Verlede Donderdagmiddag na werk pak ek die rit gym toe aan. Ek wou nie, maar die boonste knoop van my jeans het my gedwing. Hy veg al vir die afgelope drie maande vir sy lewe elke keer as ek hom aantrek. Ek kan al hoor hoe sug hy elke keer as hy nog ’n happie melktert moet akkommodeer.
Ek sweet al klaar en ek is nog nie eers by die voordeur van die Virgin Active nie.
Ek het vandag besluit om te gaan swem. Mense sien nie hoe erg jy sweet as jy swem nie.
Ek het onlangs ’n swembroek by Mr Price sien hang en gedink dat dit my so lank en slank soos Tatiana Schoeman gaan laat lyk. Maar twee opgeskote tienerseuns het my nou net met die inkomslag “oom” genoem so ek neem aan dit het nie die gewensde effek nie.
My man is ’n kranige swemmer, so ek leen altyd sy Cape Mile-swemkeppie. Dit gee my ’n onnatuurlike hoeveelheid valse selfvertroue.
Hy sê altyd ek moet my nie steur aan al die mense wat vir my kyk nie. Vir hom lyk ek net so mooi soos op ons troudag. Maar ek weet wat hy dink: tussen al die huweliksbeloftes oor siekte en gesondheid, oor voorspoed en teëspoed, het niemand iets genoem oor die dag wat jou vrou die huis verlaat in ’n eenstukbaaibroek en ’n swemkeppie wat haar soos ’n 74-jarige bles oom laat lyk nie.
Langs die gym se swembad staan ’n opregte meermin – sy is mooier as ’n mens.
Ek het altyd gedink mens moet ’n sekere hoeveelheid klere aanhê as jy ’n publieke swembad betree. Ek was verkeerd. Ek staar verstar na haar lang, goue lokke. Dis asof sy dit enige oomblik soos Raponsie oor die rand van die swembad gaan gooi sodat ’n deftige prins daar kan opklim en haar kom red van haar oorweldigende skoonheid.
Skielik pluk sy haar foon uit, trek haar hare reg en begin haarself afneem. Sy deel vyf maerword-wenke met haar aanlyn volgelinge; die een meer belaglik as die ander. Sy vertel van die strawwe gymroetine wat sy elke dag volg en draai die kamera sodat haar volgers haar lyf vanuit elke moontlike hoek kan aanskou.
Dis eers toe sy haar foon bêre, dat dit my tref: ek was die hele tyd in die agtergrond van hierdie video. Honderde duisende volgers van regoor die land gaan nou sien hoe ek soos ’n bleek, gewonde blesbok in die agtergrond van die video staan en staar na hierdie meermin asof sy ’n stuk kaaskoek is.
Sy sit haar foon weg, pak haar goed op en loop – sonder om ’n toon in die water te sit.
Ek voel skaam. En bietjie kwaad.
Nie net omdat daar nou videobewyse van my wit bene is nie, maar oor hoe fake hierdie oomblik nou was. Hoeveel klein dogtertjies kyk hierna en dink dat hulle ook só in ’n swembroek moet lyk, dat hulle ook elke dag vyf ure in die gym moet spandeer om ’n middel te hê. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Sy lyk wonderlik. Maar nie almal van ons se kuite is so ontvanklik vir oefening nie.
Ek kan nie help om na die digitale wêreld om my te kyk en bekommerd te raak nie.
Tussen die smaakmakers, die trend setters en die groot hoeveelheid KI-inhoud aanlyn, is dit onmoontlik om te weet wat nog waar is en wat nie.
Die vlaag van KI-gegenereerde profielfoto’s wat die afgelope tyd die aanlyn wêreld beval het, is werklik ontstellend. Jou tannie was nog nooit eers verder as Worcester nie, maar hier pryk sy nou in ’n bikini op Mauritius se strand en voer alpacas in Peru. Dis verregaande.
En net toe ons dink dinge kan nie erger raak nie, toe ontdek tannies bo 60 dat KI hulle jonger kan laat lyk. Ek gaan dit nou sê, want iemand moet: Ek, jy en jou man weet dat jou borste nie eers op 20 so gelyk het nie.

Dis amper asof mense nie meer weet hoe om tussen die waarheid en fiksie te onderskei nie. Die hoeveelheid valshede wat ek daagliks as gevolg van KI moet besweer, is kommerwekkend.
“Het jy gehoor van die luiperd in die Kruger Wildtuin wat ’n enkelsnit saam met Bobby uitgebring het?”
“Het jy gesien tannie Karen is na die Oscars toe genooi? Nogal vir Meryl Streep ontmoet en als.”
“Kan jy glo oom Frikkie se hond kan nou in tale praat?”
Die gevolg: Alles is vals tot anders bewys.
Ek weet nie van jou nie, maar dit maak my hartseer. Ek dink KI is wonderlik. Die nuwe idees wat ons kan genereer, die manier waarop dit take vergemaklik, kan opvoed, inlig en ons horisonne kan verbreed, is ongelooflik.
Maar dan moet dit reg gebruik word.
Ek bevind my egter deesdae al hoe meer in ’n posisie waar ek smag na egtheid. Goeie kwaliteit musiek deur regte kunstenaars, leesstof deur ’n skrywer wat vir maande moes worstel om die regte woorde op papier neer te pen, kunstenaars se sweet, bloed en trane op ’n skildery waaraan hulle nagte om gewerk het.
Ek smag na regte foto’s van regte mense wat regte ervarings het.
Nie hierdie gladde, blinkgepoetste prentjies wat ’n realiteit weerspieël wat ons nooit sal ken nie. Waar is jou lagplooitjies, jou geboortevlekke, die drie grys hare langs jou slaap (een vir elke kind wat jy deur die skool moes kry)? Waar is die letsel op jou arm toe die hangkas in graad 3 op jou geval het? Hoe lyk die huise waarin doodgewone mense soos ek en jy woon? Waar is die lyf wat haar alles gegee het sodat jy vandag ’n ma kan wees? Hoe lyk ’n gewone bord kos wat jy vanaand na agt ure by die werk vir jou familie voorsit?
Glo dit of nie, maar dít is die lewe. Dís die dinge wat van ons mens maak.
Maar iewers tussen toe en nou het ’n aanlyn wêreld ons laat glo dat ons realiteit anders moet lyk.









Welgedaan!
My liewe Mens
Ek vermoed die tieners het jou “tannie” genoem, want op die hartseerfoto lyk jy vir my soos ‘n verslae hartseer vrou.
Die tannie-ding, bespring my ook altyd, soms uit die mond van volwassenes, en dit laat my dikwels na ‘n strooihalm gryp:
” Helene. My naam is Helene. Noem my asb op my naam, soos wat Engelse dit doen, dit laat my nie so hondoud voel nie!” Ek volg dit op met ‘n ekstra stroperige glimlag, en geniet dan die effense verleentheid wat my opmerking veroorsaak.
Ja, ek stem saam: deesdae is daar soveel “fake” in die lewe, dat mens soms verslae staan, maar ek wil baie ernstig aanbeveel dat jy natuurlike skryftalent aanwend om vir skryfkompetisie in te skryf. Hierdie “vignette” van jou het my aan die hart gegryp!
Skryf Sussie, skryf in ons pragtige pragtige taal, en gebruik dit as ‘n weerligafleier soos in hierdie skryfstuk van jou.
Met vriendelike, opregte groete
Helene