Help! My kind praat te hard

Tuis 5 Leerhulp 5 Artikels 5 Algemeen 5 Help! My kind praat te hard
Hard praat

Geskryf namens die AON deur Lizette van Huyssteen van die Practica Program

Hoekom praat sommige kinders so hard?

Kinders wat met ouditiewe prosessering sukkel vind dit moeilik om hul eie stemvolume te monitor. Hulle hoor nie altyd hoe hard hulle praat, of hoe stil die omgewing is nie. Dit beteken dat hulle nie hul stem outomaties aanpas soos wat ander kinders gewoonlik maak nie.

Prakties gesproke beteken dit dat hulle sukkel om die volume van stilte, normale gesprekke en harde geluide van mekaar te onderskei. Dit gebeur ook soms dat hulle hul eie stem nie so duidelik hoor soos ander kinders se stemme nie. Hulle praat dus harder om hulself te hoor.

Dis ook ongelukkig waar dat baie kinders wat probleme ondervind met ouditiewe prosessering ook sukkel met aandagbeheer. Gevolglik is dit vir hulle ‘n uitdaging om te onthou om hul gedrag by die eise van ’n spesifieke situasie aan te pas.

Dit beteken nie dat daar fout is met die kind se gehoor nie. Ouditiewe prosessering gaan oor hoe die brein klanke verwerk, nie oor hoe die ore hoor nie.

Wanneer moet ek bekommerd wees?

Dit is normaal dat kinders soms te hard praat, maar as dit gereeld gebeur en boonop gepaard gaan met ander tekens wat volgens kundiges op ’n ouditiewe prosesseringsuitdaging mag dui, sal dit wys wees om by ’n deskundige aan te klop.

Dit is ’n rooivlag wanneer ’n kind nie net hard praat nie, maar ook:

  • sukkel om instruksies te volg;
  • maklik oorweldig raak deur agtergrondgeluide;
  • nie stories kan onthou of terugvertel nie;
  • gereeld vra: “Wat het jy gesê?”, of direk na ’n instruksie nie weet wat om te doen nie;
  • nie hul stemvolume kan aanpas nie, al word dit gereeld verduidelik;
  • soms hoor sonder om dadelik te registreer wat die woorde beteken.

As jy onseker is, of daar net een of twee van die rooivlae teenwoordig is, sal dit wys wees om in elk geval met ’n pediatriese oudioloog of spraakterapeut te gesels. ’n Vroeë evaluasie kan baie gemoedsrus bring, en kinders trek geweldig baie voordeel uit vroeë ondersteuning.

Wenke

Hier volg drie praktiese wenke om kinders se stembeheer te help verbeter:

  1. Speel ’n ‘stemspeletjie’.

Sommige kinders het eenvoudig maar net oefening nodig om beter beheer oor hul stemme te ontwikkel, en dis altyd ’n goeie idee om ’n leerervaring speels aan te bied:

  • “Praat sag soos ’n muis”
  • “Praat hakerig soos ’n blikrobot”
  • “Praat stadig soos iemand wat slaap”
  • “Praat met ’n plat stem soos ‘n papegaai”
  • “Praat diep soos ’n reus”

*Hierdie speletjie laat kinders oefen om volume, toon en tempo te leer beheer, sonder dat dit vir hulle voel asof hulle gedissiplineer word.

  1. Modelleer en gee onmiddellike terugvoer.

Wanneer die kind te hard praat, sê iets om hom te help, soos: “Kom ons gebruik ons binne-stemme. Luister hoe sag praat ek. Praat sag – net soos ek.”

*Kinders met ouditiewe prosesseringsuitdagings het duidelike, konsekwente terugvoer nodig omdat hulle sonder leiding onbewus is van hoe hulle klink.

  1. Gebruik prente as visuele hulpmiddels.

Die prente hier onder help kinders om te verstaan wat ’n mens bedoel as jy sê dat hulle met ’n buitestem, praatstem, of fluisterstem moet praat.

Dit bied ’n praktiese, kindervriendelike uitbeelding van die drie basiese vlakke van stemvolume.

*Visuele leidrade help kinders om hul stem aan te pas wanneer hul ore dit nie akkuraat doen nie.”

Hard praat

Kontak gerus vir Wilna van Rooyen via Wilna@aonetwerk.co.za vir meer inligting.

by | Sep 21, 2026 | Algemeen, Artikels, Leerhulp

Deel hierdie plasing