Skrywer: Heidi Malan
“My kind weet presies hoe om ’n (negatiewe) reaksie uit my te kry.”
“Sy huil wanneer sy nie haar sin kry nie.”
“Hy manipuleer my.”
As enige van hierdie stellings al by jou opgekom het, bevind jy jou in bekende geselskap. Dit is van die mees algemene bekommernisse van ouers. En dit kan werklik uitputtend raak. Wanneer jou kind in die winkel ‘n woedeaanval (“tantrum”) het, elke aand teen slaaptyd stry om nie te gaan slaap nie, of lyk asof hy presies weet hoe om jou te laat skuldig voel, is dit heeltemal verstaanbaaar om te wonder of hulle jou goedsmoeds uitlok.
‘n Mens moet jouself egter die vraag afvra: “Manipuleer my kind my?” En as dit so is, op watter ouderdom steek dit kop uit? Die antwoord kan jou dalk verbaas, en dit kan jou dalk ook effe gerusstel.
Wat vind werklik in jou kind se brein plaas?
Volgens psigoanalis en ouerskapkenner Erica Komisar, het jong kinders eenvoudig nog nie die breinontwikkeling wat nodig is vir die soort berekende manipulering nie. Ware manipulering is inderwaarheid ’n ingewikkelde vaardigheid. Dit vereis dat ’n mens insig in iemand anders se denke en optrede het, kan voorspel hoe hulle gaan reageer, en dan doelbewus daardie kennis gebruik om ’n spesifieke uitkoms te kry.
Hierdie komplekse gedagtepatrone vind plaas in die prefrontale korteks, die deel van die brein wat verantwoordelik is vir beplanning, impulsbeheer, redenasie en om te besef wat die gevolge kan wees. En hier is die belangrike deel: Hierdie area ontwikkel nie oornag nie. Dit is ’n langsame proses wat tot in die vroeë volwasse jare voortduur.
Wanneer ’n peuter dus in die middel van die winkel woedend gil, dink hulle feitlik nooit, “As ek hard genoeg huil, sal mamma uiteindelik vir my die sjokolade koop” nie. Dit is waarskynlik iets veel eenvoudiger en eerliker wat gekommunikeer word. Die kind is waarskynlik gefrustreerd, teleurgesteld, moeg, honger, of voel so oorweldig dat hy nie weet hoe om sy emosies anders te hanteer nie. Vanuit ‘n ontwikkelingsperspektief is dit baie meer waarskynlik dat jong kinders hulle ongemak te kenne gee en nie besig is om een of ander slim plan te bewimpel nie.
Hoekom voel dit dan soos manipulering?
Waarskynlik omdat jou kind se gedrag jou werklik raak. Wanneer ‘n kind huil, stry, pleit, dikmond is of ‘n woedeaanval het, kan jy onder druk, skuldig, gefrustreerd, verleë of totaal uitgemergel voel. Daarom gaan die meeste van ons uiteindelik ingee. Nie omdat ons kind ons bewustelik gemanipuleer het nie, maar omdat die gedrag ons besluit op daardie oomblik beïnvloed het.
Die gevolg kan presies soos manipulering voorkom, selfs as die rede vir die gedrag iets heeltemal anders is. En hierdie onderskeiding maak meer saak as wat dit dalk lyk. Wanneer ons ‘n kind as ‘n manipuleerder etiketteer, bestaan die gevaar dat ons net op die gedrag fokus en die werklike rede vir die gedrag miskyk.
Vra liewer wat is die werklike rede
In Ouerdoeltreffendheidsopleiding (Parent Effectiveness Training), word ouers aangemoedig om dieper te delf en eerder te vra: “Watter behoefte het my kind wat hy probeer beantwoord?” Met ander woorde, wat is die werklike rede vir die optrede?
Alle gedrag het ’n doel. Kinders is op soek na verbintenis, aandag, veiligheid, ‘n gevoel dat hulle deel is van ‘n groep (“belonging”), rus, onafhanklikheid, of om bloot te voel dat hulle verstaan word. Soms gebruik hulle lomp of ontwrigtende gedrag om daarby uit te kom, want hulle het nog nie die vaardighede of die woordeskat om vir dit wat hulle nodig het, te vra nie.
Daarom, in plaas daarvan om te vra, “Hoe stop ek hierdie manipulering?”, vra liewer, “Wat is dit wat my kind op die oomblik ervaar?” Deur dié vraag te vra, is jy nie nou skielik besig om toegeeflik te word nie en jy ignoreer ook nie jou kind se moeilike gedrag nie. Dit help jou net om met begrip te reageer terwyl jy steeds ferm optree en gesonde grense stel.

Luister voor regstelling
Aktiewe luister is baie belangrik. Wanneer kinders voel dat hulle werklik verstaan word, en dat die persoon wat hulle in hul vertroue geneem het, werklik luister, versag hulle emosionele intensiteit dikwels en is hulle meer geneig om saam te werk en op die manier oplossings vir probleme te kry.
Stel jou voor jou kind sê: “Jy laat my nooit enigiets doen nie!” In plaas daarvan om onmiddellik te reageer en te sê: “Dis nie waar nie,” kan jy dalk sê: “Jy is regtig teleurgesteld omdat jy saam met jou vriende wou gaan en nie kan nie.” Let daarop dat jy nie saamstem nie, en jy gee ook nie toe nie. Jy erken net die gevoel. Daardie klein gebaar skep emosionele veiligheid, en emosionele veiligheid verminder dikwels die gedrag wat soos manipulering voel.
Wanneer kinders tieners word, word hulle wel meer afgerond in hulle benadering en kan hulle dalk eksperimenteer met onderhandeling, oorreding of om hulle ouers te laat skuldig voel. Selfs dan behoort die ouer se doel nooit te wees om as sogenaamde oorwinnaar uit die “stryd” met hulle tieners te tree nie. Die doel moet altyd wees om ‘n verhouding te bou waar almal se behoeftes saak maak, deur eerlike Ek-boodskappe te gebruik en probleme saam op te los.
Die vraag wat ons eerder moet vra
Dalk moet ons nie vra of ons kind ons manipuleer nie, maar eerder vra: “Wat probeer my kind vir my sê wat hulle nog nie weet hoe om te sê nie?”
Wanneer ons die kind se gedrag probeer uitpluis in plaas van net te oordeel, open ons die deur na verbinding, leer en groei. Kinders het nie perfekte ouers nodig nie. Hulle het ouers nodig wat bereid is om te verstaan wat tot die gedrag aanleiding gee.
Jy is nie alleen nie
As jy vasgevang voel in daaglikse magstryde, skuldgevoelens, moegheid of onsekerheid oor hoe om te reageer, weet net jy is nie die enigste persoon wat jou in die situasie bevind nie. Bemagtig jouself met kursusse en/of gesels met die mense by Parent & Educational Training en kry praktiese raad oor hoe om die ouer-kind-verhouding te versterk. Die P.E.T.-program gee ouers die nodige kommunikasievaardighede om konflik te verminder, samewerking te versterk en om sterker emosionele bande binne die gesin te vorm.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.

Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog op Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training se webtuiste, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.








