Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Het jy geweet ’n troeteldier kan ’n kind emosioneel, sosiaal en fisies bevoordeel?
Afrikaans.com het meer uitgevind oor die voordele van ’n wollerige (of selfs ’n geveerde of skubberige) vriend.
Troeteldiereienaarskap kan met verskeie positiewe uitkomste geassosieer word, sê dr. Elize van Vollenhoven, ’n dieregedragpraktisyn, senior dosent in etologie (Geselskapsdiere: Gedrag, Welsyn, Etiek en Reg) by die Universiteit van Pretoria en kenner in dierewelsyn en gedragsgeneeskunde. “Dit sluit onder andere verhoogde selfvertroue, ’n vermindering in gevoelens van eensaamheid, sekere aspekte van intellektuele ontwikkeling, beter sosiale bevoegdhede, meer sosiale interaksie en speelgedrag in. In die praktyk sien ons ook dat ’n troeteldier vertroosting tydens moeilike of stresvolle tye kan bied en fisieke aktiwiteit, soos stap en speel, kan bevorder.”
Marilize Botha, ’n arbeidsterapeut van Johannesburg, stem saam. “’n Troeteldier is altyd daar, altyd liefdevol en meestal gelukkig om by die kind te wees. Dus is die interaksie wat die kind met die troeteldier het, positief, stabiel en leer die kind om vir ’n ander lewende wese om te gee, te versorg en lief te wees. Dit leer ook die kind dat daar behoeftes is wat na omgesien moet word wat nie net sy of haar eie is nie.”
Goed vir omgee en selfregulering
Deur by die versorging van ʼn dier betrokke te wees, sê Elize, kan ’n kind ook ’n breër kultuur van omgee, verantwoordelikheid en respek teenoor ander mense en diere ontwikkel. “Interessant is dat studies ook suggereer dat die aanhou van ’n troeteldier gesprekke tussen ouers en kinders oor empatie, emosies en emosionele welstand kan stimuleer. Sulke gesprekke kan kinders help om gevoelens beter te herken en te verwoord, en om meer bewus te raak van die emosionele behoeftes van beide mense en diere. Dit kan ook gebruik word om kinders te leer dat mense en diere grense het wat gerespekteer moet word. Indien die troeteldier nie meer aan die interaksie wil deelneem nie, behoort die kind geleer te word om die interaksie te staak, eerder as om sy of haar wil op die dier af te dwing.”
Troeteldiereienaarskap het ook voordele vir kinders wat sukkel met emosionele regulering, sê Marilize. “Wanneer jy na iets anders omsien en die fokus nie op jouself is nie, kan die kinders makliker reguleer en daarom is die verhouding net positief vir ’n kind met regulerings- en angsprobleme. Die nabyheid, streling en aanvaarding van ’n diertjie help om met die emosies te werk. Aanraking van ’n troeteldier kan die kind help om te reguleer, streling en naby wees aan die dier het ’n positiewe effek wat help met regulering. Wanneer ’n sensoriese kind oorgestimuleer is, kan dit ook help om die kind weer te kalmeer.”
Doen jou huiswerk
Wanneer ons aan troeteldiere dink, is dit dikwels net honde en katte wat in ’n mens se geestesoog verskyn. Dog is daar deesdae baie ander diere om van te kies, van geitjies tot spinnekoppe. Coenraad Snyman (10) het onlangs ’n luiperdgeitjie ryker geword. “Ek het gelees oor hulle en gedink dit sal cool wees om een te hê. My geitjie se naam is Leo en sy is regtig oulik! Ek moet elke dag haar hok skoonmaak en elke tweede of derde dag moet sy kos (krieke, kakkerlakke, of sywurms) kry.” Coenraad se ma, Anna-Mart, merk droog op dat ’n geitjie ’n twee-vir-een troeteldier is, want jy moet ook ’n kriekkolonie onderhou as voedselbron.

Amelia Janse van Vuuren (9) se mak kokketiel, Nikki, gaan omtrent orals saam, selfs in die oggende wanneer daar skool toe gery word. Amelia is verantwoordelik om Nikki se hok skoon te hou, en om haar daagliks kos en water te gee. Sy gebruik ook haar spaargeld om vir Nikki nou en dan nuwe speelgoed te koop. “Ons kan sien dat sy die verantwoordelikheid ernstig opneem, en in die middae wanneer sy tuiskom, gaan sy direk na Nikki en haal haar uit haar hok om vir haar aandag te gee,” vertel Gerrie, Amelia se pa.
Die belangrikste is om vooraf te besluit watter dier sal die beste inpas by julle as gesin, sê Elize. “Algemene faktore wat in ag geneem behoort te word, sluit in die versorgingsbehoeftes van die dier en die tyd wat die troeteldier gaan vereis, hoeveel tyd die troeteldierouer beskikbaar het, die ouderdom en persoonlikheid van die kind, die gesin se omstandighede en leefstyl, die beskikbare ruimte, asook die tipe en hoeveelheid interaksie wat die spesie en individuele dier gemaklik sal verdra.
“By honde is dit ook baie belangrik om van jongs af die hond te leer wat van hom of haar verwag word. Die tipe opleiding is egter baie belangrik. Opleidingsmetodes wat op dwang, vrees of straf berus, kan angs en onsekerheid verhoog en daarmee saam die risiko van verdedigende of aggressiewe gedrag. Die belangrikste advies is dus: doen deeglik jou huiswerk voordat ’n troeteldier aangeskaf word. Praat met betroubare telers, veeartse, gedragskundiges en ander ouers wat in soortgelyke omstandighede is, en maak seker dat die dier se behoeftes realisties by die gesin se leefstyl pas.”
Marilize meen ook veiligheid moet altyd eerste gestel word. “Kinders en diere kan onvoorspelbaar wees en ouers moet seker wees die band werk. En dat die kind ook moet leer om ’n ander lewende wese te respekteer en nie af te knou nie. Maar in meeste gevalle is troeteldiere baie goed om die reguleerder te wees. Daar is baie suksesstories waar diere hul ‘mens’ red en ten koste van homself beskerm. Diere, veral honde, word ook opgelei om byvoorbeeld epileptiese aanvalle aan te voel en so hulp te kry en gevaar te minimaliseer.”
Waak teen dié foute
Elize voeg by dat daar ’n paar algemene foute is wat ouers en troeteldiereienaars oor die algemeen moet vermy. “Dit is belangrik om die dier se lyftaal te leer lees en sy of haar grense te respekteer. Indien die dier ongemaklik lyk of aandui dat hy of sy nie meer aan die interaksie wil deelneem nie, is dit tyd om die interaksie te staak en die dier ruimte te gee. ’n Besonder belangrike les om kinders te leer, is dus om toestemming en grense te respekteer: As ’n dier wegloop, wegdraai, vries of op enige ander manier aandui dat hy of sy ongemaklik is, moet die kind ophou met die interaksie. Dit is ook belangrik om te onthou dat die meeste diere nie daarvan hou om gesteur te word wanneer hulle slaap of eet nie. Baie diere hou ook nie daarvan om styf vasgehou of rof hanteer te word nie.
“Gee die dier daarom altyd ’n veilige area waarheen hy of sy kan onttrek en waar niemand die dier steur nie. In die geval van ’n hond, kan dit byvoorbeeld gedoen word deur babahekke, afskortings of aparte rusareas te gebruik, sodat die dier rustig kan slaap, eet of eenvoudig alleen kan wees.”
Oorwegings voordat jy ’n troeteldier aanskaf
Dink oor die volgende voordat jy troeteldierwinkel toe mik, sê Elize:
- Die belangrikste vraag behoort waarskynlik te wees: “Wil ons as gesin hierdie dier hê, die verantwoordelikheid vir sy of haar versorging aanvaar, en het ons die vermoë om die dier op die langtermyn te versorg?” Die ouer bly verantwoordelik vir die dier en moet seker maak dat die kind die troeteldier reg versorg.
- Moenie ’n troeteldier aanskaf as daar nie genoeg tyd is om aandag en sorg aan die dier te gee nie, of as die dier slegs as tydelike vermaak bedoel is, byvoorbeeld oor Kersfees of as ’n verjaardaggeskenk vir ʼn kind, en daarna by ’n welsynsorganisasie afgelaai word nie.
- ’n Troeteldier is ’n langtermynverbintenis. As ’n volwassene nie bereid is om behoorlik na die dier om te sien en daarmee ’n goeie voorbeeld vir kinders te stel nie, gaan die moontlike voordele van troeteldiereienaarskap verlore en kan die dier se welsyn benadeel word. Die aanhou van ’n dier vereis ’n finansiële én tydsverbintenis.
- ’n Troeteldier is nie toerusting wat ’n kind kan gebruik wanneer dit hom of haar pas nie. Dit is ’n lewende wese wat fisiese én emosionele pyn kan ervaar en voel en wat lewenslange, verantwoordelike sorg benodig.
- ’n Suksesvolle verhouding is uiteindelik een waarin beide die kind én die troeteldier voordeel trek en waarin die dier se welsyn deurgaans beskerm word.







