Skrywer: Johan Brits
Foto: Richard Cock in aksie.
Of jy ’n lewenslange entoesias van klassieke musiek is en of dit die heel eerste orkesoptrede is wat jy kyk – wees verseker van ’n boeiende konsert as jy die Klein Karoo Klassique 2026 se galakonsert bywoon.
Wat dié konsert op 7 Augustus in die Oudtshoorn Burgersentrum nóg meer spesiaal maak, is dat die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) vir die eerste keer in 13 jaar weer by die fees te sien is.
Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van Klein Karoo Klassique, het aan Afrikaans.com gesê hy is bly dat alles vanjaar so uitgewerk het dat die KFO Klassique weer kan bywoon.
Onder leiding van die immergewilde maestro Richard Cock en saam met die bekroonde Suid-Afrikaanse pianis François du Toit is die Klassique Galakonsert ’n viering van geliefde meesterwerke uit die Klassieke en Romantiese tydperke.
Die Klein Karoo Klassique, wat deur die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangebied word, vier vanjaar sy 17de verjaardag.
Adriaan Fuchs, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KFO, sê gehore gaan ’n wonderlike aand ervaar – of hulle nou lewenslange entoesiaste van klassieke musiek is en of hulle hul heel eerste orkesoptrede bywoon.
“Ons terugkeer na Klein Karoo Klassique is geweldig opwindend. Om die geleentheid te hê om die volledige professionele simfonieorkes buite Kaapstad te hoor, is redelik seldsaam, wat hierdie optrede besonders spesiaal maak.”
Cock sê hy is opgewonde om saam met ’n groter orkes as in vorige jare by Klassique op die verhoog te wees.
Du Toit sien daarna uit om die verhoog met die KFO en Cock te deel. “Die KFO is vir my amper soos familie. Dit is altyd spesiaal om saam met hulle op te tree, aangesien ek reeds vir meer as 40 jaar saam met hulle optree.
“Richard en ek het ook ’n lang geskiedenis van samewerking en dit is wonderlik om saam met hom te werk. Ek het lanklaas Mozart se klavierkonsert uitgevoer en sien veral daarna uit,” sê hy.
Die program open met Mozart se sprankelende ouverture tot Le nozze di Figaro, ’n werk vol vernuf, energie en sjarme. Daarna neem Du Toit die verhoog in vir Wolfgang Amadeus Mozart se Klavierkonsert nr. 24 in C-mineur, K. 491, een van die komponis se mees diepsinnige en dramatiese klavierkonserte. Die Galakonsert sluit af met Felix Mendelssohn se Simfonie nr. 4 in A-majeur.
Fuchs sê niks vergelyk daarmee om ’n volle simfonieorkes in lewende lywe te hoor nie.
“Opnames kan eenvoudig nie die omvang, rykheid en krag van lewendige orkesklanke vasvang nie. Die gehoor gaan elke noot en klank ervaar – van die strykinstrumente se warmte tot die blasers se deurdringende klank en die houtblaasinstrumente se ryk klanke – terwyl hulle ook die ongelooflike samewerking tussen die verskeie musikante in die orkes as ’n eenheid gaan ervaar. Dit is ’n omvangryke belewenis wat mense lank na die laaste noot nog gaan bybly.”
Theart sê die kaartjies vir Klein Karoo Klassique verkoop goed.
“Feesgangers moet gou speel indien hulle kaartjies vir die Klassique Galakonsert en US Koor: 90 jaar wil koop. Kaartjieverkope dui tans op ’n lekker bedrywige fees oor die Vrouedag-langnaweek in die Klein Karoo.”

Links: Anna Davel en Melisizwe Plaatjie. Regs: Francois du Toit. (Fotograaf: © Natalie Gabriels)
Daar is ander konserte ook op die spyskaart.
Een hiervan is Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective se optrede.
Davel skryf op haar Instagram-profiel: “Oor net ’n paar weke speel ek vir die heel eerste keer by die Klein Karoo Klassique in Oudtshoorn. So opgewonde!”
Dié jazzkonsert wat die ryk verskeidenheid van plaaslike en wêreldmusiek vier, het vanjaar met die KKNK-Kanna vir Beste Produksie: Kontemporêre Musiek, weggestap.
Heimwee op 8 Augustus is ’n huldeblyk aan Mimi Coertse se nalatenskap.
Coertse, een van Suid-Afrika se geliefste soprane en ’n wêreldkunstenaar, is op 27 April vanjaar oorlede.
Heimwee bring ’n noukeurig saamgestelde keur van ikoniese werke uit haar repertorium byeen – geliefde liedere en arias wat gehore met haar glansryke loopbaan verbind.
Spanish Songs met die sopraan Zanne Stapelberg en James Grace op kitaar, tree in hul derde gesamentlike Spaanse musiekproduksie op wat die repertoire van Suid-Amerika en Spanje verken.
Klein Karoo Klassique word van Vrydag 7 tot Sondag 9 Augustus in Oudtshoorn aangebied. Die feesprogram sluit klassieke musiekuitvoerings, literatuur, kuns, kos en wyn in.
Die volledige program is op Klein Karoo Klassique se webblad beskikbaar.







