlikheid en heelwat selfspot en humor, bring dié pastiche-vertelling ’n viertal lewens en die land Nieu-Seeland lewend, onderhoudend en insiggewend voor die oog.Landuit is ’n tydsdokument; ’n brose en eerlike blik op emigrasie wat vlymskerp deur oorvereenvoudigde opvattings oor die onderwerp sny. Emigrasie, soos Afrika, is nie vir sissies nie. Die leser deel eerstehands in die ontheemding, kwesbaarheid en selfvertwyfeling. Daar is rou en verlies, maar ook deursettingsvermoë, hoop en humor.
Die ATKV-Prosaprys is een van die oudste en mees gerespekteerde letterkundepryse in Afrikaans. Dit word reeds sedert 1984 toegeken aan die skrywer van die beste gewilde prosa wat in die voorafgaande jaar verskyn het.
Vanjaar se beoordelaars vir die ATKV-Prosaprys was Marni Bonthuys, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe.
Patmos deur Willem Anker, uitgegee deur Queillerie, stap met die louere weg.
Die beoordelaars beskryf Patmos as ’n uitskieter-teks, werkstuk en kunswerk – ’n geslypte juweel van ’n teks.
Dit is ruimtelik in omvang, van vóór die oerknal, en ook die toekoms in. ’n Meesterwerk, poëties, ironies, slu, aweregs, speels, belese en in gesprek met eietydse kwessies en eksistensiële krisisse en vrese.
Patmos is bedrieglik eenvoudig en verstommend kompleks. ’n Verhaal wat vertel word deur middel van verskillende genres, uitsonderlike karakters wat weerloos én sterk is. Die roman word beskryf as liries in aanbieding, mineur in toon, droewig en pragtig en perfek.Die storielyn is in wese die liefdesverhaal van twee karakters wat beide erge trauma en pyn ervaar voor hulle ontmoet. Die vroulike hoofkarakter is ook die ma van ’n stom seuntjie wat die derde belangrike karakter in die roman verteenwoordig. Hoe hierdie drie karakters mekaar vind om ’n gesin te vorm, ten spyte van die talle struikelblokke wat hulle moet oorkom, word met teerheid geskets sodat hierdie eksperimentele roman ’n diep menslike verhaal word wat die leser ontroer.
Hartlik geluk aan al die wenners van vanjaar se ATKV-Woordveertjies! Dit is vir die ATKV ’n voorreg om Afrikaans se woordmeesters op hierdie manier te vereer.







